Kilimanjaro – Dag4

Die vierde dag het begin soos al die voriges tot dusver. Alhoewel ek hierdie keer seker is dat ek ’n uur of twee geslaap het. Dit kan ook nie anders nie, van moegheid val ’n mens tog wel ’n keer aan die slaap. Ek het weer die nag ’n keer uitgegaan en op ’n klip na die sterrehemel sit en kyk. Dit was vir my nog steeds onvoorstelbaar dat daar so baie sterre om ons in die lug kon hang. Baie ver na die suide toe, onder my, was die ligte van Moshi en Arusha. Dit het amper soos ’n omgekeerde hemel gelyk in die donker. Sterre bo my en sterre onder my.

Teen vyfuur begin toe weer die vrolike gelag en gesels van die porters en kokke. Halfsewe die opgewekte ruk aan die tentflap en heerlike warm tee. Stadig kruip ons uit die tente die koue tegemoet. ’n Laag ys bedek alles om ons en die tente staan wit afgeëets teen die swart ondergrond van die rotse wat deur die nag die warmte beter vasgehou het, sodat daar die ysvorming baie minder was.

Dan weer soos ‘n ry meerkatte voor Kibo gaan staan en stilweg wonder wat die dag vir ons gaan inhou. Aan die regterkant staan die Barranco-wall ons en uitdaag. Die eerste groepies porters is al soos klein wit miertjies teen die muur sigbaar. Ons verstom ons oor die hoogte van die muur en hoe die porters met 30kg op hulle koppe daar op kan klim, maar dan is dit alweer tyd vir ontbyt.

Tydens ontbyt het geblyk dat Sue tog besluit het om Deo se advies op te volg en die dag saam te stap. Sy het nie eintlik ’n keuse gehad nie, omdat die enigste alternatief was om die vorige dag se roete terug na Shira te volg en daarvandaan teen die berg afgevoer te word. Ek dink net die idee om weer daardie kant toe te loop was vir haar al genoeg om te besluit dat daar maar een rigting is op hierdie roete en dit is vorentoe. Haar knieë het in elk geval beter gevoel en sy was weer haar vrolike, laggende self die oggend.

Die dag se roete sou begin teen die Barranco-wall en daarna sou ons nog drie uur stap tot aan Karanga-kamp op 3950m. Ongeveer dieselfde hoogte as Barranco, dus met ’n hele dag se geklim en geloop sou ons nie eintlik vertikale vordering maak nie. Maar almal het verstaan dat hierdie dag van groot belang was vir ons akklimatisasieproses. Na die vorige dag se vinnige styging na Lava-tower op 4600m het ons almal besef dat die hoogte nie grappies is nie.

Na ontbyt het ons vinnig ons goedjies bymekaar gekry en voor ons ons oë kon uitvee stap ons alweer in ’n lang ry soos ’n skoolklassie aan agter die Masaï aan. Reg op die berugte Breakfast-wall af. Eers ’n vinnige daling, waar ons ’n klein gletser-stroompie oorsteek en dan begin ons aan die klim teen die muur uit.

Met begeleiding van die gidse en mekaar klouter (scramble) ons stadig teen die muur op. Hier en daar kos dit goed vashou en versigtig trap, maar dit is geen tegniese klim, waar jy ernstig gevaar loop as jy misvat nie. Op een of twee plekke het ’n ernstige hug-and-kiss situasie homself voorgedoen. Dit beteken dat jy jou liggaam baie styf teen ’n rotsmuur aandruk en dan versigtig met jou hand aan die ander kant voel vir vatplek, voordat jy jou voet omdruk en daar ook soek-soek vir trapplek. En dan stadig en baie sensueel jou liggaam teen die growwe rots oorskuur na die ander kant toe. So het ons die oggend al klouterend en skurend teen die kranse deurgebring. Niemand het geval nie, maar die groep het weer baie vinnig versplinter. Ons moes ook kort-kort stop en eenkant staan om ’n groep porters die kans te gee om verby te kom. Hulle het wel die 30 kilogram pakke op hulle koppe en sommige selfs ook waterdromme en gasflesse in hulle nekke gedra, maar dit was vir hulle ook nie maklik nie. Swetend en sugtend en mekaar-helpend het hulle stadig teen die rotsmuur uitgeklouter soos ’n tou miere wat met hul eiertjies na ’n nuwe nes toe trek.

Elke kort-kort het ons ’n valse horison bereik en net as jy dink jy is bo kom jy agter dat daar nog ‘n stuk muur voorlê. Maar, aanhouer wen en as jy jou verstand afskakel en net die dinge bly doen wat noodsaaklik is om vorentoe te beweeg, kom jy vanself aan die bokant.

Na ‘n paar uur se klouter teen die muur op staan ons toe eindelik bo-aan en kyk met voldoening terug ondertoe. Daar ver aan die onderkant lê die laaste reste van Barranco-kamp. Ongeveer ’n kilometer onder ons is die laaste werkers druk besig om die laaste stukkies kamp heeltemal te laat verdwyn. Vir die res van die dag sou daar net die altyd aanwesige toilet-hutte staan tussen die klippe en Senecio’s.

Na die linkerkant, suid dus, ‘n onvergeetlike uitsig oor die platorand op die res van vredige Tanzanië ver, ver onder ons. Maar, ons het nie baie tyd gehad om ons aan al hierdie uitsigte te verwonder nie, want ons moes verder. Pole-pole is wel lekker stadig, maar dit hou jou ook lank besig.

In die loop van die dag het ons ’n bietjie gedaal, want die klim teen die muur uit was tot op ’n redelike hoogte. Die grootste deel van die stap was deur ’n landskap baie dieselfde as tydens die afdaling van Lava-tower na Barranco-kamp die vorige dag. Klip, sand en Senecio en hier en daar Lobelia.

Dit was vir my ’n rustige stap, drie uur lank en toe staan ons voor die laaste stuk teen die steilte uit na Karanga-kamp.
Op een plek het MK wel gegly en geval tydens ’n afdaling in ’n stroom water. Hy het sy hand en twee van sy vingers oopgesny op die vlymskerp lawa wat oral rondlê.
Die gids was baie opgewonde oor die voorval, want dit het hom die kans gegee om sy medisyne-trommel uit sy rugsak te tower en MK moes net keer of sy hand is kort bokant sy elmboog afgesit deur die oorywerige gids wat sy eerstehulp-vaardighede wou laat sien. Met vyf yslike pleisters en sy arm tot duskant sy kennebak in jodium gedoop kon hy toe sy tog voortsit.

Daar was twee roetes teen die bult op. Die een aan die linkerkant was langer, maar gelykmatiger en die een aan die regterkant was reguit teen die bult op, maar wel baie korter. Ek was in ’n goeie bui en MK het ten spyte van al die pleisters en jodium saamgestem dat ons die reguit roete teen die bult op moes neem.

Na ’n halfuur lank se steil stap teen die bult uit was ons bo. Uitasem en met kloppende hoofpyne, maar baie tevrede met onsself staan ons toe by die welkomsbord van Karanga –kamp op 3950m.
Karanga-kamp lê, anders as die ander kampe, teen ’n baie skuins helling. Alles in die kamp is dus skuins. Die tente is opgeslaan op stukkies grond en klip wat ’n bietjie gelyk gekrap is, maar nog steeds behoorlik skuins.

Op ’n vreemde manier beïnvloed dit jou ewewig as alles skuins is. Mens probeer onbewustelik die hoek van 90 grade te behou ten opsigte van die grond en al die objekte om jou heen. Maar as alles skuins staan is dit baie moeilik om jouself dan regop te hou. Veral met die eerste uitkruip uit die tent teen die skuins helling. ’n Paar van ons het soms onbeheerd tussen die klippe deur teen die helling afgestorm voordat ons ons balans weer kon vind.

Karanga het in elk geval die toilet met die beste uitsig in die hele wêreld. Op 3950m op die rand van ’n plato wat uitkyk oor Tanzanië staan een van die smerigste toilette op hierdie planeet, maar met ’n uitsig wat jou laat vergeet van al die reuke wat onder jou uit die gat opstyg. Hy het geen deur nie en dit is wat jy sien as jy daar hurk:

Ek het daar my beste motion van die hele tog beleef. Op my hurke oor die smerige gat in die grond, maar uitkykend oor een van die mooiste tonele wat ek nog gesien het. As my kuite nie so moeg geraak het nie sou ek die heel middag daar bly sit en staar het.

Ons het die middag-donderstorm in die eettent deurgebring waar ons die dag se gebeurtenisse met mekaar bespreek het. Daarna het almal ’n bietjie gaan rus en was ons teen halfses al baie gereed vir aandete.
Sue het net voor die reën in die kamp aangekom en almal was baie verbaas om haar te sien. Haar knieë het geen probleme meer gegee nie en sy was vrolik en baie opgewek. Ek weet nie wat Deo met haar aangevang het nie, maar daardie middag was sy van plan om die hele roete tot aan Uhuru-peak saam te stap.

Na aandete het ons soos gewoonlik die volgende dag se program bespreek. Selfde verhaal as elke dag. Halfsewe opstaan, sewe-uur ontbyt en halfagt begin stap Barafu toe. Barafu is die basis-kamp waarvandaan ons die volgende nag om twaalfuur sou vertrek om die top van Kilimanjaro te beklim. Die ware jakob het steeds nader gekom en almal het al die senuwees voel knaag.

In die tussentyd het Kibo agter ons gestaan en in die vroegaand het die sneeu soos gesmelte staal gelyk wat teen die berg afloop. Ek het my bly verstom oor al die karakters wat Kibo al laat sien het in die paar dae dat ons teen die berg was.

Die stap van die volgende dag sou ook ongeveer drie uur duur, maar ons sou styg van 3950m tot 4600m. As hoogtesiekte ’n probleem sou word sou die volgende dag die bewys lewer.
Ek het my wel bietjie begin bekommer oor M, een van die broertjies. Hy was op dag 2 al siek, maar nou was hy weer siek. Hy was naar, het gekla van hoofpyne en was duiselig. Deo het hom Diamox gevoer en vroeg bed toe gestuur om te gaan slaap.

Die res van ons het so teen agtuur bed toe gegaan. Op hierdie stadium was MK en ek altwee al redelik goed gefermenteer. Die reuke wat uit ons en ons klere gewaai het moes iets vreesliks gewees het vir ’n skoon mens om te beleef, maar ons het nie juis las gehad daarvan nie. Altwee van ons was omtrent ewe vuil en solank ons nie geweet het wie se stank ons ruik nie was dit geen probleem nie. In Karanga het ons ons laaste warm waswater gekry, omdat op Brafu geen water is nie. Drinkwater sou saamgedra word Barafu toe, maar daar sou geen luukses wees soos om jou hande te kan was nie.

Snaaks genoeg het die porters ook al genoeg gehad van Prabu se snorkery. Prabu en Ranjit se tent het so eenkant teen die skuinste gestaan weg van al die ander tente af. En baie ver weg van die porters se tent af. Ons het almal geglimlag oor hierdie nuwe maatreël, want dit was duidelik dat die porters nie langer lus was om na sy snorkery te luister nie.

Die slapery op die skuins grond het nie vir my gewerk nie, maar ek het sekerlik ’n paar uur weggedommel die nag. Veral omdat ons nie na Prabu hoef te geluister het nie.