Kilimanjaro – Dag1

Na nog ’n rustelose nag van probeer slaap en nie te veel nadink oor wat voorlê nie was ek redelik vroeg uit die vere. So teen halfagt was ek al besig om die laaste goed in te pak en seker te maak dat my pak stewig vas was.

Teen halfnege was ek onder met my pak en is hy geweeg. Weer 13 kg. Heeltemal geen probleem nie. Ek het nog so ’n rukkie daar rondgestaan en gekyk hoe die vrolike gidse en porters besig was om alles te weeg en op die dak van die bus te laai. Die mandjies en sakke kos wat daar rondgestaan het het my mond laat oophang. Van piesangs en lemoene tot brode, eiers en sakke meel en pasta.
So stadigaan het die res van die geselskap ook verskyn met hulle sakke en ons het maar so ’n bietjie stil rondgestaan en al die aktiwiteite dopgehou. My dagsak was ook klaar gepak en die camel-bak vol water. Ons het toe almal weer restaurant toe gegaan om saam ontbyt te eet en na nege-uur was ons weer terug en gereed om te ry. In die tussentyd is alles ingepak en op die dak van die bus gelaai.

Om halftien het ons almal in die bus gesit en na ’n paar flou grappies het ons die hotel agtergelaat en vertrek Machame-gate toe. Dit was weer opvallend dat hoe nader ons aan die gate gekom het hoe stiller die mense in die bus geraak het. Almal van ons het geweet dat ons op die vooraand staan van ’n avontuur waarvan ons nog net gedroom het en waarvan ons die omvang pas sou besef na afloop.

Die rit Machame toe het ongeveer ’n uur geduur. Die drukte toe ons by Machame aankom was amper soos in die broodry by die Spar na kerk op ’n Sondagoggend. Swerms wannabe-porters by die hek wat staan en roep en wag om gevra te word om saam te dra aan die onmoontlike swaar vragte bagasie. Gidse en reeds-uitgesoekte porters was druk besig met alles wat nog gedoen en gereël moes word in die laaste minute voor die tog sou begin.

Daar was nog drie of vier ander groepe ook wat op dieselfde dag sou begin aan die tog. Ons moes onsself gaan inskryf by die kantoortjie by die hek. Paspoort in die hand staan jy daar en wag jou beurt af. Na die inskrywing het ons ’n bietjie skamerig rondgestaan, foto’s gemaak en die laaste keer gaan piepie in ‘n regte toilet.

Toe kom Deo ons roep om vir ons ons middagete-pakket te gee. Dit moes ons in ons dagsakke pak en saamneem vir die middagete-breek langs die pad êrens. Hier het niemand rekening mee gehou nie en die uiteinde van die saak was dat die meeste van ons sommer daar en dan die middagete opgeëet het. Dit was goeie kwaliteit kos. ’n Gekookte eier, hoenderboudjie, koekies, slap-tjips, sjokolade en lemoensap. Alles netjies verpak in foelie.

En toe was dit byna tyd. Ons het voor-aan by die beginpunt gaan wag vir Deo en die ander gidse. Daar het ons staan en kyk hoe die porters se bagasie geweeg word en elkeen ’n kaartjie kry waarop die gewig wat hy sou dra presies ingevul is. Alle bagasie word in groot sakke gepak en elke porter mag maksimaal 20 kg dra. Dit is dan sonder sy eie bagasie se gewig. Afgesien dus van die groot pak wat hy op sy kop dra moet hy nog sy eie rugsak my sy benodgdhede vir die sewe dae in die berg met hom saamdra. Ek het my verstom oor die dun armpies en beentjies van sommige van die porters. Wat ek nie kon glo nie was hoe hulle daardie groot pakke met skynbaar geen inspanning op hulle koppe gehys het en begin aanstap het teen die berg op. Met sy eie rugsak en soms nog ’n waterkan of ander sak in sy hand.

Die kok en kelners was verantwoordelik vir die kombuisgoed en groot was my verbasing toe Jeff, een van die kelners langsdraf met sy yslike rugsak op sy rug, ’n groot sak met kombuisgoed op sy kop, daar bo-op drie kampstoele vasgemaak en ’n gasbottel in sy nek. En dit alles met ’n reuse glimlag op sy gesig en nie eens ’n druppel sweet op sy voorkop nie! Ek het so half onseker aan my dagrugsakkie gevoel en gewonder of hy nou regtig so swaar was as wat ek gedink het.

En toe was ons eindelik aan die beurt. Die oomblik waarheen die meeste van ons al byna ’n jaar na toe gewerk het. Op 1800 meter hoogte by Machame-gate. Met Hendri, een van die gidse voorop stap ons stadig met die breë teerpad teen die berg op. Die eerste Swahili-woorde wat ek geleer het was “pole-pole”. Dit beteken “stadig-stadig”. Elke kort-kort kom iemand verby wat roep: “Pole-pole!”en dan met ’n vreeslike spoed vertrek. En as die gids na jou kyk is die eerste woorde uit sy mond: “Pole-pole”, voordat hy enigiets anders sê.

Nou, as daar iets is waarin ek goed is is dit pole-pole. Ek is nie verniet in Afrika gebore nie. Ek kan beter pole-pole as menige Afrikaan. En dit met professionele entoesiasme…

Maar, pole-pole is nie sommer net omdat ons in Afrika besig is om teen ’n berg op te loop nie. Pole-pole is bedoel om ons teen onsself te beskerm. Hoogtesiekte is een van die grootste gevare wat mense bedreig wat bo 3000 meter verbly sonder aanvullende suurstof. Die menslike liggaam moet aanpas by die verminderde suurstof in die lug op die hoogtes. ’n Algemene stelreël wat gebruik word is dat die lugdruk ongeveer elke 5500 meter halveer. Dit beteken dat die hoeveelheid suurstof in die lug ook halveer. Vir Kilimanjaro beteken dit dat op die top (6000m) die helfte van die suurstof in die lug aanwesig is wat ons liggame gewoond is om in te asem. As die liggaam voldoende tyd kry om aan te pas en meer rooibloedselle aan te maak is daar geen probleem nie en kan mense selfs permanent op hoogtes van 5500 meter woon. Maar, as die liggaam nie voldoende tyd gegun word om aan te pas nie kan baie ernstige mediese klagtes ontstaan. Dit kan enigiets wees van hoofpyn, slaaploosheid en ’n swak eetlus tot die ophoes van pienk slym, verlies van koördinasie en bewusteloosheid.

By die matige simptome van hoogtesiekte is dit genoeg om vir een of twee dae nie verder te klim nie, totdat die simptome verdwyn, maar by die meer akute vorm van hoogtesiekte is die enigste moontlikheid om baie vinnig te daal. ’n Daling van 500 tot 1000 meter het byna altyd die gewenste effek op die simptome wat dan meestal binne twee dae weg moet wees.

Dit is die rede waarom ons die heeltyd daarop gewys is om te pole-pole. Ons liggame het die tyd nodig gehad om te akklimatiseer en gewoond te raak aan die hoogteverskille en die verminderde suurstof in die lug.

‘n Groot ironie van bergklim is dat dikwels die fiksste mense die meeste probleme kry met hoogtesiekte. Wanneer al die ander mense al vanself pole-pole voel die fiksste persone nog goed genoeg om lekker vinnig aan te stap. Dit is dan dat hulle liggame op die laer hoogtes nie genoeg tyd kry om aan te pas nie. Wanneer so ’n persoon groter hoogtes bereik waar hoogtesiekte regtig ’n rol begin speel is hulle gewoonlik die eerste wat probleme begin kry. Hoogtesiekte slaan toe sonder aansiens des persoons. Jou liggaamlike kondisie het niks te make met die feit of jy hoogtesiekte sal kry of nie. Glo my, ons het dit beleef op daai berg!

En daar loop ons toe, pole-pole op ’n teerpad teen die Kliimanjaro op. Nou nie presies wat ek verwag het van die beklimming van die hoogste berg in Afrika nie, maar as hulle die berg wil teer, wie is ek om te kla. Maar, ek het vergeet ek is in Afrika. Om die eerste draai hou ineens die teerpad op en begin ’n hobbelrige grondpad. Dit begin toe al ’n bietjie meer te lyk na die Kilimanjaro wat ek verwag het. Nog steeds baie steil stap ons toe die reënwoud binne. Drukkend warm en met die geluide van duisende voëls en insekte om ons heen stap ons die donker skaduwees binne. Dit was ’n onwerklike gewaarwording toe ek besef dat ek nou werklik teen die hang van die berg was. Op hierdie stadium was die groep al uitgestrek tot ’n lang tou wat voor en agter my uitgestrek het. Sommige loop twee-twee langs mekaar en gesels terwyl ander alleen loop en verwonderd om hulle heen en kyk. Ek was van die laaste kategorie. Reusagtige geelhoutbome, seders en boomvarings staan skouer-aan skouer met oeroue wildevye, sterlitzia’s en ander eksotiese plante en bome waarvan ek die name nie ken nie. En dertig meter bo ons ’n geslote dak van blare en takke wat die son heeltemal verduister en die reuk van half verrotte plantreste in die lug laat hang.

En elke kort-kort ’n vrolike porter wat verbyhuppel met sy groot sak op sy kop en “pole-pole” na ons toe roep.

Na ongeveer ’n uur se stap kom ons by die einde van die breë grondpad en daar staan toe sowaar nog ’n toilet ook. Na ’n kort pouse daar begin ons toe aan die tog deur die woud op ’n nou voetpaadjie tussen die bome deur. Nog steeds kronkelend en steil omhoog. Ek het nie gedink dat dit moontlik is nie, maar die bos word hier selfs digter, met swaar groen mosse wat van alle boomtakke hang.
Steeds verder stap ons deur die bergbos omhoog. Die groep is nou nog verder uitgerek, met die gidse wat hulleself strategies geposisioneer het tussen die mense om te sorg dat hulle niemand uit die oog verloor nie. Op hierdie stadium het die senuwees wat die oggend geknaag het bedaar, omdat vir almal die tog nou amptelik begin het. Die mense loop nou vriendelik en lag en gesels terwyl hulle skerts en grappies maak met die porters wat nog steeds in ’n onafgebroke stroom langsloop met hulle vriendelike glimlag en “pole-pole”.

Op hierdie stadium het ek gemerk dat Sue, die Amerikaanse vrou, baie ver agter begin raak het. Deo, die hoofgids was die een wat saam met haar gestap het om te sorg dat sy nie alleen was nie. Haar knieë gee probleme en sy loop baie pole-pole. Ek het op hierdie stadium ook al ver teruggesak uit die groep omdat ek baie gestop het om foto’s te neem, of sommer net aan die drukte van die groep te ontsnap en my aan die bos te verkyk en –luister en -ruik. Dit was heerlik om sommer net ’n paar minute in doodse stilte op ’n boomstomp te sit en om my heen te kyk en te luister na die geluide van die bos en die reuke in my neus op te snuif. Daar was egter altyd ’n gids wat in die buurt gestaan en wag het om seker te maak dat ek nie alleen is nie.

Maar, selfs met my gesloer het Sue steeds verder agter geraak. Die laaste kere wat ek haar nog gesien het was ek self redelik bekommerd. Rooi gesig, natgesweet en voetjie vir voetjie het sy teen die berg uitgesukkel. Baie geduldig het Deo langs haar geloop en op ’n stadium selfs haar dagsak oorgeneem.

So twee ure later is die volgende stop en daar eet ons toe middagete. Dit is nou vir die wat nie hulle middagete by die hek al weggeslaan het nie. Daar het ons so ’n halfuur gestop en die wat toilet toe wou gaan kon rustig van die fasiliteite gebruik maak.

Miskien is dit goed as ek hier by die toilette stilstaan. Daar is toilette by alle kampplekke op Kilimanjaro. Maar daarmee het ek ongeveer alles wat goed is gesê oor die toilette. Ek was in daardie sewe dae herhaaldelik baie dankbaar dat ek ’n man was. Vir die klein boodskappie loop ek agter die eerste beste bos in en pluk hom sommer net daar uit. Die arme vrouens wat saam was moes byna elke keer van die toilette gebruik maak. Die toilette op Kilimanjaro is ’n kombinasie van die twee mees smerige toilet-oplossings op die planeet. Die eerste het baie name, maar die mees bekende is die nagmerrie-arabiese-hurktoilet. Dit kom daarop neer dat die vloer ’n gat in het en dat jy daaroor hurk en probeer om alles behalwe die gat te mis. Meer as een keer het dit gebeur dat iemand met stront op sy hakskene uit die toilet gekom het. Die tweede element wat hierdie kombinasie ’n killer gemaak het is natuurlik die alombekende long-drop, maar dan die variant waarby die gat vol is. As jy ondertoe kyk tussen jou bene na die hoop wat daar lê trek jou klokke spontaan omhoog. Die hoop is so hoog dat jy nie durf te hurk nie, anders sak jy met jou agterent in die tweedehandse stront.

Om alles nog mooier te maak is die vloere natuurlik papnat met plasse en allerhande ander ondefinieërbare uitwerpsels van mense wat die gat en hulle hakskene gemis het. Een nag moes ek die onvermydelike groot boodskap gaan doen in die toilet by Machame-kamp. Ek sleep myself uit my warm slaapsak en steek my voete sommer so kaal in my stewels wat by die tent se ingang staan. Omdat ek nie van plan was om lank weg te bly nie doen ek toe nie moeite om my veters vas te maak nie en ek loop toe so met los veters toilet toe. Daar aangekom, koplamp op my kop, broek om my enkels, hurk ek versigtig oor die gat in die grond. En so sit ek my ding en doen terwyl ek probeer om nie om te val of met een voet in die gat te beland nie. En toe ek so met my lamp oor die vloer lig sien ek my veters op die vloer lê. In ’n plas nattigheid waarvan ek die herkoms maar net kon raai. Sopnat! Ek het amper in die gat geval van skok. So stap ek toe terug tent toe en daar aangekom trek ek versigtig my skoene uit en kruip weer in my slaapsak.
Die volgende oggend moes ek natuurlik weer my skoene aantrek. Nog geen probleem nie, maar toe moes ek my veters vasmaak en speel die toneel van die afgelope nag weer deur my geestesoog. Ek sien die veters lê in ’n grys-bruin plas van een of ander vloeistof wat genoeg bakterieë bevat om ’n vlieg baie ernstig siek mee te maak. En enigiemand wat al stapskoene se veters vasgemaak het weet dat jy ’n paar minute lank intensief met die veters moet omgaan voordat hulle goed vas is. Jy trek hulle so deur jou vingers, byna soos om ’n koei te melk. Terwyl ek die veters vasmaak voel ek die nattigheid deur my vingers sypel en al kokhalsend en wurgend kry ek dit toe eindelik reg om my skoene vas te maak. Dadelik ’n halwe bottel ontsmettingsmiddel op my hande uitgegooi en gebruik en toe aangestap om ontbyt te gaan eet.

Ek dink die beste manier om die toilette te omskryf is: nagmerrie-arabiese-hurk-shotdrops. Sonder deure!

Meeste van ons het al net by die idee om die toilette te moet gebruik spontaan ’n opwaartse druk in ons kolon gevoel.

Na middagete het ons ons tog voortgesit. Steeds hoër deur die reënwoud. Êrens na twee-uur begin dit liggies te reën en nie lank daarna nie sit dit om in ’n donderstorm van apokaliptiese formaat. Donderweer klap aan weerskante van ons en die blitse flits byna permanent tussen die donker bome deur. Met alles moontlik wat kan beskerm teen reën trek ons verder in die paadjie wat so stadigaan verander het in ’n bruin kolkende rivier. Terwyl die storm aan die gang was het ons nie eens agtergekom dat die landskap al stadig begin verander het om ons nie. Ons het intussen die 3000m merk verbygesteek en toe die reën bietjie begin bedaar en ons dit weer kon waag om op te kyk sien ons dat die bome van die bos nie meer so dig op mekaar staan nie en dat hulle ook nie meer so hoog is nie. Lang liggroen mosse hang soos die baarde van ZZ-Top aan droë bome wat meters in die lug insteek. Bo ons sien ons vir die eerste keer vandat ons die reënwoud binnegeloop het die swaar wolke waaruit dit nog steeds liggies reën. Die plantegroei is baie korter en kleiner op hierdie hoogte. ’n Soort van reuse heide. Meestal struike van ’n meter of twee-drie en af en toe nog ’n dapper boom wat sy stryd teen die elemente nog nie opgegee het nie.

So stadigaan het dit opgehou met reën en toe ons weer sien stap ons om ’n draai Machame-kamp binne. Machame lê op 3100 meter hoogte versteek in die heidelandskap. By aankoms moes ons die alomaanwesige register invul en toe kon ons na ons tente toe gaan. Omdat meerdere groepe tegelyk op die roete stap is daar meerdere tentekampe en ons moes ’n rukkie soek voor ons ons groepie gekry het. Daar aangekom het ons ons tweeman-tente vinnig gekry en daar, binne-in die tente lê ons rugsakke klaar om uitgepak te word. Aan die een kant staan ’n groot eettent opgeslaan met daarbinne ’n tafel en die 16 kampstoele.

By binnekoms is ons dadelik na die eettent toe geroep vir tee en geroosterde grondboontjies. Die warm tee was heerlik na die koue reën en die grondboontjies moes ons dors maak, sodat ons baie water sou drink. Nog een van die reëls op die berg is dat per 1000 m in hoogte wat jy styg, 1 liter water per dag ekstra gedrink moet word. As jy dus op 1000 m normaal gesproke 3 liter per dag drink beteken dit dat jy op 3000 m 5 liter water per dag moet drink.

Ongeveer twee uur nadat ons by die kamp aangekom het kom Sue en Deo toe eindelik daar ingestap. Tot almal se groot verbasing, moet ek byvoeg. Niemand het meer verwag om Sue terug te sien nie. Sy was in ’n goeie bui, vrolik en en vol grappies, net verskriklik pole-pole.

Later is ons weer tent toe geroep om te gaan eet. Heerlik gesmul aan vis, aartappels en groente met brood. Selfs vir die vegetariërs onder ons is daar voorsiening gemaak. Tydens ete het Deo ons weer ge-brief op die planne vir die volgende dag. Opstaantyd, soos elke oggend daarna, om halfsewe. Ons word wakker gemaak met koffie en tee by ons tent. Voor sewe-uur moes ons klaar gepak wees vir die dag. Ontbyt om sewe-uur en ons begin stap om halfagt. En hy het vir ons die vier goue riglyne op die berg verduidelik. Dit is die vier dinge waaraan jy moet voldoen as jy maksimum kans op sukses wil maak.

Die eerste is goed eet. Lyk my logies. Tweede is goed drink. Ook logies. Derde is dat jy goed moet slaap. Ook redelik logies. En die vierde is dat jy goeie motions moet hê. Mmmmotions?? Daar het hy my verloor. Ek sit nog so ’n oomblik en wonder wat hy met motions bedoel toe ek skielik oor die tafel kyk in Martyn (Een van die broers) se oë. En dit is asof ons op die selfde oomblik besef wat “motions” beteken. Ek dink hy wou sê “movements”. Byna van my stoel afgeval van die lag toe ek sien dat Martyn op dieselfde oomblik dieselfde openbaring gehad het wat ek gehad het. Die res van die week het ek en Martyn oor ons motions gepraat en dit was nie lank nie of die hele groep het saam oor die motions begin praat. Dit was die grap van die week en die hoofonderwerp van gesprek tydens ons aandetes.

Ek en MK het ons tent ingerig, slaapmatte en slaapsakke uitgerol en die nat klere uitgehang om droog te word. Die tent het op skuins grond gestaan met die helling na die tentopening toe. Ons het gespot dat ons in die bure se tent wakker sou word die volgende oggend.

Die lug was nog redelik bewolk en ons kon ons nie goed oriënteer ten opsigte van waar ons presies op die berg was nie. Dit het na sesuur vinnig donker geword en daar was nie veel anders om te doen na ’n lang dag as om bed toe te gaan nie. So het die eerste nag op die berg aangebreek.

En ’n lang nag was dit. Ek het nie een oomblik selfs geslaap nie en daarmee sommer dadelik een van die vier reëls van Deo verbreek. Heelnag wakker gelê en probeer om binne die tent te bly. So af en toe weer boontoe gekruip soos ’n sywurm-papie met die slaapsak om my heen gewikkel. En intussen geluister na die gesnork om my heen. Wat ’n geraas! Een van die ouens in die tent langs ons, dit blyk agteraf dat dit Prabu was, het vandat ons gaan lê het gesnork tot die volgende oggend halfsewe toe ons wakker gemaak word vir tee. Maar die woord “snork” doen onreg aan die geluide wat uit daardie tent gekom het. Die geluide het iets onaards, boos en demonies en tegelykertyd ook melankolies gehad. Dit het geklink of dit uit die binneste van die aarde ontstaan het en deur miljoene krake en skeure in die aardkors na boontoe gepers het. Waar dit dan in die nagtelike atmosfeer ontsnap het met ’n diep brul van verligting. Ek het hoendervleis gekry daarvan. Verwoed en ondergronds het Prabu die heelnag lê en snork. Wat hy gedoen het moes baie harde werk gewees het. Ek het die nag ’n soort bewondering vir die man ontwikkel.

En die beste was dat hy die volgende oggend gekla het dat hy nie een oog toegemaak het nie!

Hier gaan ons!

Daar staan jy dan. Op Schiphol, met jou rugsak wat gepak is dat dit lyk of hy enige oomblik gaan oopbars en al jou kosbare goetertjies oor die hele vloer strooi. En in die hand ’n paar “Nordic walking sticks”, wat met duct-tape aan mekaar gedraai is. Jongste vanoggend net na ses wakker gemaak en gegroet. Na die gebruiklike preek oor hoe sy die huis moes netjies hou is ek toe daar weg.

Alles ingeboek. Die rugsak weeg 13 kilogram. Goeie begin, want die draers op die berg mag nie meer as 15 kilogram dra nie. Loopstokke apart ingeboek, want dit mag nie in die kajuit saam nie. Potensieël gevaarlike wapens sê die mevrou agter die toonbank. Ek moet nog van die eerste vleigtuigkaping hoor wat met ’n paar “Nordic walking sticks” gedoen is.

Stel jou dit voor: Ewe skielik spring ’n man in ’n lang wit gewaad êrens in die middel van die vliegtuig op en skree “Alla akbar!”. Dan gryp hy in elke hand ’n Nordic walking stick, steek sy polse onverskrokke deur die polsbandjies en begin verwoed op die kajuit afloop waar die kaptein en bemanning niksvermoedend koffie drink en die lugwaardinne se boude bespreek. Op pad na die kajuit toe loop hy verby ’n lugwaardin wat van skok haar hand op haar mond sit en begin gil. Die ander passasiers sit versteen van vrees in hulle sitplekke en kyk. Een of twee bel hulle ma’s en vrouens op selfone om te groet. Die man met die kopdoek en baard stap onverbiddelik aan na die kajuit toe met ’n Nordic walking stick in elke hand. Elke paar tree roep hy “alla akbar!” Dan kom hy by die kajuit aan waar die arme kaptein wit van die skrik na hom sit en kyk. “Nee, tog net nie Nordic walking sticks nie!”, dink hy by homself terwyl hy sy hande in die lug steek en die stuurstok van die vliegtuig bewend aan die man met die kopdoek en die baard oorhandig.

En dan sit ek in die vliegtuig op pad Kilimanjaro toe. Die vlug het sonder noemenswaardige voorvalle verloop, behalwe vir die gebruiklike uur- en ’n half vertraging by vertrek. Maar ek sou verbaas gewees het as ons dit nie gehad het nie. Wat my wel verbaas het was dat die vlug soos ’n blik sardiens ingepak was met mense wat op vakansie gaan in Tanzanië. Ek het geweet dat dit ’n gewilde bestemming is, maar nooit besef dat so veel mense so graag daarheen gaan nie.

So teen halfelf die aand land ons toe op Kilimanjaro International Airport. Die eerste wat my tref toe ek uit die vliegtuig klim is die warm lug van 32 grade. Dit was -6 grade Celsius toe ons vertrek het uit Amsterdam en die warm vogtigheid van 32 grade slaan my toe soos ’n hamer in die gesig. Binne twee tree was ek sopnat gesweet. Maar dit was heerlik na die voorafgaande maande van ysige Nederlandse winter.

In die terminaal aangekom moes almal natuurlik die vorms invul waarmee ons belowe om nie allerhande vreemde siektes soos varkgriep en AIDS die land in te smokkel nie. Ek wonder toe wat sou gebeur as jy jou belofte breek? Toe het ek in die ry ander sweters gaan staan en wag om my visum te koop. 50 dollar armer en met ’n so ’n flou, onleesbare stempeltjie in my paspoort mag ek by die bagasieband gaan wag vir my rugsak en loopstokke. En siedaar! Rugsak kom uit die gat in die muur op die band binnegerol. Maar geen loopstokke nie! Nog ’n paar rondtes van die band gewag en gekyk na die een verdwaalde tas wat om en om rol op die band. Aan die een kant die muur in en aan die ander kant weer uit die muur uit. Maar nog steeds geen loopstokke nie. Saam met so tien ander sweters staan ek toe in die ry by “Missing goods” om my verlies aan te meld. En ek is sommer dik de m03r in vir die mevrou wat gereken het dat dit gevaarlik wapens is!

So kom ek toe byna twee uur nadat die vliegtuig geland het in die ontvangsaal van die lughawe uitgestap. Met rugsak en sonder loopstokke. Natgesweet, warm, moerig en met die volle verwagting dat die vervoer van die hotel of nooit opgedaag het nie, of al lankal vertrek het, maar groot was my verbasing toe hulle nog steeds geduldig daar staan en wag. Bordjie in die hand met my naam en twee ander name daarop. Ek word baie vriendelik gegroet en begelei na die bussie toe. Ons moes nog so ’n rukkie wag vir die volgende vlug waarop die ander twee name nog sit.

Vinnig kontak gemaak met die vriende wat al in die hotel in Moshi op my sit en wag en ook met die res van die familie en vriende wat in spanning op ’n lewensteken wag.
So ’n uur later kom die ander twee name uit die lughawegebou gestap na die bussie toe. Duidelik donkerder van kleur as ek en hulle stel hulself voor as Ransjid en Prabu. ’n Onkoloog en neuroloog uit Skotland! Ek glimlag vir hulle toe ek sê dat Ransjid en Prabu nou nie tipieses Skotse name is nie en hulle vang die grappie ook toe hulle verduidelik dat hulle die afgelope twaalf jaar in Skotland praktiseer, maar dat altwee in Indië gebore is en grootgeword het. Na nog ’n flou grap of twee oor hulle “kilts” klim ons in die bus en daar gaan ons. Deur die donker Oos-Afrikaanse platteland na Moshi toe. Tussen bokke en fietse en slaggate deur voel ek my skielik op ’n vreemde manier baie tuis.

Teen halfeen die nag beland ons toe eindelik by die Kindoroko hotel in Moshi. Met die instapslag kom ek toe vir GS en twee nuwe vriende teë in die ontvangsruimte van die hotel. Vinnig gegroet, ingeboek en my bagasie kamer toe laat bring en toe is ek terug om bietjie te kuier met die manne wat nog onder sit en wag. Na ‘n vinnige Coke en paar ‘n glase water vir die dors is ek toe eindelik bed toe so teen twee-uur se kant.

Die kamer was netjies, maar baie duidelik geen vyfster-gehalte nie. Alles wat daar moes wees was daar, maar die stort betree jy nie met kaalvoete as jy nie jou tone aan een of ander ondefinieërbare skimmelsiekte wil afstaan nie. En die warm- en kouewaterkrane is omgeruil. Iets wat jy pas uitvind nadat jy al vloekend en dansend ’n koue stort geneem het. En die stortkop lek. Elke paar sekondes val ’n groot druppel op die plastiek stortvloer. Normaal gesproke hoor mens dit nie, behalwe as jy probeer slaap. Dan klink dit soos ’n klip op ’n sinkdak. Elke paar sekondes: Doef……..doef……..doef…….doef.

In een of ander oorlog (Ek dink die tweede ene), was dit ’n bekende marteltaktiek van die slegte ouens om ’n emmer met klein gaatjie bo die goeie ou se kop te laat hang. Dan het elke paar sekondes ’n druppel water op die arme ou se kop geval. En meestal was hy binne vyf minute of heeltemal mal, of hy het besluit om die slegte ouens te join. En na twee weke was hy dan die een wat die emmer ophang. Met die marteltegniek is ek die nag gekonfronteer. Elke keer as jy, ten spyte van al die ander lawaai tog dreig om aan die slaap te raak kry jy ‘n hamerslag teen jou kop: Doef!!! Dan is jy in een keer wawyd wakker en lê jy met skrik in jou oë en sweet op jou voorkop na die plafon en staar voor jy weer stadig in jou slaap wegsak. En dan weer: Doef!!

En dit was onmiddelik duidelik dat die ouens in Moshi geen dubbelglas vensters in die hotelle het nie. My kamer was aan die straatkant van die hotel en die grootste deel van die nag het ek na die aktiwiteite op die hoofstraat van Moshi lê en luister. Wat ’n besige storie! Motorfietse, taxi’s wat die hele tyd toeter en busse wat met brullende uitlaat by die hotel verbyjaag. Veral een vent op ’n XR-500 (Die geluid ken ek!) wat voor die hotel heen en weer gejaag het was baie gelukkig om nie my skoene teen sy kop te kry hier teen vieruur die oggend nie. Maar toe vind ek die oplossing! Ek sit die dakwaaier aan. Hy maak toe so ’n lawaai dat ek die straatgeluide nie meer hoor nie. Af en toe ’n dowwe brrrr as die XR-500 verbyry. En die beste was dat ek die stort nie meer kon hoor nie. En omdat die lawaai van die dakwaaier so eentonig is raak mens sommer maklik aan die slaap. Hy het amper geklink soos die Flossies waarmee ons destyds grens toe gevlieg het. Met ’n klein bietjie verbeelding het ek agterin ’n Flossie op ’n stapel balsakke lê en slaap. Die moegheid van die dag se reis het sekerlik ook ’n klein bietjie bygedra tot so drie ure se rustelose slaap.

Êrens in die middel van die nag het ek besef dat Maraai bo-oor ons gevlieg het op pad terug Nederland toe. Dit was ’n vreemde gewaarwording om te weet dat dit die naaste is wat ons in ses weke aan mekaar sou wees.

Die volgende oggend (Dit was Saterdag) het ek so teen nege-uur wakker geword. Stadig opgestaan en ontbyt gaan soek in die restaurant op die vierde vloer. Daar tref ek toe al die vriende aan wat ook sou saamstap en ontmoet ek ook ’n paar nuwe vriende wat deel van die groep sou gaan word. Dit blyk toe deur die loop van die dag dat die groep uit 16 mense sou bestaan. ‘n Amerikaanse moeder-dogter paar, twee Indies-Skotse dokters sonder kilt, ‘n Nederlandse tandarts en sy seun, twee broers, JDP en sy seun en dogter, twee vriende van in die sestig, MK, GS en yours truly. Werklik ’n bont geselskap met genoeg potensiaal om ’n lekker hegte groep te word, of om op te breek in ’n aantal klein faksies wat mekaar se tande wil uitslaan.

Tydens ontbyt kyk ek by die venster uit en my hart stop in my keel. Daar aan die een kant, van sy heupe af ondertoe in wolke toegedraai, my eerste blik van Kilimanjaro. ’n Donker steenkoolgrys met blinkende wit strepe op sy kop. Soos ’n ou man staan hy daar. Presies soos hy al die eeue lank daar staan. Onveranderlik en onbeïndruk met al die gespook en gespartel van die mense om sy voete. En baie groter en hoër as wat ek my in my wildste drome kon voorstel. Dit was my eerste konfrontasie met die sesduisend meter van Kilimanjaro. Een woord het in my gedagtes bly draai vir die res van die dag: Intimiderend.

Na ontbyt vaar ons toe die strate van Moshi in. Ek weet nie wat die res verwag het nie, maar ek het geweet ek is in Afrika. En Moshi is Afrika…. Die laaste keer wat enige onderhoud aan die geboue daar gedoen is was voor daai oorlog met die emmers water. En die strate lyk nie veel beter nie. En om so tussen die kinders, fietse, hoenders en bokke lewend die straat oor te steek is al ’n prestasie wat byna met die beklimming van die groot berg daar aan die een kant vergelyk kan word.

Die oomblik toe ons ons voete buite die hotel sit word ons oorval deur swerms mense wat van alles en nog wat probeer te smous. Skilderytjies van Masaï, Kilimanjaro, boompies en kameelperdjies, natuurlik alles persoonlik self geskilder deur die een wat alles in sy vermoë doen om dit aan jou af te smeer. Hoede met ’n tekening van Kilimanjaro en Pole-Pole onderaan geskryf. T-hemde, broeke, stapskoene en wandelstokke. En jy is almal se beste vriend en hulle is almal ewe bly dat jy vir hulle kom kuier het. Die ergste is die ouens wat niks verkoop nie, maar saam met jou bly stap en hulself voordoen as jou persoonlike Moshi-gids vir die dag.

Binne vyf minute het selfs die liberaalste Nederlander in die geselskap genoeg gehad van hierdie gedrag en net soos ek begin om met ’n ongeduldige skud van die kop die hardnekkige smouse, bedelaars en aspirant-Moshi-gidse weg te stuur.

Na so twee draaie deur die dorp het ons almal besef dat daar vir toeriste nie veel te sien was, behalwe die skilderytjies, hoede en skoene wat die smouse probeer verkoop nie. En almal het baie vinnig verstaan dat vriendskap nie gratis is nie. ’n Glimlag kos jou al geld.

In die loop van die dag het ek van Maraai gehoor dat sy veilig geland het op Schiphol en in die tussentyd veilig tuisgekom het. Baie lekker met haar gesels en ek was bly dat die lang wag verby was. My vrou was veilig tuis en ek kon begin konsentreer op die taak wat vir my voorgelê het.

Teen twee-uur die middag was dit tyd vir ons eerste “briefing” oor ons tog teen die berg op. Almal het saamgedrom op die dakterras waar ons die hoofgids vir die ekspedisie, Deo Lauwo, ontmoet het. Deo is ’n Wachagga, van die stam wat eeue lank al om die voet van die Kilimanjaro bly. Deo se oupa, Yohani Lauwo, was die gids van Hans Meyer en Ludwig Purtscheller, die eerste mense wat ooit Kilimanjaro beklim het in 1889. Die tog saam met ons teen die berg op sou Deo se 229ste keer wees dat hy as gids op die berg sou werk.

Hy het vir ons die beplanning vir die komende week verduidelik. Ook het ons ’n paar van die ander gidse wat sou saamgaan ontmoet. In totaal was daar agt gidse en 49 draers, of “porters”, soos hulle genoem word. Afgesien van die gidse en draers was daar dan nog die kok en twee kelners, “waiters”. Veral die idee van die kok het vir my goed geklink.

Op die berg is meerdere roetes omhoog na die top toe. Die roete wat ons gekies het om die berg te beklim was Machame, vernoem na die dorp aan die voet van Kilimanjaro waar die roete begin. Van die ses roetes op die berg is Machame die tweede moeilikste. Machame het die bynaam “Whiskey-trail”.

Na die briefing het elkeen van ons ’n persoonlike besoek van Deo en een van die ander gidse gekry om ons toerusting te inspekteer. Hulle het veral gelet op warm klere, koplampe, slaapsakke en skoene. As iets nie aanwesig of in orde was nie het hulle onmiddelik aan die werk gespring om dit te reël, sodat niemand sonder die regte toerusting op die berg sou beland nie. Gelukkig was alles wat nie daar was nie te huur by die hotel self. Ek moes natuurlik ’n paar loopstokke huur by die hotel vir 10 dollar! Andersins het ek alles gehad wat ek moes hê, behalwe vir die donkerbril, wat een van die gidse aan my probeer verhuur het vir 10 dollar. Ek het vir hom in my beste Engels verduidelik dat hy sy sonbril in ’n baie donker plek kon insteek. Ek het ’n bril wat self verdonker en dit moet dan goed genoeg wees.

En toe was alles klaar. Die volgende oggend (Sondag) om halfnege moes ons bagasie ondertoe gebring word om geweeg en gelaai te word en om halftien sou ons vertrek Machame toe. Die res van die middag het ons op die dakterras van die hotel gesit en af en toe senuweeagtig geloer na die ou man met die wit kop wat daar aan die een kant vir ons staan en wag het. Hoe later die middag en aand verloop het hoe stiller het die mense geword. Ek het self die senuwees voel knaag en myself ’n paar keer afgevra wat my eintlik besiel het om hierheen te kom. Maar dit was al veels te laat om kop uit te trek.

See you on the other side….

Eindelik het die tyd dan aangebreek. More-oggend om sewe-uur neem ek die bus om die trein van halfagt te neem Schiphol toe. Dan is ek so voor halfnege daar as alles voorspoedig gaan. Elfuur vlieg ek Tanzanië toe. Teen halftien saans (Tanzanië-tyd) hoort ek op Kilimanjaro te land en as ek dit goed gereël het wag ‘n drywer van die hotel in Moshi op my. As ek dit nie goed gereël het nie….. neem ek ‘n taxi. Vir alles moet daar ‘n eerste keer wees 😉

Wat dit so bisar maak is dat wanneer ek more-aand in die hotel in Moshi sit, Maraai vertrek uit Johannesburg terug hierheen. En soos almal weet wat al hierheen gevlieg het, jy vlieg omtrent bo-oor Kilimanjaro Europa toe. En dit is die naaste wat ek en my hartsepunt aan mekaar sal wees in ses weke se tyd. Sy so tien kilometer bo my….. Sy land Saterdagoggend teen halfelf op Schiphol en kom dan huis toe waarvandaan ek net so vier-en twintig uur vantevore vertrek het. Ek hoop sy geniet die sjokolade op haar kopkussing.

By die hotel sal die res van die geselskap op my wag. Saterdag het ons nog tyd om die laaste dinge uit te sorteer en seker te maak almal weet en verstaan ons gaan daardie hoë berg daar aan die eenkant klim. En Sondagoggend om sewe-uur vertrek ons. Dan is daar geen omkeer meer nie. Ek sal pas volgende week hierdie tyd weet hoe dit afgeloop het. Die senuwees begin al ernstig te knaag, maar gelukkig is ek nie alleen nie.

Volgende week Sondagaand sal alles verby wees. Linksom of regsom, dit sal verby wees. Dan vlieg ek terug en so teen halftien Maandagoggend is dit my beurt om weer voete op Nederlandse bodem te sit. En dan sien ek vir Maraaitjie weer! Dit is my hele motivering op hierdie stadium; Om die storie agter die rug te kry dat ek huistoe kan kom na my vrou toe. Waar ek hoort en waar sy hoort. Langs mekaar op die bank. Om mekaar by te praat oor wat alles met ons gebeur het in die afgelope ses weke. En om sommer eindelik op te hou verlang na mekaar.

Geld maak nie gelukkig nie, of tog wel?

’n Ryk Oostenrykse sakeman is van plan om dit eerstehands uit te vind.

’n Luukse villa met ‘n ingeboude sauna in die Alpe, ’n pragtige vakasiehuis in die Provence en ’n paar sweefvliegtuie….. Die meeste van ons sal ons lewens lank sukkel om een van die hierdie dinge te besit, laat staan maar alles!

’n Karl Radeber (47), n Oostenrykse miljoenêr, wil van dit alles ontslae raak. Hoe vinniger hoe beter. Hy is van plan om van elke liewe sent van sy fortuin, wat op die oomblik geskat is op so 3,4 miljoen euro, ontslae te raak. Na jare van luukse het hy besef dat al die geld hom nie gelukkig gemaak het nie.

Dus moet alles weg:
Luukse villa met sauna, privaatmeer en pragtige uitsig op die Franse Alpe ter waarde van 1,6 miljoen euro.
’n Antieke boerdery in die Provence ter waarde van 700.000 euro.
’n Hele klomp ander eksklusiewe besittings en meubels.

Radeber wil niks meer van dit alles af weet niet. Sy plan is om niks meer te besit nie. Heeltemal niks meer nie, het hy aan die Britse koerant, The Daily Telegraph, vertel. Volgens hom is geld kontra-produktief en verhinder jou om werklik gelukkig te word. Hy het arm grootgeword en geleer om sy lewe lank baie hard te werk en materiële besittings bymekaar te maak. Dit het vir hom die maatstaf van sukses geword en hy het geglo hoe meer geld hy het hoe gelukkiger hy sou word.

Die Oostenryker het al sy Audi A8 en ses sweefvliegtuie verkoop. Die waarde hiervan was ongeveer 450.000 Euro. As hij daarin slaag om sy duur huise te verkoop is hy van plan om in ’n eenvoudige houthut in die berge te gaan woon. Die opbrengste van die verkoop van al sy goed gaan na liefdadigheidsorgansiasies vir weeskinders in Suid-Amerika.

Radeber het tot hierdie insig gekom na ’n vakansie met sy vrou op Hawaiï. Volgens hom het hy al die geld uitgegee wat hy maar kon tydens die vakansie, maar geen oomblik ‘n “regte mens” ontmoet in die drie weke op die eiland nie. Ewe skielik het hy vir homself gesê: “Stop! Stop met hierdie lewe van konsumeer en luukse en begin met jou regte lewe!”.

Op die Oostenrykse televisie het hy gesê dat hy van plan is om sy huis op te veil en die geld aan ’n liefdadigheidsorganisasie te gee. Hy woon op die oomblik in ’n klein tweekamer woonstel en oorleef op ongeveer 1.200 euro per maand. “Die ergste wat met my kan gebeur is dat ek sal moet gaan werk om te oorleef”, het hy gesê.

Ten spyte van dit alles het hy gesê dat hy niemand oordeel wat kies om nie van alles ontslae te raak nie. “Ek het geen reg om enigiemand raad te gee nie. Ek luister slegs na die stem van my hart.”

Ek wonder hoe opreg sy verhaal is. En ek wonder of ek ooit die moed sal hê om te doen wat hierdie man doen? Nie dat ek soveel het om van ontslae te raak nie 😉

Voorbereiding – vervolg-vervolg-vervlg

Nou is ek klaar geoefen. Saam met MK het ek hierdie naweek ‘n stewige 50 kilometer roetemars voltooi. Opgeknip in twee stukke, gelukkig. Saterdag 25 km en Sondag 25 km. Altwee kere deur die bosse en heidevelde op die Veluwe agter Arnhem. En nog steeds op kliphard- en spieëlglad gevriesde paadjies. Ek het op een plek gegly en so hard op ‘n gevriesde pad geval dat ek so ‘n rukkie op die ys bly lê het om na te dink. MK het bekommerd nader gestaan om te hoor of ek iets gebreek het, maar ek het vir hom beduie dat dit op hierdie stadium gemakliker is om op ‘n gevriesde stuk pad te lê as om te probeer opstaan. Dit was so hard gevries dat ek nie eens nattigheid aan my klere gehad het toe ek opgestaan het nie. So ‘n klein bietjie nattigheid binne in my broek, maar dit was nie van die ys nie.

Die bedoeling was aanvanklik nie om 50 km te loop nie, maar met ‘n bietjie kreatiewe verdwaalwerk het ons die afstand tot oor die 50 km merk gestoot. Ek loop nooit weer sonder ‘n kaart nie!
Vandag is my bene nog redelik styf en dit voel asof ek ‘n albaster in my een skoen het. Hy word darem kleiner, gisteraand was dit ‘n tennisbal, vanoggend ‘n stewige ghoen en vanaand is hy ‘n albaster. Ek moet miskien loer, dalk sit daar regtig ‘n albaster in my skoen 😉

Alles wat ek nodig het lê nou hier by my tuis. Ek het vanaand selfs die Imodium gaan haal. Dit is, dink ek, die mees belangrike bestanddeel van die hele trip, want as dit op daardie gebied fout gaan gaan dit goed fout. Ek wil nie dat die ouens wat agter my stap dink hulle het in ‘n mudslide beland nie.

Die volgende wat nou moet gebeur is dat ek die spulletjie moet begin inpak. As ek die berg toebehore, klere en ander prullaria so bekyk sê my gesonde man-verstand vir my dat daar geen manier is dat ek alles gaan inkry nie, maar ek is al 22 jaar getroud met ‘n vrou en ek weet wat ‘n paar goedgemikte skoppe aan ‘n halsstarrige stuk bagasie kan doen. Kyk, ek is geen voorstander van geweld nie, maar in die lewe is daar sommige sake wat net met geweld opgelos kan word. Een daarvan is die pak van bagasie. Veral as daarmee saam die regte taal gebesig word. Dit is eintlik ‘n kunsvorm.

Al wat nou nog voorlê is die laaste dingetjies wat ek tuis moet doen om te sorg dat Maraai nie dink sy het by die verkeerde huis ingestap as sy tuiskom nie.

Moenie op die skoolbank skryf nie!

‘n 12-Jarige skoolmeisie uit new York is deur die polisie gearresteer omdat sy op haar skoolbank geteken het. Die meisie, Alexa Gonzalez, het met ’n uitwisbare merkpen op haar skoolbank geskryf: “Lex was here – 2/1/10” en “I love my friends Abby and Faith”.
Volgens haar kon die geskryf maklik afgevee word.

Tog is sy gearresteer, in boeie geslaan en saamgeneem na die polisiestasie. Na ’n paar uur is sy weer vrygelaat. Dit het haar moeder bekendgemaak.

Die Amerikaanse ministerie van onderwys het verklaar dat dit nooit so ver moes gaan nie en die New Yorkse polisiedepartement is besig met ’n ondersoek na die saak. ’n Woordvoerder stel dat selfs wanneer aan hulle gevra word om iemand te arresteer, gesonde verstand tog ook gebruik moet word.

Sy is uiteindelik gevonnis tot ’n straf van 8 uur gemeenskapsdiens en sy moet ’n opstel skryf oor die lesse wat sy uit die ervaring geleer het.

Kabbelende kontwater

Voor iemand snaakse idee’s kry oor die opskrif is dit baie belangrik om verder te lees.

Vandag het ek weer gaan stap saam met MK, ‘n goeie Nederlandse vriend van my. By hom het ek in die afgelope jare die beskrywendste Nederlandse uitdrukkings geleer. Tipies van die uitdrukkings wat jy nooit in ‘n woordeboek sal terugvind nie, maar wat deur die regte mense gebruik word. Hy is letterlik gesproke ‘n soort wandelende woordeboek van algemeen gebruikte Nederlandse terme en uitdrukkings.

Miskien moet ek afskop deur te verduidelik dat ‘n Afrikaanse kont en ‘n Nederlandse kont twee verskillende dinge is. Hulle sit aan dieselfde kant van die liggaam, maar dan wel ‘n paar sentimeter uit mekaar. ‘n Kont in Nederlands is jou agterent. Selfs mans het konte. En dit is geen snaakse woord, waar mense van rooi word en snaaks begin giggel as iemand die woord gebruik nie. Dit is ‘n algemeen gebruikte term wat wel in die woordeboek onder die netjiese woorde terug te vinde is.
Toe ek net in Nederland begin werk het het ek die woord eendag leer ken op die werkvloer. ‘n Vroulike kollega het op ‘n stoel gesit en toe sy opstaan gaan sit ‘n manlike kollega op dieselfde stoel waar sy gesit het. Hy het so ‘n oomblik gesit en toe roep hy agter haar aan: “Jislaaik, maar jy het ‘n warm kont!”. Dit het gebeur in die bysyn van die afdelingsbestuurder en nog vyftien ander kollega’s. Ek het byna van my stoel afgeval en gewag vir die noodsaaklike reaksie wat moes volg op ‘n dergelike voorval, maar sy het in die loop omgekyk, geglimlag en verder geloop en die res het aangegaan asof hulle niks gehoor het nie. Toe het ek besef dat wat mens dink jy hoor en wat jy werklik hoor dikwels twee verskillende dinge is.

Maar, vandag het MK las gehad van “kabbelende kontwater”. As jy mooi nadink begryp jy wat hy bedoel. Hy het diarree. Dit het volgens hom begin met ‘n ligte “broekhoes”. Broekhoes is nes regte hoes en meestal nog wel droog. Die oomblik wat dit nat word gaan dit oor in kabbelende kontwater.
Ek het so ‘n draai tussen die bome gaan loop om weer my asem terug te kry van die lag. MK het my aangekyk asof ek my ou sokkies gerook het en toe gewoon verder gestap.

Maar ek het vandag weer besef wat ‘n fantastiese instrument taal is. Naas ons wreedheid teenoor mekaar is dit een van die belangrikste verskille tussen mense en diere; Ons uitgebreide taalgebruik. En dat taal ontstaan en ontwikkel as gewone mense op straat dit praat. En dat nuwe woorde en uitdrukkings nie deur die slim mense met pakke uitgedink word nie, maar deur die gewone mens soos ek en jy. En dat dit ons is wat ons taal verryk, of verarm. En dat solank ons leef, ons taal leef. Ons bepaal self die toekoms van ons taal. Al is dit dan soos die Nederlanders met uitdrukkings soos kabbelende kontwater.

Rafiki en die oor-die-straatpoedel

Rafiki was ’n baie uitbundige hond. Hy was ook baie ongedissiplineer. Ek het my bes geprobeer, maar ek dink hy het ’n soort honde-ADHD gehad. Hy wou vreeslik graag ’n goeie hond wees, maar soos die Bybel dit stel, die gees is gewillig, maar die vlees swak. Ek het baie duidelik gefaal in sy opvoeding.

Daarvan het die rubber deurmat wat sewe keer opgeëet is en die tuinslang wat al begin sis het as daar iemand nader kom getuig. Oor die rubber deurmat gepraat: Ek het altyd binne ’n week nadat ons ’n nuwe mat gekoop het die ding in klein stukkies hondedrol weer bymekaargemaak.
Hy het in elk geval altyd net die beste bedoelings gehad, dit weet ek vir ’n feit, maar te dikwels oor sy eie entoesiasme gestruikel. Om hierdie redes het ons ’n baie hoë muur en stewige hek gehad. Dit was om die hond binne te hou, nie die boewe buite nie, soos by die meeste ander mense.

Oorkant die straat het ’n ouerige dame alleen gebly. Nie heeltemal alleen nie, sy het ’n Maltese poedel gehad wat by haar gebly het. So een of twee keer per dag het sy en die poedel ’n draai in haar voortuin geloop. Sy het dan met die rose gepraat en die poedel het aan die kappertjies gesnuffel en dan op hulle gepiepie. Ek kon nooit agterkom of dit ’n reuntjie of tefie was nie, maar die hond het gesit en piepie met sy een been in die lug. Baie snaakse houding. Miskien het hy self ook nie geweet of hy teef of reun is nie. ’n Soort honde-transvestiet. Dan met so ’n astrante blaffie in Rafiki se rigting het die poedel weer agter die oor-die-straatvrou aan in die huis verdwyn. Ek is nie seker wat hy met daardie blaffies gesê het nie, maar dit was in hond ’n baie diep belediging, want ek kon sommer sien hoe steek die woorde in Rafiki se hart in. Dit moes elke keer oor Rafiki se geslagsdele gegaan het as ek die reaksie so gesien het.

Die besoek van die oor-die-straatvrou en haar poedel aan hulle voortuin was een van die hoogtepunte van Rafiki se dag. Ek sê een van, want sy dag het uit hoogtepunte bestaan. Nog ’n hoogtepunt was as die koerant afgelewer is by die voorhek. Dit was gevolglik een van my laagtepunte, want ek moes dan die koerant opruim wat in duisende klein geskeurde stukkie oor die erf besaai gelê het. ’n Ander hoogtepunt was as ons ’n nuwe deurmat gekoop het.

In elk geval, ek sit een dag op die voorstoep toe die oor-die-straatvrou en haar poedeltjie hulle daaglikse rondte tussen die rose en kappertjies maak. Rafiki sien hulle ook en storm onmiddelik hek toe waar soos hy altyd in sy volle 1 meter 70 uitgestrek teen die hek staan en in hond aan die poedel verduidelik wat sou gebeur het as dit nie vir die verdomde hek was nie.

Die volgende oomblik, en ek weet tot vandag toe nie hoe dit gebeur het nie, kom Rafiki se lewensdroom uit. Die hek spring oop. Die laaste wat ek van Rafiki sien is die krulstert wat so om die muur by die hek uit verdwyn. Ek spring op en storm hek toe en terwyl ek hardloop hoor ek die oor-die-straatvrou benoud skree en die poedel net so benoud tjank aan die oorkant van die straat.
Agteraf bekyk was die oor-die-straatvrou nie so oud nie, want toe ek by die hek kom is sy en die poedel al lankal weg en sien ek die bekende krulstert by hulle voordeur in verdwyn.

Dit was een van die bepalende oomblikke in my lewe. Dit was asof die aarde ’n oomblik lank stilstaan en jy self in die rondte draai. Asof ek myself in die oog van ’n orkaan bevind het. Die enigste verskil was dat ek nie in die oog van ’n orkaan was nie. En ek het nie in die rondte gedraai nie, maar gehardloop. Verskriklik vinnig na die oorkant van die straat toe, tussen die rose en kappertjies deur en by die voordeur na binne.

Aan die regterkant was die kombuis. ’n Soort oop plan, waar die oor-die-straatvrou gestaan en skree het met haar hande op haar wange. Sy het in die sitkamer ingekyk. Daar, op die mat voor die pragtige Victoriaanse bank, was Rafiki besig om die mat om te woel in sy pogings om homself onder die bank in te kry. Hy het gegrawe soos ek ’n hond nog nie sien grawe het nie. Onder die bank het die poedel teen die agterste muur van die sitkamer gelê en tjank. Oor die sitkamermat, onder die bank in loop die pisspoor soos die poedel gehardloop het.

Ek het nader gehardloop en die blerrie hond aan sy halsband gegryp en probeer om hom by die bank weg te sleep, maar hy het met so ’n krag vorentoe gebeur dat ek hom nie kon teëhou nie. Ek moes die groot hond in my arms optel en uitdra. Toe ek by die kombuis verbyloop staan oor-die-straatvrou nog steeds geskok met haar bleek gesiggie vir my en staar. Ek het so met ‘n skouerophaal en my arms vol blaffende hond probeer jammer sê vir die oorlas wat ons veroorsaak het, maar met die gebrul van die monster oor my skouer dink ek nie sy het veel gehoor nie.

So is ons terug en toe ons by die huis kom het Rafiki baie trots sy merk teen die hek gemaak voordat hy ’n paar slukke water gaan vat en tevrede op die stoep gaan lê het. Daardie poedel sou nooit weer iets oor sy geslagsdele sê nie.
Ek het later probeer om vir die oor-die-straatvrou verskoning te vra en verduidelik dat die saak heeltemal uit my hande geloop het, maar sy het my so half uit die hoogte aangekyk en nie juis gereageer nie.

In elk geval was haar besoekies van daardie dag af aan die voortuin baie korter en die poedel het glad nie meer saamgegaan nie. Ten minste was die kappertjies tevrede.

Met die taxi van Kuba na Florida

Beamptes van die Amerikaanse kuswag het tot hulle verstomming ‘n groep onwettige Kubaanse immigrante onderskep in ‘n drywende taxi. Die Mercury uit 1949 was nog maar 20 myl verwyder van Key West in Florida. Die pragtige ou motor was versigtig omgetower tot ‘n seewaardige vaartuig waarmee hulle die oorsteek gewaag het.
In die taxi was 12 Kubane wat gehoop het om in Amerika ‘n nuwe lewe op te bou.
Onwettige Kubaanse immigrante het in die afgelope jare opspraakwekkende toertjies uitgehaal om Amerika te bereik. So is baddens en vrieskaste vol Kubane net buite die kus van Florida geen vreemde verskynsel meer vir die Amerikaanse kuswag nie.
In 2003 het Luis Grass weke lank gewerk om ‘n Chevy-bakkie uit 1951 om te bou tot ‘n vaartuig. Hy is onderskep en teruggestuur Kuba toe terwyl die kuswag met ‘n paar goedgemikte skote die klassieke bakkie na die bodem van die oseaan gestuur het. ‘n Jaar later het die vasberade Kubaan dit weer geprobeer. Hierdie keer was dit in ‘n Buick sedan uit 1959. Weer tevergeefs en terwyl die Buick seebodem toe gegaan het moes hy terugkeer na Kuba toe.
Een van die 12 insittendes in die Mercury was ‘n man wat saam met Luis Grass in die Buick was toe hy in 2004 onderskep is.