Ek het gedroom

Die eerste nag terug van die berg af het ek in ’n onrustige slaap gesukkel.

Ek het gedroom en dit was ‘n droom wat ek glashelder onthou.

Ek het gedroom dat ek in myself wegsak. Heeltemal weg in myself tot binne-in die donkerste dieptes van my siel. Daar het ek ’n klein silwer draadjie sien glinster, soos ’n ligsplinter. Dit was die lyn van my tyd. Ek het die lyn begin volg. Met die lyn langs het ek my lewe agteruit sien gaan tot waar alles begin het vir my.

Daar het ek Hom gesien. Hy het sy hande in die rooi klei langs die Palala-rivier gedruk en ’n homp in sy regterhand geneem. Daarmee het hy begin werk en dit stadig vorm gegee. ’n Maroela se bas het Hy deurgemeng, van die takke van ’n sekelbos het Hy bene gevorm. ’n Skoot olifantmis ingemeng vir die regte struktuur en ’n handvol kakiebos om die geur reg te kry. Van’n klos buffelsgras het Hy hare gemaak. Stadig het Hy my gevorm, telkens bietjie rivierwater bygegooi en soos nodig ‘n paar gladgeskuurde rivierklippies deurgemeng.

Toe hy klaar was het daar leweloos gelê op die wal van die rivier, ’n mensvorm van rooi klei, bedek met boombas, aanmekaar gehou deur sekelbostak en dit alles het geruik na rooi modder en kakiebos.

Toe het Hy weggegaan en bo-op die Kilimanjaro gaan wag. Daar het Hy baie dae geduldig gesit en telkens met sonop gewag op daardie oomblik dat die son die aarde loslaat. Op die regte oggend, op die regte oomblik het Hy sy hand uitgesteek en daardie laaste druppel goue sonlig wat tussen die son en die aarde vasklou voordat die groot rooi bal die hemel inskiet, tussen sy duim en voorvinger gevang.

Hy het teruggekeer na die wal van die Palala, waar die rooiklei-liggaam nog steeds gelê en wag het. Die stukkie son het Hy met groot versigtigheid in die bors van die klei-liggaam gedruk en dit liefdevol toegevou met klei.

Dit was die oomblik toe die lewe onstuitbaar deur my liggaam begin stroom het. Toe het Hy my gegee aan twee mense wat op dieselfde manier gevorm is uit die boumateriale van Afrika.

Toe het Hy begin om ‘n maat te maak. Haar het hy gevorm uit die klei langs die Komatirivier. Haar bedek met die blomblare van ‘n Impala-lelie, haar bene gevorm met die soepel takke van ‘n rivierwilg, ’n handvol wilde jasmyn deurgemeng met twee tieroog-klippies vir oë. Met baie liefde, geduld en sorg het Hy haar gevorm en telkens as iets nie perfek was nie, alles afgebreek en oor begin.

Toe het Hy weer weggegaan en op die hoë berg gaan wag. Daar het Hy weer baie dae lank sit en wag vir die regte oomblik en toe alle omstandighede perfek was het Hy weer sy hand uitgesteek en met duim en wysvinger daardie spesiale sondruppel afgeknyp.

Toe Hy die stukkie son in haar bors toegevou het het ook in haar die lewe onbedaarbaar begin bruis. Haar het Hy ook gegee aan twee mense wat Hy lank gelede uit Afrika gevorm het.

Nou verstaan ek baie meer dinge. Ek verstaan ‘n bietjie van wie en wat ek is. Ek verstaan waarom ek in die bosveld myself telkens vind. Ek verstaan die sagte rus in my siel voel as die Afrika-son op my vel skyn. En ek verstaan waarom die lewenslus soms so hard deur my liggaam jaag. Ek verstaan waarom ek so graag my voete in rivierklei druk, sodat dit deur my tone opkrul boontoe. En waarom ek so graag met my hand oor die stam van ’n maroelaboom vryf om die growwigheid van die bas onder my vingers te voel. En ek kan nie by ’n sekelbos verbyloop sonder om die fyn blaartjies ’n oomblik tussen my vingerpunte deur te laat gly nie, ’n bol olifantmis krap ek met ’n stokkie deurmekaar en verwonder my oor die growwe struktuur daarvan. En kakiebos druk en stukkend en snuif daaraan. En ek kan ure lank in alle rus tussen die buffelsgras sit en kyk, ruik en luister na hoe Afrika om my leef.

En ek weet nou waar hierdie warmte in my bors vandaan kom. Dit is die skyfie Afrika-son wat daar brand. Wat my lewe verlig en in die langste, donkerste en koudste winternagte my siel warm hou en ’n glimlag op my gesig tower.

En ek verstaan nou van Maraai. Wanneer ek aan haar raak voel ek die sy-sagte blomblare van ‘n impala-lelie. En die soet reuk van jasmyn in haar hare. En ek weet nou waar daardie gloed agter in haar tierklip-bruin oë vandaan kom. Sy is uit dieselfde grond as ek gemaak, met die selfde bestanddele versigtig en liefdevol aanmekaar gesit en in haar bors brand dieselfde son met dieselfde felheid waardeur sy haarself en almal om haar verwarm. En wanneer ons bymekaar is voeg daardie twee sondruppels hulself saam om die warmte van ons Afrika son oor die mense om ons te laat skyn..

Waar my lewenspad my ook mag bring, die reuk van kakiebos en wilde jasmyn, die grofheid van die maroelaboom en die sagtheid van die blom van die impala-lelie sal altyd my deel wees.

Tot die dag dat my stukkie son terugkeer na daardie ver horison sal ek smag na die brand van die Afrika-son. En die dag as dit gebeur sal ek terugkeer na die modder waarvan ek gemaak is en sal my liggaam terugsypel in die rooi klei. En ek sal weer deel uitmaak van die grond waaruit ek gevorm is. En ek sal onsigbaar wees, maar altyd daar.