Brutus woon nou al vyf jaar by ons. Toe hy die eerste keer hier by ons aangekom het was hy ’n klein swart pluisie wol van nie meer as 300 gram nie. Vandag is hy ’n uitgegroeide buffel van ’n Yorkshire Terrier met sy 4 kilogram.
Ek het nog nie ’n hond ontmoet met ’n meer gepaste naam as Brutus nie. Onverskrokke stap hy met sy bakbeentjies deur ons woonwyk en jaag alle ander honde (En katte) wat hy sien die skrik op die lyf. Brutus is die vleeswording van die spreekwoord: Aanval is die beste manier van verdediging. Menig male moes ek hom met gevaar vir eie lewe van die keel van ’n veel groter hond aftrek nadat hy homself soos ’n projektiel gelanseer het na die hond toe.
Die enigste rede waarom daar nog ander honde in ons woonbuurt is is omdat ons Brutus altyd aan die leiband hou. As ons hom los sou laat loop het was die buurt al lankal opgeruim van al die ander hondeskuim wat in ons dorp woon.
Hy was nog baie klein toe ons agtergekom het dat hy ’n oormaat van testosteroon in sy gestel het. Dit het ons laat besluit om sommer vroeg al korte mette met sy balletjies te laat maak. Op advies van die veearts, omdat dit sy ”temperament meer gelykmatig sou maak”. Nadat hy homself ‘n keer wangedra het in die spreekkamer van die veearts. Dit het gewerk. Sy temperament is gelykmatig aan die rooi kant van die spektrum. Baie gelykmatig, want dit wyk nooit af van rooi nie.
Dit was vir my as man ‘n baie moeilike beslissing om te neem. Ek glo dat die meeste mans dit kan verstaan. Ek het empatie met die hond gehad. Regtig waar. Soveel dat ek die pyn byna self gevoel het, maar op daardie stadium het ons alle ander opsies uitgeput. Die hond was simpelweg nie meer beheerbaar nie. Hy het letterlik alles aangeval wat beweeg het en as dit nie beweeg het nie het hy dit probeer spyker. Dit het my dus genoop om tot die besluit oor te gaan.
Maraai het hom die dag veearts toe geneem saam met sy sussie Luna. Toe ek die middag tuiskom tref ek daar op die bank ’n hond aan wat met sulke klein rooi ogies vir my sit en kyk. Hy wou niks met my te doen hê nie en ek kon die stil verwyt op sy gesig lees. Dit was soos ’n dolk in my hart. Hy het geweet dat ek hiervoor verantwoordelik was. Ek het nog probeer verduidelik dat ek niks met die saak te doen het nie, maar hoe oortuig jy iemand wat nie oortuig wil word nie. Hy het simpatie gesoek by Maraai en my verder geïgnoreer die dag.
Met sulke stywe bene het hy ’n paar dae rondgeloop. Totdat die ergste pyn verdwyn het. En toe was hy weer die ou Brutus, net kwater vir ander honde as ooit van te vore. Ek het al gewonder of hy nie een of ander sindroom gehad het waarby die balle en mangels omgeruil is nie en dat die veearts toe al die tyd sy mangels uitgehaal het. Want van rustiger (Gelykmatiger) word was daar geen sprake nie.
Hy is die hond sonder balle met die grootste balle wat ek nog teëgekom het. As ons hulle aangelos het sou hulle sekerlik in die pad agter hom aangesleep het.
Vandaar dat ons tot die dag van vandag toe eenkeer per dag met Brutus deur die woonwyk spartel. Die ander honde en hulle eienaars ken ons ook al en dikwels sien mens die hond met sy baas aan die ander kant van die pad gaan loop as ons naderkom. En dan probeer ons ons bes om die bol woede aan die einde van die leiband die ander kant op te sleep terwyl hy boosaardig grom en dreig en met sy volle 4 kilogram aan die band beur om oor die straat te kom.
So af en toe kom ons nog mense met honde teë wat nie vir Brutus en sy reputasie ken nie. Hulle is dan meestal in vir ’n onaangename verrassing. Ons probeer natuurlik verduidelik, keer en teëhou, maar as die ander hond uit nuuskierigheid te naby kom is daar nie veel wat ons aan die saak kan doen nie as om te probeer om Brutus van die hond se keel af te trek sonder om self gebyt te word.
Die energie en woede waarmee hy aanval is gewoonlik so oorweldigend dat selfs groot honde vir hom skrik. Hy het al ’n paar keer lelik deurgeloop, maar die geluk was nog elke keer aan sy kant. Groter honde maak nie sommer klein honde seer nie. Daar word baie geraas en gehap, maar tot werklik byt kom dit byna nooit, anders was hy al opgevreet. Ek dink ook hulle is meer verbaas oor die skreeuende, bytende bol hare aan hulle kele.
En gewoonlik sleep ons dan ’n woedende, grommende, met die dood dreigende en blaffende klein keffer aan die leiband daar weg, met rooi gesigte en met gebare om te wys hoe jammer ons is, terwyl die eienaar en sy hond met verstomming en verbasing ons agternastaar, ’n illusie armer.
Die mees dodelike kombinasie is Brutus en Jack Russels. Newwermaaind vet op die vuur, dit is ’n drom petrol in ‘n bonfire. Om een of ander rede kan Brutus Jack Russels nie verdra nie en andersom is dit ook waar. As ’n Jack Russel vir Brutus gewaar staan alles regop en probeer hy sy bes om Brutus by te kom en op te vreet. ’n Paar keer al het ’n kopskuddende eienaar van ’n Jack Russel ons om verskoning gevra oor die gedrag van sy hond. Om dan by te voeg: “Hy doen dit normaalweg nooit nie. Ek weet nie wat gaan vandag met hom aan nie.” Ek kyk dan gewoonlik meewarig na die eienaar en sy ongedissiplineerde hond en skud dan net my kop terwyl ek “tssk-tssk” maak.
Brutus is die wandelende wetenskaplike bewys dat die klein-mannetjie sindroom werklik bestaan. Hy is wel ’n hond, maar dit is en bly testosteroon wat die ding vir hom doen. As hy ’n groot hond was sou hy al lankal in die wokpan van ’n Chinees beland het. Ek sou persoonlik daarvoor gesorg het.
En tog, onder al die harde uiterlike eienskappe is hy eintlik maar ‘n ou klein hondjie. Hy werk verskriklik hard om ons te beskerm as hy met ons buite gaan stap, maar wanneer ons tuiskom hou hy daarvan om beloon te word met ’n bietjie vertroeteling deur Maraai.
En sy noem hom troetelnaampies soos Brutie en Boetie en Boetienoenoe. En sy gee vir hom snoepies en praat met hom in ’n spesiale stemmetjie. En sy maak sy ogies met groot liefde skoon as hulle vol oogsnotjies sit. En ek verstaan waarom hy oor haar voel soos hy voel. Ek voel ook so oor haar, al haal sy nie oogsnotjies uit my oë nie.
Hy aanbid die grond waarop Maraai loop. Ek dink dat een van die redes waarom hy so heftig reageer op ander honde juis is omdat hy so verskriklik gesteld is op Maraai. Hy het ’n baie sterk drang om haar te beskerm. En wanneer ons tuis is is daar vir hom geen beter plek as op die bank styf teen haar aangedruk nie. Sy voorkeur is tussen ons in, maar ek duld dit nie….. Want dit is my plek.
Yorkies het nie ’n onderpels soos die meeste ander honde nie. Hulle het net ’n dunnerige bo-pels, met die gevolg dat hulle makliker koud kry. Brutus is geen uitsondering nie. Hy kry baie maklik koud. Vandaar dat ons so twee jaar gelede vir hom ’n truitjie gekoop het. Hy is baie lief vir sy truitjie, maar hy dra hom net by die huis. Sy reputasie op straat sal in duisend stukke stort as hy ooit met die trui aan gesien moes word. As Maraai nader kom met die truitjie dan spring hy op, stertwaaiend en trappelend en hou die voete reg om die trui aan te trek. As ek dit sien is dit vir my baie moeilik versoenbaar met die beeld van hom as oorlogsugtige krygsheer wat sy straat met ’n ysterhand regeer.
Van al die honde, groot en klein, wat hulle lewens met ons gedeel het, was daar nog nie een met soveel vuur in die donkerbruin ogies as Brutus nie. Hy is nou vyf jaar oud, maar ek vrees die dag dat daardie twee ogies die laaste keer sal flits en die vuur uit hulle sal verdwyn. Op daardie dag sal daar uit ons lewens ‘n stuk groot energie verdwyn.