Kilimanjaro – Dag3

Die oggend van dag 3 het uiteindelik na ’n byna eindelose nag aangebreek. Teen vyfuur het die porters en kokke se vrolike gelag en praat die kamp weer gevul. Ek het ’n uur lank gelê en wonder waaroor hulle so lekker gesels en lag, maar toe besluit dat ek nie te veel moes nadink daaroor nie, want tussen die klomp van ons was daar genoeg vir die ervare draers en gidse om baie lank en baie lekker oor te lag. Af en toe het ek ’n bekende naam hoor val, gevolg deur ’n skaterlag van die groep luisteraars.

Klokslag halfsewe staan die twee toe weer by ons tent met koffie- en tee water. Vinnig uit die slaapsak gewikkel en ’n heerlike, stroopsoet koppie swart tee ingewerk. Dit was koud. Ek skat dat dit rond minus-3 was toe ons opgestaan het. My termometer het in die buurt van min-8 gestaan, maar ek vertrou hom glad nie. Daar het in elk geval ’n lagie ys van so ’n sentimeter dik op die tente gelê en die grond was bedek met ’n spierwit laag dik ryp wat soos versiersuiker oor alles gelê het.

En toe weer die onvermydelik blik na die ooste toe waar ek die vorige nag die swaar, donker skadu gesien het. En daar staan hy toe! Kibo, nog steeds net so onbeïndruk met ons teenwoordigheid as gisteroggend, staan presies soos hy al die eeue nog staan. Vanoggend het die slim opmerkings baie vinnig opgedroog toe ons soos meerkatte in ’n ry na die berg staan en kyk het. Die algemene gevoel was een van stil respek vir hierdie stapel klippe.

Agter ons, aan die westekant het ’n dik laag wolke ’n paar honderd meter onder ons die uitsig op Tanzanië verberg. Meru het aan die regterkant skaam-skaam sy kop tussen die wolke deurgedruk om die eerste strale van die son te kan vang.

Daar was nie baie tyd om ons te staan en bekommer nie, want ons moes vinnig inpak, ontbyt gaan eet en regmaak vir die dag se tog. Ontbyt was weer heerlik, met verrassing…. Maltabella. Lekker bruin sorghumpap, presies soos die waarmee ek grootgeword het. En nog ’n onbekende vir die Europeërs en Amerikaners in die groep. Ek het gesmul en die res het die bruinerige papperysel eers bietjie vieserig aangekyk voor hulle versigtig daaraan geprobeer het. Maar die meeste ontbytgaste was aangenaam verras en die pot is blitsvinnig leeggeëet.

JDP en sy kinders was nog steeds nie lekker nie en hulle het ook nie ontbyt gehad nie. S het probeer eet, maar baie vinnig weer uitgehardloop en te oordeel na die geluide het hy sy maltabella in die bossies gebêre. JDP en D was selfs nie in die tent nie. Deo het homself baie duidelik oor hulle bekommer en was gedurig op sy selfoon aan die praat met sy mense in die hulppos onderaan die berg.

Na ontbyt het M, die jongste van die twee broertjies ook ’n draai in die bossies gaan loop en toe hy terugkom was hy baie bleek om die kake. Aan die begin van dag-3 het ons dus al vier mense gehad wat baie duidelike simptome vertoon het van hoogtesiekte.

Teen halfagt het almal gereed gestaan en met die Masaï vooraan het ons stadig aan die dag se tog begin. Ons roete het ons reg op Kibo in die ooste af geneem.

Ek en MK het weer heeltemal agter aan die groep gehang. Weer dieselfde storie as die vorige dag. Met een van die gidse altyd by ons in die buurt het ons loop en kuier, foto’s maak en sommer net geniet van die omgewing. En ver, ver agter ons het Sue aangekom, met die getroue Deo aan haar arm.

En weer, net soos die vorige dag, hoër en steeds hoër. En steeds nader aan die imposante verskyning van Kibo. Maar, in die loop van die oggend het sy skaamte weer die oorhand gekry en het hy homself weer toegetrek met sy wolkekombers wat hy altyd in die buurt gehou het vir noodgevalle.

Ek het die hoogte op hierdie dag ook begin voel, net soos dink ek, die res van die groep. In die loop van die oggend het ons by JDP en sy kinders verbygeloop. By hulle was ook twee gidse wat op daardie stadium al hulle bagasie ook gedra het. Die drie het baie swaar gekry. S het al die heel oggend sy longe loop en uitkots op die berg en JDP en D het so blekerig om hulle heen gestaar. Hulle het beslis nie lekker gevoel nie. Ons het ’n rukkie saam met hulle probeer loop om te kyk of ons hulle kon opbeur, maar ten eerste was met hulle geen normale gesprek meer te voer nie en tweedens het hulle selfs vir ons stadige pas te veel gestop en te stadig geloop.

Hulle het ook steeds verder agter geraak en later het ek gehoor dat hulle by Sue en Deo aangesluit het.
Net voor middagete het ons die styging ingesit Lava-Tower toe en dit is waar ek begin agter raak het op MK en ons gids. Hulle moes kort-kort op my wag. Ek was nie siek nie, maar baie moeg en kon my slegs treetjie-vir-treetjie voortbeweeg teen die steil helling uit. Na elke paar tree moes ek stop om weer my asem terug te kry en my kop het pynlik geklop met elke asemteug wat ek geneem het. Op hierdie punt het ek stadig, moeilik en diep asemgehaal en probeer om my stapritme af te stem op my asemhaling, wat gemaak het dat ek baie stadig geloop het.

Ons was op ongeveer 4300 m hoogte en ongemerk het al die plantegroei verdwyn. Selfs die Senecio’s was weg en die enigste lewe wat ons nog teëgekom het was ’n paar mosse op die klippe en hier en daar ’n half gevrekte graspol wat nog halstarrig in ’n sloot tussen twee rotse aan die lewe geklou het. Ons het geloop in ’n soort lewelose maanlandskap. Dit het gelyk soos ’n toneel uit Star Wars. Ligte sand, donker rotsblokke wat oor die landskap besaai gelê het asof dit na die skepping deur ’n reuse Hand agteloos daar gestrooi is. En reusagtige klowe en valleie wat deur eeue heen deur gletsers in die berg gekerf is.

Dit was ’n onwêreldse gevoel om daar te loop. Alle faktore gekombineer het die gevoel by mens gelaat dat jy nie op aarde is nie. Ek dink die gebrek aan suurstof het bygedra tot die surrealisme van die toneel om my. Ek het soms net stilgestaan en gekyk na wat ek sien met die wete dat ek iets baie besonders beleef, maar dat ek pas agteraf die impak daarvan op my sou begryp. Dit was asof ek soms buite myself gestaan en na binne gekyk het.

Eindelik op Lava-Tower aangekom het ek by die res van die groep aangesluit wat swetend en swetsend hulle middagete probeer nuttig het. Ek het stadig op een van die rotse daar gaan sit en my asem probeer terugkry. Dit was sekerlik die swaarste gedeelte tot nog toe en dit het niks goeds beloof vir die res van die tog nie. Gelukkig was die middag se stap weer meestal afdraend en sou ons daal tot 3900m by Barranco kamp.
Die agterlopers, Sue, JDP en sy kinders en Deo, met nog twee gidse om daar te help het die gedeelte na Lava-Tower oorgeslaan. Daar is ’n alternatiewe roete op dag 3 waardeur jy nie by Lava-Tower op die hoogte langs hoef te loop nie. Die ander roete is ’n bietjie laer en minder veeleisend. Die gevaar daaraan is dat jy ’n gedeelte van die noodsaaklike akklimatisasie misloop en dit kan later in die tog vir probleme sorg.

Tydens middagete het ek ’n baie gesonde movement ontwikkel. Daar was genoeg groot klippe in die buurt en ook een van die nagmerrie-toilette. Ek was meer as tevrede met die agterkant van ’n groot klip, maar het tog maar besluit om die regte ding te doen en die toilet op te gaan soek. Die toilet het dan ook aan al die smerige verwagtinge voldoen en na my aksies daar en met ’n kloppende hoofpyn was ek weer gereed om die tog voort te sit.

Dit was ook tydens die derde dag dat die winde begin het. Soos Ranjit dit so mooi gestel het, ons het almal las gehad van flatulensie. Dit is ook een van die simptome van die liggaam se aanpassing aan die hoogteverskil en laer lugdruk. Ek dink dit beteken kortweg dat die lugdruk binne jou derms groter is as die lugdruk buite. En dan hoef jy nie kernfisika te studeer om af te lei wat die gevolge daarvan sal wees nie. Ons het loop en skyt soos ’n trop pakdonkies. ’n Kompetisie tussen die broertjies het op gelykspel uitgeloop. Hulle het probeer om die Wilhelmus (Die Nederlandse volkslied) te skyt en ek reken hulle was aardig op weg deur die tweede strofe voor die wind opgeraak het. En ek vermoed die laaste paar note was ook nie meer droog nie, al het hulle niks gesê nie. Maar, dit kom eintlik daarop neer dat jy permanent die druk in jou onderste derm voel. En dat jy op enige oomblik wat jy die kringspier effens loslaat die aller-allermooiste winde kan laat. Ons het pas ’n verbetering gemerk tydens die afdaling op die laaste dag.

Ek en MK het so ’n paar minute na die hoofgroep van Lava-Tower af vertrek. Van Lava-Tower af is dit onmiddelik baie steil na benede deur een van die gletser-valleie. As jy onder in die vallei staan en boontoe kyk sien jy die Arrow Glacier gletser daar bo teen die berg. Hy het hom soos ’n slak se oog teen die berg teruggetrek en al wat hier onder nog sigbaar is van die gletser is die vrolik kabbelende stroom silwerskoon, vrieskoue gletserwater. Dit is ‘n vreemde idee om te besef jy staan op ’n plek waar ongeveer 25 jaar gelede ’n yslaag van tien meter dik gelê het.

Die volgende uur of so het ons pad redelik gelykmatig teen die helling na ondertoe geloop. Namate ons afgesak het het ons stadigaan weer plantegroei begin sien. Veral Senecio het ons die middag veelvuldig gesien.

Als geselsend, kuierend en rustend het ons verder na ondertoe ge-pole pole totdat ons begin agterkom het die gids raak onrustig omdat ons so stadig loop. Hy wou ons nie aanjaag nie, maar hy was bekommerd oor die naderende reën. Op ’n stadium in die middag het ons paadjie die gekruis van Sue, JDP en sy kinders, maar van Sue was daar nog steeds geen teken nie. JDP het in die loop van die dag weer Diamox gekry en hy was in ’n baie goeie stemming. S het ook redelik vrolik op die berg rondgehuppel, maar D was nog siek.

Teen laatmiddag kom ons toe in ’n droë kloof waar ons die mooiste Senecio-woud binneloop. Letterlik honderde van die eeue-oue oerplante staan langs mekaar teen die helling van die kloof. Te veel om te tel en aan die vertakkinge te sien was meeste van hulle etlike honderde jare oud. Dit was ook die oomblik dat die donderstorm met die akkuraatheid van ’n atoomklok om ons heen losgebars het. Die laaste paar honderd meter kamp toe het ons in die steeds harder wordende reën tussen bliksemstrale heen gehardloop en net voor die storm in al sy hewigheid losgebars het was ons in ons tent.

Verrassend genoeg kon ek hardloop sonder probleme en toe ek die tent bereik het ek selfs nie eens meer hoofpyn gehad nie. Die afdaling van 4500 na 3900 m het ’n voelbare verskil gemaak.

Na die reënbui het ons soos ’n klomp nat muise uit ons tente gekruip en in ’n bedremmelde bondeltjie gaan staan en die dag gang van sake met mekaar bespreek. Dit was nog swaar bewolk en moeilik om ons te oriënteer, maar ons het ongeveer ’n idee gehad aan watter kant Kibo moes wees. Op daardie oomblik het Deo ook met Sue aan die arm die kamp binnegekom. Sue was heeltemal klaar met die storie en sy het dit duidelik gemaak ook. Haar knie het probleme gegee en sy was tot op die been natgereën. Die storm het hulle in die heuwels betrap en ek dink sy was doodsbang vir die onweer wat daardie middag aan alle kante die swael uit die klippe geslaan het. Sy het haar daar voorgeneem om die volgende dag nie verder te stap nie, maar Deo het met sy blik laat sien dat hy anders dink oor die saak.

’n Halfuur later het die wolke weer weggetrek en ons het soos elke keer in die dae daarvoor weer in stille verwondering gestaan en staar na Kibo wat steeds nader gekom het en met elke dag meer ’n in-your-face houding begin aanneem het. Die aand het dit gelyk of ’n brandende kers oor die berg gehou is. Die ys het soos gesmelte was teen die kante van die berg afgeloop.

Die laatmiddag was pragtig en met die wegtrek van die wolke het ons agtergekom dat ons weer op die rand van ’n plato gestaan het met ‘n pragtigse uitsig op ’n kronkelende rivier in ‘n vallei so tweehonderd meter laer. En weer, daar doer ver onder ons, Tanzanië in al haar uitgestrekte eensaamheid.

Aan die oostekant van ons, baie naby, was die berugte Barranco-wall. Ook genoem die Breakfast-wall. ’n Yslike rotswand van ongeveer 1 kilometer hoog, waarteen ons die volgende oggend omhoog sou moes klouter. Die feit dat die porters met al hulle pakke gewig saam sou gaan klim het gehelp om die senuwees te laat bedaar oor die groot klim wat die volgende oggend voorlê, maar ek kon nie help om baie klein en nederig te voel nie. En ’n heel klein bietjie bang, maar dit sou ek aan niemand erken het nie. En Kibo het regtig nie uit sy pad gegaan om my beter te laat voel nie.

Die aand met aandete was almal redelik opgewek. Alle siekes was weer gesond, met die uitsondering van Sue wat vasgehou het aan haar standpunt dat sy nie verder gaan stap nie. Deo het soos ’n ervare politikus die onderwerp vermy en dit was vir almal duidelik dat, as hy enigsins nog ’n sê in die saak sou hê, Sue die volgende dag gewoon soos die res van ons sou begin klim aan die Barranco-wall.

Die volgende dag se program is weer bespreek tydens aandete. Selfde storie as elke dag tot nou toe. Halfsewe koffie en tee, sewe-uur se kant ontbyt en om halfagt begin ons stap. Die volgende dag sou, afgesien van die Barranco-wall nie so swaar wees nie. Ons sou drie ure lank loop tot by Karanga-kamp. Karanga is ’n ingelaste tussen-kamp op die Machame-roete. Baie mense kies om Karanga oor te slaan en reguit deur te steek na die basis-kamp Barafu aan die voet van Kibo. Die ekstra dag wat gewen word deur die oornagting in Karanga is goed vir die akklimatisasieproses. Karanga lê op 3950 meter, dus in totaal maar so 50 meter hoër as Barranco.

Ons het na ete nog bietjie gesit en gesels in die eettent. Dit het geblyk dat M, die jongste van die broertjies nog steeds nie baie lekker voel nie. Hy het maagprobleme gehad en was naar. JDP en sy kinders was weer hulle vrolike self en Sue het maar ’n bietjie bedruk eenkant gesit, want Deo het haar eenkant toe geneem en verduidelik dat sy nie afgevoer kon word van Barranco af nie. Die enigste pad van die berg af vir haar was om saam met ons deur te druk Karanga toe die volgende dag. Daarvandaan was wel ’n roete waarmee sy teen die berg af kon gaan as dit nog nodig sou wees.

Ons het ook lekker met Ranjit en Prabu gesels. Wat my veral geïnteresseer het was hoe Ranjit kon slaap met die gebrul van Prabu in die tent. Hy het met groot humor verduidelik hoe hulle elke aand probeer om voor die ander een aan die slaap te raak. As Prabu die aand voor hom aan die slaap sou raak sou dit beteken dat Ranjit die res van die nag geen oog sou toemaak nie. En om Prabu voor te wees moes jy blitsvinnig aan die slaap raak, want wanneer hy in sy slaapsak klim draai hy net een keer om en dan slaap hy. Dit het natuurlik 180 grade afgewyk van die verhaal van Prabu. Prabu het beweer dat dit Ranjit is wat so verskriklik snork en dat hy elke nag wakker lê en luister na die geraas.

Ons het daar en dan besluit dat Prabu een van ons moes kom roep as hy wakker was en Ranjit sou lê en snork. Nodeloos om te sê, dit het nooit gebeur nie.