Ek het gedroom


Die eerste nag terug van die berg af het ek in ’n onrustige slaap gesukkel.

Ek het gedroom en dit was ‘n droom wat ek glashelder onthou.

Ek het gedroom dat ek in myself wegsak. Heeltemal weg in myself tot binne-in die donkerste dieptes van my siel. Daar het ek ’n klein silwer draadjie sien glinster, soos ’n ligsplinter. Dit was die lyn van my tyd. Ek het die lyn begin volg. Met die lyn langs het ek my lewe agteruit sien gaan tot waar alles begin het vir my.

Daar het ek Hom gesien. Hy het sy hande in die rooi klei langs die Palala-rivier gedruk en ’n homp in sy regterhand geneem. Daarmee het hy begin werk en dit stadig vorm gegee. ’n Maroela se bas het Hy deurgemeng, van die takke van ’n sekelbos het Hy bene gevorm. ’n Skoot olifantmis ingemeng vir die regte struktuur en ’n handvol kakiebos om die geur reg te kry. Van’n klos buffelsgras het Hy hare gemaak. Stadig het Hy my gevorm, telkens bietjie rivierwater bygegooi en soos nodig ‘n paar gladgeskuurde rivierklippies deurgemeng.

Toe hy klaar was het daar leweloos gelê op die wal van die rivier, ’n mensvorm van rooi klei, bedek met boombas, aanmekaar gehou deur sekelbostak en dit alles het geruik na rooi modder en kakiebos.

Toe het Hy weggegaan en bo-op die Kilimanjaro gaan wag. Daar het Hy baie dae geduldig gesit en telkens met sonop gewag op daardie oomblik dat die son die aarde loslaat. Op die regte oggend, op die regte oomblik het Hy sy hand uitgesteek en daardie laaste druppel goue sonlig wat tussen die son en die aarde vasklou voordat die groot rooi bal die hemel inskiet, tussen sy duim en voorvinger gevang.

Hy het teruggekeer na die wal van die Palala, waar die rooiklei-liggaam nog steeds gelê en wag het. Die stukkie son het Hy met groot versigtigheid in die bors van die klei-liggaam gedruk en dit liefdevol toegevou met klei.

Dit was die oomblik toe die lewe onstuitbaar deur my liggaam begin stroom het. Toe het Hy my gegee aan twee mense wat op dieselfde manier gevorm is uit die boumateriale van Afrika.

Toe het Hy begin om ‘n maat te maak. Haar het hy gevorm uit die klei langs die Komatirivier. Haar bedek met die blomblare van ‘n Impala-lelie, haar bene gevorm met die soepel takke van ‘n rivierwilg, ’n handvol wilde jasmyn deurgemeng met twee tieroog-klippies vir oë. Met baie liefde, geduld en sorg het Hy haar gevorm en telkens as iets nie perfek was nie, alles afgebreek en oor begin.

Toe het Hy weer weggegaan en op die hoë berg gaan wag. Daar het Hy weer baie dae lank sit en wag vir die regte oomblik en toe alle omstandighede perfek was het Hy weer sy hand uitgesteek en met duim en wysvinger daardie spesiale sondruppel afgeknyp.

Toe Hy die stukkie son in haar bors toegevou het het ook in haar die lewe onbedaarbaar begin bruis. Haar het Hy ook gegee aan twee mense wat Hy lank gelede uit Afrika gevorm het.

Nou verstaan ek baie meer dinge. Ek verstaan ‘n bietjie van wie en wat ek is. Ek verstaan waarom ek in die bosveld myself telkens vind. Ek verstaan die sagte rus in my siel voel as die Afrika-son op my vel skyn. En ek verstaan waarom die lewenslus soms so hard deur my liggaam jaag. Ek verstaan waarom ek so graag my voete in rivierklei druk, sodat dit deur my tone opkrul boontoe. En waarom ek so graag met my hand oor die stam van ’n maroelaboom vryf om die growwigheid van die bas onder my vingers te voel. En ek kan nie by ’n sekelbos verbyloop sonder om die fyn blaartjies ’n oomblik tussen my vingerpunte deur te laat gly nie, ’n bol olifantmis krap ek met ’n stokkie deurmekaar en verwonder my oor die growwe struktuur daarvan. En kakiebos druk en stukkend en snuif daaraan. En ek kan ure lank in alle rus tussen die buffelsgras sit en kyk, ruik en luister na hoe Afrika om my leef.

En ek weet nou waar hierdie warmte in my bors vandaan kom. Dit is die skyfie Afrika-son wat daar brand. Wat my lewe verlig en in die langste, donkerste en koudste winternagte my siel warm hou en ’n glimlag op my gesig tower.

En ek verstaan nou van Maraai. Wanneer ek aan haar raak voel ek die sy-sagte blomblare van ‘n impala-lelie. En die soet reuk van jasmyn in haar hare. En ek weet nou waar daardie gloed agter in haar tierklip-bruin oë vandaan kom. Sy is uit dieselfde grond as ek gemaak, met die selfde bestanddele versigtig en liefdevol aanmekaar gesit en in haar bors brand dieselfde son met dieselfde felheid waardeur sy haarself en almal om haar verwarm. En wanneer ons bymekaar is voeg daardie twee sondruppels hulself saam om die warmte van ons Afrika son oor die mense om ons te laat skyn..

Waar my lewenspad my ook mag bring, die reuk van kakiebos en wilde jasmyn, die grofheid van die maroelaboom en die sagtheid van die blom van die impala-lelie sal altyd my deel wees.

Tot die dag dat my stukkie son terugkeer na daardie ver horison sal ek smag na die brand van die Afrika-son. En die dag as dit gebeur sal ek terugkeer na die modder waarvan ek gemaak is en sal my liggaam terugsypel in die rooi klei. En ek sal weer deel uitmaak van die grond waaruit ek gevorm is. En ek sal onsigbaar wees, maar altyd daar.

8 thoughts on “Ek het gedroom

  1. Ai, weet jy, ek was nou al 100 x hier, en ek weet steeds nie wat om te se nie. Dis verskriklik mooi geskryf. As jy nie (skynbaar, so lyk dit!) so skugter man was nie, het ek die hele WordPress hierheen gestuur! Dit voel na sonde as nie meer mense dit lees nie. 😉

  2. Langs die Palala sê jy my…..
    My wortels lê op ‘n ander berg – die Draak se berg. Maar my beterhelfte is op die vlakte langes die Waterberg uit Turfgrond, mielieblare, sekelbostakke en plat-plat vlaktes gemaak.

    Nooit, dink ek is ‘n lang tyd, maar nooit sal Afrika uit ons are gehaal kan word nie. Dit is wie ons is

  3. Dit is baie besonders!
    Ek wil graag weet, as jy kans sien om dit te deel, of jy iets kan sê oor wat hierdie Afrika-mens wees alles kan behels vir iemand wat in die buiteland woon.
    En of jou dogters hulself ook so sien, ook so ‘n verbondenheid met Afrika voel?

    1. Hallo Alleman,
      ek moes lank dink oor hierdie een, want so ‘n vraag maak dat mens êrens diep in jouself moet gaan soek en dit is die moeilikste plek om objektief te kyk.
      Ten eerste moet ek verduidelik dat ek ‘n verbondenheid het met Afrika en nie met enige spesifieke deel van Afrika nie. Dit mag miskien as enigsins onpatrioties gesien word, maar my verbondenheid is met die kontinent self en nie met enige gebied of groep mense op die kontinent nie.
      My Afrika-menswees is ‘n onbewuste deel van my. Dit is soos mens se Christenskap deel is van mens. Dit nestel in jou karakter en skiet wortel in jou siel en word so deel van jou dat jy dit nie meer kan onderskei van jouself nie.
      Afrika het my geleer dat komplekse situasies kompleks is. Dat daar geen maklike oplossings is vir moeilike probleme nie. Dat probleme tussen mense en groepe mense nie swart-wit is nie (No pun intended). Dat jy as buitestaander maar liewers jou bek kan hou tot jy altwee kante van die saak verstaan. Dat in alle konflikte daar twee partye is wat gelyk het en twee wat verkeerd is. En dat agtergrond, kultuur, taal en geskiedenis ’n argument so kan besoedel dat jy later nie eens meer weet waar dit begin het nie.
      Hierdie bagasie wat Afrika my meegegee het help my in my daaglikse omgang met die mense om my. Ek het geleer observeer en luister. En probeer verstaan. Dit is vir my makliker as vir die gemiddelde Europeaan om myself in die skoene van die ander persoon te plaas. En om simpatie te voel vir die underdog. En om die een wat ooglopend verkeerd is ’n kans te gee om homself te verduidelik. Dikwels met verstommende gevolge vir die argument.
      Afrika gee jou ’n gevoel vir mense en menseverhoudings wat ons in die steriele tegniese- en besigheidsomgewings van die eerste wêreld ’n onbetwiste voorsprong op die mense om ons gee.
      En ’n liefde en passie vir alles wat aards en natuurlik is. Die spinnekoppie wat op my lessenaar woon is vir my ’n skrefie na ’n ander wêreld toe. ’n Wêreld met ander wette en reëls waar ons as mense slegs besoekers kan wees.
      Die band met Afrika merk ek in Maraai en altwee my dogters. Oudste is al weer drie jaar terug in SA waar sy gaan studeer het en nou woon en werk. Sy wil nie terugkom Europa toe nie.
      Jongste het baie meer van Europa in haar as enige een van ons, (Sy was ook baie jonk toe ons hier kom woon het) maar sy het ’n groot stuk Afrika in haar hart. Sy wil nie daar gaan woon nie, maar het ook ‘n verbondenheid met die kontinent wat min van haar vriende en vriendinne verstaan. Daar sit ’n stukkie wild in haar karakter en oë wat my soms laat glimlag. (En haar ma bekommerd maak)
      Ek hoop dat ek jou vraag ‘n bietjie beantwoord het. In elk geval was dit vir my self onthullend om hierdie stukkie te skryf. Ek dink ek verstaan nou bietjie meer.

      1. Ag jinne. Dis ‘n posting op sy eie. Ek kom kyk af en toe of jy Alleman geantwoord het, en vandag was my lucky day!
        Dit maak my siek as iemand anders beter kan beskryf wat ek voel. 😉

  4. Og ja!!

    Hierdie gaan ek vir my seun vra om te lees – want hy het al hoeveel keer vir sy vrou probeer vertel hoekom hy met elke geleentheid die laaste 6 jaar terugkom huis toe. En nie die res van die wereld regtig wil verken nie – sy verlange en liefde lê onbeskryflik diep – maar nou het jy dit gedoen

    Dankie…dankie!!!!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s