Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense

Hierdie is ’n onderwerp waaroor meeste van ons van tyd tot tyd worstel. Waarom is dit soms asof die lot soos weerlig slaan. Ongeag persoon, geloof, kleur, geslag, banksaldo of enige ander kriteria waarvan ons mense bewus is. Uit die niets word jy of iemand wat jy ken, dikwels die een persoon wat volgens jou dit die minste verdien, in die gesig getref deur die hamer van die lewe. En soms herhaaldelik.

Dit is asof ons mense soos poppe op ’n draaiende fabrieksband staan en willekeurig word een van ons van die band gepluk en verniel. Soms word hy dan heeltemal gehawend op die band teruggeplaas en soms selfs heeltemal nie.

Ek lees nou die dag ’n stukkie deur Aron Moss, ’n Joodse Rabbi in Australië wat vir my pragtige duidelikheid gegee het op hierdie vraagstuk.

Sy antwoord is in kort dat ons dit nie wil weet nie. Want die implikasies wat die kennis van die antwoord inhou is verskriklik.

Solank ons nie weet waarom onskuldige mense onreg moet verduur nie pla dit ons. Solank ons dit nie weet nie word ons kwaad en hartseer daardeur. En dit is die manier hoe dit moet wees. Want solank dit ons pla is ons betrokke. En solank dit ons kwaad en hartseer maak reik ons uit na mekaar en probeer ons om die onreg te bestry en weg te neem. Enigiemand met selfs maar ’n greintjie gevoel vir regverdigheid word woedend by die aanblik van al die onreg en lyding van onskuldige mense in die wêreld om ons.

Maar dink ’n oomblik na oor wat sal gebeur as ons ewe skielik die antwoord op hierdie vraagstuk te wete sou kom. Stel dat iemand opstaan wat vir ons almal met ’n bevredigende verduideliking kan uitlê waarom dit is dat oënskynlik onskuldige en opregte mense die mees onmenslike en verskriklike lyding moet deurmaak terwyl dikwels die slegste mense met ’n lied in hul hart deur die lewe huppel sonder dat maar iets vir hulle skeefloop.

As ons hierdie antwoord sou ken sou ons vrede kon maak met die lyding van die onskuldiges. En dit is ‘n ondenkbare gedagte. Dit sal verskriklik wees as dit gebeur. Die enigste wat erger is as die lyding van onskuldiges is mense wat dit aansien en nie geraak word daardeur nie. En dit is wat sal gebeur as ons ewe skielik sou verstaan waarom onskuldige mense moet ly. Dit sal ons nie langer pla nie want ons sal die redes en die prosesse verstaan. Ons sal nie langer stilstaan by die lyding van ‘n ander nie omdat ons kan verduidelik wat die oorsaak en gevolg daarvan is. Ons sal in staat wees om lyding en onreg te rasionaliseer. Onreg sal ophou om onreg te wees. Die kennis van die antwoord sal ons laat ophou soek na die oplossing vir die probleem.

Stel jou voor jy stap in ’n hospitaalgang af. Uit ‘n kamer kom die onmenslike gille van ’n vrou wat verskriklike pyn moet verduur en in die gang staan die familie en vriende van die vrou en lag en gesels vrolik. Wanneer jy vra waarom hulle so vrolik is terwyl die vrou daarbinne soveel pyn deurmaak sê hulle dat dit die kraamsaal is. Sy kry ’n baba daarbinne en dit is waarom hulle so vrolik op die gang staan en gesels.

Ewe skielik is die pyn van die vrou in ’n ander perspektief gestel. Nou is dit glad nie meer so erg nie want ons verstaan die probleem en ons kan die lyding van die vrou relativeer en aanvaar. Tien teen een glimlag jy, wens hulle geluk en stap weg sonder om verder daaroor na te dink. Dit terwyl ‘n vrou helse pyne deurmaak op tien meter afstand van jou af.

Daarom, as ons sin kan maak uit die lyding van onskuldige mense, as ons die tragedie wat mense moet beleef kan rasionaliseer, kan ons daarmee saamleef. Ons sou gevoelloos kon luister na die gegil van onskuldige kinders wat pyn ly. Ons sou die lyding en stadige dood van ’n kankerlyer kon rasionaliseer en dit sou ons nie meer so diep raak nie. Ons sou gebroke harte en verskeurde lewens kon verdra omdat ons dit sou kon wegverduidelik. Die vraag sou beantwoord wees en ons sou verder kon gaan met ons lewens.

So lank soos die pyn en lyding van die onskuldiges ’n brandende vraag in ons harte bly sal dit ons bly pla. En so lank ons dit nie kan wegverduidelik nie sal ons dit moet probeer verlig. So lank as die lyding van die onskuldiges nie pas in ons beeld van die wêreld nie sal ons dit moet beveg. Eerder as om hulle lyding en pyn te regverdig sal ons daarvan ontslae wil raak. So lank soos ons nie verstaan waarom dit gebeur nie sal ons bly soek na oplossings vir die probleme.

Hou daarom aan om die vraag te vra. Maar hou op om die antwoord te soek en probeer om op ’n gepaste manier te reageer daarop. Neem daardie teregte woede en gebruik dit om goeie dinge mee te doen. Put energie uit die frustrasie oor die onreg en gebruik daardie energie om dieselfde onreg te beveg. Gebruik die woede om tot aksie oor te gaan. Verlig lyding oral waar jy gaan.

Ons het die antwoord nie nodig nie. Ons het nie nodig om te verstaan waarom nie. Ons het nie nodig om hierdie dinge te kan verduidelik nie. Wat ons nodig het is om dit nie te verstaan nie en om dit nie te kan wegverduidelik nie. Ons het nodig dat die lyding van onskuldiges ophou. En dit is aan ons om daarvoor te sorg.

Voel in jou hart die pyn van hulle wat ly. Leef saam met die wat onreg moet verduur en staan sy aan sy met hulle wie se lewens verwoes word op oënskoulik willekeurige manier. Want dit is die enigste manier om teen die onreg wat ons nie verstaan nie te veg.

Aan Maraai

Ek en jy is nou al die beste deel van ’n kwart-eeu saam. So lank al sien ek jou as ek regs van my kyk. Langs my trotseer jy al byna vyf en twintig jaar alles wat die lewe ons kant toe gooi. Saam. Saam doen ons dit.

En steeds, as ek regs kyk, swel my hart met trots en liefde vir die vrou wat besluit het om haar lot saam met myne in die mandjie te gooi. Die vrou wat so lank al elke oggend saam met my wakker word en die dag uitdagend in die oë kyk. Waarvan ek weet, maak nie saak wat gebeur nie, sy sal daar wees. Die een mens waarop ek vir die volle honderd persent kan vertrou.

Na al die tyd is ons al so in mekaar gevleg soos ’n koeksister. Ons het wortel geskiet in mekaar se siel. Soos twee bome waaarvan oor baie jare heen die wortels in mekaar ingegroei het. Op soveel maniere het ons een geword dat dit moeilik is om te onderskei waar ek ophou en jy begin. Waar jou gedagtes stop en myne aangaan. Ons het ’n verlengstuk van mekaar geword. Ons reise deur die lewe het een bestemming gekry.

Jy maak my heel. Jy maak van my meer as twee van myself. Jy is die mens wat ek graag sou wou wees.

Ek is die brander en jy die strand.

Jy is die wind en ek die blaar.

Ek die skip en jy die hawe.

Jy die see en ek die meeu.

Ek die woestyn en jy die reën.

Jy die boog en ek die pyl.

Ek die posduif en jy die hok.

Jy die ink en ek die pen.

Ek die losskakel en jy die skrumskakel.

Sonder jou is ek sonder doel, sonder rigting, asemloos, redeloos en sielloos.

Ten opsigte van die lesse wat die lewe so ryklik aan ons almal uitdeel is daar twee soorte mense. Die wat skerp kyk en vinnig leer en die wat kortpaadjies probeer neem en op die harde manier moet leer. Ek is hardcore tweede kategorie. Die esel wat sy voet nie twee keer teen dieselfde klip stamp nie is hoogbegaafd teenoor my. Die klip koes al as ek nader kom.

Maar, na al die baie jare saam met jou begin ek stadigaan iets nuuts te leer. Ek is al baie jare lank baie lief vir jou my vrou. Dit is nie die kwessie nie. Maar ek begin nou pas te leer hoe ek jou moet liefhê. Al die jare het ek jou op my eie manier liefgehad. ’n Soort onbeholpe, onbeskofte mannemanier. ’n Manier van dit is hoe ek is en so doen ek dit. En dit was goed gewees en jy het dit so aanvaar. Maar dit is nie die regte manier nie. Want dit is nie hoe jy is nie.

Al wat ek vra is ’n bietjie geduld met my. Want ek leer…..