Tyd, die GROOT vernietiger van alle dinge, het nog ‘n jaar onder ons voete uitgeskaaf. Nog ‘n jaar lê in netjiese brokstukkies van een sekonde elk aan skerwe agter ons en die voorhamerslae van die horlosie dwing ons vorentoe om nie deur die groot byl van tyd ook verbrysel te word nie. Ons kan net een kant toe en dit is vorentoe. Die kap-kap-kap van tyd jaag ons aan en ons moet steeds vinniger en vinniger hardloop om self nie onder die skerp lem te beland nie.
Wat verby is is verby, die tyd om te gaan het gekom en die skerwe en splinters van die afgelope jaar word stadig deur ‘n kosmiese wind verwaai deur die heelal van menslike herinneringe. Ons probeer dit soms desperaat in ons hande vas te gryp en teen ons bors te druk, maar soos sand stroom dit weg deur ons vingers. Die meeste wat ons oorhou is ‘n paar korreltjies wat in die palm van ons hand bly lê. En as jy met jou oë knip gryp ‘n windjie dit en waai dit vir ewig weg.
Al die skerwe en brokstukke van die afgelope jaar lê in ‘n groot hoop agter ons en die beste wat ons daarvan kan maak is om te probeer om vir ‘n kort rukkie aan die mooies vas te hou en die slegtes so vinnig moontlik te laat wegwaai. As ons die brokkies op die regte manier by mekaar rangskik kan ons nog ‘n tydjie geniet van mooi herinneringe, maar die skuurpapier van tyd doen selfs daarmee sy geduldige werk. Dit word dowwer en valer en gryser totdat dit slegs as ‘n vaal vlekkie op die agterkant van ons siel oorbly. ‘n Dowwe spikkel waar eens ‘n hele palet aan kleurige, geurige herinneringe was.
En so hardloop ons struikel-val deur die lewe in die wete dat die skurende werking van tyd ook ons lot is. Ons sal stadiger en stadiger hardloop tot op die dag dat ons struikel en ons die onvermydelike kap van die byl nie meer kan voorbly nie. Dan word ons lewens deur die tand van die tyd verorber en skuif hy sy groot grys lyf oor ons heen sodat ons in die stof agterbly. Waar ons deel sal vorm van die herinneringe van andere en mettertyd as ‘n vaal spikkel in die vergetelheid sal verdwyn.
Maar voordat dit gebeur lê ‘n nuwe jaar soos ‘n maagdelike skildersdoek wit voor ons. Die dowwe lyne en kontoere wat ons daar sien is ‘n illusie van ons gees wat probeer om die komende jaar in ‘n herkenbare patroon te giet. Wat graag deur die tyd verbryselde herinneringe in die nuwe jaar weer tot lewe wil wek. Langs ons staan ‘n palet met ondenkbaar baie kleure en in ons hand die kwas waarmee ons die doek kan beskilder.
Dit is ons eie keuse of ons binne die voorgetekende dowwe lyne en kontoere wil bly en of ons uitbundig daaroorheen wil skilder met die helderste, felste kleure wat ons kan meng op ons palet. Ons kan kies om slegs met skakerings van grys en swart te werk of ons kan die son en die hemel en die maan en die sterre gebruik om lig en kleur aan ons nuwe skildery te gee. Dit alles in die wete dat tyd ook hierdie skildery sal vermaal tot die pulp waarmee ons lewens gevorm is.
En elkeen van ons maak sy eie keuse. Aangejaag deur die ewige tik-tak-tik-tak begin ons almal te skilder.
Sommige van ons verwoed en wild met lang hale van die kwas, asof dit die laaste skildery is wat ons ooit sal maak.
Ander van ons stadig, kalm en rustig met vaste hand, asof dit die laaste skildery is wat ons ooit sal maak.
Ai Stokstert, dankie vir hierdie pos. Ek kan regtig daarmee identifiseer siende dat 2010 die jaar was waarin ek met my eie verganklikheid geworstel en vrede gemaak het en ja, ek gaan 2011 met die helderste kleure van die reenboog skilder, want aan die einde van 2010 weet ek nou, die kap van die byl van tyd kom onkeerbaar nader. Mag jy en jou geliefdes saam ‘n wonderlike feesgety beleef en ek wens jou net die helderste kleure vir 2011 toe. Groete uit ‘n WARM SA!