Oudste

Oudste het vir ons kom kuier. Vir die volgende drie weke beleef ons weer die plesier van haar geselskap en ’n voltallige gesinnetjie. Dit is baie lank vandat ons al vier onder dieselfde dak was en dit is heerlik.

My donkeroog mooinooi met die maklike glimlag en die klokkie in die stem.

Sy het drie jaar gelede Suid Afrika toe getrek om daar te gaan studeer. Die voorspelbare verliefdheid het haar getref en nie lank daarna nie die onvermydelike besluit om daar te bly. Sy woon en werk nou daar en dit lyk nie of sy op kort termyn planne het om terug te kom hierheen nie. Dit is vir ons almal ’n swaar pil om te sluk, maar die besluit is hare. Sy is gelukkig daar en sy doen wat haar gelukkig maak. En ons het haar altyd aangemoedig om selfstandig te wees.

Iets meer as 22 jaar gelede het Maraai my een oggend so teen halfvyf wakker gemaak met die stellige boodskap dat dit “tyd” was. Ek het maar moeilik gebyt, want dit was twee maande te vroeg vir die “tyd”. Ek sal hier nie die hele verhaal van daardie oggend vertel nie, behalwe dat ek ‘n handboek kan skryf oor wat om nie te doen as jou vrou vir jou sê dat dit tyd is nie, maar ’n paar uur later lê sy toe daar in die Marifont in Sunnyside met ’n piepklein babatjie. Loshande die mooiste pasgebore baba wat daar ooit was, tot ’n paar jaar later, toe daar nog so ’n mooi baba gebore is.

‘n Paar dae later lê ons in ons woonstelletjie in Sunnyside die klein bondeltjie op ons dubbelbed neer en staan half verdwaas daar na haar en kyk. Dit was tegelykertyd die mooiste en die mees angswekkende oomblik van my lewe. Die besef dat daardie klein kindjie aan ons toevertrou is en die insig in my ongelooflike groot onvermoeë.

En nou, 22 jaar later, stap ek in my sitkamer in en daar sit ’n pragtige mooi, jong vrou op my bank en ek kyk nog steeds soms met dieselfde mengsel van verwondering en angs na haar as op daardie een dag 22 jaar gelede. Want ek verwonder my oor hoe verskriklik goed dit gegaan het ten spyte van my onvermoeë en ek bewe as ek dink aan wat alles fout kon gegaan het vanweë daardie selfde onvermoeë.

Want ek het by God genade gekry. En ’n engel van ’n vrou. Wat op een of ander manier al die antwoorde ken. En wat lief is vir my. En twee pragtige dogters wat baie maklik grootgeword het. Eintlik het ek nie so vreeslik baie gedoen anders as om in die buurt rond te hang en af en toe kwaai te kyk nie. En my ontelbare foute is my nie aangereken nie. Al wat vir my oorbly is om stil te wees en nederig.

Ek kan met alle eerlikheid vandag sê dat ek dankbaar is. Vir al die moois in my lewe en vir alles waarmee ek geseën is en vir die manier waarop die meetsnoere vir my geval het. Dit kom deur die mense wat hulle lewens met my deel.

As ek vandag sou doodgaan sal ek as ’n gelukkige mens doodgaan. Laat almal dit weet.

Brutus

Brutus woon nou al vyf jaar by ons. Toe hy die eerste keer hier by ons aangekom het was hy ’n klein swart pluisie wol van nie meer as 300 gram nie. Vandag is hy ’n uitgegroeide buffel van ’n Yorkshire Terrier met sy 4 kilogram.

Ek het nog nie ’n hond ontmoet met ’n meer gepaste naam as Brutus nie. Onverskrokke stap hy met sy bakbeentjies deur ons woonwyk en jaag alle ander honde (En katte) wat hy sien die skrik op die lyf. Brutus is die vleeswording van die spreekwoord: Aanval is die beste manier van verdediging. Menig male moes ek hom met gevaar vir eie lewe van die keel van ’n veel groter hond aftrek nadat hy homself soos ’n projektiel gelanseer het na die hond toe.

Die enigste rede waarom daar nog ander honde in ons woonbuurt is is omdat ons Brutus altyd aan die leiband hou. As ons hom los sou laat loop het was die buurt al lankal opgeruim van al die ander hondeskuim wat in ons dorp woon.

Hy was nog baie klein toe ons agtergekom het dat hy ’n oormaat van testosteroon in sy gestel het. Dit het ons laat besluit om sommer vroeg al korte mette met sy balletjies te laat maak. Op advies van die veearts, omdat dit sy ”temperament meer gelykmatig sou maak”. Nadat hy homself ‘n keer wangedra het in die spreekkamer van die veearts. Dit het gewerk. Sy temperament is gelykmatig aan die rooi kant van die spektrum. Baie gelykmatig, want dit wyk nooit af van rooi nie.

Dit was vir my as man ‘n baie moeilike beslissing om te neem. Ek glo dat die meeste mans dit kan verstaan. Ek het empatie met die hond gehad. Regtig waar. Soveel dat ek die pyn byna self gevoel het, maar op daardie stadium het ons alle ander opsies uitgeput. Die hond was simpelweg nie meer beheerbaar nie. Hy het letterlik alles aangeval wat beweeg het en as dit nie beweeg het nie het hy dit probeer spyker. Dit het my dus genoop om tot die besluit oor te gaan.

Maraai het hom die dag veearts toe geneem saam met sy sussie Luna. Toe ek die middag tuiskom tref ek daar op die bank ’n hond aan wat met sulke klein rooi ogies vir my sit en kyk. Hy wou niks met my te doen hê nie en ek kon die stil verwyt op sy gesig lees. Dit was soos ’n dolk in my hart. Hy het geweet dat ek hiervoor verantwoordelik was. Ek het nog probeer verduidelik dat ek niks met die saak te doen het nie, maar hoe oortuig jy iemand wat nie oortuig wil word nie. Hy het simpatie gesoek by Maraai en my verder geïgnoreer die dag.

Met sulke stywe bene het hy ’n paar dae rondgeloop. Totdat die ergste pyn verdwyn het. En toe was hy weer die ou Brutus, net kwater vir ander honde as ooit van te vore. Ek het al gewonder of hy nie een of ander sindroom gehad het waarby die balle en mangels omgeruil is nie en dat die veearts toe al die tyd sy mangels uitgehaal het. Want van rustiger (Gelykmatiger) word was daar geen sprake nie.

Hy is die hond sonder balle met die grootste balle wat ek nog teëgekom het. As ons hulle aangelos het sou hulle sekerlik in die pad agter hom aangesleep het.

Vandaar dat ons tot die dag van vandag toe eenkeer per dag met Brutus deur die woonwyk spartel. Die ander honde en hulle eienaars ken ons ook al en dikwels sien mens die hond met sy baas aan die ander kant van die pad gaan loop as ons naderkom. En dan probeer ons ons bes om die bol woede aan die einde van die leiband die ander kant op te sleep terwyl hy boosaardig grom en dreig en met sy volle 4 kilogram aan die band beur om oor die straat te kom.

So af en toe kom ons nog mense met honde teë wat nie vir Brutus en sy reputasie ken nie. Hulle is dan meestal in vir ’n onaangename verrassing. Ons probeer natuurlik verduidelik, keer en teëhou, maar as die ander hond uit nuuskierigheid te naby kom is daar nie veel wat ons aan die saak kan doen nie as om te probeer om Brutus van die hond se keel af te trek sonder om self gebyt te word.

Die energie en woede waarmee hy aanval is gewoonlik so oorweldigend dat selfs groot honde vir hom skrik. Hy het al ’n paar keer lelik deurgeloop, maar die geluk was nog elke keer aan sy kant. Groter honde maak nie sommer klein honde seer nie. Daar word baie geraas en gehap, maar tot werklik byt kom dit byna nooit, anders was hy al opgevreet. Ek dink ook hulle is meer verbaas oor die skreeuende, bytende bol hare aan hulle kele.

En gewoonlik sleep ons dan ’n woedende, grommende, met die dood dreigende en blaffende klein keffer aan die leiband daar weg, met rooi gesigte en met gebare om te wys hoe jammer ons is, terwyl die eienaar en sy hond met verstomming en verbasing ons agternastaar, ’n illusie armer.

Die mees dodelike kombinasie is Brutus en Jack Russels. Newwermaaind vet op die vuur, dit is ’n drom petrol in ‘n bonfire. Om een of ander rede kan Brutus Jack Russels nie verdra nie en andersom is dit ook waar. As ’n Jack Russel vir Brutus gewaar staan alles regop en probeer hy sy bes om Brutus by te kom en op te vreet. ’n Paar keer al het ’n kopskuddende eienaar van ’n Jack Russel ons om verskoning gevra oor die gedrag van sy hond. Om dan by te voeg: “Hy doen dit normaalweg nooit nie. Ek weet nie wat gaan vandag met hom aan nie.” Ek kyk dan gewoonlik meewarig na die eienaar en sy ongedissiplineerde hond en skud dan net my kop terwyl ek “tssk-tssk” maak.
Brutus is die wandelende wetenskaplike bewys dat die klein-mannetjie sindroom werklik bestaan. Hy is wel ’n hond, maar dit is en bly testosteroon wat die ding vir hom doen. As hy ’n groot hond was sou hy al lankal in die wokpan van ’n Chinees beland het. Ek sou persoonlik daarvoor gesorg het.

En tog, onder al die harde uiterlike eienskappe is hy eintlik maar ‘n ou klein hondjie. Hy werk verskriklik hard om ons te beskerm as hy met ons buite gaan stap, maar wanneer ons tuiskom hou hy daarvan om beloon te word met ’n bietjie vertroeteling deur Maraai.
En sy noem hom troetelnaampies soos Brutie en Boetie en Boetienoenoe. En sy gee vir hom snoepies en praat met hom in ’n spesiale stemmetjie. En sy maak sy ogies met groot liefde skoon as hulle vol oogsnotjies sit. En ek verstaan waarom hy oor haar voel soos hy voel. Ek voel ook so oor haar, al haal sy nie oogsnotjies uit my oë nie.
Hy aanbid die grond waarop Maraai loop. Ek dink dat een van die redes waarom hy so heftig reageer op ander honde juis is omdat hy so verskriklik gesteld is op Maraai. Hy het ’n baie sterk drang om haar te beskerm. En wanneer ons tuis is is daar vir hom geen beter plek as op die bank styf teen haar aangedruk nie. Sy voorkeur is tussen ons in, maar ek duld dit nie….. Want dit is my plek.

Yorkies het nie ’n onderpels soos die meeste ander honde nie. Hulle het net ’n dunnerige bo-pels, met die gevolg dat hulle makliker koud kry. Brutus is geen uitsondering nie. Hy kry baie maklik koud. Vandaar dat ons so twee jaar gelede vir hom ’n truitjie gekoop het. Hy is baie lief vir sy truitjie, maar hy dra hom net by die huis. Sy reputasie op straat sal in duisend stukke stort as hy ooit met die trui aan gesien moes word. As Maraai nader kom met die truitjie dan spring hy op, stertwaaiend en trappelend en hou die voete reg om die trui aan te trek. As ek dit sien is dit vir my baie moeilik versoenbaar met die beeld van hom as oorlogsugtige krygsheer wat sy straat met ’n ysterhand regeer.

Van al die honde, groot en klein, wat hulle lewens met ons gedeel het, was daar nog nie een met soveel vuur in die donkerbruin ogies as Brutus nie. Hy is nou vyf jaar oud, maar ek vrees die dag dat daardie twee ogies die laaste keer sal flits en die vuur uit hulle sal verdwyn. Op daardie dag sal daar uit ons lewens ‘n stuk groot energie verdwyn.

Swanewales

By ons in die buurt, langs een van die kanale is ’n paar swane wat ongeveer die afgelope tien jaar elke lente hulle kinders hier kom maak, uitbroei en grootmaak. Dit is van die groot modelle, ’n soort supersize. Die mannetjie kyk my vierkant in die oë as hy regop staan en mevrou is nie veel korter nie. Werklik intimiderende voëls.

Swane is monogamiste. Dit beteken dat hulle, anders as die meeste mense, een partner kies en die res van hulle lewe met daardie partner deurbring. Deur sonskyn en reën, voorspoed en vrot eiers bly hulle hul lewe lank by mekaar.
In die winter spandeer hulle hule tyd op die oop Nederlandse vlaktes in groot swerms, maar as die lente begin gaan soek hulle hul gunsteling broeiplek op.

In die geval van hierdie twee by ons is dit die kanaal se oewer hier agter ons huis.
En dan begin Ma op die eiers te broei en Pa loop daar in die buurt rond en soek stront met almal wat hy teëkom. Dit is wanneer ’n mannetjieswaan op sy moeilikste is. Ek ken niemand wat die cojones het om met ’n bedonderde mannetjieswaan moeilikheid te gaan soek nie. Selfs die groot honde hier in ons buurt neem hulle base na die oorkant van die straat toe as hulle vir meneer op de sypaadjie sien staan met sy gepofte vere en rooi ogies.

Hy laat my dink aan die ou wat jy soms in die kroeg teëkom. Die tipe ou wat vir jou sê: “Hey, kyk jy vir my girl?!” En as jy sê nee dan sê hy: “So, jy sê my girl is lelik!”
Jy weet net jy gaan k@k optel met so ’n ou, maak nie saak wat jy sê nie.

Vanmiddag weer so ’n tipiese voorbeeld. Pa swaan besluit die lekkerste plek vir hom om te lê is in die middel van die pad. Dit is ’n besige pad, onder andere ’n busroete loop hier langs. Die teer is seker lekker warm of iets, maar daar kry hy toe sy lê. En hy wyk vir niks en niemand en hier is niemand wat die balle het om hom te vra om pad te gee nie. Selfs die busbestuurder nie. Hy moes die bus met al sy bestuursvernuf oor die sypaadjie en om die swaan heen maneuvreer terwyl die swaan hom die heel tyd giftig lê en aankyk.

Toe kom daar ’n mevroutjie aangery met so ’n klein Corsatjie. Sy hou toe by hom stil en ek weet nie mooi wat sy gedink het nie. Sy klim uit en probeer die ou toe met sulke vroulike sjoe-sjoe geluidjies en armgebaartjies van die pad afjaag. Seker bang iemand ry hom raak.

Maar dit is presies waarvoor ou bokbek daar lê en wag het. Iemand wat met hom moeilikheid soek. Hy spring op en jaag haar sonder seremonie terug in haar karretjie in. Die hakkies klap op die teer en die haartjies vlieg heen en weer soos sy voor probeer bly. Dit was nou iets om te sien…. Die deftige mevroutjie met haar hoë hakkies wat alle skyn van waardigheid prysgee terwyl sy so vinnig as moontlik in haar karretjie probeer spring. En die groot swaan met uitgestrekte nek en vlerke wat al blasend en pikkend probeer om haar sykouse op te vreet.

Toe sy eenmaal veilig in die kar sit stap die groot swaan al om die kar en pik, byt, skop, krap en slaan die arme Corsatjie vol duike. En die hele tyd sis en blaas hy boosaardig terwyl hy haar met sy giftige rooi ogies aankyk. Sy het later versigtig weggery en toe het hy weer net daar op sy plek gaan lê.

Op hierdie stadium het die hele buurt al op die sypaadjie gestaan en kyk en ou bedonderd het boos in die middel van die pad gele en sis na ons toe.

Die twee swane is die mees besproke inwoners van die woonwyk, maar sekerlik ook die gewildste. Ou diknek loop die heel lente en somer hier rond en soek skoor met almal en hulle beskyt die omgewing met drolle waar jy nie in trap nie, maar oor val, maar ek dink nie daar is iemand hier wat hulle weg sal wil hê nie.

Van al ons buurtbewoners is dit in elk geval die twee wat vir ons die lente die duidelikste aankondig.

Wat sê mens?

Ek is in ’n snaakse bui vandag. Ek voel iets, maar ek kan dit nie vir myself goed onder woorde bring nie. As ek dus onsamehangend begin klets, vergewe my maar. Dit is nie jou skuld nie, maar myne. En as dit te erg word, in die regter boonste hoek van jou skerm is ’n kruisie. (Links as jy met ‘n Mac werk) Kliek daarop dan het jy skielik geen las meer van my nie.

Gisteroggend kwart-voor-vyf is die seun van ’n goeie vriend van my oorlede. Henkie was vyftien jaar en ernstig gestrem. Sy lewensverwagting was ongeveer tien jaar, maar hy het almal verbaas en deurgeveg tot vyftien.

Sy ouers is vir ons almal ’n toonbeeld van liefdevolle, sorgsame ouers wie se hele lewe bepaal is deur die wel en wee van hul jongste seun. Die liefde en deernis waarmee hulle Henkie versorg het het ons almal baie diep geraak.

En al het almal geweet dat dit ’n keer sou gebeur was sy dood nie minder van ’n skok vir hulle gewees nie. Ook die smart en pyn wat hulle voel is nie minder daardeur nie. Diep gelowige Christen mense, maar tog ervaar hulle die pyn van sy dood in volle maat. En al verseker almal hulle dat Henkie nou op ‘n “beter plek” is verlig dit nie die donker tonnel waardeur hulle nou moet loop nie. Al die beriggies oor Henkie wat nou ’n engeltjie geword het maak die smart vir hulle nie sagter nie.

Dit laat my met ’n vreemde gevoel. Is dit werklik die beste manier wat ons het om mekaar te troos? Het ons medelye met mekaar se hartseer al verval in clichés? Is daar niemand hier onder ons wat vir hulle kan verduidelik waarom dinge geloop het soos dit geloop het nie. En die antwoord is ook duidelik. Nee, niemand van ons verstaan genoeg om dit te kan verduidelik nie. En niemand van ons het die vermoë om hulle pyn weg te neem of selfs minder te maak nie. Hulle moet self deur hierdie moeras worstel en die beste wat ons kan doen is om aan die kant te staan en hulle aan te moedig.

En dan dink ek aan gisteroggend om kwart-voor-vyf. Ek het toevallig op daardie oomblik in my woonkamer sit en werk. Niksvermoedend en onbewus van die diep swart gat waarin my vriende besig was om te sak geen drie kilometer van my af nie.

Ek dink aan die 12-jarige Nederlandse meisie, Milly Boele wat twee weke gelede vermoor is deur ’n buurman. Haar ma het tien teen een op daardie oomblik staan en kook of voor die TV gesit. Sy was totaal onbewus van die moment toe geen vyftig meter verder haar dogter gesterf het.

Nie Henkie se ouers of Milly se ouers of enige ander ouer wat ‘n kind verloor het verstaan waarom dit gebeur het nie. En daar is niemand wat vir hulle kan verduidelik waarom nie. Niemand van ons kan hulle pyn verlig nie.

Blind, doof en stom is ons mense. Nie in staat om te onderskei wat aan die anderkant van ’n slap gordyn gebeur nie.

Ek dink dat dit is soos dit moet wees. En dat dit die beste is op hierdie manier. Want dit laat ons telkens besef dat ons eintlik maar nie verstaan nie. Dit is al wat ons nog enigsins nederig hou ten spyte van ons natuurlike neiging tot arrogansie en selfoorskatting.

Maar wat kan ek vir Henkie se ouers sê behalwe dat Henkie nou op ’n beter plek is? Dan sê ek liewer niks.

Kilimanjaro – Dag 7

Ek het die nag beter geslaap as enige van die voorgaande nagte. Ons het vroeg tent toe gestrompel en ek het byna onmiddelik aan die slaap geraak. Ek is seker die grond was skuins, daar was klippe onder my en dit moes ook koud en nat gewees het. En ek weet seker dat Prabu verskriklik gesnork het. Maar van dit alles het ek heeltemal niks gemerk nie.

Ek het weer vroeg wakker geword, so teen vyfuur, en vir die laaste keer lê en luister na die gelag en gekuier van die porters in hulle tent. In die agtergrond die laaste keer dat ek Prabu se onderaardse gesnork sou hoor. Dit het stadig lig begin word en êrens voor sesuur het ek uit die tent gekruip. Ek was die eerste van die groep wat opgestaan het en ek het vinnig ’n boom gaan opsoek vir die noodsaaklike oggendwerksaamhede.

Vir alle praktiese doeleindes was ons tog teen die berg klaar. Vandag sou ons vier uur lank verder afdaal na Mweka-hek, waar ons die bus sou kry terug na die hotel in Moshi toe. Ek het ’n vreemde melankolie gevoel. Aan die een kant ’n verskriklike haas om klaar te maak en huis toe te gaan en aan die ander kant ’n hartseer gevoel, byna asof ek ’n goeie vriend verlaat. Ek was baie haastig huistoe om na ses weke weer by Maraai te kan wees. En ek sou verskriklik graag ’n warm stort wou neem. Maar aan die ander kant het ek geweet dat elke tree wat ons die dag sou gee my verder sou neem van die berg.

Stadigaan het die res van die groep wakker geword en het ons deur die normale oggendroetine gegaan van tee drink, inpak, probeer om ons hande en gesigte te was in ’n piepklein bakkie louwarm water en ontbyt eet. Dit het alles half outomaties gegaan. Net na ontbyt het ’n vrolike geroep en gelag buite die tent ons aandag getrek. Toe ons buite kom staan daar ’n Kilimanjaro-scooter. Sue was nog siek en sy sou die dag se loop saam met ons nie kon maak nie. Sy sou dus met die scooter teen die berg af gebring word. Ten spyte van haar protes en teëstribbeling is sy in die scooter gelaai, toegedraai in ’n slaapsak en vasgebind. Die arme vrou het met die dood in haar oë smekend na ons gekyk voordat die dollemansrit teen die berg begin het. Maar daar was vir haar nie genade op hierdie oggend nie. En toe, onder vrolike gelag en gejuig van alle omstanders vertrek die klompie die berg af. Dit sou die eerste keer wees dat Sue voor ons by die bestemming sou wees.

En toe was dit weer tyd vir ons om te vertek. Met die Masaï voorop het ons reggestaan vir die laaste deel van ons tog teen die berg af. Toe ek agter my kyk sien ek tussen die bome deur vir die laaste keer Kibo uitsteek. Die ou man was byna vriendelik soos hy daar gestaan het en vir ons tussen die bome deur geloer het. Ek het nog een of twee keer omgekyk voor ons tussen die bome verdwyn het en dit was die laaste keer dat ek hom gesien het.

Die res van die dag was weer daal, daal, daal deur die reënwoud. Steeds verder en verder ondertoe. Daar was ’n baie ontspanne atmosfeer tussen die mense. Ons het saam ’n baie mooi ervaring beleef en in die afgelope sewe dae ’n hegte groep geword. Deur saam swaar tye deur te maak het ons mekaar leer ken op ’n manier wat normaalweg jare sou geneem het. Ons was die mees onwaarskynlike vriende. Op straat sou ons by mekaar verbygeloop het en mekaar nie eens raakgesien het nie. Uit alle vlakke van die lewe het ons onsself saamgegooi in hierdie groepie, hierdie stinkende seerowersbende wat al skertsend en laggend deur die woud teen die berg afgestap het.

Af en toe het ons gestop om vir die agterlopers te wag, want die plan was om almal saam die eindstreep te bereik.
Na ’n paar uur se loop het ons ’n groot trop kolobus ape in die bome bo en om ons gewaar. Soos bosgeeste het hulle daar gesit met hulle swart gesigte en wit baarde. Sierlike spronge het hulle van boom tot boom en van tak tot tak gevoer en terwyl ons gestap het het hulle in dieselfde rigting as ons deur die bos beweeg. Dit was amper soos ’n soort eregeleide wat ons teen die berg af gehad het van hierdie trop van minstens vyftig pragtige diere. In al die voorgaande dae op die berg was dit die grootste diere wat ons teëgekom het.

Net voor twaalfuur het ons om die laaste draai gekronkel en daar voor ons was Mweka gate. Teen hierdie tyd was ek meer as gereed om klaar te maak. Die afdalery was moordend en hoe laer ons gekom het hoe warmer het dit geword.

Toe ons die omgewing van die hek nader het van die porters aangehardloop gekom om ons geluk te wens met ons prestasie. Dit was ’n baie mooi oomblik. Wildvreemdes val mekaar om die nek, wens mekaar geluk en meer as een traan is skelm weggepik deur sommige van die manne.

By Mweka is ons oorval deur ’n swerm smouse wat van alles aan ons probeer afsmeer het. Daar was enigiets, van kralekettings tot ouens wat jou skoene vir jou wil was. Terwyl ons in die ry gewag het om onsself uit die bergregister te teken het ek aan die eenkant ’n geboutjie gesien wat my baie aan ’n toilet laat dink het. Ek het vir R, wat voor my gestaan het gevra om my goed op te pas en daarheen geloop. Toe ek binnekom was dit inderdaad ’n pragtige, skoon ablusieblok. Spierwit teëls op die vloere en teen die mure, ’n spieël teen die een muur bo ’n spierwit wasbak met stromende water en ’n piepklein kamertjie met daarin….. ’n spierwit toilet! Van die modelle waar jy op kan sit. Ek het nie ’n nommer twee gehad nie, maar net omdat dit kon, en omdat dit so lekker gelyk het het ek gesit en piepie.

Toe ek terugkom by die groep en vir hulle vertel wat ek in daardie geboutjie beleef het moes ons net keer of almal hardloop gelyk daarheen. Ek het lekker gelag vir die eenvoudige dingetjies wat mens se lewe mooi kan maak. ’n Wit toilet waarop jy kan sit, byvoorbeeld.

Nadat ons onsself uitgeskryf het het ek my stapskoene uitgetrek en vir die porter gegee wat my bagasie teen die berg gedra het. Sy dankbaarheid om ’n ou paar afgeleefde skoene te kry het my diep geraak. Hy het vir sewe dae lank op die berg my rugsak, sy eie rugsak en soms ’n tien liter waterkan of gasfles in sy nek gedra. En dan soen hy byna my voete toe ek vir hom my ou skoene gee. Ek het ’n onbevredigde gevoel oorgehou hieraan. En ek dink nog baie terug aan hierdie oomblik en dan wonder ek waarom ek so ongemaklik voel.

Die porters word abominaal sleg betaal. Vir een dag verdien die gemiddelde porter nie eens vier US-dollar nie. Daar is van die operators wat hulle porters beter betaal, maar hulle is in die minderheid. Die ou wat my bagasie gedra het het dus ongeveer 28 dollar gekry vir sewe dae se moordende werk. Geen wonder dat hy so bly was met ’n paar afgeleefde stapskoene wat tien teen een nie eens sy maat was nie.

Voordat ons gery het by Mweka het die hele groep porters en gidse wat saam met ons gestap het ons weer een vir een geluk gewens en daarna vir ons die Kilimanjaro-song gesing. Dit is ’n pragtige lied en dans oor die Kilimanjaro. Die lied is baie gepas: Jambo Bwana (Goeiedag meneer). Dit is op die wysie van die baie bekende Jambo Bwana.


http://www.youtube.com/watch?v=wuKmRC2RL9U

Hierna het ons in die bus geklim en met die terugtog na Moshi-town begin. Die reuk wat in en om daardie bus gehang het moes iets vreesliks gewees het. Ek het soms iets geruik wat tussen baie ou Switserse kaas en vrot lewer gehang het, so swaar dat jy dit byna kon proe. En af en toe het daar iets langs gedryf wat my aan paddastoele laat dink het; Groot vogtige paddastoele.

Ek kry die busdrywers jammer wat die groepe stappers van die berg af hotel toe moet neem.
In die bus het ek vir die eerste keer weer selontvangs gehad en kon ek vir Maraai ’n sms stuur dat ons klaar was en op pad hotel toe.
Tien sekondes later lui my telefoon en het ek haar aan die lyn. Ons was altwee in trane om mekaar se stemme weer te hoor en sy was baie verlig dat ek nog in een stuk was.

GS het op meeste plekke op die berg wel ontvangs gehad en ’n Twitter-feed aan die gang gehad. Daarmee het hy die tuisfront redelik op die hoogte gehou van ons doen en late. Maraai was een van die volgers van die Twitter-feed. Maar die laaste berig wat GS verstuur het was net toe die haelstorm losgebars het in Barafu. Daarna het hy nie weer tyd gekry nie en tydens die laaste klim was hy so besig om sy ingewande teen die bergwand rond te gooi dat Twitter die laaste ding was waaraan hy gedink het.

Wat ons nie besef het nie was dat almal tuis in vrees en bewing gesit en wag het om te hoor hoe die haelstorm afgeloop het. En die laaste twee dae het hulle dus geen berigte meer gehad nie. Maraai was dus byna op van bekommernis toe sy my sms uit die bus kry. Dit was so lekker om weer met haar te kon praat. Ek het by elke stop op die berg probeer selverbinding kry, maar nêrens het dit vir my gewerk nie. Sommige van die ander mense het wel verbinding gehad en ander ook nie.

Dit was met die bus so ’n uur se ry hotel toe. Daar aangekom het ons gehoor dat ons net ons goed in ons kamers moes neersit en dan restaurant toe gaan vir die diploma-seremonie. Maar toe ek in my kamer kom en ek die stort sien kon ek myself nie kabger bedwing nie. Ek het al my vuil klere uitgepluk en omtrent ’n halfuur onder die warm stort gestaan. Een koekie seep en ’n halwe bottel sjampoe later het ek weer ’n bietjie respektabel gevoel en is ek restaurant toe om my by die res te gaan voeg wat nog steeds gestink het en op die seremonie sit en wag het. Hierdie keer is ek gekonfronteer met die volle laag van geure en reuke wat in die restaurant gehang het. ’n Paar het my selfs beskuldig dat ek na seep stink.

Kort daarna het Deo ingekom en aan ons almal ons sertifikate oorhandig as bewys dat ons Kilimanjaro bedwing het.

Ons tog was amptelik verby. Ek het bo-op die dak van Afrika gestaan. Ek het daardie een ding gedoen wat al baie jare lank in my agterkop bly spook het. Die Kilimanjaro bedwing. En tog het dit nie gevoel asof ek die berg bedwing het nie. Die berg laat homself nie bedwing nie. Hy staan al miljoene jare presies daar waar hy staan en pas in die afgelope honderd-en twintig jaar het die mens daarin geslaag om sy top te bereik. En dit het die berg nie verander nie. Hy het nie ewe skielik kleiner geword, of nederiger, of minder trots of minder mooi nie. Nee, as iemand bedwing was was dit ek. Ek het nie die trots met die res van die groep gedeel dat ons bo was nie.

Die gevoel wat ek maar nie kon afskud nie was dat ek ontsettend klein en nietig was. Dat dit wat ons as groot prestasies sien op die keper beskou niks beteken nie. Ek is gekonfronteer met ’n her-evaluasie van alles wat belangrik was vir my. En ek moes erken dat my prioriteite met die loop van tyd skeefgetrek het.

In my agterkop het die woorde van die Prediker bly ronddraai: Geniet jou lewe met die vrou wat jy liefhet. Al die dae van jou lewe wat God jou gegee het, want dit is jou deel in die lewe en van al jou arbeid wat jy verrig. (My eie interpretasie van die teks van Pred. 9:9)

Duur trippie met die taxi

‘n Taxibestuurder uit Utrecht het ‘n baie duur rit gemaak. Hy het van sy vertrekpunt by Utrecht Centraal station (Die treinstasie) tot by die Universitêre mediese sentrum van Utrecht (Ongeveer 10 km verder) soveel oortredings begaan dat hy ‘n ryverbod gekry het.

‘n Polisieman in gewone klere het ‘n “mystery trip” gedoen met die taxi. Die polisie in Utrecht doen dit gemiddeld een keer per maand om die taxibestuurders te kontroleer.

Tydens hierdie rit het die bestuurder elf keer oor ‘n rooi stoplig gery, een keer op die busbaan gery en blyk dit agteraf dat sy rybewys ook nog verval het. Hy het ‘n boete gekry van 992 Euro en hy mag ook nie weer ‘n taxi bestuur nie.

Ek wonder hoe die polisieman sou reageer as hy dieselfde trippie in Johannesburg geprobeer het.

Kilimanjaro – Dag6

Presies twaalfuur vertrek ons toe. In ’n slangetjie, agter die Masaï aan teen die steeds steiler wordende helling op. Dit was bitter koud. Toe ons begin stap het was dit minus twintig grade. Dit was nog steeds bewolk na die middag se storm en pik-pik donker.
Heen en weer het ons teen die helling boontoe geslinger. Die sneeu het steeds dieper geword. ’n Sterk oostewind van so dertig knope het die sneeu dwars in ons gesigte ingewaai. Namate ons gevorder het het die helling steeds steiler geword en die kronkels wat ons geloop het steeds stywer op mekaar.

Linkervoet vorentoe, versigtig in die sneeu druk, vasstamp, stadig gewig op die voet, regter stok vorentoe, deur die sneeu druk tot hy vassit, regtervoet vorentoe. So het die proses homself duisende kere herhaal die nag. Met die linkerskouer teen die berg het ons die wind van agter gehad. Regterskouer teen die berg was wind en sneeu in die gesig. Eindelose kronkels, uur na uur die nag teen die berg omhoog. Elke uur het ons vir vyf minute gestop om warm water te drink. Niks langer as vyf minute nie, want dan koel ons te vinnig af. Van die koue was die trane op my gesig bevries en ek kon my wange en voorkop later nie meer voel nie. Sweet, snot en trane het gemeng en ’n ysige waslaag op my gesig gevorm.

Niemand het gepraat nie. Elkeen was met sy eie oorlewingsstryd teen die berg besig. Al geluid wat ons in die eerste ure gehoor het was die geloei van die wind teen die berghelling. Teen drie-uur het die wind ’n bietjie gaan lê en het ons stadig bo die wolkedek begin uitstyg. Ver, ver bo ons, byna reg na boontoe was nog ’n slangetjie liggies sigbaar van ’n ander groep wat voor ons was. Dit het gelyk asof hulle tussen die sterre loop. Al wat hulle van die sterrehemel onderskei het was hulle bewegende ligslangetjie. Op daardie stadium het dit gevoel asof ons tussen die sterre in klim. Die melkweg het soos ’n groot wolk om ons gehang en dit was donkermaan en in die sterlig was die helling ’n dowwe melkwit in die donker.

Al wat ons teen die berg geanker het was die naelstring van ons koplampies wat aan die wit sneeu voor ons op die grond vasgesuig het. Soms het ek gestop om my lig in die donker teen die helling langs my te laat afskyn en dan het dit gevoel asof die swart abis onder my probeer het om my aan die flou lyntjie van die koplamp in te suig. Dit was baie moeilik om my ewewig te behou met die donkerte en die skuins helling waarteen ons gestaan het. Oriëntasie was byna onmoontlik en ’n paar keer moes iemand woes om hom gryp om staande te bly.

’n Aantalkere gedurende die donker klim het ons aan die linkerkant die blikkerige geskuif van rotsstortings gehoor. Dit was in die buurt van die Rebmann gletser, so tweehonderd meter aan ons linkerkant in die donkerte. Ons was op die veilige deel van die helling, het die Masaï ons verseker, maar ek kon my verbeel ek sien hom ’n bietjie bangerig die kant op kyk.

Met die verloop van die ure het die hoogte steeds meer sy tol begin eis. JDP het op een stadium so ’n paar meter agter my geloop. Dit het beteken dat met die gekronkel teen die berg op ons elke kort kort by mekaar verbygeloop het. Ek op die helling net bo hom in die teenoorgestelde rigting as hy. Op een van die kronkels merk ek toe dat hy nie meer loop nie, maar so half waggelend slinger. Toe ek stop en met hom praat, sien ek dat sy oë nie meer fokus nie, hy kon my nie antwoord nie, sy lippe was blou en sy gesig wasbleek. Ek het baie groot geskrik en dadelik die gids geroep. Twee gidse en Ransjit was onmiddelik by om na hom te kyk en toe moes ek weer verder loop. Nie lank daarna nie draai ek my om en ek sien GS op dieselfde manier loop en slinger. En kort daarna ook M, die jongste van die broertjies. Hy was baie siek en op een stadium het hy geloop met ’n gids aan elke arm wat hom byna teen die berg op gedra het. JDP se kinders het ook baie swaar gekry. Die Masaï het op ’n stadium vir D aan sy sak laat vashou en vir haar gesê om elke tree wat sy gee in sy voetspoor te sit. So het hy die nag met haar die berg op geloop. Sy met haar kop teen sy rugsak en hy met klein skuifelstappies voor haar uit.

Die res van ons het maar net aangehou slinger, met kloppende koppe elke keer die volgende tree gesit en die ronde kol van die koplampe op die voete van die persoon voor ons in die sneeu gehou. Die gidse het hulle hande vol gehad met die siekes en Ransjit het soos ’n bergbok op en af gehardloop tussen die slingeraars om te probeer om by almal te kom om te help.

My motivering in daardie stadium was die wete dat elke tree my nader aan die einde bring, nader aan die punt dat ek weer huistoe kon gaan en nader aan die punt dat ek my geliefde weer na ses weke in my arms sou sluit. Met elke tree het ek nader aan Maraai gestap en dit het die volgende tree makliker gemaak. So het ek myself deur die nag die berg op geneem. My gedagtes was gedurig met my familie besig. My vrou en my twee dogters, die mense wat vir my die wêreld beteken en my lewe die moeite werd maak. Die drie vrouens wat so baie dieselfde is, maar ook so verskillend van mekaar. En wat elkeen op haar eie manier my lewe verander het en vorm gegee het.

Van Sue was al van vlak na die begin af geen teken meer te sien nie. Sy was baie ver agter ons en Deo het by haar gebly om te help. Nog steeds het ons elke uur vir vyf minute gestop om die kookwater wat ons in ons warmflesse gehad het te drink. Dit het met elke verbygaande uur steeds kouer geword en alle ander water wat ons by ons gehad het was al lankal kliphard gevries.

Teen so halfvyf se kant kon ons aan die oostekant die sagte eerste lig van die oggend begin onderskei. Nog steeds het ons die een opwaartse kronkel na die ander gemaak. Net na vyf het dit baie vinnig lig geraak en kon ons sien dat ons bo ’n wolkedeken staan wat uitstrek so ver soos die oog kon sien. Dit het gelyk asof ons onderstebo staan met die wolke wat onder ons lê. Ons groep was redelik versplinter en onder my kon ek ’n deel van die groepie deur die wolke omhoog sien kronkel na waar ek gestaan en wag het.

Na die ooste toe het Mawenzi soos Mordor boosaardig na ons staan en kyk.

Dit was die punt waar Deo ons weer ingehaal het. Teen twee-uur snags het Sue siek geword en hy het besluit dat sy nie verder kon klim nie. Hy het haar teruggeneem kamp toe en teruggeklim na ons toe. In die tyd het hy dus afgedaal tot in Barafu en weer heeltemal boontoe gedraf om teen halfses by ons aan te sluit. Hy was net betyds om die sesuur stop met tee mee te maak. Dit was ook die oomblik toe die son vir die eerste keer bo die wolke uitgekom het. Die son het geen warmte gebring nie, maar wel skitterende sig. Binne vyf sekondes het die toneel om ons verander van ’n dowwe wit na ’n absoluut verblindende wit lig wat oral om ons geskyn het. Dit het gelyk of die sneeubedekte rotse om ons lig afgee. Sonbrille is inderhaas opgesit. Aan ons linkerkant was vir die eerste keer die Rebmann gletser goed sigbaar. Ongeveer tweehonderd meter na ons westekant het hy daar gelê, net soos hy al die eeue lank al daar gelê en wag het. Sekerlik twintig meter dik en blou-groen glinsterend in die son. Dit was my eerste konfrontasie met ’n regte gletser en ek was baie beïndruk. Ek kon my moeilik voorstel dat die blok ys wat daar lê letterlik duisende jare oud is.

Met die koms van die son het ons ’n oomblik langer gewag om die hele groep weer by mekaar te kry en toe pas kon ek sien wat se slagting die helling van die nag aangerig het. JDP het soos ’n slaapwandelaar gelyk. Hy het slinger-slinger geloop en was duidelik nie bewus van wat om hom gebeur het nie. GS was nie veel beter nie en M, die jonger broertjie het eenkant gesit en elke kort kort vooroor gebuk om op te gooi. JDP se kinders was altwee ook baie siek. Die res van die groep was nog in ’n redelike toestand, maar almal was al baie moeg.

Maar dit was nog nie die einde nie. Ons het nog twee uur se klim oorgehad tot by Stella point. Stella point is die laagste punt op die kraterrand van Kibo en in die verlede soms verkeerdelik aangesien as die top van die berg. Vanaf Stella point is die uitsig al ongelooflik en kan jy na die binnekant van die reusagtige krater van Kibo kyk.

Maar van Stella point af is dit nog ’n paar kilometer loop en so tweehonderd meter styg tot by Uhuru peak. Eindelik, so teen agtuur bereik ons toe Stella point. Almal wat op daardie stadium nog enigsins by hulle sinne was het mekaar om die nek geval en gelukgewens. Ek het maar eenkant gestaan en gewonder waaroor dit nou eintlik gaan, want ons moes nog ver gaan tot by Uhuru peak. Op Stella point het ons vyftien minute gerus en gewag vir die laatkomers. Toe het ons weer verder getrek, al teen die kraterrand langs in ’n westelike rigting na Uhuru peak toe.

Hierdie laaste stuk was vir almal die moordendste gedeelte van die hele tog. Dit was nie verskriklik steil of onbegaanbaar nie, maar die feit dat jy so ver gekom het, so naby was, maar tog nog so ver moes gaan het gemaak dat ons baie swaar gekry het. Die sneeu het byna ’n meter dik gelê. In daardie laaste twee kilometer het die groep heeltemal opgebreek. Die lug was so dun dat elke asemteug ’n kwessie van konsentrasie en harde werk was. Normaal gesproke is asemhaling ’n outomatisme. Jy hoef nie na te dink om asem te haal nie, jou liggaam doen dit self. Op daardie hoogte moes elke asemteug beplan en noukeurig uitgevoer word. Elke tree het meer energie uit ons liggame getap en na elke beweging moes jy stop om eers asem te haal. My kop het geklop van die hoofpyn, maar soos ek om my gekyk het het ek besef dat ek tuis was. Die gevoel dat ek êrens behoort het ek in my lewe nog nooit so sterk ervaar as daardie oggend op pad Uhuru toe nie. Terwyl ek geworstel het om asem te haal, terwyl elke tree my energie getap het het ek geweet dat ek was waar ek moes wees. Op hierdie verlate piek van Afrika, gevries in die tyd het ek die stukkie van myself wat ek al jare kwyt was teruggevind.

Die trek van Stella point na Uhuru het byna ’n uur geneem. Ek was een van die eerstes wat Uhuru peak bereik het. ’n Niksseggende klipstapel met ’n stellasie houtplankies wat aankondig dat jy nou op die hoogste punt van Afrika staan. Geen orkes met blaasinstrumente nie, geen singende mense met sjampanje nie. Slegs ’n spiertwit ysvlakte so ver jy kyk, ’n gletser daar eenkant, ’n paar moeë klimmers wat mekaar met hol oë aankyk, ’n klipstapeltjie en die geloei van die wind. Dit kon nie mooier nie.

Die verligting dat ek dit gemaak het was baie groot. Een vir een het die groep begin binnedruppel. Almal het mekaar nog ’n keer gelukgewens en honderde foto’s geneem. Die siekes is deur gidse begelei tot by die bordjies, foto’s is van hulle geneem en daarna het hulle onmiddelik vertrek met ’n gids aan elke arm. Dit was belangrik om hulle so vinnig as moontlik weer ondertoe te neem.

Ek het ’n ent weggestap en eenkant in die sneeu gaan sit om ’n bietjie tot rus te kom. Daar het die besef dat iets baie spesiaals met my gebeur het tot my begin deurdring. Ek besef die impak daarvan op my lewe nog nie heeltemal nie, maar daardie oomblik het iets in my verander. Daar, op daardie klip het ek ook vir Sura gewaai en ek kon my verbeel dat ek haar glimlag in die wolke en die sneeu om my kon sien.

Ek het later in die omgewing van die piek rondgeloop en tot op die rand van die krater gestap, waar ek oor die immens groot krater kon uitkyk. Dit moes ’n mo3rse vulkaan gewees het wat hier seshonderdduisend jaar gelede uitgebars het. Die krater is ‘n aantal kilometer breed en ongeveer ’n kilometer diep. Ek kan my geen oomblik indink wat se verskriklike natuurkragte hier losgelaat is toe Kibo die dag gebore is nie.

Na ongeveer ’n uur op Uhuru was dit al weer tyd vir die afdaling. Ons het stadig teruggestap tot op Stella point waar ons vir ’n laaste keer om ons heen gestaan en kyk het. En toe het ons begin aan die afdaling. Dit was verskriklik steil ondertoe en in die los, dik sneeu was dit ’n nagmerrie. Ek het probeer om met die stokke my ewewig teen die steil helling te behou, maar daardie dag tydens die afdaling het ek meer op my agterent beland as wat ek op my voete was. My bobene en knieë was na ’n uur al heeltemal lam en wanneer ek gestop het om te rus het my bene gebewe en my asem in my bors gebrand. Uur na martelende uur het ons teen die steil berg afgestrompel. Namate ons gedaal het het dit ook warmer begin word en het al ons warm klere teen ons begin tel. Onder al my lae klere was ek papnat gesweet. Al voordeel van die afdaling was dat ons asemhaling steeds makliker gegaan het en ons liggame steeds sterker gevoel het. Dit was opmerklik dat jy oor ’n honderd meter afstand al die verskil kon voel. Tydens die afdaling het my hoofpyn heeltemal verdwyn en die uitasem-gevoel wat my die heeltyd geteister het op die top het later heeltemal verdwyn.

Tydens die afdaling het ek nie veel aandag gehad vir die omgewing om my nie. Ek en MK het die oggend saam teen die berg afgedaal. En soos gewoonlik in die voorgaande dae was dit net ’n kwessie van aanhou doen wat nodig is en die einde kom vanself. Ons moes ongelooflik konsentreer in die los sneeu, sand en klippe om nie op ’n baie slegte manier te val en die res van die pad ondertoe te rol nie.

Teen halfeen (Ongeveer drie uur nadat ons aan die daling begin het) het ons weer in Barafu aangekom. Daar het ons die res van die groep aangetref. Die siekes was lank voor ons al daar en in ’n baie beter toestand as toe hulle ons op die berg verlaat het. Ek het my verstom aan die verbetering in hulle kondisie. Almal het weer kleur op hulle wange gehad en die glasigheid in die oë het verdwyn. JDP, GS, M en JDP se kinders het nie geweet dat hulle op die top was nie. Hulle het dit op die foto’s gesien, maar van die laaste twee uur van die nag se klim kon hulle byna niks onthou nie.

Ons het net tyd gehad om vinnig middagete te eet en toe moes ons weer verder. Die middag se stap sou ons vier ure neem tot by Mweka kamp. Na middagete het ons vinnig die boonste lae van ons klere verwyder. Dit was nog koud in Barafu, maar in vergelyking met die top was dit hier eintlik behaaglik warm. Die wete dat ons die middag nog moes daal na ongeveer 3000 meter het gemaak dat ek so lig as moontlik aangetrek het. My klere was heeltemal deurnat gesweet van die oggend se afdaling.

Die middag se afdaling was een groot marteltog. Ons was al op pad van twaalfuur die vorige nag, met ’n stop van ongeveer ’n uur op Uhuru, en stop van ’n uur vir middagete in Barafu en hier was ons alweer op pad verder teen die berg af. Steeds verder en verder het ons gedaal die middag. Dit het gelyk of daar geen einde aan sou kom nie. Af, af, af, af.

Die hellings waarteen ons afgedaal het was veradderlik. Baie los sand, klippe en ander plekke waar een mistrap ’n val beteken het. Gereeld die middag het iemand hard geval. Ek het ’n paar keer iemand sien val waarvan ek verwag het dat die persoon nie weer sou opstaan nie. Van die moegheid was dit moeilik om gefokus te bly en te sorg dat elke tree met die nodige versigtigheid geplaas word.
Dit was tydens hierdie afdaling dat ek my eerste Kilimanjaro-scooter gesien het. Wanneer iemand homself ernstig beseer op die berg, of so siek word dat hy nie in staat is om self verder te loop nie, word die hulp van die scooter ingeroep. Dit is ’n staalraam van ’n enkelbed. Die wat in die army was sal weet wat ek bedoel. Die pote is afgesaag en onderaan die bed is ’n spul ysters vasgesweis wat almal in die middel bymekaarkom en daaraan sit ’n wiel van ’n scooter. Stel jou dit nou voor, ’n enkelbed sonder pote en in die middel ’n groot scooterwiel. ’n Onstabieler apparaat is in die geskiedenis van die mensdom nog nie gebou nie.

Die sieke/gewonde word in slaapsakke toegewikkel en op die bed neergesit. Dan word hy met bande aan die bed vasgebind. En dan word die bed omring deur ses porters wat elkeen help om die eenwiel-scooterbed regop te hou. En dan hardloop hulle met ’n verskriklike vaart teen die berg af. Die porters hou die bed regop en die bed hou die porters regop. Die enkele wiel raak net so hier en daar aan die grond en die porters eintlik ook. Dit is ’n verskriklike gesig om te sien en elke tree moet vir die arme gewonde/sieke ’n marteling wees. Maar, dit is baie effektief en iemand kom op daardie manier wel baie vinnig onderaan die berg. Nie noodwendig veilig nie, maar niemand het gesê dat dit een van die vereistes was nie. Meestal is die arme ou tog bewusteloos.

Die middag het hulle met een of ander ongelukkige gewonde by ons verbygehardloop. Ons het hulle sien aankom so ’n kilometer agter ons. Ons het ‘n verskriklike geraas en geskree gehoor en ek het eers gedink ’n groep porters was besig om ’n leeu berg-af te ry. Toe sien ek die bedraam die lug in spring met drie porters wat so met een hand aan die ding hang en die arme gewonde wat benoud probeer vashouplek kry aan die raam. Hy het met ’n krakende slag weer op die aarde neergekom en ’n paar meter gery voordat hy weer die aarde verlaat het met die drie porters wat aan hom gehang het. Die helse kabaal is nie veroorsaak deur die ouens wat die ding bestuur het nie, maar deur so tien ander wat saamgehardloop het en die klomp aangemoedig en raad gegee het. ’n Regte klomp back seat drivers. Hulle hardloop agterna en skree opdragte vir die arme ouens wat die gevaarte probeer bestuur. Met groot gelag en geskree is die klomp by ons verby en ek het hulle nog so ’n rukkie staan en agterna kyk. My laaste indruk was van die arme pasiënt se grysgroen gesig en paniekerige oë toe hulle by ons verby is. Die arme ou sou net daar uitgeklim en self verder gestap het as hierdie gevaarte op enige manier te stop was, maar hy het lankal alle hoop opgegee om lewend onderaan die berg te kom.

Teen drie-uur het ons middagdonderstorm ons aangetref êrens teen die helling van die berg bokant Mweka-kamp. Inderhaas het ons alles aangetrek wat kon help, maar nie een van ons het veel by ons gehad nie. Die paadjie waarin ons geloop het het blitsvinnig getransformeer tot ’n kolkende modderrivier, kompleet met watervalle en stroomversnellings. Die reën het letterlik met emmers uit die hemel geval en vir ons was daar geen ontsnapping nie. Ek was binne vyf minute deur- en deurnat. Tot my onderbroek was nat. Eers was dit koud, maar na ’n paar minute het ek dit begin geniet. Ek was papnat, dit het gereën, die wind het die bome om ons platgedruk en af en toe het ’n yslike bliksemstraal deur die donker lug geklief. Die reënwater het oor elke sentimeter van my liggaam gestroom. Maar die natuur om ons het geleef en ons was deel daarvan. Dit was tydens die reënbui dat ek die eerste protea’s gesien het. Ja, protea’s op die Kilimanjaro. Ek het self nie geweet dat daar protea’s buite Suid Afrika voorkom nie. Toe ek die blomme sien en vir een van die gidse vra of dit dan protea’s was en hy bevestigend antwoord het ek besef dat hierdie berg nooit sal ophou om my te verras nie.

Dit is die Protea Kilimanjaro (Ra-ra!). ’n Protea wat slegs op die Kilimanjaro voorkom en een van baie min wat noord van die Limpopo voorkom.

Steeds verder teen die berg af het ons geploeter. Dit het later sterk skemer begin word en steeds was die kamp nog nie in sig nie. Gelukkig het ek nog my koplamp by my gehad van die vorige nag se stap en toe dit later heeltemal donker was het ek met my koplamp verder gestap. Ons het in ’n soort towerwoud beland. Dit het opgehou reën, maar alles was nog nat en in die donkerte het ons die gekabbel van waterstroompies gehoor tussen ons eie voetstappe deur. Dit was glad nie koud nie, al was ons deurnat gewees. Die bos om ons was gevul met vuurvliegies wat in die bome en die gras om ons gesit het. Ons het verwonderd stilgestaan en net om ons heen gekyk. Tussen die bome deur het hulle gevlieg, die gras was deurtrek met die flikkerende, gloeiende liggies. Dit was asof feetjies uitgekom het en tussen ons heen en weer gevlieg het. Nadat ons ’n rukkie gestaan en kyk het het ons mekaar in die donker aangekyk en so half skaapagtig gelag. Ons twee volwasse mans het daar in die bos gestaan en van feetjies gedroom. Nie een het iets gesê nie, maar altwee het geweet wat in die ander een se gemoed omgegaan het. Dit was een van daardie oomblikke tussen twee mans waaroor nooit weer gepraat sal word nie, maar wat ons nog baie lank sal bybly.

Teen halfagt die aand strompel ons toe eindelik Mweka-kamp binne. Ons was heeltemal gedreineer van ons laaste bietjie energie. Nog steeds papnat, van ons heupe af ondertoe bedek in ’n laag modder, doodmoeg, verskriklik honger en baie tevrede met onsself. Ons het ’n totaal van byna twintig uur al klimmend, strompelend, huppelend en kruipend teen die berg deurgebring. Met ongeveer ’n uur bo-op Uhuru en ’n uur vir middagete as enigste ruspouses.

Toe ons die kamp binnekom is ons reguit eettent toe gelei deur een van die gidse. Die res van die groep het al daar gesit en ons het gewag vir die ander mense om nog binne te kom. Een vir een het die agterblywers ook binnegestrompel. Die dood was in almal se oë. Moeg, stil, nat en honger het ons in daardie tent gesit en wag. Elkeen besig om op sy eie manier die indrukke van die dag te probeer verwerk. Toe almal binne was het ons geeët. Deo het vir ons die program van die volgende dag verduidelik. Daarvan onthou ek baie min, en daarna het ons een vir een verdwyn bed toe.

Ek en MK het so teen halfnege se kant tent toe gestrompel en die ergste modder van ons probeer verwyder voor ons net so vuil in ons slaapsakke gekruip het. Alles het ons net so laat lê. Dit sou ons die volgende oggend as dit lig was probeer uitsorteer en opruim.

Kilimanjaro – Dag5

Na ’n rustelose nag van heen-en-weer skuifel om nie by MK in sy slaapsak te beland nie het ek weer die porters en gidse hoor gesels en lag in hulle tente. Die grond was so skuins dat ek sommer daar en dan besluit het om nie verder te probeer slaap nie en maar op te staan.

Toe ek buite kom storm ek half onbeheerd teen die skuinste af en kom so twintig meter laer teen die helling af pas tot stilstand. Die skuinste van alles het my alweer parte gespeel. Ek moes wel bietjie glimlag toe ek sien dat ek nie die enigste een is wat met so ’n verskriklike vaart uit die tent storm nie. Dit het die oggend gelyk of in die meeste tente iets vreesliks gebeur het met die mense wat so uitkruip en dan tien – twintig meter weghol van hulle tente af voor hulle stilstaan en verward om hulle heen staan en kyk.

By die broertjies was alles nie pluis nie. M was nog steeds siek en hy het in die loop van die nag nog sieker geraak. Hy moes die nag twee of drie keer uitgaan om die bietjie aandete wat hy die vorige aand genuttig het tussen die klippe te gaan rondgooi en die oggend het hy swaar hoofpyn gehad en was duiselig. Deo was baie bekommerd en het hom onmiddelik nog Diamox gevoer.

Nadat ons tee gedrink het het ons ons goedjies ingepak en reggemaak vir die dag wat sou voorlê. Ontbyt was weer (Vir my altans) heerlike slappap met botter en heuning deurgemeng. Ek het sommer net oor dit kon ’n ook nog skoot kondensmelk deurgemeng. Die res van die groep het my maar langtand sit en aankyk en toe ek my derde leë papbord selfvoldaan wegstoot het een opgemerk dat hy nog nie iemand so lekker ontbyt sien eet het as ek nie. Die ander lede van die groep het so bietjie aan die pap probeer eet, maar hulle ontbyt het maar vir die grootste deel bestaan uit roosterbrood en eiers.

Na die drie borde pap was ek so vol koolhidrate dat ek gevoel het of ek die berg kon uitdraf. M het nie ontbyt geëet nie en sy toestand het ook nie beter geword nie. Sue het baie goed gevoel en was al haastig om aan die dag se stap te begin. Die res van die groep het goed gelyk en JDP en sy kinders was die oggend ook in ’n vrolike bui, al het hulle die vorige dae bietjie swaar getrek. Deo het hulle nog steeds gedokter met Diamox en ek vermoed dat dit is wat vir hulle gehelp het.

Teen halfagt het ons weer soet agter die Masaï gaan staan en daar trek ons toe. Pole-pole agter mekaar aan rigting Barafu. Vandag sou ’n baie belangrike dag word. Die oggend sou ons tussen drie en vier uur lank loop na Barafu toe op 4600m hoogte. Daar aangekom sou ons middagete eet en dan tente toe geboender word deur Deo en sy trawante. Daar moes ons die middag rus en saans om sesuur weer aantree vir aandete. Na aandete weer tente toe vir slaap en om halftwaalf moes ons weer aanmeld vir tee en koekies voor die middernagtelike tog teen die berg uit sou begin om twaalfuur.

Soos elke dag het ons slangetjie steeds verder uitgerek, met Sue en Deo ver agter, MK en ek nie so heel ver agter nie en dan die hoofgroep wat ook in kleiner groepies opgebreek was. Ons het rustig gestap en steeds verder gestyg. Die styging was wel baie goed voelbaar, want na ’n uur het byna almal van ons hoofpyn gehad. M het baie swaar gekry die dag, want gekombineer met die feit dat hy siek was het hy nog geen ontbyt geëet nie en ek dink tydens die voorafgaande vyf dae ook nie geslaap nie. En sy motions het ook nie lekker gewerk nie. Sy broer het oor hom gewaak soos ’n arendmoeder oor haar kuikens.

Dit was vir my baie tekenend van die broertjies se verhouding; Hoe hulle twee deur dik en dun altyd bymekaar gebly het. Ek het een dag lank met R (Die ouer broertjie) sit en gesels en agtergekom dat die tweetjies maar ’n grondpad geloop het tot waar hulle vandag is. Hulle moeder ly al baie jare lank aan multiple sklerose. Dit het beteken dat sy nooit op ’n normale manier ‘n “gewone” ma vir hulle kon wees nie. Hulle pa het sy lewe aan haar versorging gewy. Hy het gewerk en in sy vrye tyd het hy hulle moeder versorg. Op ’n manier wat trane in my oë gebring het toe R my dit vertel. En wanneer hy nie met hulle moeder besig was nie het hy probeer om twee seuns groot te maak.

Daarom het M besluit om die jaar daarvoor die Rotterdamse marathon te gaan hardloop vir sy ma. Hy wou iets doen met sy liggaam wat hy aan haar kon toewy wat so ’n beperkte gebruik van haar eie liggaam gehad het. Natuurlik het R hom nie alleen laat hardloop nie en die uiteinde was dat hulle saam die marathon gehardloop het vir hulle ma. Hulle pa was saam om ondersteuning te bied en hy het oral langs die roete opgeduik met sy fiets om hulle van water en aartappels te voorsien.
Na die marathon het hulle pa besluit dat hy met sy fiets teen die Alpe d’Huez wou gaan opry om geld in te samel vir die MS-stigting en die uiteinde was dat die broertjies natuurlik saam met hulle pa die Alpe d’Huez opgefiets het. (Vir die wat Alpe d’Huez nie ken nie – Tour de France)

Hulle ma se siekte was ook die rede waarom die twee op die Kilimanjaro te vinde was. Hulle redenasie was dat solank hulle die normale gebruik van hulle liggame het dit hulle plig was om sulke dinge te doen tot eer van hulle moeder.
M het ’n foto in sy binnesak gedra van hulle as gesin saam (Hy, R en sy pa en pa). Hy was van plan om die foto bo-op die Kilimanjaro onder ’n klip agter te laat. As toewyding aan hulle as familie.

Nadat ek met R gesels het het ek ’n baie groot deernis ontwikkel vir die twee. Ek het dikwels by hulle gestap en dan het ons baie lekker gesels en gelag. Dit was twee van die baie min Nederlanders wat ek nog ontmoet het wat van rugby hou. Hulle kon nie uitgepraat raak daaroor nie en wil met alle geweld dat ek reël dat ons ’n keer saam gaan rugby kyk as die Bokke weer in Europa speel.

Dit is interessant hoe die tog teen die berg alle pretensies tussen mense ophef. Dit is die groot gelykmaker. Dit is nie interessant wat se werk jy doen, waar jy woon, hoeveel geld jy verdien of in wat se kar jy ry nie. Almal begin saam op nul. En elkeen probeer op sy eie manier te oorleef en bo-op die berg te kom. Ek het sy aan sy geloop met mense wat met messe in ander mense se breine rondkrap en ongetwyfeld baie ryk is (En verskriklik kan snork!), maar ook saam met arm studente en mense wat slaptjips verkoop vir ’n lewe. En almal van ons is eintlik maar dieselfde. Ons het dieselfde basiese behoeftes, vrese en wense. En ons wil almal eintlik net vreeslik graag liefgehê word. En diep binne-in onder ons maskers is ons almal eintlik mooi mense; Sommige van ons weet net beter as ander hoe om dit weg te steek.

Stadig het ons die dag drie uur lank steeds verder omhoog gekronkel deur die woestynlandskap heen. Misbanke het soms deur die landskap getrek wat ’n surrealistiese atmosfeer geskep het. Dan het ons soos buitenaardse wesens deur die sand en klippe gestrompel. Soms het die misbanke weggetrek en was alles helder sigbaar in die son. Maar nooit vir lank nie.
Op een stadium het Kibo selfs ’n mooi wit hoedjie opgehad wat hom vir ’n oomblik ‘n speelse aanblik gegee het.

Net soos die vorige dae was dit ’n kwessie van aanhou doen wat nodig is om vorentoe te beweeg en dan kom die einde vanself. Barafu was net soos Karanga op die rand van ’n kloof. Die eerste tekens wat ons van Barafu gesien het was ’n toilet wat reg op die afgrond gebou is. Ver aan die regterkant, op pad teen die berg af het die gids vir ons mense uitgewys wat die vorige nag op die top was en vandag met die afdaling besig was. Hulle het soos klein miertjies afgesteek teen die horison soos hulle steeds verder ondertoe teen die rand gestap het.

Net voor ons by Barafu kon kom moes ons weer ’n steilte omhoog agter die rye en rye porters wat ook besig was om hulle laste teen die hoogte op te dra. Dit was hier baie besig. Op Kilimanjaro is ses moontlike roetes om die berg te klim. Maar daar is maar drie basiskampe waarvandaan die top bereik kan word en Barafu is een van die gewildste. Ons het hier dus saamgekom met ’n klomp ander mense wat op ander roetes tot hier gekom het en eindelik almal saam met ons in Barafu beland het. Maar, elke groep slaan sy tente op tussen die reusagtige rotse en skeure in die berg, sodat jy eindelik baie min van die ander mense sien. Wat bydra tot die groot drukte in Barafu is die feit dat die klimmers van die vorige nag ook nog deur Barafu afdaal ondertoe en meeste van hulle maak ’n kort tussenstop in Barafu om te eet en te rus voordat hulle verder trek. Ons het egter min gemerk van al die mense, omdat ons afgesonder was op ’n randjie agter ’n stapel groot rotse.

Toe ons Barafu binneloop het ons porters ons al begin gelukwens, omdat hulle nie verder saam met ons teen die berg op sou trek nie. Die nag se tog na die piek sou ons alleen aanpak met ‘n aantal gidse en die volgende keer dat ons die porters sou teëkom was die volgende middag wanneer ons weer deur Barafu sou afdaal na Mweka-kamp ver onderaan die berg.

In Barafu het ek vir JDP raakgeloop waar hy rustig op ’n rots gesit het. Ek het by hom gaan sit en hy het my vertel dat hy die dag so goed gevoel het dat hy die ge-pole-pole veels te stadig gevind het. Hy het dus vooruit geloop saam met die vinnigste porters en was al binne twee uur in Barafu. Daar het hy gesit en kyk hoe hulle die kamp opslaan. Ek het vir hom gevra of hy dit ’n goeie set gevind het, omdat hy die vorige dae al siek was van die hoogte. Die idee was juis dat ons tussen Karanga en Barafu stadig moes styg om ons liggame die kans te gee om aan te pas by die hoogte. Maar hy het geglimlag en verklaar dat hy so sterk soos ’n os gevoel het en reg was om Kibo die nag uit te draf.

Ons het middagete geëet in Barafu en toe so ’n bietjie luierig tussen die klippe rondgehang. Dit was die eerste keer dat ons ’n goeie uitsig gehad het op Mawenzi (5148m), Kibo se broer aan die oostekant. Mawenzi beteken verskrompel en gebroke. En as jy na Mawenzi kyk verstaan jy die oorsprong van die naam. Mawenzi het na Shira uitgebars, so 200.000 jaar voor Kibo. Mawenzi het vreeslik gely onder Kibo se uitbarstings deur die eeue heen. ’n Ou Tanzaniaanse legende vertel dat Mawenzi die ouer broer is van Kibo. Eendag het Mawenzi se vuur doodgegaan en hy het vir Kibo vuur kom vra. Op pad terug het die vuur weer doodgegaan en toe Mawenzi weer vir Kibo vuur vra het die twee rusie gekry. Kibo het so kwaad geword dat hy begin rook het en vir Mawenzi met vuur en klippe gegooi het. Dit is waar al die littekens op Mawenzi vandaan kom.

Lank gelede was Mawenzi ook bedek met ys en sneeu, maar die meeste daarvan het deur die jare al gesmelt. Met die ys en sneeu was Mawenzi beklimbaar, maar in die laaste jare is toegang tot Mawenzi verbode, omdat dit te gevaarlik is. Die smeltende gletsers het oral op die berg los stukke rots en klip op die berg gelaat, waardeur mens omtrent nie op die berg kan kom sonder om rotsstortings te veroorsaak nie. Die Tanzaniaanse owerheid doen ook alles moontlik om mense weg te hou van die berg af, maar af en toe is daar ’n gek wat deurglip en sy lewe teen die berg gaan waag. Meer as een keer het dit in die afgelope jare fataal afgeloop vir sulke mense.
Na al die eeue se rusie tussen Mawenzi en Kibo is daar maar een slotsom te trek: Mawenzi is ‘n bedonderde ou man wat met rus gelaat wil word.

Teen twee-uur die middag is ons almal tente toe geboender om te gaan rus. Daar was natuurlik geen sprake van slaap nie, want die opgewondenheid oor die komende nag het alles oorheers. Alle gesprekke het ook daaroor gegaan. Dit was immers die rede waarom die meeste van ons daar was. Ons het dus ’n bietjie rusteloos in ons tente gaan lê en lees, gesels of sommer net in stilte nagedink oor alles wat ons meegemaak het en alles wat nog vir ons voorgelê het.

Totdat dit begin reën het. Op die oog af heeltemal nie vreemd nie, dit was ons klokslag-middag-donderstorm, soos elke middag daarvoor. Maar hierdie keer met uitsonderlike swaar donderweer, wat oral om ons geslaan het.
Dit het soms gevoel of die bliksemslae hier tussen die tente op die klippe geslaan het en soms kon ek my verbeel dat ek die statiese elektrisiteit in die lug kon proe. Op een stadium was dit so gereeld dat die lug byna permanent helder was van die donderslae wat onafgebroke op mekaar gevolg het. Die knalle en gedonder van die slae het geklink of ’n goederetrein bo-aan die berg ontspoor het en reguit na ons toe op pad was.

Dit was vir my een van die mooiste oomblikke van die hele tog. Hier lê ek, nietige klein mensie, opgekrul in ’n flenterdun tentjie in die oksel van die hoogste berg in Afrika tydens die swaarste donderstorm wat ek nog beleef het. Die krag van die natuur om ons heen was verskriklik. Onophoudelike donderslae wat jou verdoof, ligflitse wat so kort op mekaar volg dat dit lyk soos een groot helder lig wat brand en die reuk van osoon en swael in die lug soos die blitse in die klippe om ons inslaan.

Dit was die oomblik dat ek werklik besef het dat ek leef. En dat die lewe broos en kosbaar is. Daar het ek die lewe in elke vesel van my liggaam gevoel. Met die klop van my hart in my keel en die opgewondenheid oor die onvoorstelbare kragte wat om ons heen losgelaat is moes ek myself keer om nie al my klere uit te pluk en na buite te hardloop om te probeer deelneem aan al hierdie natuurgeweld nie. Ek weet nog steeds nie eintlik wat my bydrae sou gewees nie. Ek sou seker maar ’n paar klippe rondgegooi het, maar ek sou dit met groot ywer gedoen het.
Slegs die wete dat een afwyking in ’n enkele weerligstraal genoeg sou wees om my te laat verdwyn soos ’n mot in ’n kampvuur het my in die tent gehou. In geen taal bestaan genoeg superlatiewe om die kragte te beskryf wat daardie middag op die berghelling om ons gewoed het nie.

Die donderweer het so geraas dat ons nie eens agtergekom het toe dit begin hael nie. Op een stadium begin die tent se dak in te sak en toe besef ons dat daar iets bo-op die tent druk. Ons het half paniekerig begin slaan aan die binnekant van die tent en toe besef dat dit hael was wat besig was om die tent in mekaar te druk. Deur kort-kort die hael van binne af van die dak af te slaan kon ons daarin slaag om die tentjie regop te laat bly. Dit het vir ongeveer twee uur lank gestorm, waarvan dit minstens ’n uur lank onafgebroke gehael het voordat dit stadigaan minder begin word het. Na ’n tydjie het die laaste donderweer ook oor die heuwels weggerol en die tik-tik op die tent ver genoeg uitmekaar geval dat ons dit na buite gewaag het.

Dit was asof ons in twee uur se tyd na die ander kant van die planeet gereis het. Die dorre, karamel- en sjokoladekleurige woestyn waarin ons ons bevind het is onherkenbaar getransformeer tot ’n spierwit yslandskap met hier en daar swart rotse wat tussen die ys uitsteek. Dit het iets gehad van ‘n roomys- en sjokoladepoeding. ’n Laag van ongeveer 20 sentimeter hael het die grond bedek en die tente het krom gehang onder die gewig van die hael wat bo-op gelê het.

Voor die storm was dit die omgewing om ons gewees:

Na die storm was dit die toneel wat ons begroet het:

Een vir een het die mense uit hul tentjies gekruip en op hulle gesigte was verbasing, verwondering en verligting te sien. Die meeste was doodsbang tydens die storm en maar al te bly dat ons dit oorleef het.

Kibo was heeltemal toegetrek met ’n kwaai, donker wolk en hy sou die middag niks meer van hom laat sien nie. Wat ons op daardie punt nog nie besef het nie is dat die berg tydens die haelstorm bedek is met ’n laag sneeu van ongeveer 30 sentimeter. Die temperatuur het geval tot ’n paar grade onder vriespunt en ek het besef dat dit hoër teen die berg op baie kouer sou wees.
Kort na die storm opgehou het was dit alweer tyd vir aandete en ons het in die vernielde eettent gaan sit vir ’n heerlike aandete van pasta, maalvleis en kaas. Die gesprek het stilgestaan by die storm van die afgelope middag en almal het hulle verhale gedeel oor die stryd om die tente regop te hou en die steeds dikker wordende pak hael by die deur uit te kry.

Na ete het ons weer ons briefing gekry by Deo. Die nag om halftwaalf moes ons gereed wees om te begin stap. Ons sou voor die stap nog tee en koekies kry. Ons moes almal ons termosflesse inhandig, sodat ons kookwater kon saamneem om te drink teen die berg. Alles wat nie geïsoleer is nie vries kliphard tydens die tog omhoog. Toerusting is nog een laaste keer gekontroleer en toe is ons almal bed toe gestuur met die opdrag om te gaan slaap. Ons sou om elfuur wakker gemaak word.

Nodeloos om te sê, daar is die aand ook nie geslaap nie. Die nag se tog het ons almal wakker gehou en so al rustend en saggies met mekaar pratend het ons die aand deurgebring. Die tyd om te doen waarvoor ek gekom het was nou so naby en al wat ek wou doen was om te begin klim. Die aand se wag, maar eindelik het die sagte geritsel by die tentflap gekom om ons te roep vir tee en koekies en die laaste voorbereidings vir die finale tog.

Ek het al my goed reggekry. Kamera verpak in twee t-hemde om hom te isoleer tydens die klim. Ek het 2 termiese lang onderbroeke aangetrek. Bo-oor het ek ’n dik langbroek aangetrek en oor die langbroek ’n reënbroek. Twee paar dik kouse om my voete warm te hou. Twee termiese onderhemde, een met lang en een met kort moue. Daaroor het ek ’n lang t-hemp aangehad en dan nog ’n fleece-baadjie met heeltemal bo-oor my wind- en reënbaadjie. Twee paar handskoene. ’n Dun paar onderhandskoene en ’n dik paar moffies bo-oor. Balaklava, warm wolmus en ’n tweede mus bo-oor om die kop ook warm te hou. Ek kon nie veel meer klere aantrek sonder om soos die Michelin-man teen die berg op te strompel nie.

By die broertjies was alles nog steeds nie in orde nie. M was nog steeds siek en het in die loop van die middag sieker geword. Die Diamox het bietjie gehelp, maar hy was nog steeds naar en flou. Van die naarheid eet hy ook nie eintlik nie en hy was al redelik verswak ook op daardie punt. Sy hande en voete was koud en hy kon hulle nie meer warm kry nie. Daarom dat ek met hom my moffies geruil het vir sy handskoene, want in die moffies kon hy verwarmingselemente druk wat sy vingers kon opwarm.

En toe sit ons weer in die eettent waar ons in die voorgaande dae al soveel keer gesit het. Senuweeagtig en stil sit ons daar ons teetjies en drink en ons koekies en eet. Sommige help mekaar nog met ’n laaste kontrole van klere en apparatuur en ander gaan vir ’n laaste keer toilet toe.

Dan staan ons weer agter die Masaï. In ’n rytjie soos ’n sondagskoolklassie, elkeen met sy koplampie wat die ’n ronde wit kol skyn om die voete van die persoon voor hom. Met ons voete wat wegsink in vyftien sentimeter hael begin ons niksvermoedend die berg op te stap.

Kilimanjaro – Dag4

Die vierde dag het begin soos al die voriges tot dusver. Alhoewel ek hierdie keer seker is dat ek ’n uur of twee geslaap het. Dit kan ook nie anders nie, van moegheid val ’n mens tog wel ’n keer aan die slaap. Ek het weer die nag ’n keer uitgegaan en op ’n klip na die sterrehemel sit en kyk. Dit was vir my nog steeds onvoorstelbaar dat daar so baie sterre om ons in die lug kon hang. Baie ver na die suide toe, onder my, was die ligte van Moshi en Arusha. Dit het amper soos ’n omgekeerde hemel gelyk in die donker. Sterre bo my en sterre onder my.

Teen vyfuur begin toe weer die vrolike gelag en gesels van die porters en kokke. Halfsewe die opgewekte ruk aan die tentflap en heerlike warm tee. Stadig kruip ons uit die tente die koue tegemoet. ’n Laag ys bedek alles om ons en die tente staan wit afgeëets teen die swart ondergrond van die rotse wat deur die nag die warmte beter vasgehou het, sodat daar die ysvorming baie minder was.

Dan weer soos ‘n ry meerkatte voor Kibo gaan staan en stilweg wonder wat die dag vir ons gaan inhou. Aan die regterkant staan die Barranco-wall ons en uitdaag. Die eerste groepies porters is al soos klein wit miertjies teen die muur sigbaar. Ons verstom ons oor die hoogte van die muur en hoe die porters met 30kg op hulle koppe daar op kan klim, maar dan is dit alweer tyd vir ontbyt.

Tydens ontbyt het geblyk dat Sue tog besluit het om Deo se advies op te volg en die dag saam te stap. Sy het nie eintlik ’n keuse gehad nie, omdat die enigste alternatief was om die vorige dag se roete terug na Shira te volg en daarvandaan teen die berg afgevoer te word. Ek dink net die idee om weer daardie kant toe te loop was vir haar al genoeg om te besluit dat daar maar een rigting is op hierdie roete en dit is vorentoe. Haar knieë het in elk geval beter gevoel en sy was weer haar vrolike, laggende self die oggend.

Die dag se roete sou begin teen die Barranco-wall en daarna sou ons nog drie uur stap tot aan Karanga-kamp op 3950m. Ongeveer dieselfde hoogte as Barranco, dus met ’n hele dag se geklim en geloop sou ons nie eintlik vertikale vordering maak nie. Maar almal het verstaan dat hierdie dag van groot belang was vir ons akklimatisasieproses. Na die vorige dag se vinnige styging na Lava-tower op 4600m het ons almal besef dat die hoogte nie grappies is nie.

Na ontbyt het ons vinnig ons goedjies bymekaar gekry en voor ons ons oë kon uitvee stap ons alweer in ’n lang ry soos ’n skoolklassie aan agter die Masaï aan. Reg op die berugte Breakfast-wall af. Eers ’n vinnige daling, waar ons ’n klein gletser-stroompie oorsteek en dan begin ons aan die klim teen die muur uit.

Met begeleiding van die gidse en mekaar klouter (scramble) ons stadig teen die muur op. Hier en daar kos dit goed vashou en versigtig trap, maar dit is geen tegniese klim, waar jy ernstig gevaar loop as jy misvat nie. Op een of twee plekke het ’n ernstige hug-and-kiss situasie homself voorgedoen. Dit beteken dat jy jou liggaam baie styf teen ’n rotsmuur aandruk en dan versigtig met jou hand aan die ander kant voel vir vatplek, voordat jy jou voet omdruk en daar ook soek-soek vir trapplek. En dan stadig en baie sensueel jou liggaam teen die growwe rots oorskuur na die ander kant toe. So het ons die oggend al klouterend en skurend teen die kranse deurgebring. Niemand het geval nie, maar die groep het weer baie vinnig versplinter. Ons moes ook kort-kort stop en eenkant staan om ’n groep porters die kans te gee om verby te kom. Hulle het wel die 30 kilogram pakke op hulle koppe en sommige selfs ook waterdromme en gasflesse in hulle nekke gedra, maar dit was vir hulle ook nie maklik nie. Swetend en sugtend en mekaar-helpend het hulle stadig teen die rotsmuur uitgeklouter soos ’n tou miere wat met hul eiertjies na ’n nuwe nes toe trek.

Elke kort-kort het ons ’n valse horison bereik en net as jy dink jy is bo kom jy agter dat daar nog ‘n stuk muur voorlê. Maar, aanhouer wen en as jy jou verstand afskakel en net die dinge bly doen wat noodsaaklik is om vorentoe te beweeg, kom jy vanself aan die bokant.

Na ‘n paar uur se klouter teen die muur op staan ons toe eindelik bo-aan en kyk met voldoening terug ondertoe. Daar ver aan die onderkant lê die laaste reste van Barranco-kamp. Ongeveer ’n kilometer onder ons is die laaste werkers druk besig om die laaste stukkies kamp heeltemal te laat verdwyn. Vir die res van die dag sou daar net die altyd aanwesige toilet-hutte staan tussen die klippe en Senecio’s.

Na die linkerkant, suid dus, ‘n onvergeetlike uitsig oor die platorand op die res van vredige Tanzanië ver, ver onder ons. Maar, ons het nie baie tyd gehad om ons aan al hierdie uitsigte te verwonder nie, want ons moes verder. Pole-pole is wel lekker stadig, maar dit hou jou ook lank besig.

In die loop van die dag het ons ’n bietjie gedaal, want die klim teen die muur uit was tot op ’n redelike hoogte. Die grootste deel van die stap was deur ’n landskap baie dieselfde as tydens die afdaling van Lava-tower na Barranco-kamp die vorige dag. Klip, sand en Senecio en hier en daar Lobelia.

Dit was vir my ’n rustige stap, drie uur lank en toe staan ons voor die laaste stuk teen die steilte uit na Karanga-kamp.
Op een plek het MK wel gegly en geval tydens ’n afdaling in ’n stroom water. Hy het sy hand en twee van sy vingers oopgesny op die vlymskerp lawa wat oral rondlê.
Die gids was baie opgewonde oor die voorval, want dit het hom die kans gegee om sy medisyne-trommel uit sy rugsak te tower en MK moes net keer of sy hand is kort bokant sy elmboog afgesit deur die oorywerige gids wat sy eerstehulp-vaardighede wou laat sien. Met vyf yslike pleisters en sy arm tot duskant sy kennebak in jodium gedoop kon hy toe sy tog voortsit.

Daar was twee roetes teen die bult op. Die een aan die linkerkant was langer, maar gelykmatiger en die een aan die regterkant was reguit teen die bult op, maar wel baie korter. Ek was in ’n goeie bui en MK het ten spyte van al die pleisters en jodium saamgestem dat ons die reguit roete teen die bult op moes neem.

Na ’n halfuur lank se steil stap teen die bult uit was ons bo. Uitasem en met kloppende hoofpyne, maar baie tevrede met onsself staan ons toe by die welkomsbord van Karanga –kamp op 3950m.
Karanga-kamp lê, anders as die ander kampe, teen ’n baie skuins helling. Alles in die kamp is dus skuins. Die tente is opgeslaan op stukkies grond en klip wat ’n bietjie gelyk gekrap is, maar nog steeds behoorlik skuins.

Op ’n vreemde manier beïnvloed dit jou ewewig as alles skuins is. Mens probeer onbewustelik die hoek van 90 grade te behou ten opsigte van die grond en al die objekte om jou heen. Maar as alles skuins staan is dit baie moeilik om jouself dan regop te hou. Veral met die eerste uitkruip uit die tent teen die skuins helling. ’n Paar van ons het soms onbeheerd tussen die klippe deur teen die helling afgestorm voordat ons ons balans weer kon vind.

Karanga het in elk geval die toilet met die beste uitsig in die hele wêreld. Op 3950m op die rand van ’n plato wat uitkyk oor Tanzanië staan een van die smerigste toilette op hierdie planeet, maar met ’n uitsig wat jou laat vergeet van al die reuke wat onder jou uit die gat opstyg. Hy het geen deur nie en dit is wat jy sien as jy daar hurk:

Ek het daar my beste motion van die hele tog beleef. Op my hurke oor die smerige gat in die grond, maar uitkykend oor een van die mooiste tonele wat ek nog gesien het. As my kuite nie so moeg geraak het nie sou ek die heel middag daar bly sit en staar het.

Ons het die middag-donderstorm in die eettent deurgebring waar ons die dag se gebeurtenisse met mekaar bespreek het. Daarna het almal ’n bietjie gaan rus en was ons teen halfses al baie gereed vir aandete.
Sue het net voor die reën in die kamp aangekom en almal was baie verbaas om haar te sien. Haar knieë het geen probleme meer gegee nie en sy was vrolik en baie opgewek. Ek weet nie wat Deo met haar aangevang het nie, maar daardie middag was sy van plan om die hele roete tot aan Uhuru-peak saam te stap.

Na aandete het ons soos gewoonlik die volgende dag se program bespreek. Selfde verhaal as elke dag. Halfsewe opstaan, sewe-uur ontbyt en halfagt begin stap Barafu toe. Barafu is die basis-kamp waarvandaan ons die volgende nag om twaalfuur sou vertrek om die top van Kilimanjaro te beklim. Die ware jakob het steeds nader gekom en almal het al die senuwees voel knaag.

In die tussentyd het Kibo agter ons gestaan en in die vroegaand het die sneeu soos gesmelte staal gelyk wat teen die berg afloop. Ek het my bly verstom oor al die karakters wat Kibo al laat sien het in die paar dae dat ons teen die berg was.

Die stap van die volgende dag sou ook ongeveer drie uur duur, maar ons sou styg van 3950m tot 4600m. As hoogtesiekte ’n probleem sou word sou die volgende dag die bewys lewer.
Ek het my wel bietjie begin bekommer oor M, een van die broertjies. Hy was op dag 2 al siek, maar nou was hy weer siek. Hy was naar, het gekla van hoofpyne en was duiselig. Deo het hom Diamox gevoer en vroeg bed toe gestuur om te gaan slaap.

Die res van ons het so teen agtuur bed toe gegaan. Op hierdie stadium was MK en ek altwee al redelik goed gefermenteer. Die reuke wat uit ons en ons klere gewaai het moes iets vreesliks gewees het vir ’n skoon mens om te beleef, maar ons het nie juis las gehad daarvan nie. Altwee van ons was omtrent ewe vuil en solank ons nie geweet het wie se stank ons ruik nie was dit geen probleem nie. In Karanga het ons ons laaste warm waswater gekry, omdat op Brafu geen water is nie. Drinkwater sou saamgedra word Barafu toe, maar daar sou geen luukses wees soos om jou hande te kan was nie.

Snaaks genoeg het die porters ook al genoeg gehad van Prabu se snorkery. Prabu en Ranjit se tent het so eenkant teen die skuinste gestaan weg van al die ander tente af. En baie ver weg van die porters se tent af. Ons het almal geglimlag oor hierdie nuwe maatreël, want dit was duidelik dat die porters nie langer lus was om na sy snorkery te luister nie.

Die slapery op die skuins grond het nie vir my gewerk nie, maar ek het sekerlik ’n paar uur weggedommel die nag. Veral omdat ons nie na Prabu hoef te geluister het nie.