Wat sê mens?


Ek is in ’n snaakse bui vandag. Ek voel iets, maar ek kan dit nie vir myself goed onder woorde bring nie. As ek dus onsamehangend begin klets, vergewe my maar. Dit is nie jou skuld nie, maar myne. En as dit te erg word, in die regter boonste hoek van jou skerm is ’n kruisie. (Links as jy met ‘n Mac werk) Kliek daarop dan het jy skielik geen las meer van my nie.

Gisteroggend kwart-voor-vyf is die seun van ’n goeie vriend van my oorlede. Henkie was vyftien jaar en ernstig gestrem. Sy lewensverwagting was ongeveer tien jaar, maar hy het almal verbaas en deurgeveg tot vyftien.

Sy ouers is vir ons almal ’n toonbeeld van liefdevolle, sorgsame ouers wie se hele lewe bepaal is deur die wel en wee van hul jongste seun. Die liefde en deernis waarmee hulle Henkie versorg het het ons almal baie diep geraak.

En al het almal geweet dat dit ’n keer sou gebeur was sy dood nie minder van ’n skok vir hulle gewees nie. Ook die smart en pyn wat hulle voel is nie minder daardeur nie. Diep gelowige Christen mense, maar tog ervaar hulle die pyn van sy dood in volle maat. En al verseker almal hulle dat Henkie nou op ‘n “beter plek” is verlig dit nie die donker tonnel waardeur hulle nou moet loop nie. Al die beriggies oor Henkie wat nou ’n engeltjie geword het maak die smart vir hulle nie sagter nie.

Dit laat my met ’n vreemde gevoel. Is dit werklik die beste manier wat ons het om mekaar te troos? Het ons medelye met mekaar se hartseer al verval in clichés? Is daar niemand hier onder ons wat vir hulle kan verduidelik waarom dinge geloop het soos dit geloop het nie. En die antwoord is ook duidelik. Nee, niemand van ons verstaan genoeg om dit te kan verduidelik nie. En niemand van ons het die vermoë om hulle pyn weg te neem of selfs minder te maak nie. Hulle moet self deur hierdie moeras worstel en die beste wat ons kan doen is om aan die kant te staan en hulle aan te moedig.

En dan dink ek aan gisteroggend om kwart-voor-vyf. Ek het toevallig op daardie oomblik in my woonkamer sit en werk. Niksvermoedend en onbewus van die diep swart gat waarin my vriende besig was om te sak geen drie kilometer van my af nie.

Ek dink aan die 12-jarige Nederlandse meisie, Milly Boele wat twee weke gelede vermoor is deur ’n buurman. Haar ma het tien teen een op daardie oomblik staan en kook of voor die TV gesit. Sy was totaal onbewus van die moment toe geen vyftig meter verder haar dogter gesterf het.

Nie Henkie se ouers of Milly se ouers of enige ander ouer wat ‘n kind verloor het verstaan waarom dit gebeur het nie. En daar is niemand wat vir hulle kan verduidelik waarom nie. Niemand van ons kan hulle pyn verlig nie.

Blind, doof en stom is ons mense. Nie in staat om te onderskei wat aan die anderkant van ’n slap gordyn gebeur nie.

Ek dink dat dit is soos dit moet wees. En dat dit die beste is op hierdie manier. Want dit laat ons telkens besef dat ons eintlik maar nie verstaan nie. Dit is al wat ons nog enigsins nederig hou ten spyte van ons natuurlike neiging tot arrogansie en selfoorskatting.

Maar wat kan ek vir Henkie se ouers sê behalwe dat Henkie nou op ’n beter plek is? Dan sê ek liewer niks.

3 thoughts on “Wat sê mens?

  1. Stokstert, ek verstaan presies wat jy hier skryf. Nog iets wat nie vir my werk nie is wanneer iemand, heeltemal met goeie bedoelings, se: “Ek weet hoe jy voel.” Bog! Jy kan nooit weet hoe die ander persoon voel nie, bloot omdat jy nie daardie persoon is nie. Wat ek wel weet is hoe dit voel om absoluut magteloos te wees om ‘n ander te troos… dit verstaan ek goed. My ervaring was dat die beste manier om iemand wat rou, te troos, is om net daar te wees en te luister wanneer die persoon begin praat oor sy/haar gevoelens en die herinneringe aan die persoon wat nie meer daar is nie. Sterkte vir jou en jou vriende.

  2. Ou Stokkies, ek weet nie hoe dit is om ‘n kind te verloor nie, maar my ma het al. Ek is haar enigste dogter, en ek dink dis hoekom sy met my daaroor kon praat. Die ander broers wou net daarvan vergeet. Dit was vir haar die ergste. Dat ander mense so gou moontlik wou vergeet, en al wat sy wou doen – nog steeds wil doen – is om te onthou en oor hulle te praat. En ook, ek weet mense bly eerder weg omdat hulle nie weet wat om te se nie. Mens hoef niks te se nie. Dis baie keer net daai druk of traan afvee wat ‘n verskil maak. Niks maak dit beter nie, maar gedeelde smart is effens makliker om te dra.
    Sterkte daar.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s