Week 42-2010
Oktober 25th, 2010 § Lewer Kommentaar
- Die moordwalvis Morgan, wat in Junie in die Waddesee gevang is, kan moontlik nie teruggeplaas word in die oseaan nie volgens ‘n woordvoerder van die dolfinarium in Harderwijk. Omdat moordvisse kuddediere is en Morgan nog jonk is dit belangrik dat hy by sy eie moeder teruggeplaas word. Totdat sy moeder gevind is kan die jong walvis dus nie terug see toe nie. Foto’s en DNA-materiaal is versprei na moordvis-ondersoekers oor die hele wêreld om te help met die opsporing van Morgan se ma. Die uitgeteerde en siek Morgan is in Junie deur die dolfinarium uit die Waddesee gehaal nadat hy gesien is deur ‘n skip van die ministerie van Landbou, Natuur en voedselkwaliteit. Intussen het hy gesond geword en het hy byna weer al die kilo’s opgetel wat hy verloor het.
- Turkye het die Nederlandse ambassade in Ankara om opheldering gevra oor die regeerakkoord tussen die politieke partye VVD en CDA en spesifiek oor die gedoogakkoord wat die twee partye gesluit het met die PVV van Geert Wilders. Die Turkse regering wil weet tot watter mate die standpunte van Geert Wilders ooreenkom met die van die regering. Ook het Turkye opheldering gevra oor die inburgeringsplig vir onder andere Turke in Nederland. ‘n Regbank in Rotterdam het bepaal dat die inburgeringsplig in stryd is met die assosiasieverdrag tussen Turkye en die EU. Met die ondertekining van die assosiasieverdrag word algemeen aanvaar dat Turkye by die EU hoort. En vir immigrante uit ander EU-lande geld geen inburgeringsplig nie.
- Nederlandse F16 vegvliegtuie het bo die Noordsee twee Russiese langafstand-bomwerpers onderskep.Die Russiese TU-95 MS bomwerpers is ‘n tyd lank deur die F16′s begelei en het eindelik die Nederlandse lugruim verlaat. Dit is die tweede keer in minder as ‘n maand dat Russiese langafstand-bomwerpers die Europese lugruim binnedring. Waarom die Russiese vliegtuie in die Nederlandse lugruim gevlieg het is onduidelik. Hulle mag wel deur die Nederlandse lugruim vlieg, maar is gevolg deur die F16′s omdat geen radiokontak met die bomwerpers verkry kon word nie.
- Die Nederlandse pensioenstelsel is die “beste” in die wêreld. Dit blyk uit ‘n jaarlikse ondersoek van die Universiteit van Melbourne en pensioen-adviseur Mercer. Nederland voer die lys al jare aan. Dit kom onder meer omdat nege van die tien werkende mense in Nederland pensioen opbou. Buitendien het Nederland relatief baie spaargeld. Nederlandse pensioenfondse beheer altesaam 700 miljard euro. Die ondersoekers ervaar as positief dat die pensioenfondese deur die Nederlandse sentrale Bank gedwing word om maatreëls te neem om hul dekkingsvlakke op peil te hou. Op die tweede en derde plek in die ranglys staan Switserland en Swede. Van die veertien lande wat aan die ondersoek onderwerp is staan Duitsland, Japan en China onder aan.
- Vyf bouers het ernstige beserings opgedoen toe ‘n deel van die nuwe parkeergarage waaraan hulle gewerk het ingestort het.Die parkeergarage het ingestort omdat die tydelike steune gebreek het. Die steune word gebruik om die struktuur te ondersteun terwyl daar gebou word. Terwyl hulle besig was om beton te stort op een van die vloere het twee verdiepings van die konstruksie ingestort. Die vyf beseerde bouers het op die eerste verdieping reg onder die stortwerksaamhede gestaan. Tien geboue wat om die ingestorte parkeergarage staan is uit voorsorg ook ontruim. Die woon- en winkeltoring waarvan die nuwe parkeergarage deel uitmaak staan langs die Bijenkorf in die sentrum van Rotterdam. Die sogenaamde B-toring moet uiteindelik sewentig verdiepings hoog word.
- Polisieduikers het die liggaam van die veerbootkaptein gevind wat in die Amsterdam-Rijnkanaal deur ‘n Duiste vragskip raakgevaar is. Dit betref ‘n voetgangersveerboot waar op die oomblik van die botsing geen passasiers op was nie. Die kaptein was ‘n 56-jarige man uit Nieuwegein. Die polisie en brandweer het byna ‘n hele dag lank na die liggaam gesoek. Hy was ongeveer 07:00 op pad om sy eerste passasiers op te laai toe die ongeluk gebeur het. Die man was ‘n ervare kaptein en het al twee jaar lank op die spesifieke veerboot gevaar. Die ongeluk het plaasgevind by Nieuwer ter AA naby Utrecht.
- By die sokkerstadium Feyenoord in Rotterdam het ‘n groep van ‘n paar honderd ondersteuners die spelersbus opgewag by sy terugkeer uit Eindhoven. Die ondersteuners was kwaad oor die 10-0 nederlaag wat Feyenoord gely het teen PSV uit Eindhoven. ‘n Kameraman is geskop en die video’s uit sy kamera verwyder. Die afrigter van die span, Mario Been, staan onder groot druk om te bedank. Feyenoord presteer al die hele jaar sleg en staan na tien wedstryde in die kompetisie op die vyftiende plek met maar 8 punte. Been het ‘n kort gesprek gehou met ‘n afvaardiging van die ondersteuners. Na die gesprek het die ondersteuners sonder probleme vertrek.