Rafiki en die oor-die-straatpoedel


Rafiki was ’n baie uitbundige hond. Hy was ook baie ongedissiplineer. Ek het my bes geprobeer, maar ek dink hy het ’n soort honde-ADHD gehad. Hy wou vreeslik graag ’n goeie hond wees, maar soos die Bybel dit stel, die gees is gewillig, maar die vlees swak. Ek het baie duidelik gefaal in sy opvoeding.

Daarvan het die rubber deurmat wat sewe keer opgeëet is en die tuinslang wat al begin sis het as daar iemand nader kom getuig. Oor die rubber deurmat gepraat: Ek het altyd binne ’n week nadat ons ’n nuwe mat gekoop het die ding in klein stukkies hondedrol weer bymekaargemaak.
Hy het in elk geval altyd net die beste bedoelings gehad, dit weet ek vir ’n feit, maar te dikwels oor sy eie entoesiasme gestruikel. Om hierdie redes het ons ’n baie hoë muur en stewige hek gehad. Dit was om die hond binne te hou, nie die boewe buite nie, soos by die meeste ander mense.

Oorkant die straat het ’n ouerige dame alleen gebly. Nie heeltemal alleen nie, sy het ’n Maltese poedel gehad wat by haar gebly het. So een of twee keer per dag het sy en die poedel ’n draai in haar voortuin geloop. Sy het dan met die rose gepraat en die poedel het aan die kappertjies gesnuffel en dan op hulle gepiepie. Ek kon nooit agterkom of dit ’n reuntjie of tefie was nie, maar die hond het gesit en piepie met sy een been in die lug. Baie snaakse houding. Miskien het hy self ook nie geweet of hy teef of reun is nie. ’n Soort honde-transvestiet. Dan met so ’n astrante blaffie in Rafiki se rigting het die poedel weer agter die oor-die-straatvrou aan in die huis verdwyn. Ek is nie seker wat hy met daardie blaffies gesê het nie, maar dit was in hond ’n baie diep belediging, want ek kon sommer sien hoe steek die woorde in Rafiki se hart in. Dit moes elke keer oor Rafiki se geslagsdele gegaan het as ek die reaksie so gesien het.

Die besoek van die oor-die-straatvrou en haar poedel aan hulle voortuin was een van die hoogtepunte van Rafiki se dag. Ek sê een van, want sy dag het uit hoogtepunte bestaan. Nog ’n hoogtepunt was as die koerant afgelewer is by die voorhek. Dit was gevolglik een van my laagtepunte, want ek moes dan die koerant opruim wat in duisende klein geskeurde stukkie oor die erf besaai gelê het. ’n Ander hoogtepunt was as ons ’n nuwe deurmat gekoop het.

In elk geval, ek sit een dag op die voorstoep toe die oor-die-straatvrou en haar poedeltjie hulle daaglikse rondte tussen die rose en kappertjies maak. Rafiki sien hulle ook en storm onmiddelik hek toe waar soos hy altyd in sy volle 1 meter 70 uitgestrek teen die hek staan en in hond aan die poedel verduidelik wat sou gebeur het as dit nie vir die verdomde hek was nie.

Die volgende oomblik, en ek weet tot vandag toe nie hoe dit gebeur het nie, kom Rafiki se lewensdroom uit. Die hek spring oop. Die laaste wat ek van Rafiki sien is die krulstert wat so om die muur by die hek uit verdwyn. Ek spring op en storm hek toe en terwyl ek hardloop hoor ek die oor-die-straatvrou benoud skree en die poedel net so benoud tjank aan die oorkant van die straat.
Agteraf bekyk was die oor-die-straatvrou nie so oud nie, want toe ek by die hek kom is sy en die poedel al lankal weg en sien ek die bekende krulstert by hulle voordeur in verdwyn.

Dit was een van die bepalende oomblikke in my lewe. Dit was asof die aarde ’n oomblik lank stilstaan en jy self in die rondte draai. Asof ek myself in die oog van ’n orkaan bevind het. Die enigste verskil was dat ek nie in die oog van ’n orkaan was nie. En ek het nie in die rondte gedraai nie, maar gehardloop. Verskriklik vinnig na die oorkant van die straat toe, tussen die rose en kappertjies deur en by die voordeur na binne.

Aan die regterkant was die kombuis. ’n Soort oop plan, waar die oor-die-straatvrou gestaan en skree het met haar hande op haar wange. Sy het in die sitkamer ingekyk. Daar, op die mat voor die pragtige Victoriaanse bank, was Rafiki besig om die mat om te woel in sy pogings om homself onder die bank in te kry. Hy het gegrawe soos ek ’n hond nog nie sien grawe het nie. Onder die bank het die poedel teen die agterste muur van die sitkamer gelê en tjank. Oor die sitkamermat, onder die bank in loop die pisspoor soos die poedel gehardloop het.

Ek het nader gehardloop en die blerrie hond aan sy halsband gegryp en probeer om hom by die bank weg te sleep, maar hy het met so ’n krag vorentoe gebeur dat ek hom nie kon teëhou nie. Ek moes die groot hond in my arms optel en uitdra. Toe ek by die kombuis verbyloop staan oor-die-straatvrou nog steeds geskok met haar bleek gesiggie vir my en staar. Ek het so met ‘n skouerophaal en my arms vol blaffende hond probeer jammer sê vir die oorlas wat ons veroorsaak het, maar met die gebrul van die monster oor my skouer dink ek nie sy het veel gehoor nie.

So is ons terug en toe ons by die huis kom het Rafiki baie trots sy merk teen die hek gemaak voordat hy ’n paar slukke water gaan vat en tevrede op die stoep gaan lê het. Daardie poedel sou nooit weer iets oor sy geslagsdele sê nie.
Ek het later probeer om vir die oor-die-straatvrou verskoning te vra en verduidelik dat die saak heeltemal uit my hande geloop het, maar sy het my so half uit die hoogte aangekyk en nie juis gereageer nie.

In elk geval was haar besoekies van daardie dag af aan die voortuin baie korter en die poedel het glad nie meer saamgegaan nie. Ten minste was die kappertjies tevrede.

2 thoughts on “Rafiki en die oor-die-straatpoedel

Lewer kommentaar