Die eerste nag op die berg het ek letterlik geen oog toegemaak nie. Tussen die snorkery van Prabu, die harde grond waarop ons gelê het, die afglyery na die onderkant van die tent en al die opgewondenheid van die avontuur wat ons aangepak het wou die slaap maar net nie kom nie. Die hele nag het ek wakker gelê en geluister na die geluide om my, die ritse van tente wat oop en toe gaan, mense wat vloek as hulle in die donker oor tenttoue val en van die alomaanwesige gebrul van Prabu.
Ongeveer drie-uur snags het ek opgestaan en buitentoe gegaan. Die lug was heeltemal oopgetrek en toe ek opkyk het die sterre my asem weggeslaan. Op die berg is geen ligbesoedeling nie. Daarom sien jy die sterrehemel soos ons voorvaders dit moes aanskou het eeue gelede toe hulle in Afrika aangekom het. Onvoorstelbaar verskriklik baie, met die melkweg wat hier net bo jou kop byna die hele breedte van die hemelgewelf vul. Dit was asof jy hulle kon aanraak as jy jou hand uitsteek. En jy kon die diepteverskille tussen die sterre sien. Sommige was naby, ander op middelafstand en weer ander baie duidelik ver weg. Ek het nog nooit die sterre in so ’n driedimensionele prag aanskou nie. Ek het sekerlik ’n uur lank met my rug teen ’n boomstomp gesit en net gekyk en gekyk. Herinneringe van saans buite op die gras lê en sterre kyk toe ons kinders was het deur my gespoel. En sommer allerhande gevoelens van verwondering en ’n soort hartseer oor verlore onskuld en verlange na mense wat ek nooit geken het nie. En deur dit alles heen die harmonieuse gebrul van Prabu.
Ek verstaan waarom primitiewe volke soveel waarde heg aan die sterre en waarom daar sulke groot bygeloof ontstaan het rondom die sterre. As jy elke nag gekonfronteer word met so ’n sterrehemel sal jy sukkel om aan die sterre nie spesiale kragte toe te dig nie. Veral as jy na aan die natuur leef en afhanklik is van die grille van moeder natuur vir jou daaglikse oorlewing.
Stadig het die nag verbygegaan. Teen vyfuur soggens het ek die porters en kombuismense hoor wakker word en nie lank daarna nie is die kamp weer gevul met die kakofonie van gelag en gepraat van ongeveer vyftig mense wat besig was om voor te berei op die komende dag.
Teen halfsewe het twee kelners ons kom “wakker” maak met koffie en tee en moes ons blitsvinnig opstaan om te begin inpak. Toe ons buite kom het almal eers met dik oë gestaan en kla dat hulle nie geslaap het nie en blitsvinnig is Prabu aangewys as die GROOT snorker. Toe draai ek my om en steek in my spore vas. Daar, agter ons aan die oostekant sien ons toe vir die eerste keer sedert gister die top van Kibo tussen die bome deursteek. Net gevang deur die eerste oggendlig, rooibruinerig, met lang wit strepe ys wat aan weerskante afloop. En BAIE naby. So naby dat ons die dikte van die gletser bo-op die berg kon onderskei. Almal van ons het so ’n rukkie doodstil staan en kyk en die eerste indruk wat by my opgekom het was: Intimiderend. Ons het almal geweet dat dit was waarheen ons op pad was en ek dink nie enigiemand het op daardie oomblik regtig opgewasse gevoel vir die taak wat voorlê nie.
En toe was dit sewe-uur. Tyd vir heerlike ontbyt met slappap, roosterbrood en eiers. Ek het gesmul aan die pap, en die res laat sien hoe jy heuning en botter deurmeng, maar dit het nie by al my groepsgenote so goed afgegaan nie.
Na ontbyt ons goedjies reggekry en om halfagt was ons klaar om te begin stap aan dag 2. Nog steeds het almal kort-kort ’n senuweeagtige blik gewissel met Kibo wat so aan die regterkant tussen die bome gestaan en onheilspellend na ons geloer het.
Kilimanjaro is streng gesproke nie ’n berg nie, maar ’n slapende vulkaan. Hy is gevorm deur drie stratovulkane, Shira (3962m), Mawenzi(5148m) en Kibo(5892m). Shira is die oudste van die drie broers. Ongeveer 1 miljoen jaar gelede het Shira tot uitbarsting gekom, later het Mawenzi oopgebars soos ’n vet puisie op die Afrikaanse savanne en ongeveer 500 duisend jaar gelede het tussen die twee Kibo uitgebars. Nadat Shira en Mawenzi uitgedoof was het Kibo nog gereeld uitgebars. Lawastrome het in die loop van baie eeue die gebied tussen Shira en Mawenzi opgevul en so het die Kilimanjaro wat ons vandag ken ontstaan. Die laaste uitbarsting van Kibo was so onlangs soos in 1700 gewees. Ongeveer 400 meter onder die oppervlak van die Reuschkrater is vloeibare lawa nog aanwesig.
Met die wete in ons agterkop dat ons hier te make het met een van die groot kragte in Afrika het ons die dag aan ons tog begin.
Nog steeds, net soos die eerste dag omhoog. En omhoog en omhoog. Nou het ons die reënwoud al ver agter ons gelaat en klim ons omhoog deur die boomheide. Dooie bome staan met hulle takke soos arms na die hemel toe en roep met meterslange baardmosse wat liggroen in die wind roer. Tussendeur is die landskap opgevul met steeds kleiner wordende struike. Veral die Erica Arborea, ’n suidelike-halfrond weergawe van die ericas wat in Europa voorkom en die goeie ou distel. Van dierelewe is hier min sprake. Ons het af en toe ’n streepmuis gesien, die alomaanwesige dikbek witbors kraaie wat ons oral agtervolg het en af en toe ’n valk wat die veld afsoek vir ’n streepmuis. Wat ons wel gereeld gesien het is die Alpine Chat, of sneeubal, soos die mense rondom die berg hom noem. Hulle is endemies in Oos-Afrika en woon slegs op hoogtes bo 3000m. Die gerug is dat die Alpine Chat geen bloedtoevoer in sy beentjies het nie en dat dit hom in staat stel om sy bene uit te steek in die vreeslike koue temperature wat soms daar heers.
In die loop van die dag het ons steeds minder struike gesien en vroegmiddag het ons die veenlandskap binnegeloop Die eerste reuse Senecio en ’n paar Lobelia’s het hulle opwagting gemaak. Die Senecio Kilimanjari is ’n soort kruiskruid wat slegs op die Kilimanjaro voorkom. Hulle word baie oud en baie hoog. Later tydens die tog het ons Senecios van drie of vier meter hoog teengekom. Die Senecio neem 25 jaar om ’n blom te vorm. Deur die aftakkinge te tel kan jy ongeveer bereken hoe oud so ’n plant is. Ek het een gesien met 8 vertakkinge. Dit kom grofweg neer op so 200 jaar.
Teen halfeen het ons gestop vir middagete. Na al die klimmery was ek seker dat ons vir Sue nie weer terug sou sien nie. Ek en MK het nog steeds ver agter die groep gehang en heerlik loop en kuier met een van die gidse wat ontsettend baie weet van die omgewing. Plantjies en mosse besrpeek en soms sommer net gesit en kyk en luister. Groot misbanke het die heeldag in en uit geswaai in die klowe waarlangs ons geloop het. Een oomblik was alles om jou in digte mis gehul en die mense voor jou slegs sigbaar as skimme wat hul paadjie teen die berg op probeer vind het en die volgende oomblik het dit oopgetrek sodat Kibo in al sy boosheid op ons kon neerkyk namate ons nader aan hom gekom het. Dan het die son geskyn en kon ons afkyk op Tanzanië daar ver onder ons en Mount Meru aan die eenkant.
So teen drie-uur smiddags het ons lekker rustig Shira-kamp op 3840m. binnegestap. Die Shira-kamp lê teenoor die oorblyfsels van die eerste Shira-vulkaan wat ongeveer ’n miljoen jaar gelede uitgebars het. Van die vulkaan is nie meer veel te sien nie, omdat Kibo in die laaste paar hondderdduisend jaar die omgewing daar vreeslik deur sy alie getrek het, maar ’n aantal pieke van die ou kraterrand staan nog trots omhoog. Shira-kamp is op ’n rand van ’n plato wat afkyk op Tanzanië baie kilometers ondertoe in die suide en Mount Meru aan die regterkant in die agtergrond. Toe ons Shira binnegekom het was dit alweer toegetrek en nie lank daarna nie het ons middag-donderstorm klokslag weer in al sy hewigheid losgebars. Ons het maar soos ’n klomp nat muise in die eettent gesit en wag dat die reën ophou en ’n uur later was dit weer oopgetrek. Dit was ook die oomblik waarop Sue weer met ’n breë glimlag aan die hand van Deo die kamp binnegewandel het.
Ek het buitentoe gegaan met my kamera en was seker ’n uur lank besig om van alles en nog wat af te neem. Kibo het homself vir die nag al toegetrek met ’n wolkekombers en al het ons geweet aan watter kant hy staan het ons hom sedert die middag nog nie weer gesien nie.
Net voor aandete het ons ’n ent gaan stap om gewoond te raak aan die hoogte. Ons het tot op ongeveer 4000m gestap en toe weer rustig terug na Shira kamp toe. Dit was nodig gewees om ons liggame solank kans te gee om gewoond te raak aan die hoogte en die dun lug. Op hierdie hoogte het ons al die eerste invloede van die dunner lug begin voel. Dit het baie meer energie gekos om die eenvoudigste dingetjies te doen en selfs na die vasbind van jou skoenveters moes jy ’n oomblik stilsit om weer jou asem terug te kry. Pole-pole het selfs vir die fiksste stappers onder ons ewe skielik ‘n baie natuurlike manier van beweeg geraak.
Dit is in Shira dat die eerste siekes hulself gemeld het. Na die middagwandeling tot op 4000m het JDP en sy seun en dogter aldrie siek geword. Hulle was naar, het gekla van hoofpyn en duiseligheid en het in die algemeen sommer net groen om die kiewe gelyk. Die probleem is dat wanneer mens so voel jy geen eetlus het nie en dit terwyl die oplossing vir die probleem juis lê in goed eet, baie water drink en ordentlik slaap. Die drie van hulle het tydens aandete nouliks geëet en is baie vroeg bed toe nadat elkeen ’n halwe tablet Diamox gedrink het.
Ons het nog ‘n bietjie gekuier in die eettent en met Deo die program van die volgende dag bespreek. Die volgende dag se stap sou ’n uitputtingslag word. Ons sou om halfagt vertrek en dan ongeveer vyf uur lank loop tot by Lava Tower op 4630m. By Lava Tower sou ons middagete eet en dan verder stap na Barranco op ’n hoogte van 3950m. Dit sou dus beteken dat ons in die loop van die dag sou klim na 4630, maar dan weer sou afdaal na 3950, waar ons sou slaap, ongeveer 100 meter hoër as Shira kamp. Dit was alles bedoel om ons liggame te help aanpas.
Ons moes ons gereed maak vir ons eerste nag van temperature onder nul grade en voor bedtyd het ons elkeen ’n piepklein skotteltjie louwarm water gekry om mee te was. Teen hierdie tyd het ek en MK al lankal besluit dat dit sinloos was om enigiets anders as hande en gesig te probeer was. Solank ek en hy altwee aan die reël sou vashou was daar geen probleem nie, maar as een van ons twee in die komende dae sou besluit om goed te was sou dit onmiddelik die einde van die vriendskap beteken het. Die onbekende reukies in die tent het steeds sterker geword en terwyl mens weet dat die reuke van altwee afkomstig was het jy jou nie juis bekommer oor wie se reuk dit eintlik was nie, maar as jy sou kon weet dat die reuk van die ander een afkomstig was sou die verhoudinge baie vinnig suur geword het.
Ons was nou aan die westekant van Kibo. Die roete van die komende dae sou ons voor hom langs verbyneem en ons sou dan eindig in Barafu-kamp op sy oostelike helling. Vandaar sou die klim na die top uitgevoer word.
Daardie nag is ons so teen agtuur se kant bed toe. Dit het vinnig stil geword en die enigste geluid wat ons die nag gehoor het was Prabu se gesnork. Af en toe ’n paar ligte snorkies van iemand anders tussendeur, maar daar was tot op hede niemand wat by Prabu kon kers vashou nie. My respek en agting vir die man het elke nag gestyg. Die res van ons was amateurs, wannabes.
Ek het weer die hele nag wakker gelê. Weer so teen twee-uur se kant uit die tent gegaan en buite na die sterre gaan staan en kyk. Waar ek die vorige nag gevoel het of ek hulle kon aanraak het dit nou gevoel asof ek tussen hulle staan. Dit was asof hulle in die lug om my heen gehang het en ver in die suide, kilometers onder ons het die ligte van Moshi-town gebrand. Agter my was ’n groot, swaar donker skaduwee teen die naghemel afgeëts en ek kon die buitelyne van Kibo uitmaak. Hy het net daar gestaan, nie geroer nie, niks gesê nie en totaal onbeïndruk gelyk met ons aanwesigheid. Ek het ’n diep respek vir die berg in my bors gevoel. Ons het hom die grootste deel van die vorige middag nie gesien nie en ons het almal geweet dat ons baie nader was as die vorige nag, maar nie een van ons het nog ’n idee gehad van hoe naby werklik nie. Soos hy daardie nag oor my gestaan en toring het het ek my baie klein en gedomineer gevoel.
Daar is iets aan die wete dat ’n berg byna ’n miljoen jaar oud is wat mens nederig maak. Of altans, as dit jou nie nederig maak nie hoort jy nie op die berg te wees nie.
Ag, jislaaik. Mens wil net aanhou lees, maar dan’s dit klaar. 😉
Die res is op pad, maar dit neem tyd. Dankie vir die lees hiervan.
Ek geniet hierdie verskriklik en jy beskryf alles so goed, veral die omgewing en die snorksessies en ek kan net lekker lag vir julle wannebee snorkers.
So lekker om op die manier dit met julle te kan deel, so maak ons die afstand darem bietjie kleiner…