Reisland-3

Die belangrikste oomblik van ’n reis wat al langer as ’n jaar in die voorbereiding was en op die laaste nippertjie byna nie plaasgevind het nie, was toe ons die Saterdagaand in Tórshavn met Knorpot die enorme skip Norrøna se ingewande inry vir die laaste been van ons tog na Ysland. Knorpot was amper nie saam nie. Die ysterkanker aan sy onderstel het hom byna fataal geword en ’n operasie van byna ses maande se harde werk deur Aad en sakke geduld (en geld!) van ons kant af was nodig om tot hierdie punt te kom. Maar ons het dit gehaal en die verligting was groot. Behalwe vir die dowwe stamp agterin wanneer ek deur ’n gat gery het was daar voorlopig nog geen rede tot kommer nie.

Die vaart het rustig verloop en en ons aankoms in Seyðisfjörður was soos verwag koud, renerig en winderig. Laaghangende bewolking het die sig belemmer toe ons van die skip afry. Na ’n kort formaliteit met doeane is ons deurgelaat. Ek het ’n oomblik stilgehou om die voertuie te bewonder wat van die skip afgery het. Dit het gelyk soos ’n saamtrek van vier-by-vier entoesiaste van reg oor die wêreld. Die verstommendste kombinasies van karre, bakkies, kampeerwaens, karavane en motorfietse het langsgery met tussendeur natuurlik die fietsers wat stug in die reën en wind aan hul fietse vasgeklou het. Selfs een met ’n sleepkarretjie en ’n klein dogtertjie van nog geen vier jaar oud nie agter in.

Ons is vandaar die dorp in wat behalwe vir die hawe, die kerkie en die visfabriek nie veel voorgestel het nie. Pad 93 rigting Egilsstaðir moes ons volg. Die pad word baie gou ’n steil bergpas en in die digte mis het ons steeds hoër geklim, midde in die ry karre wat ’n uur vantevore nog in die Norrøna se maag gestaan het. Deur die mis kon ons ’n paar yslike watervalle aan die regterkant sien, ’n spookagtige stil atmosfeer het oor die omgewing geheers en die enigste tekens van lewe was die rooi liggies van die kar voor ons wat dof deur die mis sigbaar was. In die mis langs die pad was dik ysbanke sigbaar wat aan die berghange geklou het. Steeds hoër het ons gekronkel teen die onsigbare berg op tot ons aan die anderkant van die berg in Egilsstaðir aangekom het. Van hier af is ons verder op pad 92 in die rigting van Reyðarfjörður, waar ons besluit het om die kuslyn langs die fjord te volg in plaas van die korter tonnel deur die berg. Gaandeweg het ons steeds laer gedaal en die swaar misbanke bo ons gelaat. Ons kon steeds meer sien van die omgewing en dit was eintlik die eerste onbelemmerde sig wat ons op Ysland gekry het sedert ons drie uur vantevore van die boot afgery het. Die pad was ’n dun potloodstreep tussen die staalgrys Noord-Atlantiese oseaan aan die linkerkant en die gekleurde rotswande aan die regterkant. Op en af en heen- en weer kronkelend klou die pad desperaat aan die bergwand langs die kus. Stadigaan het ons gevorder, fjord vir fjord en gereeld stilgehou om die stilte en die rus van die omgewing te geniet. ’n Vars, skoon reuk het in die lug gehang; Moeilik om te beskryf, maar my beste poging is “nat blomme”. Dit kan afkomstig wees uit die mosse en skraal heidebegroeiing teen die berghange langs die pad.

Ons het in Reyðarfjörður by ’n hotelletjie gestop om koffie te drink en toe ons die hotel binneloop kry ek die vae gevoel dat ek die plek êrens vandaan ken. Op die toonbank staan ’n groot foto van die akteurs uit die televisiereeks Fortitude en toe weet ek dit. Dit is die hotel waar die televisiereeks geskiet is. Ons het deur die venster gekyk en sowaar, oorkant die steeg is die Blue Fox, ’n kroeg uit die reeks en aan die anderkant van die straat die N1 vulstasie met supermark wat ook ’n rol in die reeks gespeel het. Dit was ’n oomblik van persoonlike herkenning wat ons dae later nog baie plesier verskaf het.

So het ons die res van die dag gekuier in die rigting van Breiðdalsvík waar ons ons eerste nag in Ysland sou deurbring. Hotel Blafell is ’n pragtige houthotel, gebou van swaar dennebalke waar dit nestel tussen die berge en die see. Wat dit besonder maak is dat ons sedert ons aankoms op Ysland nog geen enkele boom gesien het nie. Afgesien van ’n paar hoë struike in die dorpe was daar geen boom te sien nie. Ons was baie moeg en moes tyd neem om die dag se indrukke te verwerk. Die verligting dat ons eindelik op Ysland aangekom het na al die teëspoed was groot, die natuur oorweldigend, die mense vriendelik en behulpsaam en ons sintuie maksimaal geprikkel deur alles wat ons tot dusver beleef en gesien het.

 

Reisland-2

Die Faroër (Letterlik Skaap-eiland in Deens) eilandegroep in die Noord Atlantiese oseaan het sedert die deelname van Regin Vagadal in die negentigerjare aan die Sterkste man van die Wêreld kompetisie vir my ’n spesiale bekoring. Voor die tyd het ek nie van die bestaan van die eilande geweet nie.

My eerste persoonlike kennismaking met die Faroër (Spreek uit “Fareur” om soos ’n local te klink) het nie baie belofte ingehou nie. Die oggend was donkergrys, met laaghangende wolke en ’n sterk wind wat die reën horisontaal laat inslaan het. Temperatuur net so ‘n knerts bo tien grade. Tog het ons besluit om te gaan ry want ons het net drie dae op die Faroër gehad en moes die beste daarvan maak.

Die vorige nag het ons in ’n rasende storm in Tórshavn van die skip afgery tussen minstens tweehonderd ander vasberade toeriste en ongeveer vyftig doodsveragtende fietsers. Met die afry waai die wind een van die manne op sy fiets byna onder my kar se wiele in. Dit was die begin van ons veelbesproke verhouding met die fietsers wat in hierdie deel van die wêreld kom toer. En ook waar my eindelose respek vir die onbreekbare mense begin het.

Soggens is ons toe weg in die rigting van Vidareidi, die mees noord-oostelike punt van die Faroër wat per pad bereikbaar is.

Die Faroër is êrens in die negende eeu gekoloniseer deur Noorse Vikings. Dit was onderdeel van die weswaartse uitbreiding van die Noorse en Deense Vikings waartydens Ysland, Shetland, die Orkney eilande en Groenland stapsgewys gekoloniseer is. Deesdae vorm die Faroër ’n selfstandige gebied binne die Deense koninkryk met ’n bewondersaantal van ongeveer 50000 mense. Die hele ekonomie van die Faroër is opgebou uit vis en skaap. Hiervan is die grootste onderdeel visvangs en visteelt. Dit is ook die sektor waar negentig persent van die bevolking hul brood mee verdien.

Die keersy van die afgesonderdheid van die Faroër is natuurlik die walvisjag. Omdat die Faroër eeue lank afgesonder was en geen eie landbouproduksiesektor het nie was walvisse in die tyd ’n uitstekende bron van proteïne veral tydens die lang winters. Die tradisie word vandag nog voortgesit onder sterk gereguleerde omstandighede. Streng gesproke word nie walvisse gejag nie, maar griende. Griende is ’n walvissoort wat deel van die dolfynfamilie uitmaak. Dit is nie ’n bedreigde soort nie, wêreldwyd word die bevolking geskat op ongeveer 1 miljoen. Wat wel omstrede is is die manier waarop die jag plaasvind. Wanneer ’n skool naby die kus gewaar word word hulle met bootjies in ’n fjord ingedwing en vervolgens tot teen die kus geforseer. Daar wag mense met spiese en skerp messe wat op ’n spesifieke manier die rugstring deursny waardeur die griend in meeste gevalle ’n baie vinnige dood sterf. By elke jag is die polisie aanwesig om toe te sien dat alles volgens die reëls plaasvind. Wat tot die polemiek bydra is sekerlik die foto’s van bloedrooi baaie waar die slagtings plaasvind.

Die verkoop van walvisvleis is streng verbied en al die vleis word gratis onder die lokale bevolking verdeel. Die hele walvis word gebruik, niks gaan verlore nie. Wanneer daar genoeg vleis is word die vleis ook na die naburige dorpe versprei. Na skatting word ongeveer 800 walvisse per jaar op hierdie manier in die Faroër gejag. Die omstredenheid van hierdie manier van walvisjag kan nie ontken of goedgepraat word nie, maar in die lig van die miljarde beeste, varke en skape wat in die res van die wêreld geslag word is die wêreldwye verontwaardigheid hieroor enigsins ontereg.

Die eilande word behalwe deur mense ook bevolk deur duisende skape wat wild rondloop. Elke skaap behoort aan iemand, maar hulle swerf in die somermaande los deur die berge. Egter staan hulle die graagste in die middel van die pad waar hulle aankomende verkeer tot op die laaste oomblik laat raai watter kant toe hulle gaan hardloop. Voor die winter begin word die skape versamel, geskeer en gaan hulle die stalle in vir die lang winter wat voorlê.

Ons rit vir die dag het ons teen die kus van ’n lang fjord geneem, die Kaldbaksfjord. Dit was koud, nat en renerig, maar die omgewing was wonderskoon. Uit die berge om ons het watervalle tientalle meters ver gestort en aan die regterkant was steeds die pragtige fjord met kleurige tipies skandinawiese dorpies aan die oewer. Met name soos Slættaratindur, Fuglafjørður, Runavík en Klaksvík waan jy jouself in ’n ou Noorse legende.

In baie fjorde is die enorme skaal waarop Atlantiese salm en forel gekweek word te sien. Die skoon water, konstante temperature, diep fjorde en sterk strome rondom die Faroër maak dit ’n uitstekende omgewing vir die viskweek industrie. Reusagtige groot ronde netkonstruksies word gebruik om die salm in die vars seewater te hou. In die ronde nette word die water in ’n sirkel gedraai en die jong vis gevoer tot die regte gewig. Jaarliks word ongeveer 100.000 ton Atlantiese salm geproduseer. Die grootskaalse viskweek het egter ook ’n keersy. Salm en forel (En trouens byna al die vis wat ons uit die see eet) is vleiseters. En die kweekvis moet ook gevoer word. Vir die produksie van 1 ton gekweekte salm word 3,3 ton wilde vis gevang en verwerk as voer. Daar word dus rofweg drie maal soveel wilde vis verbruik as wat gekweekte salm geproduseer word. Deesdae word ook krill gebruik as voer vir die kweekvis, maar hierdie klein garnaaltjie word in tonne uit die suidelike oseane versamel waar dit natuurlik voorkom. Egter is krill die hoofbestanddeel van die dieët van sekere walvissoorte en die vrees bestaan dat daar ’n tekort aan krill kan ontstaan waardeur die walvisstand bedreig kan word. Verder bedreig siektes en parasiete wat uit die kwekerye versprei word die wilde vis.

Ons het op ’n stadium oor een van die nasionale grappe van die Faroërs gery: Die sogenaamde brug oor die Atlantiese oseaan. Die eiland Eysturoy is deur ‘n nou seestraat geskei van Streymoy. Hierdie seestraat is tegnies deel van die Atlantiese oseaan en daar is ‘n brug oor gebou. Moet nie te veel van die Atlantiese brug verwag nie want hy is nie langer as tweehonderd meter nie en totaal onmerkwaardig. As jy nie van beter weet nie sal jy jou verbeel jy ry oor ’n breë rivier.

Maar, die oorsteek van die brug bring ons toe by ’n volgende Faroëse spesialiteit. Die Faroër eilande is baie bergagtig en die agttien eilande is almal deur seestrate geskei, dus moes die Faroërs iets bedink om die spul aanmekaar te knoop voordat een van die eilande die idee opneem om onafhanklikheid uit te roep. Die mees logiese antwoord hierop was tonnels en brue, met klem op tonnels. Sommige tonnels dateer uit die jare van voetgangers, waens en perde en is nie gebou vir moderne wegverkeer nie. Die gevolg is dat die grootste deel van die Faroëse tonnels geen elektrisiteit het nie (Pikdonker, dus) en dat dit enkelbaan-tweerigting tonnels is. Ja, lees daardie woord nog ’n keer en dink dan rustig daaroor na.

Toe ons by die eerste tonnel beland het dit my nie onmiddelik opgeval nie omdat ek my nog sit en verkyk het aan die enorme waterval wat langs die bek van die tonnel na benede donder. Maar toe sien ek dit, ’n swart gat in die berg waar presies een kar in pas. En daar kom ouens uitgery in die teenoorgestelde rigting as wat ons in moet ry. Aan ons kant van die tonnel wel ’n bord wat aangee dat ons voorrang het, maar ek het nie die indruk gekry dat ‘n voorrangsbordjie my veel gaan help as ek in die middel van die tonnel in die pikdonker teen ’n aankomende kar vasry nie. Na ’n paar keer se meet en pas, vorentoe en weer agteruit, besluit ek om op my tande te byt en deur te ry. Die tonnel is pikdonker, uit die skurwe rots gekap, breed genoeg dat my kar inpas en so laag dat ek onwillekeurig my nek tussen my boude probeer intrek. So lank dat die einde daarvan ’n dowwe ligspikkel in die verte is. En toe gebeur dit… Die spikkel aan die oorkant word twee spikkels en al groter. Ek voel hoe my hart in my keel klop en kyk in my spieël of ek nog agteruit kan ry, maar dit is te laat. Agter my sit ook twee spikkels. Vorentoe dan maar.

Met saamgeknypte boude en sweet teen my rugstring ry ek verder. Steeds nader aan die groter wordende dubbel-ligspikkel. Sal maar kyk wat die voorrangsbordjie my in die sak bring. Totdat hulle ewe skielik verdwyn! Al wat ek voor my sien is weer die enkele spikkel wat die einde van die tonnel aandui. Waar kan ’n hele kar heen verdwyn in ’n enkelbaan-tonnel?! Stadig ry ons vorentoe, gereed om elke oomblik op die rem te trap totdat ons by ’n nis in die rots verbyry waar presies een kar inpas. En ja, daar staan die kar wat van voor af op pad was. En toe verstaan ek hoe die tonnel-stelsel werk. Wanneer jy van die kant kom wat voorrang het kan jy inry en deurry sonder om jou aan enigiets of enigiemand te steur. Maar, wanneer jy van die ander kant kom moet jy mooi oplet. As daar ’n kar van voor af kom moet jy een van die gate in die rotswand soek om vinnig in te ry, sodat die aankomende kar by jou verby kan ry. Sodra die aankomende verkeer verby is kan jy weer netjies uit jou gat kruip en verder ry totdat daar weer iemand van voor af kom. Dan herhaal die proses homself weer.

Dit het wel ’n kwantumskuif geverg in terme van ons begrip van verkeersveiligheid, maar soos volleerde enkelbaan-dubbelrigting-tonnelryers het ons die res van ons tyd op die Faroër die tonnels genavigeer en steeds verlig vir mekaar gelag as ons lewend aan die ander kant uitgekom het.

’n Verdere aspek van die verkeer wat ons opgeval het was die vertroue wat die owerheid in die verkeersdeelnemers stel. ’n Aantal tonnels is splinternuut, baie modern en baie lank. Vir hierdie tonnels moet tol betaal word om deur te ry. Wanneer jy die tonnel binnery staan daar ’n bord wat jou aandag hierop vestig. Aan die ander kant van die tonnel is daar nog ’n bord wat jou maan om jou tol te gaan betaal by die volgende petrolpomp. En dit is dan dit. As jy “per ongeluk” die volgende petrolpomp miskyk of vergeet om te stop en te betaal kraai daar ook geen haan na nie.

En so al verkennend, tonnel-rydend en skape-vermydend het ons drie dae lank die Faroër deurkruis. Die Faroër is pragtig en verrassend, veral vir ons wat van die droeë suidelike deel van Afrika kom. ’n Paar stapels rotse in die Atlantiese oseaan, bedek met groen gras, mos en heide waar die water letterlik uit die berge stroom en beke, riviere en magtige watervalle skep voordat dit in de see verdwyn. Alles is nat en die dreiging (Of belofte?) van reën hang permanent in die lug. Die landskap is oop en vriendelik en nooi die besoeker uit om te verken. Die mense is vriendelik, toeganklik en baie behulpsaam. Trots op hul kultuur en nie skaam oor enige aspek daarvan nie. Dienste is oral goed, modern en professioneel.

Ons was aangenaam verras deur die Faroër en het dit as ’n goeie voorteken gesien vir die komende drie weke wat in Ysland voorgelê het toe ons die aand van die derde dag weer vir Knorpot saam met die honderde ander geesdriftige vier-by-vier ryders, motorfietsgangers en natuurlik die onvermydelike legendariese fietsers op die veerboot gelaai het om die reis voort te sit Ysland toe.

Volgende halte: Seyðisfjörður – Ysland

Reisland – 1

Die spanning was met ’n mes te sny toe ek ’n week voor vertrek by Aad se werkswinkel binneloop om my kar te gaan haal. Alles was nog nie so klaar soos ek dit wou hê nie en dit het veels te lank geduur. Byna ses maande was ons besig en ek wou die kar al ’n maand eerder hê sodat ek nog ’n paar toetsritte kon maak om seker te wees dat alles reg is. Nou was daar ’n week oor voor vertrek en my gemaksgevoel het ernstig gely onder die gebrek aan toetstyd.

Veral by Maraai het sterk twyfels bestaan oor die uithaal van die ABS lampie wat bly brand na alle pogings om die probleem in die ABS stelsel te vind. My en Aad se gevolgtrekking was dat die lampie stukkend moet wees want hy hou aan brand. Die probleem was opgelos op die oomblik toe ons die lampie uithaal. Hy het opgehou brand…. Dit het egter nie gehelp om die ongerustheid by Maraai minder te maak nie en sy het dit duidelik kenbaar gemaak aan my en Aad.

Ek het met min vertroue agter die stuur plaasgeneem om die eerste toetsrit aan te durf. Aad het langs my gaan sit met sy ghrieshande en my afwagtend aangekyk toe ek die kar aanskakel. Ten minste het die ABS lampie nie meer gebrand nie. Hy het langs my gelê.

Die toetsrit het goed gegaan. Remweg reguit, geen trek aan die stuur, geen onverwagse trillinge, vibrasies of rammelgeluide nie en geen onderdele wat agter ons in die pad bly lê nie. Selfs die remme het gewerk, ABS lampie of nie. Ek het nie die toeter getoets nie want ek wou die noodlot nie verder tart nie, maar ek was versigtig optimisties. Maraai, wat in die werkswinkel gewag het tydens die toetsrit, was nog nie oortuig nie. Ek en Aad het wyslik stilgebly want op daardie stadium was daar niks wat ons kon sê wat ons kant van die saak sou versterk nie. Veral nie met die los ABS lampie nie.

Ons sou oor ’n week vertrek Ysland toe waar ons drie weke lank die kar aan die swaarste moontlike beproewinge sou onderwerp en ons moes seker wees dat hy (Ja, dit is ’n hy en sy naam is Knorpot) ons veilig en sonder probleme heen en terug sou bring.

Stadig het Maraai gewoond geraak aan die idee dat Knorpot ons Ysland toe sou vat en teen die tyd dat ons vertrek het was sy al minder pessimisties. Ek het haar nie vertel van die klemming om my maag wat my oorval het elke keer as ek gedink het aan alles wat moontlik fout kon gaan nie. Dit sou die atmosfeer nie ten goede gekom het ’n week voor ’n vier-by-vier vakansie aan die land van vuur en ys nie.

En so het die dag van ons vertrek Denemarke toe aangebreek. Die plan was om tot in Hirtshals te ry en daar die veerboot te haal na die Faroër eilande waar ons drie dae sou bly voordat ons verder sou vaar Ysland toe waar die avontuur sou begin.

Maar, binne drie uur na ons vertrek steek ‘n ernstige probleem sy kop uit. Die verwarming in die kar werk nie en ons gaan YSLAND toe. Ons was al te ver van die huis af om om te draai na Aad toe vir hulp en die enigste opsie was verder ry. Ek hou myself uiterlik kalm en probeer te verduidelik dat ons die probleem kan oplos, maar Maraai dwing my om by die eerste beste Ikea te stop om komberse te koop. In my binneste weet ek dat kombersies nie gaan werk as jy in die koudste jaar sedert 1900 in Ysland sonder verwarming in jou kar probeer rondry nie, maar ek besluit om die gedagte vir myself te hou.

Sommer in die parkeergarage van Ikea vir Aad gebel en met my kop onder die motorkap op Aad se telefoniese aanwysings die regte blou drade deurgeknip en die verkeerde rooi drade aan die regte swart drade vasgedraai. Groot was die verligting toe ons die knop draai en die verwarming gaan aan. Aad se tegniese lof besingen sit ons ons reis voort met werkende verwarming en ekstra komberse. Steeds deel ek nie die gedagte oor hoe dit sou gewees het om sonder verwarming deur Ysland te ry nie.

Sonder al te veel opmerklike gebeurtenisse het ons Hirtshals die volgende dag bereik, vir Knorpot op die allemintige groot veerboot gery en na ons slaaphut gegaan vir twee vervelige dae op die veerboot.

Lente en Somer

Lente

Lente is ’n jong meisie, son in haar hare

wat vroegoggend by die deur inwaai

met sonskynreuk van bloeiselblare

laggend deur my woonkamer draai

Strooi bloesemsneeu uit sagte hand

as sy saggies deur die bome swaai

en singend langs die bos se rand

nuwe lewe uit ou bome draai

Somer

Somer is die naam van my vrou

wat warm asem oor my arm streel

die melkweg in haar oë hou

terwyl silwer maanlig in haar hare speel

My hart hou sy in die holte van haar hand

songoud brand in haar stem se glans

Sy is die reuk van sout op ‘n warm strand

Sy is die golf in rooikopergras se middagdans

 

‘n Nuwe tyd

Daar het ‘n lang tyd verbygegaan sedert die laaste keer dat ek iets geskryf het. Die redes is nie interessant nie; Vir my is dit belangriker dat ek nou stadigaan weer die behoefte kry om dinge neer te skryf.

Nog ‘n winter is stelselmatig besig om homself aan ons te onttrek. Maar nes mens dink dat dit nou lente word kruip ‘n stuk ysigheid weer oor die land om ons te herinner dat ‘n seisoen nie in ‘n dag verander nie.

‘n Seisoen skuif oor, ‘n volgende op die punt om te begin; Soos die herhaling van periodes in ons lewens, die een na die ander. Onverbiddelik en onstuitbaar soos die sloom swaai van die planete in hul baan om die son. Alles wat begin gaan ‘n keer verby en alles wat verbygaan begin ook weer.

In die verbygaande jare het baie verander, maar terselfdertyd dieselfde gebly. Dit wat verby is is verby met ‘n morbiede onherroeplikheid en kan nie meer verander nie. Dit het ons wel gebring waar ons vandag is. En dit wat voorlê is vir ons onbekend. Tog is dit waarheen ons op pad is. So is die kaart waarmee ons navigeer. Die pad voor ons word pas sigbaar as dit agter ons lê. Die sigbare verlede gee wenke na die verduisterde toekoms, maar ons insig is te beperk om sinvolle informasie daarvan te maak, waardeur ons soos blindes met ‘n lantern deur die duisternis strompel.

‘n Verdere waarheid is dat hoe verder ons beweeg hoe sterker ons probeer vasklamp aan dinge agter ons is. En hoe ongemakliker ons is met die veranderlikheid wat ons enigste vastigheid geword het. Terwyl ons maar reisigers is in hierdie domein. Toeskouers in ’n museum wat niks kan saamneem nie. Soos jy ingeloop het loop jy teen sluitingstyd weer uit. Slegs ’n waarneming ryker.

Nou die dag in die trein kom jong man oorkant my sit. Hare in ’n verwaaide hanekam, staalringe deur die neus en wenkbrou, uitgerekte groen trui aan, koppie koffie en ‘n pak dokumente in sy hand. Die dokumente lyk soos sy pos van die afgelope twee weke. Sluk van sy koffie gevat en toe begin hy deur sy poshopie te werk. Rekeninge, bankstate en die ander normale rommelpos wat ons almal kry. Toe maak hy ’n klein wit vierkantige koevertjie oop. Ek kon sien dit was ’n begrafniskaartjie. Hy het ’n oomblik sit en lees en toe laat hy die kaartjie op sy skoot sak. Hy sit agteroor en kyk by die venster uit. Lank so gesit en toe ek weer opkyk sien ek hoe hy ’n traan met sy groen trui se mou van sy wang afvee.

 

 

My eerste herinneringe

Ek was drie of vier jaar oud en ek het in ‘n melkstal gestaan. Dit was koud en donker en reusagtige swart en wit Frieskoeibene het soos bome die stal vol gestaan. My pa was daar en die blikemmerkonsert van ‘n melkery wat in volle swang was het die stal gevul. Die reuk van melk en koeimis ontsteek daardie gedagte vandag nog by my.

So onthou ek Brakspruit. Vlae dowwe herinneringe kom soms terug. Die val van Verwoerd se bruin-wit gevlekte nek af tot in die krip. My driewiel ekspedisie dorp toe omdat ek nie saam vendusie toe kon gaan nie. En die verraad van die buurman wat met sy bakkie by my gestop het op die grondpad en aangebied het om my saam te neem vendusie toe en my toe by die huis gaan aflaai het. My verontwaardiging daaroor. Besoeke aan die landerye in die bakkie. En aan die slaap raak op die voorsitplek in die lui wintersonnetjie terwyl my pa sy loop deur die landerye loop. Koue koffie uit ‘n fles. Vandag nog bring die smaak van koue koffie daardie herinneringe in ‘n flits terug.

En om een of ander rede onthou ek die sandsteen hoeksteen van die plaashuis. Geen idee waarom daardie een stuk sandsteenblok in my geheue bly vassteek nie. Miskien is dit omdat daar die fondament gelê is van wie ek is. En dat daardie stuk sandsteen my fondament en hoeksteen simboliseer.

Onthou vir Johanna

Johanna is dood. Êrens in die vyftig en alleen op die wêreld. Nooit getroud gewees nie, geen kind of kraai nie, net haar gestremde broer Klaas in sy rolstoel wat ‘n blok van haar af gewoon het en elke Saterdag by haar ontbyt kom eet het. Sy het ook nie vriende gehad nie.

Sy is dood aan die gevolge van longkanker. Sy het haar lewe lank soos ‘n skoorsteen gerook.  As hierdie stelling jou noop om ‘n waarde-oordeel te vel hou maar dadelik op met lees want ek gaan jou teleurstel. Hierdie is nie ‘n sede-preek oor die gevolge van nikotien nie. Dit is ‘n eerbetoon aan die mees onmerkwaardige persoon wat ek nog ontmoet het. Almal van ons verdien om onthou te word. Maak nie saak hoe onmerkwaardig nie.

Van Johanna is min bekend. Haar kollega’s weet dat sy ‘n tyd lank in Griekeland gewoon het, maar met die siekte van haar moeder het sy teruggekom Nederland toe. Na die dood van haar moeder en haar hond was Johanna sielsongelukkig en dit het nie beter geword nie. Vriende het sy nie gehad nie en kontak met familie, wat sy ongetwyfeld het, ook nie. Die enigste mense waarmee sy kontak gehad het was haar kollega’s en dan slegs in werkstyd.

Ek het haar ontmoet tydens ‘n werksfunksie van die maatskappy waarvoor Maraai werk. Sy was vaal. Maar dan in letterlike sin. Vaal hare, vaal lippe, vaal vel en selfs haar stem was vaal van die skorheid van stembande wat veertig jaar lank in nikotien geweek is. Haar oë was vaal en hartseer en ongelukkig en haar handskud sag en weifelend. Sy was in alle opsigte die mees onopvallende persoon wat ek nog ontmoet het.

Johanna het altyd al siek gelyk en haar kollega’s het gespekuleer oor wat fout kan wees. Maar sy was so geslote dat niemand ooit naby genoeg aan haar kon kom nie. Totdat sy ‘n paar maande gelede gediagnoseer is met kanker. ‘n Kanker wat al van haar longe tot in haar kliere, haar bene en selfs so ver as haar brein versprei het. Sy het aanhou werk want tuis was daar vir haar niks anders as stilte nie en die dood wat geruisloos agter haar aangeskuifel en langs haar op die bank gaan sit het. Sy was nog steeds geslote en niemand het werklik geweet hoe dit met haar gaan nie. By die werk het sy nie oor haar siekte gepraat nie en aangegaan asof daar niks fout was nie. Die enigste teken van agteruitgang was dat haar besoeke aan die werk steeds meer sporadies geword het.

Twee weke gelede is sy plotseling oorlede. Haar dood was soos haar lewe. Onmerkwaardig. Die begrafnis was ingetoë, baie klein en, soos Johanna, onmerkwaardig. Die grootste groep besoekers by die begrafnis was haar kollega’s. ‘n Neef wat by die selfde maatskappy werk is deur Johanna se direkte kollega’s vertel van haar siekte en dood. Daar was ‘n bietjie familie by die begrafnis en Klaas in sy rolstoel. Hy was emosioneel en baie hartseer. Maar die res van die aanwesiges se oë was droog. Haar baas het ‘n toespraak gehou en Klaas het ‘n paar woorde gesê, maar sy emosies het hom oorweldig en hy kon nie verder praat nie.

Na die kort seremonie is sy begrawe. En dit was dit. Die kollega’s is terug werk toe, die familie het teruggekeer na waar hulle vandaan gekom het en die saaltjie waar die seremonie plaasgevind het is opgeruim vir die volgende begrafnis wat die middag sou plaasvind. Al wat oorgebly het was Klaas in sy rolstoel en ‘n verlepte wit lelie wat op die vloer agtergebly het. Die skoonmakers het hom gemis. Een blaartjie is platgetrap deur ‘n skoen.

Tik Tak Tik Tak

Tyd, die GROOT vernietiger van alle dinge, het nog ‘n jaar onder ons voete uitgeskaaf. Nog ‘n jaar lê in netjiese brokstukkies van een sekonde elk aan skerwe agter ons en die voorhamerslae van die horlosie dwing ons vorentoe om nie deur die groot byl van tyd ook verbrysel te word nie. Ons kan net een kant toe en dit is vorentoe. Die kap-kap-kap van tyd jaag ons aan en ons moet steeds vinniger en vinniger hardloop om self nie onder die skerp lem te beland nie.

Wat verby is is verby, die tyd om te gaan het gekom en die skerwe en splinters van die afgelope jaar word stadig deur ‘n kosmiese wind verwaai deur die heelal van menslike herinneringe. Ons probeer dit soms desperaat in ons hande vas te gryp en teen ons bors te druk, maar soos sand stroom dit weg deur ons vingers. Die meeste wat ons oorhou is ‘n paar korreltjies wat in die palm van ons hand bly lê. En as jy met jou oë knip gryp ‘n windjie dit en waai dit vir ewig weg.

Al die skerwe en brokstukke van die afgelope jaar lê in ‘n groot hoop agter ons en die beste wat ons daarvan kan maak is om te probeer om vir ‘n kort rukkie aan die mooies vas te hou en die slegtes so vinnig moontlik te laat wegwaai. As ons die brokkies op die regte manier by mekaar rangskik kan ons nog ‘n tydjie geniet van mooi herinneringe, maar die skuurpapier van tyd doen selfs daarmee sy geduldige werk. Dit word dowwer en valer en gryser totdat dit slegs as ‘n vaal vlekkie op die agterkant van ons siel oorbly. ‘n Dowwe spikkel waar eens ‘n hele palet aan kleurige, geurige herinneringe was.

En so hardloop ons struikel-val deur die lewe in die wete dat die skurende werking van tyd ook ons lot is. Ons sal stadiger en stadiger hardloop tot op die dag dat ons struikel en ons die onvermydelike kap van die byl nie meer kan voorbly nie. Dan word ons lewens deur die tand van die tyd verorber en skuif hy sy groot grys lyf oor ons heen sodat ons in die stof agterbly. Waar ons deel sal vorm van die herinneringe van andere en mettertyd as ‘n vaal spikkel in die vergetelheid sal verdwyn.

Maar voordat dit gebeur lê ‘n nuwe jaar soos ‘n maagdelike skildersdoek wit voor ons. Die dowwe lyne en kontoere wat ons daar sien is ‘n illusie van ons gees wat probeer om die komende jaar in ‘n herkenbare patroon te giet. Wat graag deur die tyd verbryselde herinneringe in die nuwe jaar weer tot lewe wil wek. Langs ons staan ‘n palet met ondenkbaar baie kleure en in ons hand die kwas waarmee ons die doek kan beskilder.

Dit is ons eie keuse of ons binne die voorgetekende dowwe lyne en kontoere wil bly en of ons uitbundig daaroorheen wil skilder met die helderste, felste kleure wat ons kan meng op ons palet. Ons kan kies om slegs met skakerings van grys en swart te werk of ons kan die son en die hemel en die maan en die sterre gebruik om lig en kleur aan ons nuwe skildery te gee. Dit alles in die wete dat tyd ook hierdie skildery sal vermaal tot die pulp waarmee ons lewens gevorm is.

En  elkeen van ons maak sy eie keuse. Aangejaag deur die ewige tik-tak-tik-tak begin ons almal te skilder.

Sommige van ons verwoed en wild met lang hale van die kwas, asof dit die laaste skildery is wat ons ooit sal maak.

Ander van ons stadig, kalm en rustig met vaste hand, asof dit die laaste skildery is wat ons ooit sal maak.

 

 

 

 

Maanskadu

as die volmaan soos vanoggend vroeg

geel en bottervet

laag deur sneeubewitte boomtakke

oor witgeskrikte sneeuland lê….

hoor ek die roepstem uit die skaduland

wat trek aan my siel

en pluk aan my hand

om in swart-wit bosse my spoor te gaan hardloop

te huil soos ‘n wolf en wild te wees….

my band met die kosmos te vier

op hierdie vreemde manier

en ek sal lyk soos ‘n honger spook

en klink soos ‘n vals klavier

maar ver van stad se rook

maan op my gesig

sterre in my oë

lag in my mond

sal ek veertjielig soos ‘n skadugees

kaal tone in mosgrond

weer die kind kan wees….

Net voor ek vrek van die koue.