Johanna is dood. Êrens in die vyftig en alleen op die wêreld. Nooit getroud gewees nie, geen kind of kraai nie, net haar gestremde broer Klaas in sy rolstoel wat ‘n blok van haar af gewoon het en elke Saterdag by haar ontbyt kom eet het. Sy het ook nie vriende gehad nie.
Sy is dood aan die gevolge van longkanker. Sy het haar lewe lank soos ‘n skoorsteen gerook. As hierdie stelling jou noop om ‘n waarde-oordeel te vel hou maar dadelik op met lees want ek gaan jou teleurstel. Hierdie is nie ‘n sede-preek oor die gevolge van nikotien nie. Dit is ‘n eerbetoon aan die mees onmerkwaardige persoon wat ek nog ontmoet het. Almal van ons verdien om onthou te word. Maak nie saak hoe onmerkwaardig nie.
Van Johanna is min bekend. Haar kollega’s weet dat sy ‘n tyd lank in Griekeland gewoon het, maar met die siekte van haar moeder het sy teruggekom Nederland toe. Na die dood van haar moeder en haar hond was Johanna sielsongelukkig en dit het nie beter geword nie. Vriende het sy nie gehad nie en kontak met familie, wat sy ongetwyfeld het, ook nie. Die enigste mense waarmee sy kontak gehad het was haar kollega’s en dan slegs in werkstyd.
Ek het haar ontmoet tydens ‘n werksfunksie van die maatskappy waarvoor Maraai werk. Sy was vaal. Maar dan in letterlike sin. Vaal hare, vaal lippe, vaal vel en selfs haar stem was vaal van die skorheid van stembande wat veertig jaar lank in nikotien geweek is. Haar oë was vaal en hartseer en ongelukkig en haar handskud sag en weifelend. Sy was in alle opsigte die mees onopvallende persoon wat ek nog ontmoet het.
Johanna het altyd al siek gelyk en haar kollega’s het gespekuleer oor wat fout kan wees. Maar sy was so geslote dat niemand ooit naby genoeg aan haar kon kom nie. Totdat sy ‘n paar maande gelede gediagnoseer is met kanker. ‘n Kanker wat al van haar longe tot in haar kliere, haar bene en selfs so ver as haar brein versprei het. Sy het aanhou werk want tuis was daar vir haar niks anders as stilte nie en die dood wat geruisloos agter haar aangeskuifel en langs haar op die bank gaan sit het. Sy was nog steeds geslote en niemand het werklik geweet hoe dit met haar gaan nie. By die werk het sy nie oor haar siekte gepraat nie en aangegaan asof daar niks fout was nie. Die enigste teken van agteruitgang was dat haar besoeke aan die werk steeds meer sporadies geword het.
Twee weke gelede is sy plotseling oorlede. Haar dood was soos haar lewe. Onmerkwaardig. Die begrafnis was ingetoë, baie klein en, soos Johanna, onmerkwaardig. Die grootste groep besoekers by die begrafnis was haar kollega’s. ‘n Neef wat by die selfde maatskappy werk is deur Johanna se direkte kollega’s vertel van haar siekte en dood. Daar was ‘n bietjie familie by die begrafnis en Klaas in sy rolstoel. Hy was emosioneel en baie hartseer. Maar die res van die aanwesiges se oë was droog. Haar baas het ‘n toespraak gehou en Klaas het ‘n paar woorde gesê, maar sy emosies het hom oorweldig en hy kon nie verder praat nie.
Na die kort seremonie is sy begrawe. En dit was dit. Die kollega’s is terug werk toe, die familie het teruggekeer na waar hulle vandaan gekom het en die saaltjie waar die seremonie plaasgevind het is opgeruim vir die volgende begrafnis wat die middag sou plaasvind. Al wat oorgebly het was Klaas in sy rolstoel en ‘n verlepte wit lelie wat op die vloer agtergebly het. Die skoonmakers het hom gemis. Een blaartjie is platgetrap deur ‘n skoen.
Ai Stokstert, hierdie pos het my aan die dink gesit. Ek wonder waarom Johanna so geslote gelewe het. Met net haarself om haar gevoelens mee te deel. So vaal, asof sy probeer wegsmelt het sodat mense haar nie sou raaksien nie. Was sy altyd so vaal en onopsigtelik of het sy dalk met opset hierdie rol aangeneem om te verhoed dat seerkry en teleurstelling uit die verlede herhaal word? Het haar diens en toewyding aan ander haar dalk so uitgemergel dat sy nooit kans gekry het om vir Johanna ‘n beurt te gee nie. Ek wonder maar oor hierdie dinge, want ek ken so iemand baie goed.
Ja Anna, ons sal nooit weet nie. Maar op een of ander manier laat sy my nie los nie. En ek vind dat ons almal verdien om herinner te word. Dus, so lank soos hierdie blog bestaan sal Johanna nie vergeet wees nie.
Dis hartseer. Dankie ek kom weer hier draai maak.
Dankie vir die inloer. Jy’s baie welkom.
Baie hartseer, ek is bly dat jy hierdie geskryf het, sy verdien ‘n plekkie in die son.
Dankie dat jy saam gelees het.