Jedi


Hierdie een is vir jou, spesiale mens wat in die geveg van jou lewe besig is. Jy, dapper mens, groot stryder, gladiator, veteraan wat moet stry teen die swartvoet monster wat na swael stink uit sy bek. Wat hom aan geen reëls hou nie, in ’n reëllose spel. En jy staan daar, strydbaar en geteken met die lig in jou oë en die vlam in jou hart.

Jy, inspirasie, leier, heldin… gaan aan met hierdie onmenslike geveg waarvoor jy nie gevra het nie, wat jy nie  afgeroep het nie en wat jy nie verdien nie. Hierdie stryd waarvoor niemand kans sien nie. Wat grotes laat bewe en wegloop. Jy bewys dat dapperheid nie leef in die reuse van die aarde nie en nie woon in die huise van die sterkes nie. Dit leef in die hart van een soos jy wat opstaan vir die geveg en wat baklei wanneer die res opgegee het. Wat staan teen die monster, die draak uit ’n ander wêreld wat sy donker kloue in jou lewe kom slaan het.

Ek kyk vir jou mense en ek sien dat jou geveg ook hulle geveg is. Jou pyn is hulle pyn. Hulle voel die geweld van jou stryd en sien die vlam wat in jou oë brand. Hulle vier saam met jou die oorwinnings en huil saam oor die nederlae. Hulle veg nagte deur teen dieselfde monster. Hulle staan saam met jou in die dal van doodskadu. Jy is nie alleen nie.

Maar daar waar die hamer die vonke uit die aambeeld slaan, daar staan jy…. Geteken en geskeur, maar gewapen met die lig. En wat die uitkoms van hierdie geveg ook sal wees, jou lig sal nie uitdoof nie…. Want jy is jy… my heldin, gladiator, my Jedi.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s