Djonk

Skielik het hy net daar gestaan. By die hek, hoed in die hande.

Dit was 35 grade die middag in ‘n lang vergete Desember en ek was besig om in die gloeiende son die huis se dak te verf. Die son het my gebrand, my arms en bene was vol turkoois verf en my rug en bene was seer van die skuins staan teen die dak. Ek was dors en moeg en ek het gewoonlik sommer so ongeduldig van die dak af geskree dat ek geen hulp nodig het nie, dankie, en dan verder gewerk. Maar uit respek vir die ou man het ek van die dak afgeklim en hek toe gestap.

Hy was ouer as ‘n klip, met die grys peperkorrels, en plooie soos ploegvore oor sy donker gesig. ‘n Ouderdom wat nie in mensjare getel kan word nie. Sy hande was nog ouer. Benerig, oorgetrek met vernielde bruin leer en met knopperige kneukels het hulle ‘n laphoedjie vasgehou. Maer, knopperige skouers. Stukkende skoene wat ‘n duisend myl geloop het onderaan twee maer, krom bene. Maar die glimlag….. so ‘n tandelose glimlag wat die warmte van die son om jou hart vou. ‘n Glimlag wat uit sy siel kom, oorloop deur sy oë en in duisend plooie oor sy gesig stroom. Wat jou dwing om saam te lag.

Op my vraag of ek hom kon help het hy aangebied om die dak vir my te verf. Met daardie skitterende glimlag op sy gesig het hy gesê dat die son my nog sal doodbrand daar bo.

Ek het gesê dat ek nie in die skaduwee kan sit en kyk hoe verf ‘n ou man my dak nie. Waarop hy hartlik gelag het, met ‘n knopperige hand oor sy maag gevryf en gesê het: “Meneer, die hongor hy maak my djonk!”, terwyl hy benerig op en af gespring het.

Ek het hom nie my dak laat verf nie. Maar ek dink gereeld aan die ou man wat so baie jare gelede djonk was voor my hek. Ek weet nie wat sy naam was, waar hy vandaan gekom het of waar hy heen gegaan het nie. Maar ek dink aan die glimlag. En hoe lekker daardie glimlag my laat voel het. Dan wonder ek of hy nog djonk is. En dan hoop ek dat ek op daardie leeftyd nie djonk hoef te wees nie.

Herfs

Toe ek vanoggend by die deur uitgaan streel die herfs met sy klam vingers oor my wang. Dit is kwart-oor sewe, maar nog donker. Nog nie regtig koud nie, maar ‘n ysige belofte skuil in die fris oggendluggie. Alles is klam en nat van die afgelope nag se dou en die mis hang laag in die straat. Swaar druppels plof op droë blare. Straatlampe skyn dofgeel deur die mis. Moë bome staan doodstil langs die pad en waai hartseer met geel blare as ons verbyry. Op die snelweg gly die karre by mekaar verby soos geeste van dooie mense oor ‘n begraafplaas. Daar is geen kontak nie, net die skyn van die ligte en die suis van wiele op ‘n nat pad. Bestuurders en passasiers sit stil in die donker warm selle.

Dit sal nie lank duur voordat die blare rooi geel en bruin op die sypaadjies lê en oor die pad waai nie. Dan word dit deur die wind in al wat ‘n hoek is gewaai en stapel kniehoogte op. Af en toe kom die munisiplaiteit skoonmaak, maar hulle is nog nie eens om die hoek nie of die wind strooi die blare weer oor die straat soos ‘n stoute kind. Dit duur maande voordat die laaste blare geval het.

Die afgelope dae het ons die tuin wintergereed gemaak. Alle snoeiwerk is gedoen en die beddings ‘n keer goed omgespit. Die gras groei nie meer nie, maar dit is nog steeds ‘n diep donker groen. So sal dit deur die winter ook bly, behalwe vir die kere dat dit deur ys of sneeu bedek word. Dit sal nie lank duur voor die eerste bevriesing nie en dan vries die grond vir vier maande lank so hard dat jy ‘n graaf nie inkry nie.

As ons gaan stap met die honde kom ons oral krimpvarkies teë. Nog ‘n teken van die naderende herfs. Die dae word korter en die outjies gaan al vroeër op pad om hulself vir oulaas dik te vreet aan die oorvloed wurms en torre wat nou nog tussen die nat gras te vinde is. Oral skiet bosse sampioene uit die grond uit. Die klam vogtige weer en min sonskyn is goed vir hulle. En die kastaïingneute begin ryp word. Een van die dae gaan die mense begin neute versamel om te bak. Die swaar reuk van bakkende kastaiïngs vul dan die dorp.

In die dae is dit meestal swaar bewolk met gereeld reën wat aanhoudend en indringend val. Die temperature wissel so tussen agt en vyftien grade en stadigaan daal dit. Alles is staalgrys. Wanneer die son homself laat sien loer hy vinnig tussen reusagtige wolke deur wat soos groot berge deur die lug vlieg, aangedryf deur verskriklike winde wat ver bo ons koppe woed en die somer wegwaai. Dan verdwyn die son vinnig weer om plek te maak vir reënbuie wat in vlae oor die pad waai en geute en afvoerslote binne minute laat oorloop. Net om tien minute later van agter ‘n ander wolk te skyn op ‘n nat en silwerskoon wêreld. Sonstrale spat van blink blare af. Die wind waai uitbundig en ruk en pluk ongeduldig aan fietsers se klere.

Dit is asof die mense hierdie tyd van die jaar meer in hulself keer. Op straat word jasse langer, dikker, donkerder en die sorgelose slentergang van die somer maak plek vir ‘n haastige tred. Oop skoene het verdwyn en stewels en waterdigte skoene trap nat spore op skoon vloere.  Die sorgelose blik verdwyn stadigaan uit die meeste gesigte en word vervang met ‘n ligte frons en ‘n ernstige trek om die mond. Kinders met ‘n blos op die wange en windverwaaide hare word ongeduldig aan die hand saamgetrek na waar dit ook is dat ouers met kinders hierdie tyd van die jaar heengaan.

In die huis het die sentrale verwarming hierdie week vir die eerste keer weer aangegaan. Dit is vir ons altyd die teken dat die donker maande aanbreek. Die eerste oggend as ons onder kom en die vloer is warm weet ons dat die somer finaal verby is. Die honde lê diep onder hulle komberse ingekruip en spring nie op om te kom groet nie. Teen die donker glas van die skuifdeur sit die druppels van die nag se reën. As ons gelukkig is word ons bederf met nog ‘n paar lekker sonskyndae, maar hulle sal kort wees en ver uit mekaar. En as Maraai verjaar kan die dik jasse aan.

Saans brand die kerse al op die koffietafel en kyk ons deur die swart venster na buitentoe in die stil straat terwyl ons tee drink. Die stapel baadjies op die kapstok word weekliks dikker en die skoene wat in die ingangsportaal uitgeskop word stewiger en warmer. Die sambrele staan klaar teen die muur by die voordeur.

Die wit- en rosé maak plek vir donker rooiwyn en ou kaas. Sjerrie, warm sjokolademelk, spekulaas en sop. Saterdagmiddag se braai word vervang met eenskottelbredies en selfgebakte brood. Terwyl ons styf teen mekaar op die bank sit en fliek kyk onder ‘n kombers. En die legkaarte en speletjies word van die solder af gehaal.

Saggies sak die herfs in my siel in. Die uitbundigheid en drukte van die somer word vervang met rus en vrede en stilte. Net soos die bome buite voel ons die seisoen van rus naderkom. Ons skud die somerblare af en hul ons in ‘n warm kleed van omgee vir mekaar. En binne-in skyn die son op ons harte en verwarm ons. En vul ‘n warm lig ons siele met dankbaarheid en vrede, want ons het dit so verskriklik goed.

Daar was ‘n tyd dat die koms van die winter my met ‘n koudheid gevul het en die wintergevoel klam en swart oor my hart gaan lê en in my gewrigte gaan plak het maar ek het dit nie meer nie. Dit is ‘n mooi seisoen. ‘n Seisoen met tyd. Tyd vir my gesin, tyd vir myself, tyd vir my vrou en tyd om op die bank te sit en sommer net te staar en aan niks te dink nie. Of om boek te lees. En planne te maak vir die komende somer. Want hy kom weer, al duur dit nog baie lank.