Aan Maraai

Ek en jy is nou al die beste deel van ’n kwart-eeu saam. So lank al sien ek jou as ek regs van my kyk. Langs my trotseer jy al byna vyf en twintig jaar alles wat die lewe ons kant toe gooi. Saam. Saam doen ons dit.

En steeds, as ek regs kyk, swel my hart met trots en liefde vir die vrou wat besluit het om haar lot saam met myne in die mandjie te gooi. Die vrou wat so lank al elke oggend saam met my wakker word en die dag uitdagend in die oë kyk. Waarvan ek weet, maak nie saak wat gebeur nie, sy sal daar wees. Die een mens waarop ek vir die volle honderd persent kan vertrou.

Na al die tyd is ons al so in mekaar gevleg soos ’n koeksister. Ons het wortel geskiet in mekaar se siel. Soos twee bome waaarvan oor baie jare heen die wortels in mekaar ingegroei het. Op soveel maniere het ons een geword dat dit moeilik is om te onderskei waar ek ophou en jy begin. Waar jou gedagtes stop en myne aangaan. Ons het ’n verlengstuk van mekaar geword. Ons reise deur die lewe het een bestemming gekry.

Jy maak my heel. Jy maak van my meer as twee van myself. Jy is die mens wat ek graag sou wou wees.

Ek is die brander en jy die strand.

Jy is die wind en ek die blaar.

Ek die skip en jy die hawe.

Jy die see en ek die meeu.

Ek die woestyn en jy die reën.

Jy die boog en ek die pyl.

Ek die posduif en jy die hok.

Jy die ink en ek die pen.

Ek die losskakel en jy die skrumskakel.

Sonder jou is ek sonder doel, sonder rigting, asemloos, redeloos en sielloos.

Ten opsigte van die lesse wat die lewe so ryklik aan ons almal uitdeel is daar twee soorte mense. Die wat skerp kyk en vinnig leer en die wat kortpaadjies probeer neem en op die harde manier moet leer. Ek is hardcore tweede kategorie. Die esel wat sy voet nie twee keer teen dieselfde klip stamp nie is hoogbegaafd teenoor my. Die klip koes al as ek nader kom.

Maar, na al die baie jare saam met jou begin ek stadigaan iets nuuts te leer. Ek is al baie jare lank baie lief vir jou my vrou. Dit is nie die kwessie nie. Maar ek begin nou pas te leer hoe ek jou moet liefhê. Al die jare het ek jou op my eie manier liefgehad. ’n Soort onbeholpe, onbeskofte mannemanier. ’n Manier van dit is hoe ek is en so doen ek dit. En dit was goed gewees en jy het dit so aanvaar. Maar dit is nie die regte manier nie. Want dit is nie hoe jy is nie.

Al wat ek vra is ’n bietjie geduld met my. Want ek leer…..

Tweede week

Die tweede week het gekom en gegaan. Nog steeds alleen met Jongste by die huis. Dit gaan ook al beter met die huiswerk, maar ek het die raaisel van die wasgoed nog nie opgelos nie. Die hoop bly net groei en as jy aan die een kant begin was groei dit aan die ander kant net so vinnig weer aan.

Ons het darem nou ’n redelike roetine ontwikkel. As sy by die huis is kook ons meestal saam en as ons alleen is kook ons vir onsself. Sy is nou agttien en mooi groot genoeg om vir haarself ’n bord kos aanmekaar te slaan. En haar sosiale lewe as student verg nou eenmaal van haar die opoffering om baie min by die huis te eet. Ek eet dus byna altyd alleen.

Korreksie…. nie heeltemal alleen nie. Die honde is die een aanwesigheid hier by die huis wat ’n gegewe is. Hulle is altyd in die agtergrond en as jy op die bank gaan sit het jy blitsvinnig die twee op jou skoot wat probeer om jou gesig te lek en aan jou ore te snuffel. Hulle is ook altyd ekstaties as ek by die huis kom, alhoewel ek wonder of dit regtig oor my gaan, want Brutus groet net vinnig en dan gaan loer hy in die toilet en by die voordeur om te sien of Maraai nie miskien skelmpies saamgekom het nie. En as ek van die winkel af kom is dit onmiddelik kop-in-die-sak om te sien of ek vir hulle iets lekkers saamgebring het.

Ek gesels nog elke dag met Maraai en die gemis word net groter. Dit is asof die tyd stilstaan. Wanneer ek tuis is is dit die heeltyd asof ek vir haar wag. Sy is darem nou by Oudste in Suid Afrika en ek wonder of sy haar voorneme waargemaak het om daar met haar voete op die koffietafel te sit, gemors te maak en haar vuil klere oral te laat rondlê, sodat ons dogter dit kan opruim. Ek het nog vir haar gesê sy moet onthou om die die handdoeke uit die badkamer weg te haal en hulle so half-nat op haar slaapkamervloer laat lê. Sodat die volgende een wat gaan bad hulle met hulle nat lywe kan kom soek. En sy moet ook onthou om Oudste se maskara te steel en dan die hond die skuld te gee.

Gelukkig hou die werk my besig. Ek het by die werk baie min tyd om te sit en nadink en eintlik het ek saans ook nog werk wat ek moet doen, sodat ek nie al te veel tyd het om myself jammer te kry nie.

Net die alleen-slapery wil nog nie lekker regkom nie. Ek begin al half senuweeagtig te raak as dit bedtyd word, want dan moet ek weer in daardie koue bed na die plafon gaan lê en staar.

Gelukkig begin die vriende nou na twee weke ook agterkom ek is alleen by die huis. Die eerste twee weke was dit doodstil, maar die afgelope Saterdagaand het ek by vriende gaan eet. Sondagmiddag by ander vriende, Sondagaand saam met nog ’n vriend Avatar gaan kyk en Woensdagaand gaan ek alweer êrens anders eet.
So hou ek mos van my vriende.

Eerste week

Ek is nou amptelik ’n week alleen tuis met Jongste. Verlede Vrydag het Maraai vertrek.
My eerste indruk van die afgelope week is WASGOED. Waar kom al die wasgoed vandaan? Dit lyk asof dit uit die mure groei, want ek is net klaar met een bondel dan lê daar al weer so ’n opgeskote bult wasgoed vir my en glimlag.
Nou kry ek wel die indruk dat Jongste ’n groot bydrae lewer aan hierdie berge wasgoed, want kom ons wees nou eerlik: Hoeveel wasgoed kan een man in een week veroorsaak?
En ek moet sê, ek sien nogal baie vrouegoetertjies in die berge wasgoed waarmee ek die afgelope week leer omgaan het. Sommige herkenbaar en ander onherkenbare goedjies waaroor ek maar nie al te veel wonder waar hulle eintlik tuishoort nie? En dat sulke klein goedjies sulke groot hope wasgoed kan maak verstaan ek nog nie lekker nie. Maar ek het nog drie weke om die geheim van die WASGOED te ontsyfer.

Verder is die daaglikse sake van huishouding darem nie ’n te groot probleem nie. Koskook is nie iets waarvoor ek bang is nie, al waag ek my hand nie aan geregte waarvoor jy instruksies nodig het wat nie op die agterkant van ’n boksie pas nie. En Domino’s pizza is geduldig.
Van die skottelgoedwasser het ek al jare gelede gesê dat dit een van die beste beleggings is wat ons nog ooit gemaak het.

Maar ek mis vir Maraai. Dis of dit elke dag erger word. Ek bel haar elke dag en dan gesels ons lekker, maar dit is anders. Sy is nie hier nie. Sy krul nie op die bank onder my arm op en gesels met my oor die dag se dinge nie. Sy noem nie vir Brutus boetienoenoe nie en sy buk nie so liefdevol oor hom waar hy op die bank lê nie.
En sy vra nie vir my om haar arm te kielie of met haar hare te speel of om haar voete te masseer nie. En ons drink nie elke aand ons potjie tee voor ons gaan slaap nie. Ek drink heeltemal geen tee nie, want dit smaak gewoonweg nie dieselfde nie.

En ek gaan klim elke aand later in die bed. Daardie stil, donker bed waarin ek dan in die donker na die plafon lê en staar tot ek een of ander tyd in die slaap in verdwyn. Die lekker warm snoesige bed waarin ons so lekker kan kuier het verander in iets waarteen ek elke aand meer opsien. En as ek in die oggend wakker word en die een kant is nog net so plat soos gisteraand dan sug ek diep binne my al voordat my dag behoorlik begin het.

Maar…. Die eerste week is al verby. Nog drie weke om te gaan, dan is sy terug en ek weg en daarna nog twee weke dan is ek ook weer terug. In die komende drie weke moet nog baie gebeur. En ek sal al my energie daarop stort in die hoop dat dit vinniger verby sal gaan.

Alleen

My liefie het vertrek na die suiderson. Ek het haar soggens op Schiphol afgelaai waar sy haar taak as kleuter-versorgmoeder-vir-een-dag met entoesiasme op haar geneem het. Ek kan my nie voorstel hoe dit moet wees om heeldag met so ’n woelwater op jou skoot te sit nie, maar sommige mense het talent vir so iets.

Ek sien al hoe druk so ’n kleintjie sy vinger in my neus terwyl hy my met sy melkbottel oor die kop slaan en op dieselfde oomblik in sy broek skyt en kliphard skree. Dit alles terwyl ek probeer om die snot van die voorkant van my broek af te vee.
Sy het ten spyte van al hierdie gevare veilig daar aangekom en kuier nou heerlik met haar familie.

Dit beteken dat ek nou al drie dae alleen is met Jongste. Ons geniet mekaar se geselskap baie. Sy is op die oomblik aan die studeer vir eksamens en ek sien dus baie van haar by die huis rond. So lekker om af en toe net bietjie te gesels oor wat in haar lewe aan die gang is. Tussen die twee van ons kry ons dit darem reg om ons magies vol te hou en die huis ’n bietjie aan die kant.

Vir my is die ergste wanneer ek saans alleen gaan slaap in die koue leë bed. Ek stel dit dan ook so lank as moontlik uit met die gevolg dat ek in die oggend moeilik opstaan. Ek het al gedink om kussings aan Maraai se kant van die bed in te stop sodat dit net nie so leeg lyk nie.

Die honde mis haar ook baie. Veral Brutus. Hy het die eerste twee dae nie geëet nie, maar ek het darem ’n teorie van my reg bewys. Dit is dat ’n hond sal eet as hy honger is. Gisteraand het hy twee bakke voer leeggevreet en toe op sy rug met sy dik pens op die bank gaan lê en snork. As hy nie reggemaak was nie sou ek kon sê dat hy lê en balle bak. Hy het agtergekom dat ’n eetstaking nie die regte manier is om sy sin te kry nie.
Luna is ‘n bietjie te dom om agter te kom dat iemand weg is. Solank daar iemand by die huis is wat haar bal vir haar kan gooi is sy dolgelukkig.

Saterdagaand wasgoed gewas, inkopies gedoen, gekook, skottelgoed gewas en allerhande ander goed gedoen wat noodsaaklik is om ’n huishouding aan die gang te hou. Die honde het my sit en bekyk by die wasmasjien asof hulle bang was dat ek iets verkeerd sou doen. Vir hulle was dit ’n nuwe ervaring, die baas voor die wasmasjien.

Gisteraand na ete het ek op die bank gesit en wonder wat om met myself aan te vang. Met Maraai in die buurt is dit gewoonlik geen probleem nie. Ek mis die laaste potjie tee wat ons elke aand drink voor ons gaan slaap. Tee proe nie dieselfde as ek dit alleen drink nie.
En ek mis die manier hoe sy die honde in die bed sit en nagsê as ons boontoe gaan. Ek dink die honde mis dit ook, want ek kan dit nie soos sy doen nie.

En vanmiddag het sy my nie gebel soos altyd nie. Die oproepie so teen eenuur in die middag waaraan ek al so gewoond geraak het. Waarin ons die afgelope oggend se dinge met mekaar bespreek en die planne vir die komende middag. Ek het geweet dat hy nie sal kom nie, maar ongemerk het ek daarop sit en wag. ’n Vreemde gewaarwording as jy besef dat hy nie gaan kom nie.

Vanaand moet ek weer wasgoed was en al die gewasde goed van die afgelope naweek opvou en bêre. En dan weer gaan inkopies doen en kosmaak vir my en Jongste. Sy kook môre-aand vir ons en haar aanhangsel het beloof om Woensdagaand vir ons kos te maak. Ek weet nie hoe opgewonde ek daaroor moet wees nie. Miskien maar solank MacDonalds gaan haal en in die kas wegsteek vir ingeval.

6 Weke op 1 helfte

Onverwags die afgelope naweek is Maraai ’n vliegkaartjie aangebied Suid Afrika toe. Sy gaan ’n vriendin met tweeling help om heelhuids daar te kom en oor ’n maand weer terug te kom.
Die idee om twaalf uur met ’n woelige dertien-maande helfte van ’n tweeling op my skoot in ’n vliegtuig te sit was al genoeg om my nekhare orent te laat staan, maar sy sien kans daarvoor. So ’n vliegtuig is nie bedoel om mense mee te vervoer nie. Hoenders raak al klaustrofobies (Is dit ’n regte woord?) in so ’n ding, newwermaaind normale mense! En dan nog met so ’n ding op jou skoot….
Maar, bottom-line is dat my beter helfte ’n maand weg gaan wees. En deur ’n wrede speling van die lot kom sy terug op die dag dat ek Tanzanië toe vertek. Ons loop byna letterlik op Schiphol by mekaar verby. Maar op so ’n manier dat ons mekaar glad nie sal sien nie. En dan bly ek weer byna twee weke weg.
Vir ander mense is dit miskien minder erg, maar die idee dat ek haar ses (6!) weke lank nie sal sien nie is besig om vir my ’n probleem te word. Om bietjie agtergrond te gee; In die 23 jaar wat ons al saam is was een week die langste wat ons van mekaar weg was. En vir my was dit al erg genoeg.
En nou gaan dit nie oor sake soos kook en was en stryk nie. Dit is die laaste van my bekommernis.
Dit gaan vir my oor die feit dat elke dag van my lewe haar gesig die laaste ding is wat ek sien en haar stem die laaste geluid wat ek hoor voor ek aan die slaap raak. En wanneer ek wakker word is haar gesig die eerste wat ek sien en haar stem die eerste wat ek hoor. Elke dag van my lewe. En dat wanneer ek tuis kom sy daar is. En as ek dit nie meer weet nie, sy die antwoord het. Meerdere antwoorde, selfs. En as ek eensaam is hoef ek maar my hand uit te steek en dan raak ek aan haar. En dat ek met haar in die buurt oor niks wonder en nêrens voor bang is nie.
En ek dink dat dit anders sal wees as sy nie daar is nie. En ek is bang dat ek nie daarvan gaan hou nie.
Ek en my jongste sal mekaar geselskap hou in die komende vier weke. Dit sal lekker wees om kwaliteit tyd met haar deur te bring en dinge te doen waarby ons normaalweg nie uitkom nie.
Maar, ek gun Maraai hierdie wegbreek van harte. As ek een persoon ken wat so iets verdien dan is dit sy. Sy moet haar sonnepanele uitsteek en al die son opvang wat sy kan, sodat haar batterye weer behoorlik kan laai. En dan bietjie ekstra, sodat sy vir ons ook daarvan kan bring hier in die donker, koue noorde.
En sy moet vir ons baie liefde saambring. Liefde van familie en vriende en bekendes en vreemde mense. En ’n sakkie bliltong, asseblief.