Die spanning was met ’n mes te sny toe ek ’n week voor vertrek by Aad se werkswinkel binneloop om my kar te gaan haal. Alles was nog nie so klaar soos ek dit wou hê nie en dit het veels te lank geduur. Byna ses maande was ons besig en ek wou die kar al ’n maand eerder hê sodat ek nog ’n paar toetsritte kon maak om seker te wees dat alles reg is. Nou was daar ’n week oor voor vertrek en my gemaksgevoel het ernstig gely onder die gebrek aan toetstyd.
Veral by Maraai het sterk twyfels bestaan oor die uithaal van die ABS lampie wat bly brand na alle pogings om die probleem in die ABS stelsel te vind. My en Aad se gevolgtrekking was dat die lampie stukkend moet wees want hy hou aan brand. Die probleem was opgelos op die oomblik toe ons die lampie uithaal. Hy het opgehou brand…. Dit het egter nie gehelp om die ongerustheid by Maraai minder te maak nie en sy het dit duidelik kenbaar gemaak aan my en Aad.
Ek het met min vertroue agter die stuur plaasgeneem om die eerste toetsrit aan te durf. Aad het langs my gaan sit met sy ghrieshande en my afwagtend aangekyk toe ek die kar aanskakel. Ten minste het die ABS lampie nie meer gebrand nie. Hy het langs my gelê.
Die toetsrit het goed gegaan. Remweg reguit, geen trek aan die stuur, geen onverwagse trillinge, vibrasies of rammelgeluide nie en geen onderdele wat agter ons in die pad bly lê nie. Selfs die remme het gewerk, ABS lampie of nie. Ek het nie die toeter getoets nie want ek wou die noodlot nie verder tart nie, maar ek was versigtig optimisties. Maraai, wat in die werkswinkel gewag het tydens die toetsrit, was nog nie oortuig nie. Ek en Aad het wyslik stilgebly want op daardie stadium was daar niks wat ons kon sê wat ons kant van die saak sou versterk nie. Veral nie met die los ABS lampie nie.
Ons sou oor ’n week vertrek Ysland toe waar ons drie weke lank die kar aan die swaarste moontlike beproewinge sou onderwerp en ons moes seker wees dat hy (Ja, dit is ’n hy en sy naam is Knorpot) ons veilig en sonder probleme heen en terug sou bring.
Stadig het Maraai gewoond geraak aan die idee dat Knorpot ons Ysland toe sou vat en teen die tyd dat ons vertrek het was sy al minder pessimisties. Ek het haar nie vertel van die klemming om my maag wat my oorval het elke keer as ek gedink het aan alles wat moontlik fout kon gaan nie. Dit sou die atmosfeer nie ten goede gekom het ’n week voor ’n vier-by-vier vakansie aan die land van vuur en ys nie.
En so het die dag van ons vertrek Denemarke toe aangebreek. Die plan was om tot in Hirtshals te ry en daar die veerboot te haal na die Faroër eilande waar ons drie dae sou bly voordat ons verder sou vaar Ysland toe waar die avontuur sou begin.
Maar, binne drie uur na ons vertrek steek ‘n ernstige probleem sy kop uit. Die verwarming in die kar werk nie en ons gaan YSLAND toe. Ons was al te ver van die huis af om om te draai na Aad toe vir hulp en die enigste opsie was verder ry. Ek hou myself uiterlik kalm en probeer te verduidelik dat ons die probleem kan oplos, maar Maraai dwing my om by die eerste beste Ikea te stop om komberse te koop. In my binneste weet ek dat kombersies nie gaan werk as jy in die koudste jaar sedert 1900 in Ysland sonder verwarming in jou kar probeer rondry nie, maar ek besluit om die gedagte vir myself te hou.
Sommer in die parkeergarage van Ikea vir Aad gebel en met my kop onder die motorkap op Aad se telefoniese aanwysings die regte blou drade deurgeknip en die verkeerde rooi drade aan die regte swart drade vasgedraai. Groot was die verligting toe ons die knop draai en die verwarming gaan aan. Aad se tegniese lof besingen sit ons ons reis voort met werkende verwarming en ekstra komberse. Steeds deel ek nie die gedagte oor hoe dit sou gewees het om sonder verwarming deur Ysland te ry nie.
Sonder al te veel opmerklike gebeurtenisse het ons Hirtshals die volgende dag bereik, vir Knorpot op die allemintige groot veerboot gery en na ons slaaphut gegaan vir twee vervelige dae op die veerboot.