Kilimanjaro – Dag6


Presies twaalfuur vertrek ons toe. In ’n slangetjie, agter die Masaï aan teen die steeds steiler wordende helling op. Dit was bitter koud. Toe ons begin stap het was dit minus twintig grade. Dit was nog steeds bewolk na die middag se storm en pik-pik donker.
Heen en weer het ons teen die helling boontoe geslinger. Die sneeu het steeds dieper geword. ’n Sterk oostewind van so dertig knope het die sneeu dwars in ons gesigte ingewaai. Namate ons gevorder het het die helling steeds steiler geword en die kronkels wat ons geloop het steeds stywer op mekaar.

Linkervoet vorentoe, versigtig in die sneeu druk, vasstamp, stadig gewig op die voet, regter stok vorentoe, deur die sneeu druk tot hy vassit, regtervoet vorentoe. So het die proses homself duisende kere herhaal die nag. Met die linkerskouer teen die berg het ons die wind van agter gehad. Regterskouer teen die berg was wind en sneeu in die gesig. Eindelose kronkels, uur na uur die nag teen die berg omhoog. Elke uur het ons vir vyf minute gestop om warm water te drink. Niks langer as vyf minute nie, want dan koel ons te vinnig af. Van die koue was die trane op my gesig bevries en ek kon my wange en voorkop later nie meer voel nie. Sweet, snot en trane het gemeng en ’n ysige waslaag op my gesig gevorm.

Niemand het gepraat nie. Elkeen was met sy eie oorlewingsstryd teen die berg besig. Al geluid wat ons in die eerste ure gehoor het was die geloei van die wind teen die berghelling. Teen drie-uur het die wind ’n bietjie gaan lê en het ons stadig bo die wolkedek begin uitstyg. Ver, ver bo ons, byna reg na boontoe was nog ’n slangetjie liggies sigbaar van ’n ander groep wat voor ons was. Dit het gelyk asof hulle tussen die sterre loop. Al wat hulle van die sterrehemel onderskei het was hulle bewegende ligslangetjie. Op daardie stadium het dit gevoel asof ons tussen die sterre in klim. Die melkweg het soos ’n groot wolk om ons gehang en dit was donkermaan en in die sterlig was die helling ’n dowwe melkwit in die donker.

Al wat ons teen die berg geanker het was die naelstring van ons koplampies wat aan die wit sneeu voor ons op die grond vasgesuig het. Soms het ek gestop om my lig in die donker teen die helling langs my te laat afskyn en dan het dit gevoel asof die swart abis onder my probeer het om my aan die flou lyntjie van die koplamp in te suig. Dit was baie moeilik om my ewewig te behou met die donkerte en die skuins helling waarteen ons gestaan het. Oriëntasie was byna onmoontlik en ’n paar keer moes iemand woes om hom gryp om staande te bly.

’n Aantalkere gedurende die donker klim het ons aan die linkerkant die blikkerige geskuif van rotsstortings gehoor. Dit was in die buurt van die Rebmann gletser, so tweehonderd meter aan ons linkerkant in die donkerte. Ons was op die veilige deel van die helling, het die Masaï ons verseker, maar ek kon my verbeel ek sien hom ’n bietjie bangerig die kant op kyk.

Met die verloop van die ure het die hoogte steeds meer sy tol begin eis. JDP het op een stadium so ’n paar meter agter my geloop. Dit het beteken dat met die gekronkel teen die berg op ons elke kort kort by mekaar verbygeloop het. Ek op die helling net bo hom in die teenoorgestelde rigting as hy. Op een van die kronkels merk ek toe dat hy nie meer loop nie, maar so half waggelend slinger. Toe ek stop en met hom praat, sien ek dat sy oë nie meer fokus nie, hy kon my nie antwoord nie, sy lippe was blou en sy gesig wasbleek. Ek het baie groot geskrik en dadelik die gids geroep. Twee gidse en Ransjit was onmiddelik by om na hom te kyk en toe moes ek weer verder loop. Nie lank daarna nie draai ek my om en ek sien GS op dieselfde manier loop en slinger. En kort daarna ook M, die jongste van die broertjies. Hy was baie siek en op een stadium het hy geloop met ’n gids aan elke arm wat hom byna teen die berg op gedra het. JDP se kinders het ook baie swaar gekry. Die Masaï het op ’n stadium vir D aan sy sak laat vashou en vir haar gesê om elke tree wat sy gee in sy voetspoor te sit. So het hy die nag met haar die berg op geloop. Sy met haar kop teen sy rugsak en hy met klein skuifelstappies voor haar uit.

Die res van ons het maar net aangehou slinger, met kloppende koppe elke keer die volgende tree gesit en die ronde kol van die koplampe op die voete van die persoon voor ons in die sneeu gehou. Die gidse het hulle hande vol gehad met die siekes en Ransjit het soos ’n bergbok op en af gehardloop tussen die slingeraars om te probeer om by almal te kom om te help.

My motivering in daardie stadium was die wete dat elke tree my nader aan die einde bring, nader aan die punt dat ek weer huistoe kon gaan en nader aan die punt dat ek my geliefde weer na ses weke in my arms sou sluit. Met elke tree het ek nader aan Maraai gestap en dit het die volgende tree makliker gemaak. So het ek myself deur die nag die berg op geneem. My gedagtes was gedurig met my familie besig. My vrou en my twee dogters, die mense wat vir my die wêreld beteken en my lewe die moeite werd maak. Die drie vrouens wat so baie dieselfde is, maar ook so verskillend van mekaar. En wat elkeen op haar eie manier my lewe verander het en vorm gegee het.

Van Sue was al van vlak na die begin af geen teken meer te sien nie. Sy was baie ver agter ons en Deo het by haar gebly om te help. Nog steeds het ons elke uur vir vyf minute gestop om die kookwater wat ons in ons warmflesse gehad het te drink. Dit het met elke verbygaande uur steeds kouer geword en alle ander water wat ons by ons gehad het was al lankal kliphard gevries.

Teen so halfvyf se kant kon ons aan die oostekant die sagte eerste lig van die oggend begin onderskei. Nog steeds het ons die een opwaartse kronkel na die ander gemaak. Net na vyf het dit baie vinnig lig geraak en kon ons sien dat ons bo ’n wolkedeken staan wat uitstrek so ver soos die oog kon sien. Dit het gelyk asof ons onderstebo staan met die wolke wat onder ons lê. Ons groep was redelik versplinter en onder my kon ek ’n deel van die groepie deur die wolke omhoog sien kronkel na waar ek gestaan en wag het.

Na die ooste toe het Mawenzi soos Mordor boosaardig na ons staan en kyk.

Dit was die punt waar Deo ons weer ingehaal het. Teen twee-uur snags het Sue siek geword en hy het besluit dat sy nie verder kon klim nie. Hy het haar teruggeneem kamp toe en teruggeklim na ons toe. In die tyd het hy dus afgedaal tot in Barafu en weer heeltemal boontoe gedraf om teen halfses by ons aan te sluit. Hy was net betyds om die sesuur stop met tee mee te maak. Dit was ook die oomblik toe die son vir die eerste keer bo die wolke uitgekom het. Die son het geen warmte gebring nie, maar wel skitterende sig. Binne vyf sekondes het die toneel om ons verander van ’n dowwe wit na ’n absoluut verblindende wit lig wat oral om ons geskyn het. Dit het gelyk of die sneeubedekte rotse om ons lig afgee. Sonbrille is inderhaas opgesit. Aan ons linkerkant was vir die eerste keer die Rebmann gletser goed sigbaar. Ongeveer tweehonderd meter na ons westekant het hy daar gelê, net soos hy al die eeue lank al daar gelê en wag het. Sekerlik twintig meter dik en blou-groen glinsterend in die son. Dit was my eerste konfrontasie met ’n regte gletser en ek was baie beïndruk. Ek kon my moeilik voorstel dat die blok ys wat daar lê letterlik duisende jare oud is.

Met die koms van die son het ons ’n oomblik langer gewag om die hele groep weer by mekaar te kry en toe pas kon ek sien wat se slagting die helling van die nag aangerig het. JDP het soos ’n slaapwandelaar gelyk. Hy het slinger-slinger geloop en was duidelik nie bewus van wat om hom gebeur het nie. GS was nie veel beter nie en M, die jonger broertjie het eenkant gesit en elke kort kort vooroor gebuk om op te gooi. JDP se kinders was altwee ook baie siek. Die res van die groep was nog in ’n redelike toestand, maar almal was al baie moeg.

Maar dit was nog nie die einde nie. Ons het nog twee uur se klim oorgehad tot by Stella point. Stella point is die laagste punt op die kraterrand van Kibo en in die verlede soms verkeerdelik aangesien as die top van die berg. Vanaf Stella point is die uitsig al ongelooflik en kan jy na die binnekant van die reusagtige krater van Kibo kyk.

Maar van Stella point af is dit nog ’n paar kilometer loop en so tweehonderd meter styg tot by Uhuru peak. Eindelik, so teen agtuur bereik ons toe Stella point. Almal wat op daardie stadium nog enigsins by hulle sinne was het mekaar om die nek geval en gelukgewens. Ek het maar eenkant gestaan en gewonder waaroor dit nou eintlik gaan, want ons moes nog ver gaan tot by Uhuru peak. Op Stella point het ons vyftien minute gerus en gewag vir die laatkomers. Toe het ons weer verder getrek, al teen die kraterrand langs in ’n westelike rigting na Uhuru peak toe.

Hierdie laaste stuk was vir almal die moordendste gedeelte van die hele tog. Dit was nie verskriklik steil of onbegaanbaar nie, maar die feit dat jy so ver gekom het, so naby was, maar tog nog so ver moes gaan het gemaak dat ons baie swaar gekry het. Die sneeu het byna ’n meter dik gelê. In daardie laaste twee kilometer het die groep heeltemal opgebreek. Die lug was so dun dat elke asemteug ’n kwessie van konsentrasie en harde werk was. Normaal gesproke is asemhaling ’n outomatisme. Jy hoef nie na te dink om asem te haal nie, jou liggaam doen dit self. Op daardie hoogte moes elke asemteug beplan en noukeurig uitgevoer word. Elke tree het meer energie uit ons liggame getap en na elke beweging moes jy stop om eers asem te haal. My kop het geklop van die hoofpyn, maar soos ek om my gekyk het het ek besef dat ek tuis was. Die gevoel dat ek êrens behoort het ek in my lewe nog nooit so sterk ervaar as daardie oggend op pad Uhuru toe nie. Terwyl ek geworstel het om asem te haal, terwyl elke tree my energie getap het het ek geweet dat ek was waar ek moes wees. Op hierdie verlate piek van Afrika, gevries in die tyd het ek die stukkie van myself wat ek al jare kwyt was teruggevind.

Die trek van Stella point na Uhuru het byna ’n uur geneem. Ek was een van die eerstes wat Uhuru peak bereik het. ’n Niksseggende klipstapel met ’n stellasie houtplankies wat aankondig dat jy nou op die hoogste punt van Afrika staan. Geen orkes met blaasinstrumente nie, geen singende mense met sjampanje nie. Slegs ’n spiertwit ysvlakte so ver jy kyk, ’n gletser daar eenkant, ’n paar moeë klimmers wat mekaar met hol oë aankyk, ’n klipstapeltjie en die geloei van die wind. Dit kon nie mooier nie.

Die verligting dat ek dit gemaak het was baie groot. Een vir een het die groep begin binnedruppel. Almal het mekaar nog ’n keer gelukgewens en honderde foto’s geneem. Die siekes is deur gidse begelei tot by die bordjies, foto’s is van hulle geneem en daarna het hulle onmiddelik vertrek met ’n gids aan elke arm. Dit was belangrik om hulle so vinnig as moontlik weer ondertoe te neem.

Ek het ’n ent weggestap en eenkant in die sneeu gaan sit om ’n bietjie tot rus te kom. Daar het die besef dat iets baie spesiaals met my gebeur het tot my begin deurdring. Ek besef die impak daarvan op my lewe nog nie heeltemal nie, maar daardie oomblik het iets in my verander. Daar, op daardie klip het ek ook vir Sura gewaai en ek kon my verbeel dat ek haar glimlag in die wolke en die sneeu om my kon sien.

Ek het later in die omgewing van die piek rondgeloop en tot op die rand van die krater gestap, waar ek oor die immens groot krater kon uitkyk. Dit moes ’n mo3rse vulkaan gewees het wat hier seshonderdduisend jaar gelede uitgebars het. Die krater is ‘n aantal kilometer breed en ongeveer ’n kilometer diep. Ek kan my geen oomblik indink wat se verskriklike natuurkragte hier losgelaat is toe Kibo die dag gebore is nie.

Na ongeveer ’n uur op Uhuru was dit al weer tyd vir die afdaling. Ons het stadig teruggestap tot op Stella point waar ons vir ’n laaste keer om ons heen gestaan en kyk het. En toe het ons begin aan die afdaling. Dit was verskriklik steil ondertoe en in die los, dik sneeu was dit ’n nagmerrie. Ek het probeer om met die stokke my ewewig teen die steil helling te behou, maar daardie dag tydens die afdaling het ek meer op my agterent beland as wat ek op my voete was. My bobene en knieë was na ’n uur al heeltemal lam en wanneer ek gestop het om te rus het my bene gebewe en my asem in my bors gebrand. Uur na martelende uur het ons teen die steil berg afgestrompel. Namate ons gedaal het het dit ook warmer begin word en het al ons warm klere teen ons begin tel. Onder al my lae klere was ek papnat gesweet. Al voordeel van die afdaling was dat ons asemhaling steeds makliker gegaan het en ons liggame steeds sterker gevoel het. Dit was opmerklik dat jy oor ’n honderd meter afstand al die verskil kon voel. Tydens die afdaling het my hoofpyn heeltemal verdwyn en die uitasem-gevoel wat my die heeltyd geteister het op die top het later heeltemal verdwyn.

Tydens die afdaling het ek nie veel aandag gehad vir die omgewing om my nie. Ek en MK het die oggend saam teen die berg afgedaal. En soos gewoonlik in die voorgaande dae was dit net ’n kwessie van aanhou doen wat nodig is en die einde kom vanself. Ons moes ongelooflik konsentreer in die los sneeu, sand en klippe om nie op ’n baie slegte manier te val en die res van die pad ondertoe te rol nie.

Teen halfeen (Ongeveer drie uur nadat ons aan die daling begin het) het ons weer in Barafu aangekom. Daar het ons die res van die groep aangetref. Die siekes was lank voor ons al daar en in ’n baie beter toestand as toe hulle ons op die berg verlaat het. Ek het my verstom aan die verbetering in hulle kondisie. Almal het weer kleur op hulle wange gehad en die glasigheid in die oë het verdwyn. JDP, GS, M en JDP se kinders het nie geweet dat hulle op die top was nie. Hulle het dit op die foto’s gesien, maar van die laaste twee uur van die nag se klim kon hulle byna niks onthou nie.

Ons het net tyd gehad om vinnig middagete te eet en toe moes ons weer verder. Die middag se stap sou ons vier ure neem tot by Mweka kamp. Na middagete het ons vinnig die boonste lae van ons klere verwyder. Dit was nog koud in Barafu, maar in vergelyking met die top was dit hier eintlik behaaglik warm. Die wete dat ons die middag nog moes daal na ongeveer 3000 meter het gemaak dat ek so lig as moontlik aangetrek het. My klere was heeltemal deurnat gesweet van die oggend se afdaling.

Die middag se afdaling was een groot marteltog. Ons was al op pad van twaalfuur die vorige nag, met ’n stop van ongeveer ’n uur op Uhuru, en stop van ’n uur vir middagete in Barafu en hier was ons alweer op pad verder teen die berg af. Steeds verder en verder het ons gedaal die middag. Dit het gelyk of daar geen einde aan sou kom nie. Af, af, af, af.

Die hellings waarteen ons afgedaal het was veradderlik. Baie los sand, klippe en ander plekke waar een mistrap ’n val beteken het. Gereeld die middag het iemand hard geval. Ek het ’n paar keer iemand sien val waarvan ek verwag het dat die persoon nie weer sou opstaan nie. Van die moegheid was dit moeilik om gefokus te bly en te sorg dat elke tree met die nodige versigtigheid geplaas word.
Dit was tydens hierdie afdaling dat ek my eerste Kilimanjaro-scooter gesien het. Wanneer iemand homself ernstig beseer op die berg, of so siek word dat hy nie in staat is om self verder te loop nie, word die hulp van die scooter ingeroep. Dit is ’n staalraam van ’n enkelbed. Die wat in die army was sal weet wat ek bedoel. Die pote is afgesaag en onderaan die bed is ’n spul ysters vasgesweis wat almal in die middel bymekaarkom en daaraan sit ’n wiel van ’n scooter. Stel jou dit nou voor, ’n enkelbed sonder pote en in die middel ’n groot scooterwiel. ’n Onstabieler apparaat is in die geskiedenis van die mensdom nog nie gebou nie.

Die sieke/gewonde word in slaapsakke toegewikkel en op die bed neergesit. Dan word hy met bande aan die bed vasgebind. En dan word die bed omring deur ses porters wat elkeen help om die eenwiel-scooterbed regop te hou. En dan hardloop hulle met ’n verskriklike vaart teen die berg af. Die porters hou die bed regop en die bed hou die porters regop. Die enkele wiel raak net so hier en daar aan die grond en die porters eintlik ook. Dit is ’n verskriklike gesig om te sien en elke tree moet vir die arme gewonde/sieke ’n marteling wees. Maar, dit is baie effektief en iemand kom op daardie manier wel baie vinnig onderaan die berg. Nie noodwendig veilig nie, maar niemand het gesê dat dit een van die vereistes was nie. Meestal is die arme ou tog bewusteloos.

Die middag het hulle met een of ander ongelukkige gewonde by ons verbygehardloop. Ons het hulle sien aankom so ’n kilometer agter ons. Ons het ‘n verskriklike geraas en geskree gehoor en ek het eers gedink ’n groep porters was besig om ’n leeu berg-af te ry. Toe sien ek die bedraam die lug in spring met drie porters wat so met een hand aan die ding hang en die arme gewonde wat benoud probeer vashouplek kry aan die raam. Hy het met ’n krakende slag weer op die aarde neergekom en ’n paar meter gery voordat hy weer die aarde verlaat het met die drie porters wat aan hom gehang het. Die helse kabaal is nie veroorsaak deur die ouens wat die ding bestuur het nie, maar deur so tien ander wat saamgehardloop het en die klomp aangemoedig en raad gegee het. ’n Regte klomp back seat drivers. Hulle hardloop agterna en skree opdragte vir die arme ouens wat die gevaarte probeer bestuur. Met groot gelag en geskree is die klomp by ons verby en ek het hulle nog so ’n rukkie staan en agterna kyk. My laaste indruk was van die arme pasiënt se grysgroen gesig en paniekerige oë toe hulle by ons verby is. Die arme ou sou net daar uitgeklim en self verder gestap het as hierdie gevaarte op enige manier te stop was, maar hy het lankal alle hoop opgegee om lewend onderaan die berg te kom.

Teen drie-uur het ons middagdonderstorm ons aangetref êrens teen die helling van die berg bokant Mweka-kamp. Inderhaas het ons alles aangetrek wat kon help, maar nie een van ons het veel by ons gehad nie. Die paadjie waarin ons geloop het het blitsvinnig getransformeer tot ’n kolkende modderrivier, kompleet met watervalle en stroomversnellings. Die reën het letterlik met emmers uit die hemel geval en vir ons was daar geen ontsnapping nie. Ek was binne vyf minute deur- en deurnat. Tot my onderbroek was nat. Eers was dit koud, maar na ’n paar minute het ek dit begin geniet. Ek was papnat, dit het gereën, die wind het die bome om ons platgedruk en af en toe het ’n yslike bliksemstraal deur die donker lug geklief. Die reënwater het oor elke sentimeter van my liggaam gestroom. Maar die natuur om ons het geleef en ons was deel daarvan. Dit was tydens die reënbui dat ek die eerste protea’s gesien het. Ja, protea’s op die Kilimanjaro. Ek het self nie geweet dat daar protea’s buite Suid Afrika voorkom nie. Toe ek die blomme sien en vir een van die gidse vra of dit dan protea’s was en hy bevestigend antwoord het ek besef dat hierdie berg nooit sal ophou om my te verras nie.

Dit is die Protea Kilimanjaro (Ra-ra!). ’n Protea wat slegs op die Kilimanjaro voorkom en een van baie min wat noord van die Limpopo voorkom.

Steeds verder teen die berg af het ons geploeter. Dit het later sterk skemer begin word en steeds was die kamp nog nie in sig nie. Gelukkig het ek nog my koplamp by my gehad van die vorige nag se stap en toe dit later heeltemal donker was het ek met my koplamp verder gestap. Ons het in ’n soort towerwoud beland. Dit het opgehou reën, maar alles was nog nat en in die donkerte het ons die gekabbel van waterstroompies gehoor tussen ons eie voetstappe deur. Dit was glad nie koud nie, al was ons deurnat gewees. Die bos om ons was gevul met vuurvliegies wat in die bome en die gras om ons gesit het. Ons het verwonderd stilgestaan en net om ons heen gekyk. Tussen die bome deur het hulle gevlieg, die gras was deurtrek met die flikkerende, gloeiende liggies. Dit was asof feetjies uitgekom het en tussen ons heen en weer gevlieg het. Nadat ons ’n rukkie gestaan en kyk het het ons mekaar in die donker aangekyk en so half skaapagtig gelag. Ons twee volwasse mans het daar in die bos gestaan en van feetjies gedroom. Nie een het iets gesê nie, maar altwee het geweet wat in die ander een se gemoed omgegaan het. Dit was een van daardie oomblikke tussen twee mans waaroor nooit weer gepraat sal word nie, maar wat ons nog baie lank sal bybly.

Teen halfagt die aand strompel ons toe eindelik Mweka-kamp binne. Ons was heeltemal gedreineer van ons laaste bietjie energie. Nog steeds papnat, van ons heupe af ondertoe bedek in ’n laag modder, doodmoeg, verskriklik honger en baie tevrede met onsself. Ons het ’n totaal van byna twintig uur al klimmend, strompelend, huppelend en kruipend teen die berg deurgebring. Met ongeveer ’n uur bo-op Uhuru en ’n uur vir middagete as enigste ruspouses.

Toe ons die kamp binnekom is ons reguit eettent toe gelei deur een van die gidse. Die res van die groep het al daar gesit en ons het gewag vir die ander mense om nog binne te kom. Een vir een het die agterblywers ook binnegestrompel. Die dood was in almal se oë. Moeg, stil, nat en honger het ons in daardie tent gesit en wag. Elkeen besig om op sy eie manier die indrukke van die dag te probeer verwerk. Toe almal binne was het ons geeët. Deo het vir ons die program van die volgende dag verduidelik. Daarvan onthou ek baie min, en daarna het ons een vir een verdwyn bed toe.

Ek en MK het so teen halfnege se kant tent toe gestrompel en die ergste modder van ons probeer verwyder voor ons net so vuil in ons slaapsakke gekruip het. Alles het ons net so laat lê. Dit sou ons die volgende oggend as dit lig was probeer uitsorteer en opruim.

One thought on “Kilimanjaro – Dag6

  1. Afrika sal nooit ophou om my te verbaas nie! In Angola (Haumbo) het hierdie Vrystater – wat nog nooit ‘n protea in lewende lywe gesien het nie – proteas gesien! Ek’s bietjie plantverskrik ~ het jy nie dalk foto’s van die plante oppie berg nie?

    Die hele tog klink soos iets wat mens net moet doen voor jy die emmer skop. Dis net jammer van die hoofpyne…dis nie iets waarmee ek lekker cope nie. 😆 En ek neem aan ‘n ou Grandpa’tjie sal nie die trick doen nie?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s