Oudste het vir ons kom kuier. Vir die volgende drie weke beleef ons weer die plesier van haar geselskap en ’n voltallige gesinnetjie. Dit is baie lank vandat ons al vier onder dieselfde dak was en dit is heerlik.
My donkeroog mooinooi met die maklike glimlag en die klokkie in die stem.
Sy het drie jaar gelede Suid Afrika toe getrek om daar te gaan studeer. Die voorspelbare verliefdheid het haar getref en nie lank daarna nie die onvermydelike besluit om daar te bly. Sy woon en werk nou daar en dit lyk nie of sy op kort termyn planne het om terug te kom hierheen nie. Dit is vir ons almal ’n swaar pil om te sluk, maar die besluit is hare. Sy is gelukkig daar en sy doen wat haar gelukkig maak. En ons het haar altyd aangemoedig om selfstandig te wees.
Iets meer as 22 jaar gelede het Maraai my een oggend so teen halfvyf wakker gemaak met die stellige boodskap dat dit “tyd” was. Ek het maar moeilik gebyt, want dit was twee maande te vroeg vir die “tyd”. Ek sal hier nie die hele verhaal van daardie oggend vertel nie, behalwe dat ek ‘n handboek kan skryf oor wat om nie te doen as jou vrou vir jou sê dat dit tyd is nie, maar ’n paar uur later lê sy toe daar in die Marifont in Sunnyside met ’n piepklein babatjie. Loshande die mooiste pasgebore baba wat daar ooit was, tot ’n paar jaar later, toe daar nog so ’n mooi baba gebore is.
‘n Paar dae later lê ons in ons woonstelletjie in Sunnyside die klein bondeltjie op ons dubbelbed neer en staan half verdwaas daar na haar en kyk. Dit was tegelykertyd die mooiste en die mees angswekkende oomblik van my lewe. Die besef dat daardie klein kindjie aan ons toevertrou is en die insig in my ongelooflike groot onvermoeë.
En nou, 22 jaar later, stap ek in my sitkamer in en daar sit ’n pragtige mooi, jong vrou op my bank en ek kyk nog steeds soms met dieselfde mengsel van verwondering en angs na haar as op daardie een dag 22 jaar gelede. Want ek verwonder my oor hoe verskriklik goed dit gegaan het ten spyte van my onvermoeë en ek bewe as ek dink aan wat alles fout kon gegaan het vanweë daardie selfde onvermoeë.
Want ek het by God genade gekry. En ’n engel van ’n vrou. Wat op een of ander manier al die antwoorde ken. En wat lief is vir my. En twee pragtige dogters wat baie maklik grootgeword het. Eintlik het ek nie so vreeslik baie gedoen anders as om in die buurt rond te hang en af en toe kwaai te kyk nie. En my ontelbare foute is my nie aangereken nie. Al wat vir my oorbly is om stil te wees en nederig.
Ek kan met alle eerlikheid vandag sê dat ek dankbaar is. Vir al die moois in my lewe en vir alles waarmee ek geseën is en vir die manier waarop die meetsnoere vir my geval het. Dit kom deur die mense wat hulle lewens met my deel.
As ek vandag sou doodgaan sal ek as ’n gelukkige mens doodgaan. Laat almal dit weet.
As ek so na die beskrywing van die dogter luister dan dink ek dat die pa veel meer moes bygedra het as net rondhang en streng kyk… geniet die tyd saam met haar.