Rafiki laai die kinders af

Rafiki was ‘n regte mannetjieshond. Karre was vir hom onweerstaanbaar. As gevolg van sy grootte was dit nooit maklik om die ou saam te laat ry in die 323 nie, omdat daar meestal saam het hom nog twee klein dogtertjies op die agterbank moes sit. Maar dit was vir hom geen rede om nie elke truuk in die boek uit te haal om saam te gaan as ons ry nie. Hy was per slot van sake die dogters se beste vriend en het glad nie omgegee om sy bank in die kar met hulle te deel nie.

Rafiki se teenwoordigheid in ‘n 323 was om die minste te sê ‘n bietjie oorweldigend. Hy het die helfte van die agterbank vol gesit, met sy kop aan die dak geraak en sy krokodilbek met druppende lang pienk tong het oor my skouer geloer as ek bestuur het.

Die groot probleem was eintlik meer dat alles wat hy gesien het vir hom baie interessant was. Wanneer hy heen en weer beweeg het oor die agtersitplek het die 323’tjie saam oor die pad geslinger van sy gewig. Die ergste was as ons langs ‘n taxi gestop het by ‘n stopstraat. Dan het hy die binnekant van die 323 omtrent verbou in sy verwoede pogings om by al daardie koerantbesorgers uit te kom wat in die taxi langs ons sit.

Desondanks was daar tog geleenthede wat Rafiki saam met ons êrens heen gery het. Dit was gewoonlik noodgevalle of anders simpelweg gevalle van intimidasie en gatkruipery wat gemaak het dat ons hom nie kon weier nie.

Hy het een kunsie gehad met Maraai wat vir hom beskeie sukses opgelewer het. Ek was meestal soggens al weg teen die tyd dat sy klaar was vir werk. Sy het dan die kinders by die kleuterskool gaan aflaai voordat sy werk toe gery het. Dit was natuurlik nadat sy haarself pynlik netjies aangetrek en mooigemaak het vir die dag se werk.

Wanneer sy die 323 dan by die hek uitgetrek het en uitgeklim het om die hek weer toe te maak het Rafiki soms by haar verbygeglip en blitsvinnig in die kar gespring. Al haar pogings om die reuse-terrier uit die kar te kry het op niks uitgeloop nie. As sy die deur oopmaak om hom uit te haal skuif hy net oor na die ander kant toe. Stap sy om na die ander kant van die kar dan skuif hy weer terug. Leun sy in die kar in om hom aan sy halsband uit die kar te trek dan knor hy saggies en lig die lip so ‘n bietjie op. Nie dreigend nie, maar wel met ‘n duidelike boodskap. Ek ry saam, raak maar gewoond daaraan.

Die uiteinde van die saak was dan dat sy die kinders in die kar moes laai, kleuterskool toe ry om hulle te gaan aflaai met Rafiki wat geduldig op die agterbank saamry en daarna eers weer huistoe ry om hom te gaan aflaai. Wanneer sy tuisgekom het het hy dan sonder probleem uitgespring en tevrede huistoe gegaan, sodat sy werk toe kon gaan.

Haar frustrasie was dan gewoonlik al teen kookpunt, want die tyd in die oggende was gewoonlik redelik fyn gesny en daar was min tyd vir speletjies met ‘n groot hond wat hom soos ‘n bederfde tiener gedra.

Wanneer sy my gebel het om by my te kla hieroor het ek dit altyd amusant gevind, maar agteraf besef ek hoe groot die frustrasie was wat sy beleef het met die oversize hond in die undersize 323. Die kinders was in elk geval altyd baie opgewonde as Rafiki hulle by die skool gaan aflaai het. Ek het saans dan in kleur en geur die verhale en avonture beluister wat hulle beleef het met hulle beste vriend op die agterbank.

Brutus

Brutus woon nou al vyf jaar by ons. Toe hy die eerste keer hier by ons aangekom het was hy ’n klein swart pluisie wol van nie meer as 300 gram nie. Vandag is hy ’n uitgegroeide buffel van ’n Yorkshire Terrier met sy 4 kilogram.

Ek het nog nie ’n hond ontmoet met ’n meer gepaste naam as Brutus nie. Onverskrokke stap hy met sy bakbeentjies deur ons woonwyk en jaag alle ander honde (En katte) wat hy sien die skrik op die lyf. Brutus is die vleeswording van die spreekwoord: Aanval is die beste manier van verdediging. Menig male moes ek hom met gevaar vir eie lewe van die keel van ’n veel groter hond aftrek nadat hy homself soos ’n projektiel gelanseer het na die hond toe.

Die enigste rede waarom daar nog ander honde in ons woonbuurt is is omdat ons Brutus altyd aan die leiband hou. As ons hom los sou laat loop het was die buurt al lankal opgeruim van al die ander hondeskuim wat in ons dorp woon.

Hy was nog baie klein toe ons agtergekom het dat hy ’n oormaat van testosteroon in sy gestel het. Dit het ons laat besluit om sommer vroeg al korte mette met sy balletjies te laat maak. Op advies van die veearts, omdat dit sy ”temperament meer gelykmatig sou maak”. Nadat hy homself ‘n keer wangedra het in die spreekkamer van die veearts. Dit het gewerk. Sy temperament is gelykmatig aan die rooi kant van die spektrum. Baie gelykmatig, want dit wyk nooit af van rooi nie.

Dit was vir my as man ‘n baie moeilike beslissing om te neem. Ek glo dat die meeste mans dit kan verstaan. Ek het empatie met die hond gehad. Regtig waar. Soveel dat ek die pyn byna self gevoel het, maar op daardie stadium het ons alle ander opsies uitgeput. Die hond was simpelweg nie meer beheerbaar nie. Hy het letterlik alles aangeval wat beweeg het en as dit nie beweeg het nie het hy dit probeer spyker. Dit het my dus genoop om tot die besluit oor te gaan.

Maraai het hom die dag veearts toe geneem saam met sy sussie Luna. Toe ek die middag tuiskom tref ek daar op die bank ’n hond aan wat met sulke klein rooi ogies vir my sit en kyk. Hy wou niks met my te doen hê nie en ek kon die stil verwyt op sy gesig lees. Dit was soos ’n dolk in my hart. Hy het geweet dat ek hiervoor verantwoordelik was. Ek het nog probeer verduidelik dat ek niks met die saak te doen het nie, maar hoe oortuig jy iemand wat nie oortuig wil word nie. Hy het simpatie gesoek by Maraai en my verder geïgnoreer die dag.

Met sulke stywe bene het hy ’n paar dae rondgeloop. Totdat die ergste pyn verdwyn het. En toe was hy weer die ou Brutus, net kwater vir ander honde as ooit van te vore. Ek het al gewonder of hy nie een of ander sindroom gehad het waarby die balle en mangels omgeruil is nie en dat die veearts toe al die tyd sy mangels uitgehaal het. Want van rustiger (Gelykmatiger) word was daar geen sprake nie.

Hy is die hond sonder balle met die grootste balle wat ek nog teëgekom het. As ons hulle aangelos het sou hulle sekerlik in die pad agter hom aangesleep het.

Vandaar dat ons tot die dag van vandag toe eenkeer per dag met Brutus deur die woonwyk spartel. Die ander honde en hulle eienaars ken ons ook al en dikwels sien mens die hond met sy baas aan die ander kant van die pad gaan loop as ons naderkom. En dan probeer ons ons bes om die bol woede aan die einde van die leiband die ander kant op te sleep terwyl hy boosaardig grom en dreig en met sy volle 4 kilogram aan die band beur om oor die straat te kom.

So af en toe kom ons nog mense met honde teë wat nie vir Brutus en sy reputasie ken nie. Hulle is dan meestal in vir ’n onaangename verrassing. Ons probeer natuurlik verduidelik, keer en teëhou, maar as die ander hond uit nuuskierigheid te naby kom is daar nie veel wat ons aan die saak kan doen nie as om te probeer om Brutus van die hond se keel af te trek sonder om self gebyt te word.

Die energie en woede waarmee hy aanval is gewoonlik so oorweldigend dat selfs groot honde vir hom skrik. Hy het al ’n paar keer lelik deurgeloop, maar die geluk was nog elke keer aan sy kant. Groter honde maak nie sommer klein honde seer nie. Daar word baie geraas en gehap, maar tot werklik byt kom dit byna nooit, anders was hy al opgevreet. Ek dink ook hulle is meer verbaas oor die skreeuende, bytende bol hare aan hulle kele.

En gewoonlik sleep ons dan ’n woedende, grommende, met die dood dreigende en blaffende klein keffer aan die leiband daar weg, met rooi gesigte en met gebare om te wys hoe jammer ons is, terwyl die eienaar en sy hond met verstomming en verbasing ons agternastaar, ’n illusie armer.

Die mees dodelike kombinasie is Brutus en Jack Russels. Newwermaaind vet op die vuur, dit is ’n drom petrol in ‘n bonfire. Om een of ander rede kan Brutus Jack Russels nie verdra nie en andersom is dit ook waar. As ’n Jack Russel vir Brutus gewaar staan alles regop en probeer hy sy bes om Brutus by te kom en op te vreet. ’n Paar keer al het ’n kopskuddende eienaar van ’n Jack Russel ons om verskoning gevra oor die gedrag van sy hond. Om dan by te voeg: “Hy doen dit normaalweg nooit nie. Ek weet nie wat gaan vandag met hom aan nie.” Ek kyk dan gewoonlik meewarig na die eienaar en sy ongedissiplineerde hond en skud dan net my kop terwyl ek “tssk-tssk” maak.
Brutus is die wandelende wetenskaplike bewys dat die klein-mannetjie sindroom werklik bestaan. Hy is wel ’n hond, maar dit is en bly testosteroon wat die ding vir hom doen. As hy ’n groot hond was sou hy al lankal in die wokpan van ’n Chinees beland het. Ek sou persoonlik daarvoor gesorg het.

En tog, onder al die harde uiterlike eienskappe is hy eintlik maar ‘n ou klein hondjie. Hy werk verskriklik hard om ons te beskerm as hy met ons buite gaan stap, maar wanneer ons tuiskom hou hy daarvan om beloon te word met ’n bietjie vertroeteling deur Maraai.
En sy noem hom troetelnaampies soos Brutie en Boetie en Boetienoenoe. En sy gee vir hom snoepies en praat met hom in ’n spesiale stemmetjie. En sy maak sy ogies met groot liefde skoon as hulle vol oogsnotjies sit. En ek verstaan waarom hy oor haar voel soos hy voel. Ek voel ook so oor haar, al haal sy nie oogsnotjies uit my oë nie.
Hy aanbid die grond waarop Maraai loop. Ek dink dat een van die redes waarom hy so heftig reageer op ander honde juis is omdat hy so verskriklik gesteld is op Maraai. Hy het ’n baie sterk drang om haar te beskerm. En wanneer ons tuis is is daar vir hom geen beter plek as op die bank styf teen haar aangedruk nie. Sy voorkeur is tussen ons in, maar ek duld dit nie….. Want dit is my plek.

Yorkies het nie ’n onderpels soos die meeste ander honde nie. Hulle het net ’n dunnerige bo-pels, met die gevolg dat hulle makliker koud kry. Brutus is geen uitsondering nie. Hy kry baie maklik koud. Vandaar dat ons so twee jaar gelede vir hom ’n truitjie gekoop het. Hy is baie lief vir sy truitjie, maar hy dra hom net by die huis. Sy reputasie op straat sal in duisend stukke stort as hy ooit met die trui aan gesien moes word. As Maraai nader kom met die truitjie dan spring hy op, stertwaaiend en trappelend en hou die voete reg om die trui aan te trek. As ek dit sien is dit vir my baie moeilik versoenbaar met die beeld van hom as oorlogsugtige krygsheer wat sy straat met ’n ysterhand regeer.

Van al die honde, groot en klein, wat hulle lewens met ons gedeel het, was daar nog nie een met soveel vuur in die donkerbruin ogies as Brutus nie. Hy is nou vyf jaar oud, maar ek vrees die dag dat daardie twee ogies die laaste keer sal flits en die vuur uit hulle sal verdwyn. Op daardie dag sal daar uit ons lewens ‘n stuk groot energie verdwyn.

Rafiki en die oor-die-straatpoedel

Rafiki was ’n baie uitbundige hond. Hy was ook baie ongedissiplineer. Ek het my bes geprobeer, maar ek dink hy het ’n soort honde-ADHD gehad. Hy wou vreeslik graag ’n goeie hond wees, maar soos die Bybel dit stel, die gees is gewillig, maar die vlees swak. Ek het baie duidelik gefaal in sy opvoeding.

Daarvan het die rubber deurmat wat sewe keer opgeëet is en die tuinslang wat al begin sis het as daar iemand nader kom getuig. Oor die rubber deurmat gepraat: Ek het altyd binne ’n week nadat ons ’n nuwe mat gekoop het die ding in klein stukkies hondedrol weer bymekaargemaak.
Hy het in elk geval altyd net die beste bedoelings gehad, dit weet ek vir ’n feit, maar te dikwels oor sy eie entoesiasme gestruikel. Om hierdie redes het ons ’n baie hoë muur en stewige hek gehad. Dit was om die hond binne te hou, nie die boewe buite nie, soos by die meeste ander mense.

Oorkant die straat het ’n ouerige dame alleen gebly. Nie heeltemal alleen nie, sy het ’n Maltese poedel gehad wat by haar gebly het. So een of twee keer per dag het sy en die poedel ’n draai in haar voortuin geloop. Sy het dan met die rose gepraat en die poedel het aan die kappertjies gesnuffel en dan op hulle gepiepie. Ek kon nooit agterkom of dit ’n reuntjie of tefie was nie, maar die hond het gesit en piepie met sy een been in die lug. Baie snaakse houding. Miskien het hy self ook nie geweet of hy teef of reun is nie. ’n Soort honde-transvestiet. Dan met so ’n astrante blaffie in Rafiki se rigting het die poedel weer agter die oor-die-straatvrou aan in die huis verdwyn. Ek is nie seker wat hy met daardie blaffies gesê het nie, maar dit was in hond ’n baie diep belediging, want ek kon sommer sien hoe steek die woorde in Rafiki se hart in. Dit moes elke keer oor Rafiki se geslagsdele gegaan het as ek die reaksie so gesien het.

Die besoek van die oor-die-straatvrou en haar poedel aan hulle voortuin was een van die hoogtepunte van Rafiki se dag. Ek sê een van, want sy dag het uit hoogtepunte bestaan. Nog ’n hoogtepunt was as die koerant afgelewer is by die voorhek. Dit was gevolglik een van my laagtepunte, want ek moes dan die koerant opruim wat in duisende klein geskeurde stukkie oor die erf besaai gelê het. ’n Ander hoogtepunt was as ons ’n nuwe deurmat gekoop het.

In elk geval, ek sit een dag op die voorstoep toe die oor-die-straatvrou en haar poedeltjie hulle daaglikse rondte tussen die rose en kappertjies maak. Rafiki sien hulle ook en storm onmiddelik hek toe waar soos hy altyd in sy volle 1 meter 70 uitgestrek teen die hek staan en in hond aan die poedel verduidelik wat sou gebeur het as dit nie vir die verdomde hek was nie.

Die volgende oomblik, en ek weet tot vandag toe nie hoe dit gebeur het nie, kom Rafiki se lewensdroom uit. Die hek spring oop. Die laaste wat ek van Rafiki sien is die krulstert wat so om die muur by die hek uit verdwyn. Ek spring op en storm hek toe en terwyl ek hardloop hoor ek die oor-die-straatvrou benoud skree en die poedel net so benoud tjank aan die oorkant van die straat.
Agteraf bekyk was die oor-die-straatvrou nie so oud nie, want toe ek by die hek kom is sy en die poedel al lankal weg en sien ek die bekende krulstert by hulle voordeur in verdwyn.

Dit was een van die bepalende oomblikke in my lewe. Dit was asof die aarde ’n oomblik lank stilstaan en jy self in die rondte draai. Asof ek myself in die oog van ’n orkaan bevind het. Die enigste verskil was dat ek nie in die oog van ’n orkaan was nie. En ek het nie in die rondte gedraai nie, maar gehardloop. Verskriklik vinnig na die oorkant van die straat toe, tussen die rose en kappertjies deur en by die voordeur na binne.

Aan die regterkant was die kombuis. ’n Soort oop plan, waar die oor-die-straatvrou gestaan en skree het met haar hande op haar wange. Sy het in die sitkamer ingekyk. Daar, op die mat voor die pragtige Victoriaanse bank, was Rafiki besig om die mat om te woel in sy pogings om homself onder die bank in te kry. Hy het gegrawe soos ek ’n hond nog nie sien grawe het nie. Onder die bank het die poedel teen die agterste muur van die sitkamer gelê en tjank. Oor die sitkamermat, onder die bank in loop die pisspoor soos die poedel gehardloop het.

Ek het nader gehardloop en die blerrie hond aan sy halsband gegryp en probeer om hom by die bank weg te sleep, maar hy het met so ’n krag vorentoe gebeur dat ek hom nie kon teëhou nie. Ek moes die groot hond in my arms optel en uitdra. Toe ek by die kombuis verbyloop staan oor-die-straatvrou nog steeds geskok met haar bleek gesiggie vir my en staar. Ek het so met ‘n skouerophaal en my arms vol blaffende hond probeer jammer sê vir die oorlas wat ons veroorsaak het, maar met die gebrul van die monster oor my skouer dink ek nie sy het veel gehoor nie.

So is ons terug en toe ons by die huis kom het Rafiki baie trots sy merk teen die hek gemaak voordat hy ’n paar slukke water gaan vat en tevrede op die stoep gaan lê het. Daardie poedel sou nooit weer iets oor sy geslagsdele sê nie.
Ek het later probeer om vir die oor-die-straatvrou verskoning te vra en verduidelik dat die saak heeltemal uit my hande geloop het, maar sy het my so half uit die hoogte aangekyk en nie juis gereageer nie.

In elk geval was haar besoekies van daardie dag af aan die voortuin baie korter en die poedel het glad nie meer saamgegaan nie. Ten minste was die kappertjies tevrede.

Dans met Rafiki

As ek Rafiki se persoonlikheid moes omskryf is daar een woord wat onmiddelik by my opkom: entoesiasme. Ongebreidelde, oneindigende en kinderlike entoesiasme. ’n Entoesiasme wat nie anders kan as om almal wat daarmee in aanraking kom, aan te steek en mee te sleur nie. Die soort entoesiasme wat geen oomblik stilstaan by die dinge wat verkeerd kan gaan nie en wat ’n glimlag tower op die gesig van die hardnekkigste knorpot. Wat nie kan glo dat enigiemand in die wêreld kwade bedoelings teenoor jou kan hê nie. Dit is die soort entoesiasme wat mense in die tronk laat beland.

Rafiki se entoesiasme het hom ook gereeld in die moeilikheid laat beland. Dit was sy entoesiasme wat die probleme met Ans veroorsaak het. Ans was ’n vriendin van Maraai. Ans was ook ’n redelike swaargeboude eksemplaar van die vroulike geslag. Niettemin was Ans’n baie deftige dame. Altyd baie netjies aangetrek, van die strik in die hare tot die sesduim-hoëhakskoene aan toe.

Rafiki het baie van Ans gehou. Ek dink sy het vir hom baie lekker geruik of mooi gelyk, maar altyd as Ans kom kuier het moes ek haar vergesel van die hek tot in die sitkamer om seker te maak dat Rafiki nie op haar spring of aan haar lek nie, want van sulke gedrag was sy beslis nie gedien nie. Dit was asof hy geweet het wanneer sy kom kuier, want altyd wanneer hy haar by die hek verwelkom het het hy net van sy waterbak teruggekom. Lang, slymerig drade spoeg en water het dan nog aan sy baard geplak en in sleepsels agter hom gelê. Die ergste was wanneer hy sy kop beweeg het. Dan het die slym- en waterstrepe alle kant op gespat.

So het dit ook gebeur op die een middag toe Ans by ons kom kuier het. Van die geraas by die voorhek het ek geweet dat sy hier was. Ek het vinnig uitgehardloop en was net betyds om die eerste rondte met Rafiki om Ans heen te dans. Die tweede rondte het vinnig gevolg, met Rafiki wat niks anders wil as om sy slymerige snoet teen Ans se wit sykouse te druk nie, ek wat niks anders wil as om die hond se rug in te trap nie en Ans wat niks anders wil as om ongedeerd die stikamer te bereik nie. Soos ’n soort siamese drieling het ons in ‘n makabere riel voortgewaggel na die voordeur toe. ’n Paar van my pogings om tussen Ans en Rafiki te bly het jammerlik misluk en dan het Rafiki triomfantelik sy snoet teen die wit sykouse aangedruk om ’n slakspoor van slym en snot op haar been agter te laat.
Dit het vinnig vir my duidelik geraak dat ek die dag aan die verloorkant was, want Rafiki het steeds vinniger om ons heen gedans en as gevolg van Ans se aansienlike omvang kon ek ook nie eens ‘n hoek sny om hom te onderskep nie. En hoe vinniger ek gehardloop het hoe breër het Rafiki geglimlag en hoe soepeler het hy gedans. Dit was vir hom ’n heerlike speletjie en het aan hom net bevestig wat hy altyd al geweet het: Dat Ans, ten spyte van haar onvriendelikheid teenoor hom, tog lekker kon speel. Soms het hy met sy boude onder hom ingetrek sommer so ’n wilde bakdraai oor die grasperk gehardloop om uit ’n onverwagse hoek ’n nuwe aanval op die groot wit sykous te lanseer.

Wat hy nie opgemerk het nie was dat die rooiheid van my nek af al teen my wange begin opkruip het en dat al die bloed onder my vingernaels verdwyn het van woede. Dit was ’n witblinde woede wat van my besit geneem het. Die soort woede wat jou bloed in jou mond laat proe en ek het die dag verwens dat ek besluit het om die verdomde hond op my erf te bring. In die hitte van daardie woede was die besluit om hom vir eens en altyd uit te skakel maklik gemaak. Vlak by die voordeur het ek my kans gesien. Rafiki het weer ’n gaping gekry en hy druk sy snotneus weer teen die wit sykous aan. Maar, hy het my nie van die kant af sien aankom nie en selfs al het hy my gewaar, was hy nie op die hoogte van my besluit om hom na die ewige jagvelde te stuur met een goedgemikte skop nie. As ek hom net so agter die linkeroor kon tref was dit verby, het ek geweet.

Waarmee ek nie rekening gehou het nie was die grasie waarmee Rafiki kon dans. Ek het uitgehaal om te skop. Een van my betere skoppe, as ek dit agteraf self mag sê. Maar net toe ek die punt bereik waar mens die skop nie meer kan keer nie (Die point-of-no-return soos die Engelse dit noem), sweef Rafiki soos ’n kolibri om Ans se regterbeen. Al wat toe tussen my neerdalende skopvoet en haar been sit is ’n baie groot ragfyn wit sykous.

Wat gevolg het het al duisende kere in stadige beeld in my gedagtes afgespeel. Die skop het geen geluid gemaak nie. Ans wel. Sy het diep gekreun en vooroor gebuk om haar been te gryp. In die breukdeel van ’n sekonde nadat ek my voet weggetrek het is die beeld van die geskeurde sykous, die swart politoerstreep en die opgerolde stukkies vel op haar maermerrie vir ewig op my netvlies ingebrand. Ek sien dit nog gereeld in my drome.

Die arme vrou het so op een been die sitkamer ingehuppel. En Rafiki was in die sewende hemel. Eindelik iemand wat regtig wil saamspeel. Hy het sulke kringe om my gehardloop en af en toe met sy voorbene uitmekaar en sy bors op die gras gaan lê en my met sy laggende oop bek en bruin oë uitgenooi om weer te probeer.
Ek het nog so tien minute agter hom aan gehardloop met die bedoeling om hom daardie skop tog nog te gee. Ek was desnoods bereid om hom met my hande te verwurg ook. Maar die eintlike rede was dat ek te skaam was om my gesig in die sitkamer te wys. Wie skop nou sy gaste op hulle bene as blyk van welkom?! Maraai het my baie streng aangekyk toe ek skoorvoetend binnekom en Ans se rooi gesig en tranerige oë het boekdele gespreek.

Ten spyte van Ans se versekerings dat dit nie so seer was as dit gelyk het nie en dat sy die ou tikkie teen haar been skaars gevoel het het sy nie lank gekuier nie. Sy ook nooit weer by ons kom kuier nie. Maraai het my probeer oortuig dat dit niks met die skop te make gehad het nie, maar ek dink tog anders oor die saak. Ek kan nie sê dat ek haar besoekies aan ons gemis het nie.

Rafiki het haar baie gemis, dink ek, want dit was net met Ans se besoeke wat ek en hy so lekker gedans het. Ek en hy was dieselfde middag weer vriende. Toe ek buite kom en hy my bespring en besnuffel asof ek ’n jaar weg was het ek hom vergewe. Rafiki het my geleer dat dit geen sin het om kwaad te wees vir iemand wat die konsep van woede nie ken nie. Omtrent so min as wat dit help om te onderhandel met ’n selfmoordterroris.

Otto

Otto was ’n Skotse terriër. Van die klein swartetjies met die spits ore en lang neuse. Otto was ook depressief. Die depressie het soos ’n swart kombers oor Otto gelê. Sy siel was so swart soos sy pels.
Ek dink Otto het ’n baie slegte jeug gehad. Toe hy by ons kom woon het was hy al volwasse. Maraai het hom een aand by die kerk in die donker teen die muur sien sit. Sy het hom jammer gekry want hy het gesit en bewe. En dit was ’n warm somersaand. Otto is die aand saam met ons huistoe. Die eerste wat ons van Otto opgeval het was die verskriklike knop op sy kop. Net bo sy regteroor was daar ’n klipharde knop so groot soos ’n kapokkie-eier. Dit het sy neus net nog langer laat lyk. Die knop het ook nooit weggegaan nie en ek het baie as ek oor sy kop gevryf het gewonder wat die knop veroorsaak het. Die dieptes van sy swart oë het vertel dat dinge met hom gebeur het wat met geen hond mag gebeur nie.
Otto was ’n baie stywe hond. En dit bedoel ek letterlik. Sy lyfie was hard en styf. Soort van opgepomp. Dit was asof hy ’n groot hond was in die vel van ’n klein hond. Mens het die indruk gekry dat daar baie meer hond in Otto sit as wat jy aan die buitekant kon sien. Oral waar jy gevat het aan hom was hy hard. Hard van bene of hard van spiere. Mens sien soms sulke mense ook. Meestal het hulle kaal koppe en klein T-hempies aan. Maar as Otto ’n mens was sou hy nie ’n klein T-hempie gedra het nie. Ek dink hy sou ’n netjiese swart langbroek en ’n swart hemp met das gedra het. En dit alles sou hy afgerond het met ’n paar swart skoene en ’n donkerbril wat hy selfs saans sou dra. Hy sou stil gewees het en onhandig in die geselskap van vrouens. Maar juis die onhandigheid sou hom onweerstaanbaar gemaak het vir vrouens. En hy sou ’n boek geskryf het, en gedigte, en in ’n baie ou huis gewoon het met groot bome in die voortuin.
Maar, Otto was ’n hond. En hy het by ons gewoon. En Rafiki was sy vriend. Al het hy geen behoefte aan Rafiki se vriendskap gehad nie. Hy het Rafiki se teenwoordigheid aanvaar, maar nooit aktief deelgeneem aan die vriendskap wat Rafiki so entoesiasties op hom uitgestort het nie. Otto was altyd baie versigtig vir my gewees. Hy het Maraai aanbid, maar my teenwoordigheid het hy as ’n soort noodsaaklike kwaad gesien. Ek dink dat sy geheue gedomineer is deur die groot donker skadu van ’n man wat sy onskuld gesteel het.
Daar was altyd ’n soort terughoudendheid in sy benadering tot my, maar wanneer Maraai aandag aan hom gegee het het hy verander in die liewe klein hondjie wat nog steeds êrens baie diep binne-in hom geskuil het. Dan het die swart ogies geblink, die stertjie opgewonde heen en weer geswaai en het hy so lomp heen en weer gehardloop. Soms het hy selfs op sy onhandige manier met Rafiki probeer speel. Tot Rafiki se groot verbasing dan. Maar dit was altyd van korte duur. Baie vinnig het die swart kombers weer op hom neergesak en die skaduwees agter in sy oë teruggekeer.
Die oomblikke het ons Otto gesien soos hy seker graag sou wou wees. ’n Sorgvrye hondjie wat spontaan en opgewonde reageer op sy omgewing.
Ek moet ook byvertel dat Otto nie baie geluk in die lewe gehad het nie. Dit gebeur mos met sommige mense ook. Dit lyk of hulle maar net deur die ongeluk agtervolg word. So het Otto ’n keer sy lang dun neus deur die hek gedruk om te snuffel aan ’n Bull Terriër wat verbygeloop het. Die Bull Terriër het nie twee keer nagedink nie en Otto aan sy neus gegryp. Teen die tyd dat ons hom losgekry het het hy ’n gat in sy neusbrug deur sy verhemelte tot in sy mond gehad en het hy ernstig aan skok gely. Die veearts het gedoen wat hy kon met die gaatjie in sy verhemelte, maar aan die skade aan Otto se gees kon hy weinig doen. Die dag het ’n duidelik afwaartse kurwe in sy gemoedstoestand gemarkeer. Hy het sedertdien in elk geval sy neus aan die binnekant van die hek gehou.
Rafiki het nie baie begrip gehad vir Otto se depressie nie. Hy het Otto se siel genadeloos uitgetrek. Op sy speelse manier het hy Otto baie dae briesend gehad. En Otto se reaksie het gewoonlik die volgende treitering uitgelok. Ek het baie die storie so bekyk en gedink dat ek hom ook so sou treiter, want hy reageer so mooi op provokasie. Rafiki het soms sommer net bo-op Otto gaan sit om reaksie uit te lok. Dan word Otto so kwaad dat hy Rafiki rondjaag en sulke bolle wol uit sy pels byt. En sodra hy stop kom Rafiki weer op hom sit.
Of Rafiki sou kos uit Otto se bak eet en dan so oor die rand vir Otto loer. Tot Otto dit nie meer kon verduur nie en op Rafiki afstorm. Dan begin die gejaag en wollebytery weer en dit alles eindig dan met Rafiki wat bo-op ’n knorrende Otto sit.
As ek nou daaroor nadink dan was ek nie goed genoeg vir Otto nie. Otto was ’n hond wat sy eie boks in die kombuis langs die stoof moes hê. En wat elke aand ’n stukkie hoender van die tafel moes kry. En wat op die bank tussen my en Maraai mag lê en TV kyk het. En die enigste hond op die erf gewees het wat in die huis mag woon en van die bank af vir Rafiki kon knor wat by die voordeur lê en verlangend na binne kyk. En ons moes hom elke dag vertel het dat hy die mooiste en slimste hond was wat ons nog ooit gesien het.
Ek dink nog baie aan Otto. En dan kom lê ’n klein swart kombersie so saggies op my hart. Maar nie op ’n koue manier nie. Op ’n vreemde, sagte en warm manier. En dan dink ek weer aan die knop by sy regteroor. Net so ‘n knop kom sit dan in my keel.

Rafiki

Rafiki was ’n hond. Ek sê hy was, want ek dink hy is al dood. Die laaste keer dat ek Rafiki gesien het is meer as elf jaar gelede. En toe was hy al sewe jaar oud. Agttien jaar, dus….. As hy nog leef is hy stokoud.
Rafiki beteken “vriend” in Swahili en Rafiki was my vriend al was ek niet altyd syne nie. Hy was ’n Airedale terrier met ’n hart so groot soos ’n olifant en ’n karakter so suiwer en verfrissend soos fonteinwater. Rafiki het in 1991 by ons kom woon. Toe was hy ses weke oud en Maraai baie swanger met ons jongste.
Ons het hom een winteraand in Julie op die plotte gaan haal. Ek onthou nog goed hoe koud dit was. Op die plot aangekom het ons hom uitgesoek en by die mense ’n boks gekry om hom agterin die 323 se bak te laat ry. Want, het die mevrou gesê, hy het nou net geëet en mens weet nooit hoe reageer so ’n klein hondjie se magie op die ryery nie. Ons het skaars weggetrek toe hy begin piep agterin sy boks. Maraai het dit vreeslik erg gevind dat die arme ou hondjie wat vir die eerste keer van sy mamma en boeties en sussies geskei was so sonder seremonie in ’n boks agterin die 323 geprop word. Voor ek protes kon aanteken sit hy voor by haar op haar skoot en daar gaan ons.
Binne twee kilometer het dit vir ons duidelik geword dat die mevrou nie gejok het nie. Hy het inderdaad sy magie trommeldik gevreet en sonder al te veel omhaal raak hy ’n groot deel van die inhoud kwyt op Maraai. Dit was nog in die tyd van die lang vloeiende swangerskaprokke. Sy het in daardie tyd baie van haar eie klere gemaak en hierdie was een van die wat sy self gemaak het. Pragtige rok met veel kleur. Ek sal daardie rok nooit vergeet nie. Ons ry toe in die stikdonker, middel Julie op die stofpad tussen die plotte en soek na ’n plekkie waar ek kan stilhou. En intussen maak Rafiki seker dat daar niks van sy aandete in sy magie oorbly nie. Ek hoor net ’n ge-baklei en ge-wurg en ge-klots, ge-spats en gevloek hier langs my. ’n Swaar, suur, halfverteerde Epol-reuk walm deur die 323’tjie. As ek die venster oopmaak vir vars lug kry ek raas, want dit is baie koud met so ’n nat rok aan in die winterwind wat deur die 323 waai. Eindelik sien ek ’n garage. Daar stilgehou het ek Rafiki baie onbeleef agter in sy boks gestop en probeer om nie te lag terwyl ek Maraai help om te red wat oor is van haar rok. Tussen die pragtige blomme en blare op die rok het ons gesoek na oorgeblewe stukkies Epol en ryskorrels en ander ongeïdentifiseerde items van Rafiki se aandete. Die rok klou styf om haar ronde magie en aan haar bene vas en afgesien van die reuk het ek dit baie sexy gevind. ’n Soort “miss wet swangerskapsrok” kompetisie. Sy het dit nie gedink dit is snaaks nie.
Eindelik was sy weer enigsins respektabel en het ons die meeste van die groot stukke van die sitplek afgehaal, sodat sy weer kon sit. Ons is terug in die kar en daar trek ons. Huis toe. Rafiki piep baie ongelukkig agter in sy boks en kort kort hoor ek sulke vreemde wurg- en stikgeluide daar van agter af. Maar ek is baie meer besorg oor Maraai wat langs my sit en briesend kwaad is vir die blerrie hond. Ek moet hier byvoeg dat hulle verhouding hierna nooit weer beter geword het nie.
Eindelik tuisgekom help ek eers vir Maraai die huis in en maak seker sy tap vir haar ’n lekker warm bad voor ek na buite gaan om Rafiki agter uit die 323 te haal. Die laaste keer dat ek hom vasgehou het by die garage was hy vieslik en nat en stink en ek dag toe dat ek hom ook eers sal moet bad voor ek met my kaal hande aan hom raak. Ek gryp toe die rande van die boks om hom sommer so boks en al uit die kar te haal. Maar toe staan ek daar met die rande van die boks in my hand en Rafiki sit op die vloer van die 323 vir my en kyk. Sy aandete was toe nie heeltemal op toe ek hom by die garage agter in die boks geprop het nie. Die res het hy verloor tydens die rit tussen die garage en die huis en dit het die boks so swak onderin gemaak dat dit sy gewig nie kon dra nie. Daar sit die ou brakkie toe met so ’n hartseer gesiggie in sy eie kots vir my en kyk asof ek uit die hemel gestuur is om hom te red.
Ek dink dit was die oomblik dat ek en Rafiki in mekaar se harte ingekyk het.
Die 323 het weke lank suur geruik en Maraai het die pragtige rok weggegooi. Rafiki is gebad en het die aand in die kombuis geslaap in ’n nuwe boks. Ek kan nie onthou dat hy ooit weer probleme met sy maag gehad het nie.
So het dit gekom dat Rafiki by ons kom woon het. Min het ek geweet met hoeveel genot, onbaatsugtige liefde en humor Rafiki my lewe sou vul in die daaropvolgende sewe jaar.