Reisland-2


Die Faroër (Letterlik Skaap-eiland in Deens) eilandegroep in die Noord Atlantiese oseaan het sedert die deelname van Regin Vagadal in die negentigerjare aan die Sterkste man van die Wêreld kompetisie vir my ’n spesiale bekoring. Voor die tyd het ek nie van die bestaan van die eilande geweet nie.

My eerste persoonlike kennismaking met die Faroër (Spreek uit “Fareur” om soos ’n local te klink) het nie baie belofte ingehou nie. Die oggend was donkergrys, met laaghangende wolke en ’n sterk wind wat die reën horisontaal laat inslaan het. Temperatuur net so ‘n knerts bo tien grade. Tog het ons besluit om te gaan ry want ons het net drie dae op die Faroër gehad en moes die beste daarvan maak.

Die vorige nag het ons in ’n rasende storm in Tórshavn van die skip afgery tussen minstens tweehonderd ander vasberade toeriste en ongeveer vyftig doodsveragtende fietsers. Met die afry waai die wind een van die manne op sy fiets byna onder my kar se wiele in. Dit was die begin van ons veelbesproke verhouding met die fietsers wat in hierdie deel van die wêreld kom toer. En ook waar my eindelose respek vir die onbreekbare mense begin het.

Soggens is ons toe weg in die rigting van Vidareidi, die mees noord-oostelike punt van die Faroër wat per pad bereikbaar is.

Die Faroër is êrens in die negende eeu gekoloniseer deur Noorse Vikings. Dit was onderdeel van die weswaartse uitbreiding van die Noorse en Deense Vikings waartydens Ysland, Shetland, die Orkney eilande en Groenland stapsgewys gekoloniseer is. Deesdae vorm die Faroër ’n selfstandige gebied binne die Deense koninkryk met ’n bewondersaantal van ongeveer 50000 mense. Die hele ekonomie van die Faroër is opgebou uit vis en skaap. Hiervan is die grootste onderdeel visvangs en visteelt. Dit is ook die sektor waar negentig persent van die bevolking hul brood mee verdien.

Die keersy van die afgesonderdheid van die Faroër is natuurlik die walvisjag. Omdat die Faroër eeue lank afgesonder was en geen eie landbouproduksiesektor het nie was walvisse in die tyd ’n uitstekende bron van proteïne veral tydens die lang winters. Die tradisie word vandag nog voortgesit onder sterk gereguleerde omstandighede. Streng gesproke word nie walvisse gejag nie, maar griende. Griende is ’n walvissoort wat deel van die dolfynfamilie uitmaak. Dit is nie ’n bedreigde soort nie, wêreldwyd word die bevolking geskat op ongeveer 1 miljoen. Wat wel omstrede is is die manier waarop die jag plaasvind. Wanneer ’n skool naby die kus gewaar word word hulle met bootjies in ’n fjord ingedwing en vervolgens tot teen die kus geforseer. Daar wag mense met spiese en skerp messe wat op ’n spesifieke manier die rugstring deursny waardeur die griend in meeste gevalle ’n baie vinnige dood sterf. By elke jag is die polisie aanwesig om toe te sien dat alles volgens die reëls plaasvind. Wat tot die polemiek bydra is sekerlik die foto’s van bloedrooi baaie waar die slagtings plaasvind.

Die verkoop van walvisvleis is streng verbied en al die vleis word gratis onder die lokale bevolking verdeel. Die hele walvis word gebruik, niks gaan verlore nie. Wanneer daar genoeg vleis is word die vleis ook na die naburige dorpe versprei. Na skatting word ongeveer 800 walvisse per jaar op hierdie manier in die Faroër gejag. Die omstredenheid van hierdie manier van walvisjag kan nie ontken of goedgepraat word nie, maar in die lig van die miljarde beeste, varke en skape wat in die res van die wêreld geslag word is die wêreldwye verontwaardigheid hieroor enigsins ontereg.

Die eilande word behalwe deur mense ook bevolk deur duisende skape wat wild rondloop. Elke skaap behoort aan iemand, maar hulle swerf in die somermaande los deur die berge. Egter staan hulle die graagste in die middel van die pad waar hulle aankomende verkeer tot op die laaste oomblik laat raai watter kant toe hulle gaan hardloop. Voor die winter begin word die skape versamel, geskeer en gaan hulle die stalle in vir die lang winter wat voorlê.

Ons rit vir die dag het ons teen die kus van ’n lang fjord geneem, die Kaldbaksfjord. Dit was koud, nat en renerig, maar die omgewing was wonderskoon. Uit die berge om ons het watervalle tientalle meters ver gestort en aan die regterkant was steeds die pragtige fjord met kleurige tipies skandinawiese dorpies aan die oewer. Met name soos Slættaratindur, Fuglafjørður, Runavík en Klaksvík waan jy jouself in ’n ou Noorse legende.

In baie fjorde is die enorme skaal waarop Atlantiese salm en forel gekweek word te sien. Die skoon water, konstante temperature, diep fjorde en sterk strome rondom die Faroër maak dit ’n uitstekende omgewing vir die viskweek industrie. Reusagtige groot ronde netkonstruksies word gebruik om die salm in die vars seewater te hou. In die ronde nette word die water in ’n sirkel gedraai en die jong vis gevoer tot die regte gewig. Jaarliks word ongeveer 100.000 ton Atlantiese salm geproduseer. Die grootskaalse viskweek het egter ook ’n keersy. Salm en forel (En trouens byna al die vis wat ons uit die see eet) is vleiseters. En die kweekvis moet ook gevoer word. Vir die produksie van 1 ton gekweekte salm word 3,3 ton wilde vis gevang en verwerk as voer. Daar word dus rofweg drie maal soveel wilde vis verbruik as wat gekweekte salm geproduseer word. Deesdae word ook krill gebruik as voer vir die kweekvis, maar hierdie klein garnaaltjie word in tonne uit die suidelike oseane versamel waar dit natuurlik voorkom. Egter is krill die hoofbestanddeel van die dieët van sekere walvissoorte en die vrees bestaan dat daar ’n tekort aan krill kan ontstaan waardeur die walvisstand bedreig kan word. Verder bedreig siektes en parasiete wat uit die kwekerye versprei word die wilde vis.

Ons het op ’n stadium oor een van die nasionale grappe van die Faroërs gery: Die sogenaamde brug oor die Atlantiese oseaan. Die eiland Eysturoy is deur ‘n nou seestraat geskei van Streymoy. Hierdie seestraat is tegnies deel van die Atlantiese oseaan en daar is ‘n brug oor gebou. Moet nie te veel van die Atlantiese brug verwag nie want hy is nie langer as tweehonderd meter nie en totaal onmerkwaardig. As jy nie van beter weet nie sal jy jou verbeel jy ry oor ’n breë rivier.

Maar, die oorsteek van die brug bring ons toe by ’n volgende Faroëse spesialiteit. Die Faroër eilande is baie bergagtig en die agttien eilande is almal deur seestrate geskei, dus moes die Faroërs iets bedink om die spul aanmekaar te knoop voordat een van die eilande die idee opneem om onafhanklikheid uit te roep. Die mees logiese antwoord hierop was tonnels en brue, met klem op tonnels. Sommige tonnels dateer uit die jare van voetgangers, waens en perde en is nie gebou vir moderne wegverkeer nie. Die gevolg is dat die grootste deel van die Faroëse tonnels geen elektrisiteit het nie (Pikdonker, dus) en dat dit enkelbaan-tweerigting tonnels is. Ja, lees daardie woord nog ’n keer en dink dan rustig daaroor na.

Toe ons by die eerste tonnel beland het dit my nie onmiddelik opgeval nie omdat ek my nog sit en verkyk het aan die enorme waterval wat langs die bek van die tonnel na benede donder. Maar toe sien ek dit, ’n swart gat in die berg waar presies een kar in pas. En daar kom ouens uitgery in die teenoorgestelde rigting as wat ons in moet ry. Aan ons kant van die tonnel wel ’n bord wat aangee dat ons voorrang het, maar ek het nie die indruk gekry dat ‘n voorrangsbordjie my veel gaan help as ek in die middel van die tonnel in die pikdonker teen ’n aankomende kar vasry nie. Na ’n paar keer se meet en pas, vorentoe en weer agteruit, besluit ek om op my tande te byt en deur te ry. Die tonnel is pikdonker, uit die skurwe rots gekap, breed genoeg dat my kar inpas en so laag dat ek onwillekeurig my nek tussen my boude probeer intrek. So lank dat die einde daarvan ’n dowwe ligspikkel in die verte is. En toe gebeur dit… Die spikkel aan die oorkant word twee spikkels en al groter. Ek voel hoe my hart in my keel klop en kyk in my spieël of ek nog agteruit kan ry, maar dit is te laat. Agter my sit ook twee spikkels. Vorentoe dan maar.

Met saamgeknypte boude en sweet teen my rugstring ry ek verder. Steeds nader aan die groter wordende dubbel-ligspikkel. Sal maar kyk wat die voorrangsbordjie my in die sak bring. Totdat hulle ewe skielik verdwyn! Al wat ek voor my sien is weer die enkele spikkel wat die einde van die tonnel aandui. Waar kan ’n hele kar heen verdwyn in ’n enkelbaan-tonnel?! Stadig ry ons vorentoe, gereed om elke oomblik op die rem te trap totdat ons by ’n nis in die rots verbyry waar presies een kar inpas. En ja, daar staan die kar wat van voor af op pad was. En toe verstaan ek hoe die tonnel-stelsel werk. Wanneer jy van die kant kom wat voorrang het kan jy inry en deurry sonder om jou aan enigiets of enigiemand te steur. Maar, wanneer jy van die ander kant kom moet jy mooi oplet. As daar ’n kar van voor af kom moet jy een van die gate in die rotswand soek om vinnig in te ry, sodat die aankomende kar by jou verby kan ry. Sodra die aankomende verkeer verby is kan jy weer netjies uit jou gat kruip en verder ry totdat daar weer iemand van voor af kom. Dan herhaal die proses homself weer.

Dit het wel ’n kwantumskuif geverg in terme van ons begrip van verkeersveiligheid, maar soos volleerde enkelbaan-dubbelrigting-tonnelryers het ons die res van ons tyd op die Faroër die tonnels genavigeer en steeds verlig vir mekaar gelag as ons lewend aan die ander kant uitgekom het.

’n Verdere aspek van die verkeer wat ons opgeval het was die vertroue wat die owerheid in die verkeersdeelnemers stel. ’n Aantal tonnels is splinternuut, baie modern en baie lank. Vir hierdie tonnels moet tol betaal word om deur te ry. Wanneer jy die tonnel binnery staan daar ’n bord wat jou aandag hierop vestig. Aan die ander kant van die tonnel is daar nog ’n bord wat jou maan om jou tol te gaan betaal by die volgende petrolpomp. En dit is dan dit. As jy “per ongeluk” die volgende petrolpomp miskyk of vergeet om te stop en te betaal kraai daar ook geen haan na nie.

En so al verkennend, tonnel-rydend en skape-vermydend het ons drie dae lank die Faroër deurkruis. Die Faroër is pragtig en verrassend, veral vir ons wat van die droeë suidelike deel van Afrika kom. ’n Paar stapels rotse in die Atlantiese oseaan, bedek met groen gras, mos en heide waar die water letterlik uit die berge stroom en beke, riviere en magtige watervalle skep voordat dit in de see verdwyn. Alles is nat en die dreiging (Of belofte?) van reën hang permanent in die lug. Die landskap is oop en vriendelik en nooi die besoeker uit om te verken. Die mense is vriendelik, toeganklik en baie behulpsaam. Trots op hul kultuur en nie skaam oor enige aspek daarvan nie. Dienste is oral goed, modern en professioneel.

Ons was aangenaam verras deur die Faroër en het dit as ’n goeie voorteken gesien vir die komende drie weke wat in Ysland voorgelê het toe ons die aand van die derde dag weer vir Knorpot saam met die honderde ander geesdriftige vier-by-vier ryders, motorfietsgangers en natuurlik die onvermydelike legendariese fietsers op die veerboot gelaai het om die reis voort te sit Ysland toe.

Volgende halte: Seyðisfjörður – Ysland

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s