Ou vriend

Vanoggend het ‘n ou vriend weer sy opwagting gemaak. Toe ek buite kom was hy daar. Sy handskud was ysig, die punte van my vingers het begin tintel toe hy my hand vat. Hy het ‘n ysige arm om my skouers geslaan en saamgestap kar toe. Met sy ys-asem in sy kraakstem in my oor gefluister en vertel van die koue plekke waar hy die somer deurgebring het. Met knarsende voetstappe het ons in stilte verder saam gestap.

Terwyl hy vir my gewag het het hy ‘n wit deken oor die tuin geweef. Hardgevriesde spinnerakke hou struike aan mekaar vas. Die vensters van die kar het ‘n klipharde lagie van sy koue asem op en dit kos ‘n paar minute se harde krap om dit af te kry. Die lug is vuilpienk en deurkruis met vliegtuigstrepe. ‘n Sluierwolkie van suiwer goud het teen die horison vasgevries en ‘n dun miskombersie lê laag oor die wit landskap. Koperkleurige stoom  slaan op van skape se rue wanneer die eerste sonstrale huiwerig oor hulle streel. In die kanale lê die eerste dun lagie ys en die komende naweek word die eerste sneeu van die seisoen verwag. Koning winter is hier.

Ek en my ou vriend het eintlik ‘n liefde-haat verhouding. As hy ‘n tyd lank nie sy gesig gewys het nie begin ek hom selfs al ‘n klein bietjie te mis, maar wanneer hy kom kuier hy so verskriklik lank. Hy bring elke jaar vrolik tyding van ‘n mooi tyd wat aanbreek, groet jou elke oggend getrou by die deur, maar sodra die lekker dae verby is bly hy mistroostig en klam om die huis hang. Hy dring homself in elke krakie van jou menswees in en gaan lê soos ‘n nat kombers oor jou gemoed. Teen die einde van Januarie vervloek ek hom en probeer hom met geweld weg te jaag, maar hy bly soos ‘n bang hond terugkruip en sluip dan onder die voordeur in waar hy homself in die voorportaal versteek. Om aan jou bene vas te klou as jy verbystap.

Laat in Februarie skud jy al jou kop in ongeloof as jy sien hoe vashoudend die ou is. Dan is jou sinne al verdoof van die koue en jou stem vries sigbaar voor jou in die lug voordat hy krakend grond toe val. Die eerste sneeuklokkies het al teen die einde van Januarie geblom, maar hy het hulle al lankal woedend vertrap. Hy probeer witvoetjie te soek met kristalwit sneeu wat hy soos versiersuiker oor alles strooi en vir ‘n kort tyd verdryf die wit die swart uit jou siel, maar dan word alles weer gewoon….gewoon koud. Karre gly en slinger soos dronkaards oor die paaie en ‘n eenvoudige uitstappie met die fiets het ontaard in ‘n dans met die dood.

Hy het gekonkel met die son en die maan. Maanverligte nagte gebruik hy om deur die tuine te sluip en sy harde wit spoor van dood op alles agter te laat. Op helder sonskyndae gly hy geluidloos deur die strate soos ‘n gees wat jy net kan sien as jy op hom blaas.

Teen middel-Maart steek die eerste krokusse skamerig hul pers koppies deur die grond, gevolg deur die bottergeel narcisse wat halstarrig verset bied teen sy koue geweld. En stadigaan, êrens in April begin die dae langer te raak en die son meer warmte te bring. En dan sien jy dat hy sy koue lang vingers stadig terugtrek. Die ys op die kanale begin smelt, die voëls begin terugkeer van hul eksotiese vakansiebestemmings en die blomme bars uit die grond soos kinders na die laaste skoolklok. Dan kom die lewe terug in my hart en met ‘n glimlag neem ek afskeid van my vriend. Dankie dat jy gekom het, dit was lekker en ons sien jou volgende jaar weer.

En hy sê totsiens met ‘n laaste venynige klap van sy ysige lang sweep voordat hy druipstert terugtrek na die verre noorde toe; Daar êrens waar dit altyd koud is en hy homself sal opkrul in ‘n geheime gletser. Met ‘n hartseer sug draai hy een keer in die rondte voor hy sy koue snoet in sy ysige stert indruk vir sy winterslaap. En dan droom hy sy ysige drome van my.

Herfs

Toe ek vanoggend by die deur uitgaan streel die herfs met sy klam vingers oor my wang. Dit is kwart-oor sewe, maar nog donker. Nog nie regtig koud nie, maar ‘n ysige belofte skuil in die fris oggendluggie. Alles is klam en nat van die afgelope nag se dou en die mis hang laag in die straat. Swaar druppels plof op droë blare. Straatlampe skyn dofgeel deur die mis. Moë bome staan doodstil langs die pad en waai hartseer met geel blare as ons verbyry. Op die snelweg gly die karre by mekaar verby soos geeste van dooie mense oor ‘n begraafplaas. Daar is geen kontak nie, net die skyn van die ligte en die suis van wiele op ‘n nat pad. Bestuurders en passasiers sit stil in die donker warm selle.

Dit sal nie lank duur voordat die blare rooi geel en bruin op die sypaadjies lê en oor die pad waai nie. Dan word dit deur die wind in al wat ‘n hoek is gewaai en stapel kniehoogte op. Af en toe kom die munisiplaiteit skoonmaak, maar hulle is nog nie eens om die hoek nie of die wind strooi die blare weer oor die straat soos ‘n stoute kind. Dit duur maande voordat die laaste blare geval het.

Die afgelope dae het ons die tuin wintergereed gemaak. Alle snoeiwerk is gedoen en die beddings ‘n keer goed omgespit. Die gras groei nie meer nie, maar dit is nog steeds ‘n diep donker groen. So sal dit deur die winter ook bly, behalwe vir die kere dat dit deur ys of sneeu bedek word. Dit sal nie lank duur voor die eerste bevriesing nie en dan vries die grond vir vier maande lank so hard dat jy ‘n graaf nie inkry nie.

As ons gaan stap met die honde kom ons oral krimpvarkies teë. Nog ‘n teken van die naderende herfs. Die dae word korter en die outjies gaan al vroeër op pad om hulself vir oulaas dik te vreet aan die oorvloed wurms en torre wat nou nog tussen die nat gras te vinde is. Oral skiet bosse sampioene uit die grond uit. Die klam vogtige weer en min sonskyn is goed vir hulle. En die kastaïingneute begin ryp word. Een van die dae gaan die mense begin neute versamel om te bak. Die swaar reuk van bakkende kastaiïngs vul dan die dorp.

In die dae is dit meestal swaar bewolk met gereeld reën wat aanhoudend en indringend val. Die temperature wissel so tussen agt en vyftien grade en stadigaan daal dit. Alles is staalgrys. Wanneer die son homself laat sien loer hy vinnig tussen reusagtige wolke deur wat soos groot berge deur die lug vlieg, aangedryf deur verskriklike winde wat ver bo ons koppe woed en die somer wegwaai. Dan verdwyn die son vinnig weer om plek te maak vir reënbuie wat in vlae oor die pad waai en geute en afvoerslote binne minute laat oorloop. Net om tien minute later van agter ‘n ander wolk te skyn op ‘n nat en silwerskoon wêreld. Sonstrale spat van blink blare af. Die wind waai uitbundig en ruk en pluk ongeduldig aan fietsers se klere.

Dit is asof die mense hierdie tyd van die jaar meer in hulself keer. Op straat word jasse langer, dikker, donkerder en die sorgelose slentergang van die somer maak plek vir ‘n haastige tred. Oop skoene het verdwyn en stewels en waterdigte skoene trap nat spore op skoon vloere.  Die sorgelose blik verdwyn stadigaan uit die meeste gesigte en word vervang met ‘n ligte frons en ‘n ernstige trek om die mond. Kinders met ‘n blos op die wange en windverwaaide hare word ongeduldig aan die hand saamgetrek na waar dit ook is dat ouers met kinders hierdie tyd van die jaar heengaan.

In die huis het die sentrale verwarming hierdie week vir die eerste keer weer aangegaan. Dit is vir ons altyd die teken dat die donker maande aanbreek. Die eerste oggend as ons onder kom en die vloer is warm weet ons dat die somer finaal verby is. Die honde lê diep onder hulle komberse ingekruip en spring nie op om te kom groet nie. Teen die donker glas van die skuifdeur sit die druppels van die nag se reën. As ons gelukkig is word ons bederf met nog ‘n paar lekker sonskyndae, maar hulle sal kort wees en ver uit mekaar. En as Maraai verjaar kan die dik jasse aan.

Saans brand die kerse al op die koffietafel en kyk ons deur die swart venster na buitentoe in die stil straat terwyl ons tee drink. Die stapel baadjies op die kapstok word weekliks dikker en die skoene wat in die ingangsportaal uitgeskop word stewiger en warmer. Die sambrele staan klaar teen die muur by die voordeur.

Die wit- en rosé maak plek vir donker rooiwyn en ou kaas. Sjerrie, warm sjokolademelk, spekulaas en sop. Saterdagmiddag se braai word vervang met eenskottelbredies en selfgebakte brood. Terwyl ons styf teen mekaar op die bank sit en fliek kyk onder ‘n kombers. En die legkaarte en speletjies word van die solder af gehaal.

Saggies sak die herfs in my siel in. Die uitbundigheid en drukte van die somer word vervang met rus en vrede en stilte. Net soos die bome buite voel ons die seisoen van rus naderkom. Ons skud die somerblare af en hul ons in ‘n warm kleed van omgee vir mekaar. En binne-in skyn die son op ons harte en verwarm ons. En vul ‘n warm lig ons siele met dankbaarheid en vrede, want ons het dit so verskriklik goed.

Daar was ‘n tyd dat die koms van die winter my met ‘n koudheid gevul het en die wintergevoel klam en swart oor my hart gaan lê en in my gewrigte gaan plak het maar ek het dit nie meer nie. Dit is ‘n mooi seisoen. ‘n Seisoen met tyd. Tyd vir my gesin, tyd vir myself, tyd vir my vrou en tyd om op die bank te sit en sommer net te staar en aan niks te dink nie. Of om boek te lees. En planne te maak vir die komende somer. Want hy kom weer, al duur dit nog baie lank.