Kilimanjaro – Dag 7


Ek het die nag beter geslaap as enige van die voorgaande nagte. Ons het vroeg tent toe gestrompel en ek het byna onmiddelik aan die slaap geraak. Ek is seker die grond was skuins, daar was klippe onder my en dit moes ook koud en nat gewees het. En ek weet seker dat Prabu verskriklik gesnork het. Maar van dit alles het ek heeltemal niks gemerk nie.

Ek het weer vroeg wakker geword, so teen vyfuur, en vir die laaste keer lê en luister na die gelag en gekuier van die porters in hulle tent. In die agtergrond die laaste keer dat ek Prabu se onderaardse gesnork sou hoor. Dit het stadig lig begin word en êrens voor sesuur het ek uit die tent gekruip. Ek was die eerste van die groep wat opgestaan het en ek het vinnig ’n boom gaan opsoek vir die noodsaaklike oggendwerksaamhede.

Vir alle praktiese doeleindes was ons tog teen die berg klaar. Vandag sou ons vier uur lank verder afdaal na Mweka-hek, waar ons die bus sou kry terug na die hotel in Moshi toe. Ek het ’n vreemde melankolie gevoel. Aan die een kant ’n verskriklike haas om klaar te maak en huis toe te gaan en aan die ander kant ’n hartseer gevoel, byna asof ek ’n goeie vriend verlaat. Ek was baie haastig huistoe om na ses weke weer by Maraai te kan wees. En ek sou verskriklik graag ’n warm stort wou neem. Maar aan die ander kant het ek geweet dat elke tree wat ons die dag sou gee my verder sou neem van die berg.

Stadigaan het die res van die groep wakker geword en het ons deur die normale oggendroetine gegaan van tee drink, inpak, probeer om ons hande en gesigte te was in ’n piepklein bakkie louwarm water en ontbyt eet. Dit het alles half outomaties gegaan. Net na ontbyt het ’n vrolike geroep en gelag buite die tent ons aandag getrek. Toe ons buite kom staan daar ’n Kilimanjaro-scooter. Sue was nog siek en sy sou die dag se loop saam met ons nie kon maak nie. Sy sou dus met die scooter teen die berg af gebring word. Ten spyte van haar protes en teëstribbeling is sy in die scooter gelaai, toegedraai in ’n slaapsak en vasgebind. Die arme vrou het met die dood in haar oë smekend na ons gekyk voordat die dollemansrit teen die berg begin het. Maar daar was vir haar nie genade op hierdie oggend nie. En toe, onder vrolike gelag en gejuig van alle omstanders vertrek die klompie die berg af. Dit sou die eerste keer wees dat Sue voor ons by die bestemming sou wees.

En toe was dit weer tyd vir ons om te vertek. Met die Masaï voorop het ons reggestaan vir die laaste deel van ons tog teen die berg af. Toe ek agter my kyk sien ek tussen die bome deur vir die laaste keer Kibo uitsteek. Die ou man was byna vriendelik soos hy daar gestaan het en vir ons tussen die bome deur geloer het. Ek het nog een of twee keer omgekyk voor ons tussen die bome verdwyn het en dit was die laaste keer dat ek hom gesien het.

Die res van die dag was weer daal, daal, daal deur die reënwoud. Steeds verder en verder ondertoe. Daar was ’n baie ontspanne atmosfeer tussen die mense. Ons het saam ’n baie mooi ervaring beleef en in die afgelope sewe dae ’n hegte groep geword. Deur saam swaar tye deur te maak het ons mekaar leer ken op ’n manier wat normaalweg jare sou geneem het. Ons was die mees onwaarskynlike vriende. Op straat sou ons by mekaar verbygeloop het en mekaar nie eens raakgesien het nie. Uit alle vlakke van die lewe het ons onsself saamgegooi in hierdie groepie, hierdie stinkende seerowersbende wat al skertsend en laggend deur die woud teen die berg afgestap het.

Af en toe het ons gestop om vir die agterlopers te wag, want die plan was om almal saam die eindstreep te bereik.
Na ’n paar uur se loop het ons ’n groot trop kolobus ape in die bome bo en om ons gewaar. Soos bosgeeste het hulle daar gesit met hulle swart gesigte en wit baarde. Sierlike spronge het hulle van boom tot boom en van tak tot tak gevoer en terwyl ons gestap het het hulle in dieselfde rigting as ons deur die bos beweeg. Dit was amper soos ’n soort eregeleide wat ons teen die berg af gehad het van hierdie trop van minstens vyftig pragtige diere. In al die voorgaande dae op die berg was dit die grootste diere wat ons teëgekom het.

Net voor twaalfuur het ons om die laaste draai gekronkel en daar voor ons was Mweka gate. Teen hierdie tyd was ek meer as gereed om klaar te maak. Die afdalery was moordend en hoe laer ons gekom het hoe warmer het dit geword.

Toe ons die omgewing van die hek nader het van die porters aangehardloop gekom om ons geluk te wens met ons prestasie. Dit was ’n baie mooi oomblik. Wildvreemdes val mekaar om die nek, wens mekaar geluk en meer as een traan is skelm weggepik deur sommige van die manne.

By Mweka is ons oorval deur ’n swerm smouse wat van alles aan ons probeer afsmeer het. Daar was enigiets, van kralekettings tot ouens wat jou skoene vir jou wil was. Terwyl ons in die ry gewag het om onsself uit die bergregister te teken het ek aan die eenkant ’n geboutjie gesien wat my baie aan ’n toilet laat dink het. Ek het vir R, wat voor my gestaan het gevra om my goed op te pas en daarheen geloop. Toe ek binnekom was dit inderdaad ’n pragtige, skoon ablusieblok. Spierwit teëls op die vloere en teen die mure, ’n spieël teen die een muur bo ’n spierwit wasbak met stromende water en ’n piepklein kamertjie met daarin….. ’n spierwit toilet! Van die modelle waar jy op kan sit. Ek het nie ’n nommer twee gehad nie, maar net omdat dit kon, en omdat dit so lekker gelyk het het ek gesit en piepie.

Toe ek terugkom by die groep en vir hulle vertel wat ek in daardie geboutjie beleef het moes ons net keer of almal hardloop gelyk daarheen. Ek het lekker gelag vir die eenvoudige dingetjies wat mens se lewe mooi kan maak. ’n Wit toilet waarop jy kan sit, byvoorbeeld.

Nadat ons onsself uitgeskryf het het ek my stapskoene uitgetrek en vir die porter gegee wat my bagasie teen die berg gedra het. Sy dankbaarheid om ’n ou paar afgeleefde skoene te kry het my diep geraak. Hy het vir sewe dae lank op die berg my rugsak, sy eie rugsak en soms ’n tien liter waterkan of gasfles in sy nek gedra. En dan soen hy byna my voete toe ek vir hom my ou skoene gee. Ek het ’n onbevredigde gevoel oorgehou hieraan. En ek dink nog baie terug aan hierdie oomblik en dan wonder ek waarom ek so ongemaklik voel.

Die porters word abominaal sleg betaal. Vir een dag verdien die gemiddelde porter nie eens vier US-dollar nie. Daar is van die operators wat hulle porters beter betaal, maar hulle is in die minderheid. Die ou wat my bagasie gedra het het dus ongeveer 28 dollar gekry vir sewe dae se moordende werk. Geen wonder dat hy so bly was met ’n paar afgeleefde stapskoene wat tien teen een nie eens sy maat was nie.

Voordat ons gery het by Mweka het die hele groep porters en gidse wat saam met ons gestap het ons weer een vir een geluk gewens en daarna vir ons die Kilimanjaro-song gesing. Dit is ’n pragtige lied en dans oor die Kilimanjaro. Die lied is baie gepas: Jambo Bwana (Goeiedag meneer). Dit is op die wysie van die baie bekende Jambo Bwana.


http://www.youtube.com/watch?v=wuKmRC2RL9U

Hierna het ons in die bus geklim en met die terugtog na Moshi-town begin. Die reuk wat in en om daardie bus gehang het moes iets vreesliks gewees het. Ek het soms iets geruik wat tussen baie ou Switserse kaas en vrot lewer gehang het, so swaar dat jy dit byna kon proe. En af en toe het daar iets langs gedryf wat my aan paddastoele laat dink het; Groot vogtige paddastoele.

Ek kry die busdrywers jammer wat die groepe stappers van die berg af hotel toe moet neem.
In die bus het ek vir die eerste keer weer selontvangs gehad en kon ek vir Maraai ’n sms stuur dat ons klaar was en op pad hotel toe.
Tien sekondes later lui my telefoon en het ek haar aan die lyn. Ons was altwee in trane om mekaar se stemme weer te hoor en sy was baie verlig dat ek nog in een stuk was.

GS het op meeste plekke op die berg wel ontvangs gehad en ’n Twitter-feed aan die gang gehad. Daarmee het hy die tuisfront redelik op die hoogte gehou van ons doen en late. Maraai was een van die volgers van die Twitter-feed. Maar die laaste berig wat GS verstuur het was net toe die haelstorm losgebars het in Barafu. Daarna het hy nie weer tyd gekry nie en tydens die laaste klim was hy so besig om sy ingewande teen die bergwand rond te gooi dat Twitter die laaste ding was waaraan hy gedink het.

Wat ons nie besef het nie was dat almal tuis in vrees en bewing gesit en wag het om te hoor hoe die haelstorm afgeloop het. En die laaste twee dae het hulle dus geen berigte meer gehad nie. Maraai was dus byna op van bekommernis toe sy my sms uit die bus kry. Dit was so lekker om weer met haar te kon praat. Ek het by elke stop op die berg probeer selverbinding kry, maar nêrens het dit vir my gewerk nie. Sommige van die ander mense het wel verbinding gehad en ander ook nie.

Dit was met die bus so ’n uur se ry hotel toe. Daar aangekom het ons gehoor dat ons net ons goed in ons kamers moes neersit en dan restaurant toe gaan vir die diploma-seremonie. Maar toe ek in my kamer kom en ek die stort sien kon ek myself nie kabger bedwing nie. Ek het al my vuil klere uitgepluk en omtrent ’n halfuur onder die warm stort gestaan. Een koekie seep en ’n halwe bottel sjampoe later het ek weer ’n bietjie respektabel gevoel en is ek restaurant toe om my by die res te gaan voeg wat nog steeds gestink het en op die seremonie sit en wag het. Hierdie keer is ek gekonfronteer met die volle laag van geure en reuke wat in die restaurant gehang het. ’n Paar het my selfs beskuldig dat ek na seep stink.

Kort daarna het Deo ingekom en aan ons almal ons sertifikate oorhandig as bewys dat ons Kilimanjaro bedwing het.

Ons tog was amptelik verby. Ek het bo-op die dak van Afrika gestaan. Ek het daardie een ding gedoen wat al baie jare lank in my agterkop bly spook het. Die Kilimanjaro bedwing. En tog het dit nie gevoel asof ek die berg bedwing het nie. Die berg laat homself nie bedwing nie. Hy staan al miljoene jare presies daar waar hy staan en pas in die afgelope honderd-en twintig jaar het die mens daarin geslaag om sy top te bereik. En dit het die berg nie verander nie. Hy het nie ewe skielik kleiner geword, of nederiger, of minder trots of minder mooi nie. Nee, as iemand bedwing was was dit ek. Ek het nie die trots met die res van die groep gedeel dat ons bo was nie.

Die gevoel wat ek maar nie kon afskud nie was dat ek ontsettend klein en nietig was. Dat dit wat ons as groot prestasies sien op die keper beskou niks beteken nie. Ek is gekonfronteer met ’n her-evaluasie van alles wat belangrik was vir my. En ek moes erken dat my prioriteite met die loop van tyd skeefgetrek het.

In my agterkop het die woorde van die Prediker bly ronddraai: Geniet jou lewe met die vrou wat jy liefhet. Al die dae van jou lewe wat God jou gegee het, want dit is jou deel in die lewe en van al jou arbeid wat jy verrig. (My eie interpretasie van die teks van Pred. 9:9)

5 thoughts on “Kilimanjaro – Dag 7

  1. Wat ‘n verhaal – ek het dit van begin tot einde geweldig geniet, maar gaan seker nou twee keer dink voor ek dit aanpak – ten minste weet ek nou van pole-pole.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s