Rafiki laai die kinders af

Rafiki was ‘n regte mannetjieshond. Karre was vir hom onweerstaanbaar. As gevolg van sy grootte was dit nooit maklik om die ou saam te laat ry in die 323 nie, omdat daar meestal saam het hom nog twee klein dogtertjies op die agterbank moes sit. Maar dit was vir hom geen rede om nie elke truuk in die boek uit te haal om saam te gaan as ons ry nie. Hy was per slot van sake die dogters se beste vriend en het glad nie omgegee om sy bank in die kar met hulle te deel nie.

Rafiki se teenwoordigheid in ‘n 323 was om die minste te sê ‘n bietjie oorweldigend. Hy het die helfte van die agterbank vol gesit, met sy kop aan die dak geraak en sy krokodilbek met druppende lang pienk tong het oor my skouer geloer as ek bestuur het.

Die groot probleem was eintlik meer dat alles wat hy gesien het vir hom baie interessant was. Wanneer hy heen en weer beweeg het oor die agtersitplek het die 323’tjie saam oor die pad geslinger van sy gewig. Die ergste was as ons langs ‘n taxi gestop het by ‘n stopstraat. Dan het hy die binnekant van die 323 omtrent verbou in sy verwoede pogings om by al daardie koerantbesorgers uit te kom wat in die taxi langs ons sit.

Desondanks was daar tog geleenthede wat Rafiki saam met ons êrens heen gery het. Dit was gewoonlik noodgevalle of anders simpelweg gevalle van intimidasie en gatkruipery wat gemaak het dat ons hom nie kon weier nie.

Hy het een kunsie gehad met Maraai wat vir hom beskeie sukses opgelewer het. Ek was meestal soggens al weg teen die tyd dat sy klaar was vir werk. Sy het dan die kinders by die kleuterskool gaan aflaai voordat sy werk toe gery het. Dit was natuurlik nadat sy haarself pynlik netjies aangetrek en mooigemaak het vir die dag se werk.

Wanneer sy die 323 dan by die hek uitgetrek het en uitgeklim het om die hek weer toe te maak het Rafiki soms by haar verbygeglip en blitsvinnig in die kar gespring. Al haar pogings om die reuse-terrier uit die kar te kry het op niks uitgeloop nie. As sy die deur oopmaak om hom uit te haal skuif hy net oor na die ander kant toe. Stap sy om na die ander kant van die kar dan skuif hy weer terug. Leun sy in die kar in om hom aan sy halsband uit die kar te trek dan knor hy saggies en lig die lip so ‘n bietjie op. Nie dreigend nie, maar wel met ‘n duidelike boodskap. Ek ry saam, raak maar gewoond daaraan.

Die uiteinde van die saak was dan dat sy die kinders in die kar moes laai, kleuterskool toe ry om hulle te gaan aflaai met Rafiki wat geduldig op die agterbank saamry en daarna eers weer huistoe ry om hom te gaan aflaai. Wanneer sy tuisgekom het het hy dan sonder probleem uitgespring en tevrede huistoe gegaan, sodat sy werk toe kon gaan.

Haar frustrasie was dan gewoonlik al teen kookpunt, want die tyd in die oggende was gewoonlik redelik fyn gesny en daar was min tyd vir speletjies met ‘n groot hond wat hom soos ‘n bederfde tiener gedra.

Wanneer sy my gebel het om by my te kla hieroor het ek dit altyd amusant gevind, maar agteraf besef ek hoe groot die frustrasie was wat sy beleef het met die oversize hond in die undersize 323. Die kinders was in elk geval altyd baie opgewonde as Rafiki hulle by die skool gaan aflaai het. Ek het saans dan in kleur en geur die verhale en avonture beluister wat hulle beleef het met hulle beste vriend op die agterbank.