Maanskadu

as die volmaan soos vanoggend vroeg

geel en bottervet

laag deur sneeubewitte boomtakke

oor witgeskrikte sneeuland lê….

hoor ek die roepstem uit die skaduland

wat trek aan my siel

en pluk aan my hand

om in swart-wit bosse my spoor te gaan hardloop

te huil soos ‘n wolf en wild te wees….

my band met die kosmos te vier

op hierdie vreemde manier

en ek sal lyk soos ‘n honger spook

en klink soos ‘n vals klavier

maar ver van stad se rook

maan op my gesig

sterre in my oë

lag in my mond

sal ek veertjielig soos ‘n skadugees

kaal tone in mosgrond

weer die kind kan wees….

Net voor ek vrek van die koue.

Djonk

Skielik het hy net daar gestaan. By die hek, hoed in die hande.

Dit was 35 grade die middag in ‘n lang vergete Desember en ek was besig om in die gloeiende son die huis se dak te verf. Die son het my gebrand, my arms en bene was vol turkoois verf en my rug en bene was seer van die skuins staan teen die dak. Ek was dors en moeg en ek het gewoonlik sommer so ongeduldig van die dak af geskree dat ek geen hulp nodig het nie, dankie, en dan verder gewerk. Maar uit respek vir die ou man het ek van die dak afgeklim en hek toe gestap.

Hy was ouer as ‘n klip, met die grys peperkorrels, en plooie soos ploegvore oor sy donker gesig. ‘n Ouderdom wat nie in mensjare getel kan word nie. Sy hande was nog ouer. Benerig, oorgetrek met vernielde bruin leer en met knopperige kneukels het hulle ‘n laphoedjie vasgehou. Maer, knopperige skouers. Stukkende skoene wat ‘n duisend myl geloop het onderaan twee maer, krom bene. Maar die glimlag….. so ‘n tandelose glimlag wat die warmte van die son om jou hart vou. ‘n Glimlag wat uit sy siel kom, oorloop deur sy oë en in duisend plooie oor sy gesig stroom. Wat jou dwing om saam te lag.

Op my vraag of ek hom kon help het hy aangebied om die dak vir my te verf. Met daardie skitterende glimlag op sy gesig het hy gesê dat die son my nog sal doodbrand daar bo.

Ek het gesê dat ek nie in die skaduwee kan sit en kyk hoe verf ‘n ou man my dak nie. Waarop hy hartlik gelag het, met ‘n knopperige hand oor sy maag gevryf en gesê het: “Meneer, die hongor hy maak my djonk!”, terwyl hy benerig op en af gespring het.

Ek het hom nie my dak laat verf nie. Maar ek dink gereeld aan die ou man wat so baie jare gelede djonk was voor my hek. Ek weet nie wat sy naam was, waar hy vandaan gekom het of waar hy heen gegaan het nie. Maar ek dink aan die glimlag. En hoe lekker daardie glimlag my laat voel het. Dan wonder ek of hy nog djonk is. En dan hoop ek dat ek op daardie leeftyd nie djonk hoef te wees nie.

Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense

Hierdie is ’n onderwerp waaroor meeste van ons van tyd tot tyd worstel. Waarom is dit soms asof die lot soos weerlig slaan. Ongeag persoon, geloof, kleur, geslag, banksaldo of enige ander kriteria waarvan ons mense bewus is. Uit die niets word jy of iemand wat jy ken, dikwels die een persoon wat volgens jou dit die minste verdien, in die gesig getref deur die hamer van die lewe. En soms herhaaldelik.

Dit is asof ons mense soos poppe op ’n draaiende fabrieksband staan en willekeurig word een van ons van die band gepluk en verniel. Soms word hy dan heeltemal gehawend op die band teruggeplaas en soms selfs heeltemal nie.

Ek lees nou die dag ’n stukkie deur Aron Moss, ’n Joodse Rabbi in Australië wat vir my pragtige duidelikheid gegee het op hierdie vraagstuk.

Sy antwoord is in kort dat ons dit nie wil weet nie. Want die implikasies wat die kennis van die antwoord inhou is verskriklik.

Solank ons nie weet waarom onskuldige mense onreg moet verduur nie pla dit ons. Solank ons dit nie weet nie word ons kwaad en hartseer daardeur. En dit is die manier hoe dit moet wees. Want solank dit ons pla is ons betrokke. En solank dit ons kwaad en hartseer maak reik ons uit na mekaar en probeer ons om die onreg te bestry en weg te neem. Enigiemand met selfs maar ’n greintjie gevoel vir regverdigheid word woedend by die aanblik van al die onreg en lyding van onskuldige mense in die wêreld om ons.

Maar dink ’n oomblik na oor wat sal gebeur as ons ewe skielik die antwoord op hierdie vraagstuk te wete sou kom. Stel dat iemand opstaan wat vir ons almal met ’n bevredigende verduideliking kan uitlê waarom dit is dat oënskynlik onskuldige en opregte mense die mees onmenslike en verskriklike lyding moet deurmaak terwyl dikwels die slegste mense met ’n lied in hul hart deur die lewe huppel sonder dat maar iets vir hulle skeefloop.

As ons hierdie antwoord sou ken sou ons vrede kon maak met die lyding van die onskuldiges. En dit is ‘n ondenkbare gedagte. Dit sal verskriklik wees as dit gebeur. Die enigste wat erger is as die lyding van onskuldiges is mense wat dit aansien en nie geraak word daardeur nie. En dit is wat sal gebeur as ons ewe skielik sou verstaan waarom onskuldige mense moet ly. Dit sal ons nie langer pla nie want ons sal die redes en die prosesse verstaan. Ons sal nie langer stilstaan by die lyding van ‘n ander nie omdat ons kan verduidelik wat die oorsaak en gevolg daarvan is. Ons sal in staat wees om lyding en onreg te rasionaliseer. Onreg sal ophou om onreg te wees. Die kennis van die antwoord sal ons laat ophou soek na die oplossing vir die probleem.

Stel jou voor jy stap in ’n hospitaalgang af. Uit ‘n kamer kom die onmenslike gille van ’n vrou wat verskriklike pyn moet verduur en in die gang staan die familie en vriende van die vrou en lag en gesels vrolik. Wanneer jy vra waarom hulle so vrolik is terwyl die vrou daarbinne soveel pyn deurmaak sê hulle dat dit die kraamsaal is. Sy kry ’n baba daarbinne en dit is waarom hulle so vrolik op die gang staan en gesels.

Ewe skielik is die pyn van die vrou in ’n ander perspektief gestel. Nou is dit glad nie meer so erg nie want ons verstaan die probleem en ons kan die lyding van die vrou relativeer en aanvaar. Tien teen een glimlag jy, wens hulle geluk en stap weg sonder om verder daaroor na te dink. Dit terwyl ‘n vrou helse pyne deurmaak op tien meter afstand van jou af.

Daarom, as ons sin kan maak uit die lyding van onskuldige mense, as ons die tragedie wat mense moet beleef kan rasionaliseer, kan ons daarmee saamleef. Ons sou gevoelloos kon luister na die gegil van onskuldige kinders wat pyn ly. Ons sou die lyding en stadige dood van ’n kankerlyer kon rasionaliseer en dit sou ons nie meer so diep raak nie. Ons sou gebroke harte en verskeurde lewens kon verdra omdat ons dit sou kon wegverduidelik. Die vraag sou beantwoord wees en ons sou verder kon gaan met ons lewens.

So lank soos die pyn en lyding van die onskuldiges ’n brandende vraag in ons harte bly sal dit ons bly pla. En so lank ons dit nie kan wegverduidelik nie sal ons dit moet probeer verlig. So lank as die lyding van die onskuldiges nie pas in ons beeld van die wêreld nie sal ons dit moet beveg. Eerder as om hulle lyding en pyn te regverdig sal ons daarvan ontslae wil raak. So lank soos ons nie verstaan waarom dit gebeur nie sal ons bly soek na oplossings vir die probleme.

Hou daarom aan om die vraag te vra. Maar hou op om die antwoord te soek en probeer om op ’n gepaste manier te reageer daarop. Neem daardie teregte woede en gebruik dit om goeie dinge mee te doen. Put energie uit die frustrasie oor die onreg en gebruik daardie energie om dieselfde onreg te beveg. Gebruik die woede om tot aksie oor te gaan. Verlig lyding oral waar jy gaan.

Ons het die antwoord nie nodig nie. Ons het nie nodig om te verstaan waarom nie. Ons het nie nodig om hierdie dinge te kan verduidelik nie. Wat ons nodig het is om dit nie te verstaan nie en om dit nie te kan wegverduidelik nie. Ons het nodig dat die lyding van onskuldiges ophou. En dit is aan ons om daarvoor te sorg.

Voel in jou hart die pyn van hulle wat ly. Leef saam met die wat onreg moet verduur en staan sy aan sy met hulle wie se lewens verwoes word op oënskoulik willekeurige manier. Want dit is die enigste manier om teen die onreg wat ons nie verstaan nie te veg.

Brief aan my ouers

My liewe ouers,
ek skryf hierdie brief aan julle om julle te laat weet dat dit met my goed gaan. Ek is op ’n plek in my lewe waar ek tevrede is met wie en wat ek is en dit het ek aan julle te danke.

Nou dat julle in die herfs van julle lewe is groei by my die behoefte om vir julle te sê dat julle goeie ouers is. En om my dankbaarheid aan julle te betuig vir al die moeite, liefde en geduld wat julle soveel jare lank al in julle kinders, skoonkinders en kleinkinders steek. Vir al die onbaatsugtige en onbenoemde offers wat julle jul lewens lank al bring om vir julle kinders die lewe beter te maak.

Julle hande is dun, jul lywe moeg en jul hare grys van baie jare se klipharde werk om die beste vir julle kinders te kon gee.

Ek besef nou dat alles verganklik is. My lewe lank het ek julle as ’n onlosmaaklike deel van my pad gesien. Vir so lank het ek my geen oomblik kon voorstel dat een van julle of selfs altwee op ’n dag my lewe sou verlaat nie. Het ek nooit eers daaroor nagedink dat ek eendag die pad self sal moet loop nie. En het ek julle as vanselfsprekende deel van my lewe aanvaar. Maar ek verstaan nou ook dat dit ’n keer gaan ophou. Ek verstaan nou dat ek op ’n dag nie meer die telefoon sal kan optel om met julle te gesels nie. Daarom is dit vir my belangrik om hierdie dinge vir julle te sê terwyl ek dit nog kan doen. Sodat ek nie eendag spyt is oor wat ek nie gesê het nie.

Baie jare gelede is ek aan julle gegee om te versorg, op te voed en groot te maak. ’n Taak wat julle met ywer en oorgawe aangepak het en waarin julle nie een oomblik getwyfel, gehuiwer of versaak het nie. Van my kant af het ek nie altyd my bes gedoen om dit vir julle maklik te maak nie. Inteendeel, ek het julle soms voor baie groot ouerlike uitdagings gestel, maar elkeen daarvan het julle met die wysheid en geduld van engele benader en opgelos. En my steeds in liefde onderrig en op die regte pad gehou al wou ek soms soos ’n ongeleide projektiel die verkeerde rigting in spat. Geduldig het julle my elke keer aan die hand gevat en uit die gutter getrek. En met ’n eindelose vergewingsgesindheid kon ek elke dag by julle op ’n skoon lei begin.

Julle het lyf en lede nie ontsien om my te bied wat ek nodig gehad het vir ’n normale, gesonde ontwikkeling nie.
Ek het sorgelose, vrye kinderjare gehad waaraan ek gereeld met ’n mooi gevoel in my hart terugdink. En hierdie herinneringe is omraam met julle glimlaggende gesigte. Wanneer dit moeilik met my gaan is dit waarheen ek vlug. En ek weet dat die rusplek altyd daar sal wees vir my, tot ek my kop vir die laaste keer neerlê.

Julle het altyd die goeie voorbeeld aan my gestel. Julle het my respek geleer. Die foute wat ek gemaak het is my eie. Die verkeerde keuses wat ek gemaak het het ek nie by julle geleer nie. Die krom draaie wat ek geloop het is nie julle skuld nie, maar my eie besluite gewees. Wat verkeerd geloop het in my lewe is op geen manier aan julle te wyte nie.
Daarenteen, dit wat ek goed gedoen het in my lewe is regstreeks terug te voer op lewenslesse wat ek van julle geleer het. Die goeie keuses wat ek in my lewe gemaak het het ek stuk vir stuk by julle afgekyk. Die dele van die pad wat ek reguit stap is wanneer ek julle voetspore volg. Alles wat reg loop in my lewe is aan julle te danke.

Vandag het ek en Maraai self die opvoeding van twee kinders (amper) agter die rug. Julle kleinkinders in wie se lewens julle ’n onskatbare rol speel. En as ek kyk na die pad wat ek met my twee kinders geloop het sien ek dieselfde patroon. Die foute wat ek met hulle opvoeding gemaak het is nie foute wat ek by julle geleer het nie. Dit is my eie foute. Maar elke goeie ding wat ek my kinders kon saamgee op hul lewenspad het ek by julle gekry. Tog verstommend hoe baie van die dinge waarvan ek myself voorgeneem het om nooit aan my kinders te doen nie ek tog wel gedoen het en hoe tevrede ek is met die resultaat.

Julle het my vrou aanvaar as julle kind. Julle het haar onvoorwaardelik in die familie opgeneem en geen oomblik het ons die gevoel gehad dat sy nie honderd persent deel is van ons familie nie. Sonder om vrae te stel of te oordeel het julle haar ouers ook geword. Met alle verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan. Ons kan nie eens begin om ons respek, dank en waardering hiervoor onder woorde te bring nie.

Almal wat julle ken weet dat julle soms deur diep en donker dale moes gaan. Dat julle jul knieë deurgebid het om genade te kry. En dat dinge nie altyd maklik was nie. Dat die lewe diep en hard gesny het aan julle. Maar julle het nooit opgegee nie. Julle het standvastig die regte ding bly doen. Selfs as die tonnel lank en donker was en die moeras diep.  Onwrikbaar, geduldig en lydsaam het julle die pad bly wandel wat julle geweet het die regte pad was. En dit doen julle vandag nog. As voorbeeld vir julle kinders, skoonkinders en kleinkinders.

En ons woon nou ver van julle af. Ons sien julle min en dit is vir julle en vir ons erg. Maar julle is nie minder duidelik aanwesig in my lewe nie. En die afstand verminder nie ons liefde vir julle nie. En vervaag ook nie ons herinneringe aan julle nie. Inteendeel, die afstand bring julle in my hart nader aan my.

Julle staan nog steeds trots en fier op my horison. Soos bakens langs my pad. Waarmee ek myself kan oriënteer as ek nie meer lekker weet waarheen nie. En julle skaduwees sweef lank en breed oor die vlakte van my lewe. Dit is waar ek verkoeling kry as die son van die lewe te warm brand. Dan gaan ek op julle voete staan net soos toe ek klein was en dan hou julle my hande weer vas en loop ons saam klein treetjies.

Baie liefde,

Julle seun

Dood van ‘n vriendin

Ons is in ses maande tyd gekonfronteer met die dood van twee vriendinne aan kanker. Altwee pragtige, jong vrouens in die fleur van hulle lewe. Mense van wie jy as jy hulle op straat sou teëkom, nooit sou vermoed dat hulle die volgende slagoffers van die groot K sou kon wees nie. Een laat haar man en baba van vier maande agter en die ander een haar man en lewensmaat.

In die afgelope week het ons groot skrik gevang met iemand baie naby aan ons.

En in die proses het ons gesien wat die dood van ‘n lewensmaat doen aan die een wat agterbly. En hoe die pyn en gemis hulself in jou gesig ingrawe, totdat wat oorbly die frons en die wrang trek om die mond is. Rooi oë met ‘n wilde, desperate uitdrukking. Hoe die mans probeer om dapper en sterk te bly deur alles wat gebeur het, terwyl hulle stukkend is. In die gutter sit. Ook dat daar niks is wat enigiemand vir hulle kan doen nie. Nie eens die naaste familie of beste vriende kan die pyn versag nie. Net so min as wat daar ‘n wetenskaplike formule was om hul vrouens se lewens te red, so min is daar ‘n formule wat hulle pyn kan laat verdwyn en hulle lewens wat totaal ingestort het weer rigting kan gee.

Dit is die harde realiteit waarmee hulle gekonfronteer word. Die realiteit van lewe en dood. Die feit dat ons almal op ‘n keer dood sal gaan. Dit is die enigste sekerheid wat ons in hierdie lewe het. En dat jy dan self deur die pyn en verlies heen moet worstel en probeer om die skerwe van jou lewe op te tel en daar iets sinvols mee te doen. Terwyl die wêreld om jou aangaan asof niks gebeur het nie. Want tyd staan nie stil nie en dit wag vir niemand nie. En hierdie tydkapsule waarin ons gevange sit jaag onverbiddelik voort op sy reis deur die ruimte en sleur ons almal mee na ons onvermydelike bestemming. Ons afspraak met ons Maker.

Vir my is dit maklik om hierdie dinge te sê. Ek is die eerste wat dit sal erken. Ek is nog nie deur so ‘n verskriklike diep swart gat nie. Ek het nog net in die verte langs die dal van doodskaduwee gestap, nooit deur nie. Op ‘n afstand gekyk en die verskrikking en pyn op ‘n ander se gesig gesien. Maar om een of ander rede laat hierdie gebeurtenisse my nie los nie. Ek is baie diep geraak deur wat met my vriende gebeur het. Mense van ons ouderdom, onafskeidelik en na byna 23 jaar nog net so verlief op mekaar soos toe dit alles vir hulle begin het. Hulle het so ‘n einde nie in hulle wildste nagmerries kon voorstel nie.

Wat my die meeste geraak het is die hoeveelhede mense wat dan hulle betrokkenheid toon. Mense wat aangeraak is deur die lewe van so ‘n persoon. Een van die grootste begrafnisse waar ek nog was was die van ‘n gestremde seuntjie wat nie kon praat nie. Hele kerke vol met vriende en familie, sale vol mense wat gekom het om ‘n laaste eer te bewys aan ‘n vriendin, kollega, buurvrou of kennis. Almal mense wat met ‘n handdruk, skouerklop en ‘n paar woorde kom sê dat jy nie alleen op die wêreld agtergebly het nie. Al sweef jy op daardie oomblik bo ‘n donkerswart put. Elke keer wonder ek so half bekommerd hoeveel mense sal kom as ek daar lê. Hoeveel mense het ek met my lewe aangeraak?

En ek kan my die verskriklike donkerte waarin die wat agterbly nie voorstel nie. Ek weet nie hoe jy slaap in die nag nie en as jy tog slaap, hoe word jy wakker? En as jy wakker word, hoe staan jy op? As jy opstaan, wat doen jy dan? Waaraan dink jy die heeldag? Wat gaan in jou gedagtes om en wat sien jy as jy jou oë toemaak? Hoe moet dit wees om om te draai in ‘n leë bed? Hoe kom jy tuis in ‘n stil, donker huis? Wat maak jy om te eet en hoe eet jy alleen? Hoe was jy daardie een bord, een mes, een vurk en een koppie, droog dit af en pak dit weg?

Die ergste van alles, wat doen jy met jou maatjie se goetertjies? Want op ‘n dag moet daar opgeruim word. Hoe gaan jy deur die laaie, kaste, bokse en rakke en besluit wat gaan en wat bly? En van dit wat gaan, waar gaan dit heen? En wat doen jy met dit wat bly?

Hoe verander jy jou status van getroud na wewenaar/weduwee? Op amptelike dokumente, elektroniese stelsels, krogte van die internet waar jou lewe geregistreer en bewaar en vasgelê is staan jou maatjie langs jou. Hoe maak jy jouself weer enkel, skeur jy jouself los van al die bande wat jou bind aan iemand wat nie meer daar is nie. Hoe lank duur dit voor jy weer enkel is.

Hoe gaan jy om met vriende, kennisse en familie wat jammer is vir jou en op onhandige, maar menslike maniere probeer om jou pyn te versag? Wat sê jy vir ou kennisse wat jy raakloop en wat vra hoe dit gaan? Hoe besoek jy familiebyeenkomste alleen? Hoe reageer jy as iemand ‘n grap maak oor siekte of die dood?

Hoe bly jy glo in dit wat jy altyd geglo het? Weet jy nog so seker al die dinge wat jy altyd met soveel sekerheid geweet het? Hoe bid jy?

En hoe bly jy ten midde van dit alles nog steeds ‘n rots van beskerming en stabiliteit vir die kinders wat ‘n ouer verloor het? Kinders wat in soveel opsigte hul moeder in hulle dra.

Want werklik, mense doen dit en kry dit reg. Ek weet net nie hoe nie. Ek weet ook dat miljarde mense ons al voorgegaan het in hierdie proses en dit oorleef het. Dat alles wat met ons gebeur al ‘n keer met iemand gebeur het. Dat hele oerwoude se bome al gekap is om genoeg papier te produseer vir al die boeke wat oor die onderwerp geskryf is. Maar ek dink dat elke keer dat dit gebeur, maak nie saak met wie en waar op die wêreld nie, elkeen sy eie pad moet vind deur die onvermydelike doolhof van pyn, smart en donker depressie wat so ‘n gebeurtenis vergesel.

Op ‘n vreemde manier word deur die dood juis die essensie van ons lewens blootgelê. Ons verskriklike kwetsbaarheid en ons byna onbeperkte kapasiteit om met ons hele hart en wese iemand lief te hê. Of dit nou vriend, vriendin, man, vrou, kind of verlangse familie is. Op so ‘n manier dat afskeid deur die dood fisiek pyn veroorsaak. Dat ‘n genesingsproses van weke, maande en soms jare nodig is om ‘n roof oor die wond te laat groei en dat die litteken daarvan nooit verdwyn nie.

Rafiki laai die kinders af

Rafiki was ‘n regte mannetjieshond. Karre was vir hom onweerstaanbaar. As gevolg van sy grootte was dit nooit maklik om die ou saam te laat ry in die 323 nie, omdat daar meestal saam het hom nog twee klein dogtertjies op die agterbank moes sit. Maar dit was vir hom geen rede om nie elke truuk in die boek uit te haal om saam te gaan as ons ry nie. Hy was per slot van sake die dogters se beste vriend en het glad nie omgegee om sy bank in die kar met hulle te deel nie.

Rafiki se teenwoordigheid in ‘n 323 was om die minste te sê ‘n bietjie oorweldigend. Hy het die helfte van die agterbank vol gesit, met sy kop aan die dak geraak en sy krokodilbek met druppende lang pienk tong het oor my skouer geloer as ek bestuur het.

Die groot probleem was eintlik meer dat alles wat hy gesien het vir hom baie interessant was. Wanneer hy heen en weer beweeg het oor die agtersitplek het die 323’tjie saam oor die pad geslinger van sy gewig. Die ergste was as ons langs ‘n taxi gestop het by ‘n stopstraat. Dan het hy die binnekant van die 323 omtrent verbou in sy verwoede pogings om by al daardie koerantbesorgers uit te kom wat in die taxi langs ons sit.

Desondanks was daar tog geleenthede wat Rafiki saam met ons êrens heen gery het. Dit was gewoonlik noodgevalle of anders simpelweg gevalle van intimidasie en gatkruipery wat gemaak het dat ons hom nie kon weier nie.

Hy het een kunsie gehad met Maraai wat vir hom beskeie sukses opgelewer het. Ek was meestal soggens al weg teen die tyd dat sy klaar was vir werk. Sy het dan die kinders by die kleuterskool gaan aflaai voordat sy werk toe gery het. Dit was natuurlik nadat sy haarself pynlik netjies aangetrek en mooigemaak het vir die dag se werk.

Wanneer sy die 323 dan by die hek uitgetrek het en uitgeklim het om die hek weer toe te maak het Rafiki soms by haar verbygeglip en blitsvinnig in die kar gespring. Al haar pogings om die reuse-terrier uit die kar te kry het op niks uitgeloop nie. As sy die deur oopmaak om hom uit te haal skuif hy net oor na die ander kant toe. Stap sy om na die ander kant van die kar dan skuif hy weer terug. Leun sy in die kar in om hom aan sy halsband uit die kar te trek dan knor hy saggies en lig die lip so ‘n bietjie op. Nie dreigend nie, maar wel met ‘n duidelike boodskap. Ek ry saam, raak maar gewoond daaraan.

Die uiteinde van die saak was dan dat sy die kinders in die kar moes laai, kleuterskool toe ry om hulle te gaan aflaai met Rafiki wat geduldig op die agterbank saamry en daarna eers weer huistoe ry om hom te gaan aflaai. Wanneer sy tuisgekom het het hy dan sonder probleem uitgespring en tevrede huistoe gegaan, sodat sy werk toe kon gaan.

Haar frustrasie was dan gewoonlik al teen kookpunt, want die tyd in die oggende was gewoonlik redelik fyn gesny en daar was min tyd vir speletjies met ‘n groot hond wat hom soos ‘n bederfde tiener gedra.

Wanneer sy my gebel het om by my te kla hieroor het ek dit altyd amusant gevind, maar agteraf besef ek hoe groot die frustrasie was wat sy beleef het met die oversize hond in die undersize 323. Die kinders was in elk geval altyd baie opgewonde as Rafiki hulle by die skool gaan aflaai het. Ek het saans dan in kleur en geur die verhale en avonture beluister wat hulle beleef het met hulle beste vriend op die agterbank.

Oudste

Oudste het vir ons kom kuier. Vir die volgende drie weke beleef ons weer die plesier van haar geselskap en ’n voltallige gesinnetjie. Dit is baie lank vandat ons al vier onder dieselfde dak was en dit is heerlik.

My donkeroog mooinooi met die maklike glimlag en die klokkie in die stem.

Sy het drie jaar gelede Suid Afrika toe getrek om daar te gaan studeer. Die voorspelbare verliefdheid het haar getref en nie lank daarna nie die onvermydelike besluit om daar te bly. Sy woon en werk nou daar en dit lyk nie of sy op kort termyn planne het om terug te kom hierheen nie. Dit is vir ons almal ’n swaar pil om te sluk, maar die besluit is hare. Sy is gelukkig daar en sy doen wat haar gelukkig maak. En ons het haar altyd aangemoedig om selfstandig te wees.

Iets meer as 22 jaar gelede het Maraai my een oggend so teen halfvyf wakker gemaak met die stellige boodskap dat dit “tyd” was. Ek het maar moeilik gebyt, want dit was twee maande te vroeg vir die “tyd”. Ek sal hier nie die hele verhaal van daardie oggend vertel nie, behalwe dat ek ‘n handboek kan skryf oor wat om nie te doen as jou vrou vir jou sê dat dit tyd is nie, maar ’n paar uur later lê sy toe daar in die Marifont in Sunnyside met ’n piepklein babatjie. Loshande die mooiste pasgebore baba wat daar ooit was, tot ’n paar jaar later, toe daar nog so ’n mooi baba gebore is.

‘n Paar dae later lê ons in ons woonstelletjie in Sunnyside die klein bondeltjie op ons dubbelbed neer en staan half verdwaas daar na haar en kyk. Dit was tegelykertyd die mooiste en die mees angswekkende oomblik van my lewe. Die besef dat daardie klein kindjie aan ons toevertrou is en die insig in my ongelooflike groot onvermoeë.

En nou, 22 jaar later, stap ek in my sitkamer in en daar sit ’n pragtige mooi, jong vrou op my bank en ek kyk nog steeds soms met dieselfde mengsel van verwondering en angs na haar as op daardie een dag 22 jaar gelede. Want ek verwonder my oor hoe verskriklik goed dit gegaan het ten spyte van my onvermoeë en ek bewe as ek dink aan wat alles fout kon gegaan het vanweë daardie selfde onvermoeë.

Want ek het by God genade gekry. En ’n engel van ’n vrou. Wat op een of ander manier al die antwoorde ken. En wat lief is vir my. En twee pragtige dogters wat baie maklik grootgeword het. Eintlik het ek nie so vreeslik baie gedoen anders as om in die buurt rond te hang en af en toe kwaai te kyk nie. En my ontelbare foute is my nie aangereken nie. Al wat vir my oorbly is om stil te wees en nederig.

Ek kan met alle eerlikheid vandag sê dat ek dankbaar is. Vir al die moois in my lewe en vir alles waarmee ek geseën is en vir die manier waarop die meetsnoere vir my geval het. Dit kom deur die mense wat hulle lewens met my deel.

As ek vandag sou doodgaan sal ek as ’n gelukkige mens doodgaan. Laat almal dit weet.

Swanewales

By ons in die buurt, langs een van die kanale is ’n paar swane wat ongeveer die afgelope tien jaar elke lente hulle kinders hier kom maak, uitbroei en grootmaak. Dit is van die groot modelle, ’n soort supersize. Die mannetjie kyk my vierkant in die oë as hy regop staan en mevrou is nie veel korter nie. Werklik intimiderende voëls.

Swane is monogamiste. Dit beteken dat hulle, anders as die meeste mense, een partner kies en die res van hulle lewe met daardie partner deurbring. Deur sonskyn en reën, voorspoed en vrot eiers bly hulle hul lewe lank by mekaar.
In die winter spandeer hulle hule tyd op die oop Nederlandse vlaktes in groot swerms, maar as die lente begin gaan soek hulle hul gunsteling broeiplek op.

In die geval van hierdie twee by ons is dit die kanaal se oewer hier agter ons huis.
En dan begin Ma op die eiers te broei en Pa loop daar in die buurt rond en soek stront met almal wat hy teëkom. Dit is wanneer ’n mannetjieswaan op sy moeilikste is. Ek ken niemand wat die cojones het om met ’n bedonderde mannetjieswaan moeilikheid te gaan soek nie. Selfs die groot honde hier in ons buurt neem hulle base na die oorkant van die straat toe as hulle vir meneer op de sypaadjie sien staan met sy gepofte vere en rooi ogies.

Hy laat my dink aan die ou wat jy soms in die kroeg teëkom. Die tipe ou wat vir jou sê: “Hey, kyk jy vir my girl?!” En as jy sê nee dan sê hy: “So, jy sê my girl is lelik!”
Jy weet net jy gaan k@k optel met so ’n ou, maak nie saak wat jy sê nie.

Vanmiddag weer so ’n tipiese voorbeeld. Pa swaan besluit die lekkerste plek vir hom om te lê is in die middel van die pad. Dit is ’n besige pad, onder andere ’n busroete loop hier langs. Die teer is seker lekker warm of iets, maar daar kry hy toe sy lê. En hy wyk vir niks en niemand en hier is niemand wat die balle het om hom te vra om pad te gee nie. Selfs die busbestuurder nie. Hy moes die bus met al sy bestuursvernuf oor die sypaadjie en om die swaan heen maneuvreer terwyl die swaan hom die heel tyd giftig lê en aankyk.

Toe kom daar ’n mevroutjie aangery met so ’n klein Corsatjie. Sy hou toe by hom stil en ek weet nie mooi wat sy gedink het nie. Sy klim uit en probeer die ou toe met sulke vroulike sjoe-sjoe geluidjies en armgebaartjies van die pad afjaag. Seker bang iemand ry hom raak.

Maar dit is presies waarvoor ou bokbek daar lê en wag het. Iemand wat met hom moeilikheid soek. Hy spring op en jaag haar sonder seremonie terug in haar karretjie in. Die hakkies klap op die teer en die haartjies vlieg heen en weer soos sy voor probeer bly. Dit was nou iets om te sien…. Die deftige mevroutjie met haar hoë hakkies wat alle skyn van waardigheid prysgee terwyl sy so vinnig as moontlik in haar karretjie probeer spring. En die groot swaan met uitgestrekte nek en vlerke wat al blasend en pikkend probeer om haar sykouse op te vreet.

Toe sy eenmaal veilig in die kar sit stap die groot swaan al om die kar en pik, byt, skop, krap en slaan die arme Corsatjie vol duike. En die hele tyd sis en blaas hy boosaardig terwyl hy haar met sy giftige rooi ogies aankyk. Sy het later versigtig weggery en toe het hy weer net daar op sy plek gaan lê.

Op hierdie stadium het die hele buurt al op die sypaadjie gestaan en kyk en ou bedonderd het boos in die middel van die pad gele en sis na ons toe.

Die twee swane is die mees besproke inwoners van die woonwyk, maar sekerlik ook die gewildste. Ou diknek loop die heel lente en somer hier rond en soek skoor met almal en hulle beskyt die omgewing met drolle waar jy nie in trap nie, maar oor val, maar ek dink nie daar is iemand hier wat hulle weg sal wil hê nie.

Van al ons buurtbewoners is dit in elk geval die twee wat vir ons die lente die duidelikste aankondig.

Wat sê mens?

Ek is in ’n snaakse bui vandag. Ek voel iets, maar ek kan dit nie vir myself goed onder woorde bring nie. As ek dus onsamehangend begin klets, vergewe my maar. Dit is nie jou skuld nie, maar myne. En as dit te erg word, in die regter boonste hoek van jou skerm is ’n kruisie. (Links as jy met ‘n Mac werk) Kliek daarop dan het jy skielik geen las meer van my nie.

Gisteroggend kwart-voor-vyf is die seun van ’n goeie vriend van my oorlede. Henkie was vyftien jaar en ernstig gestrem. Sy lewensverwagting was ongeveer tien jaar, maar hy het almal verbaas en deurgeveg tot vyftien.

Sy ouers is vir ons almal ’n toonbeeld van liefdevolle, sorgsame ouers wie se hele lewe bepaal is deur die wel en wee van hul jongste seun. Die liefde en deernis waarmee hulle Henkie versorg het het ons almal baie diep geraak.

En al het almal geweet dat dit ’n keer sou gebeur was sy dood nie minder van ’n skok vir hulle gewees nie. Ook die smart en pyn wat hulle voel is nie minder daardeur nie. Diep gelowige Christen mense, maar tog ervaar hulle die pyn van sy dood in volle maat. En al verseker almal hulle dat Henkie nou op ‘n “beter plek” is verlig dit nie die donker tonnel waardeur hulle nou moet loop nie. Al die beriggies oor Henkie wat nou ’n engeltjie geword het maak die smart vir hulle nie sagter nie.

Dit laat my met ’n vreemde gevoel. Is dit werklik die beste manier wat ons het om mekaar te troos? Het ons medelye met mekaar se hartseer al verval in clichés? Is daar niemand hier onder ons wat vir hulle kan verduidelik waarom dinge geloop het soos dit geloop het nie. En die antwoord is ook duidelik. Nee, niemand van ons verstaan genoeg om dit te kan verduidelik nie. En niemand van ons het die vermoë om hulle pyn weg te neem of selfs minder te maak nie. Hulle moet self deur hierdie moeras worstel en die beste wat ons kan doen is om aan die kant te staan en hulle aan te moedig.

En dan dink ek aan gisteroggend om kwart-voor-vyf. Ek het toevallig op daardie oomblik in my woonkamer sit en werk. Niksvermoedend en onbewus van die diep swart gat waarin my vriende besig was om te sak geen drie kilometer van my af nie.

Ek dink aan die 12-jarige Nederlandse meisie, Milly Boele wat twee weke gelede vermoor is deur ’n buurman. Haar ma het tien teen een op daardie oomblik staan en kook of voor die TV gesit. Sy was totaal onbewus van die moment toe geen vyftig meter verder haar dogter gesterf het.

Nie Henkie se ouers of Milly se ouers of enige ander ouer wat ‘n kind verloor het verstaan waarom dit gebeur het nie. En daar is niemand wat vir hulle kan verduidelik waarom nie. Niemand van ons kan hulle pyn verlig nie.

Blind, doof en stom is ons mense. Nie in staat om te onderskei wat aan die anderkant van ’n slap gordyn gebeur nie.

Ek dink dat dit is soos dit moet wees. En dat dit die beste is op hierdie manier. Want dit laat ons telkens besef dat ons eintlik maar nie verstaan nie. Dit is al wat ons nog enigsins nederig hou ten spyte van ons natuurlike neiging tot arrogansie en selfoorskatting.

Maar wat kan ek vir Henkie se ouers sê behalwe dat Henkie nou op ’n beter plek is? Dan sê ek liewer niks.