Dood van ‘n vriendin

Ons is in ses maande tyd gekonfronteer met die dood van twee vriendinne aan kanker. Altwee pragtige, jong vrouens in die fleur van hulle lewe. Mense van wie jy as jy hulle op straat sou teëkom, nooit sou vermoed dat hulle die volgende slagoffers van die groot K sou kon wees nie. Een laat haar man en baba van vier maande agter en die ander een haar man en lewensmaat.

In die afgelope week het ons groot skrik gevang met iemand baie naby aan ons.

En in die proses het ons gesien wat die dood van ‘n lewensmaat doen aan die een wat agterbly. En hoe die pyn en gemis hulself in jou gesig ingrawe, totdat wat oorbly die frons en die wrang trek om die mond is. Rooi oë met ‘n wilde, desperate uitdrukking. Hoe die mans probeer om dapper en sterk te bly deur alles wat gebeur het, terwyl hulle stukkend is. In die gutter sit. Ook dat daar niks is wat enigiemand vir hulle kan doen nie. Nie eens die naaste familie of beste vriende kan die pyn versag nie. Net so min as wat daar ‘n wetenskaplike formule was om hul vrouens se lewens te red, so min is daar ‘n formule wat hulle pyn kan laat verdwyn en hulle lewens wat totaal ingestort het weer rigting kan gee.

Dit is die harde realiteit waarmee hulle gekonfronteer word. Die realiteit van lewe en dood. Die feit dat ons almal op ‘n keer dood sal gaan. Dit is die enigste sekerheid wat ons in hierdie lewe het. En dat jy dan self deur die pyn en verlies heen moet worstel en probeer om die skerwe van jou lewe op te tel en daar iets sinvols mee te doen. Terwyl die wêreld om jou aangaan asof niks gebeur het nie. Want tyd staan nie stil nie en dit wag vir niemand nie. En hierdie tydkapsule waarin ons gevange sit jaag onverbiddelik voort op sy reis deur die ruimte en sleur ons almal mee na ons onvermydelike bestemming. Ons afspraak met ons Maker.

Vir my is dit maklik om hierdie dinge te sê. Ek is die eerste wat dit sal erken. Ek is nog nie deur so ‘n verskriklike diep swart gat nie. Ek het nog net in die verte langs die dal van doodskaduwee gestap, nooit deur nie. Op ‘n afstand gekyk en die verskrikking en pyn op ‘n ander se gesig gesien. Maar om een of ander rede laat hierdie gebeurtenisse my nie los nie. Ek is baie diep geraak deur wat met my vriende gebeur het. Mense van ons ouderdom, onafskeidelik en na byna 23 jaar nog net so verlief op mekaar soos toe dit alles vir hulle begin het. Hulle het so ‘n einde nie in hulle wildste nagmerries kon voorstel nie.

Wat my die meeste geraak het is die hoeveelhede mense wat dan hulle betrokkenheid toon. Mense wat aangeraak is deur die lewe van so ‘n persoon. Een van die grootste begrafnisse waar ek nog was was die van ‘n gestremde seuntjie wat nie kon praat nie. Hele kerke vol met vriende en familie, sale vol mense wat gekom het om ‘n laaste eer te bewys aan ‘n vriendin, kollega, buurvrou of kennis. Almal mense wat met ‘n handdruk, skouerklop en ‘n paar woorde kom sê dat jy nie alleen op die wêreld agtergebly het nie. Al sweef jy op daardie oomblik bo ‘n donkerswart put. Elke keer wonder ek so half bekommerd hoeveel mense sal kom as ek daar lê. Hoeveel mense het ek met my lewe aangeraak?

En ek kan my die verskriklike donkerte waarin die wat agterbly nie voorstel nie. Ek weet nie hoe jy slaap in die nag nie en as jy tog slaap, hoe word jy wakker? En as jy wakker word, hoe staan jy op? As jy opstaan, wat doen jy dan? Waaraan dink jy die heeldag? Wat gaan in jou gedagtes om en wat sien jy as jy jou oë toemaak? Hoe moet dit wees om om te draai in ‘n leë bed? Hoe kom jy tuis in ‘n stil, donker huis? Wat maak jy om te eet en hoe eet jy alleen? Hoe was jy daardie een bord, een mes, een vurk en een koppie, droog dit af en pak dit weg?

Die ergste van alles, wat doen jy met jou maatjie se goetertjies? Want op ‘n dag moet daar opgeruim word. Hoe gaan jy deur die laaie, kaste, bokse en rakke en besluit wat gaan en wat bly? En van dit wat gaan, waar gaan dit heen? En wat doen jy met dit wat bly?

Hoe verander jy jou status van getroud na wewenaar/weduwee? Op amptelike dokumente, elektroniese stelsels, krogte van die internet waar jou lewe geregistreer en bewaar en vasgelê is staan jou maatjie langs jou. Hoe maak jy jouself weer enkel, skeur jy jouself los van al die bande wat jou bind aan iemand wat nie meer daar is nie. Hoe lank duur dit voor jy weer enkel is.

Hoe gaan jy om met vriende, kennisse en familie wat jammer is vir jou en op onhandige, maar menslike maniere probeer om jou pyn te versag? Wat sê jy vir ou kennisse wat jy raakloop en wat vra hoe dit gaan? Hoe besoek jy familiebyeenkomste alleen? Hoe reageer jy as iemand ‘n grap maak oor siekte of die dood?

Hoe bly jy glo in dit wat jy altyd geglo het? Weet jy nog so seker al die dinge wat jy altyd met soveel sekerheid geweet het? Hoe bid jy?

En hoe bly jy ten midde van dit alles nog steeds ‘n rots van beskerming en stabiliteit vir die kinders wat ‘n ouer verloor het? Kinders wat in soveel opsigte hul moeder in hulle dra.

Want werklik, mense doen dit en kry dit reg. Ek weet net nie hoe nie. Ek weet ook dat miljarde mense ons al voorgegaan het in hierdie proses en dit oorleef het. Dat alles wat met ons gebeur al ‘n keer met iemand gebeur het. Dat hele oerwoude se bome al gekap is om genoeg papier te produseer vir al die boeke wat oor die onderwerp geskryf is. Maar ek dink dat elke keer dat dit gebeur, maak nie saak met wie en waar op die wêreld nie, elkeen sy eie pad moet vind deur die onvermydelike doolhof van pyn, smart en donker depressie wat so ‘n gebeurtenis vergesel.

Op ‘n vreemde manier word deur die dood juis die essensie van ons lewens blootgelê. Ons verskriklike kwetsbaarheid en ons byna onbeperkte kapasiteit om met ons hele hart en wese iemand lief te hê. Of dit nou vriend, vriendin, man, vrou, kind of verlangse familie is. Op so ‘n manier dat afskeid deur die dood fisiek pyn veroorsaak. Dat ‘n genesingsproses van weke, maande en soms jare nodig is om ‘n roof oor die wond te laat groei en dat die litteken daarvan nooit verdwyn nie.