BP, Golf van Mexiko, olie en olie en olie

Julie 16th, 2010 § Lewer Kommentaar

Vandag rapporteer BP dat hulle die lekkende oliepyp in die golf van Mexico toegemaak het.

Op 20 April het daar ‘n ontploffing plaasgevind nadat olie deur ‘n aantal seëls gebars het op 1500 meter onder seevlak. Die olieboorplatform, Deep Horizon, het aan die brand geslaan, elf mense is dood en 17 het beseer geraak. Tydens pogings om die brand te blus het die platform gesink, waardeur die pypleiding geknak het. In die begin is die hoeveelheid olie wat daar in die see gestroom het geskat op 800.000 liter per dag, maar met verloop van tyd het die ramings steeds hoër geword. Tot onlangs was die inskatting in die buurt van 6 miljoen liter per dag en sommige Amerikaanse universiteite het ‘n raming van 11 miljoen liter per dag afgegee. Die New York Times noem selfs syfers van 16 miljoen liter per dag. Wat die werklike getal ook is, dit is meer as wat by die grootste olieramp in die geskiedenis die see ingestroom het.

Die woord apokalips is meer gepas in hierdie situasie as mens die impak op die natuur in ag neem. Uiteraard is die woord ook van toepassing op die finansiële situasie van BP wat verantwoordelik is vir die opruiming en alle kostes wat daarmee gepaard gaan. Begin Junie het die maatskappy al gerep van 2,5 miljard euro. En dit was op daardie stadium slegs maar die regstreekse kostes met betrekking tot die opruiming van die olie en die toestop van die gat. Die werklike maatskaplike kostes wat oor die komende jare in honderde regsake en sogenaamde “class action suits” van BP geëis sal word sal ‘n veelvoud van hierdie bedrae betref. Die eerste skikking tussen BP en die Amerikaasne regering is al getref. BP sal ‘n bedrag van 15 miljard euro in ‘n noodfonds stort wat sal dien om die opruiming van besoedeling te finansier.

In April net na die ontploffing het BP nog vergeefs probeer om die falende blow-out kleppe in die pypleiding te laat sluit met behulp van onbemande duikbootjies. ‘n Soort onderwater robot.

Nadat hierdie pogings misluk het het BP probeer om boorvloeistof, ‘n samestelling van water en ‘n aantal swaar metale, ‘n soort dik modder dus, in die gat te spuit in die hoop dat dit die gat sou verstop.  Dit het ook misluk. Die druk uit die gat was eenvoudig te groot en alles wat daarin gespuit is is sonder meer weer uitgeblaas.

Intussen het die Amerikaanse state Louisiana, Florida, Alabama en Mississippi die noodtoestand afgekondig as gevolg van die dreigende oliebesoedeling aan die suidooskus van die Verenigde State. Barack Obama het die oliebesoedeling tot nasionale ramp uitgeroep.

Die Amerikaanse minister vir energiesake, Steven Chu het intussen ‘n werkgroep van atoomwetenskaplikes byeengebring om te spekuleer oor die gebruik van swaar ontploffings om die gat toe te kry. BP was fel hierteen gekant met die argument dat as die pogings sou faal hulle hulself die kans om ander maniere te probeer ontneem.

In Mei het BP ‘n klein suksessie geboek deurdat ‘n beton sarkofaag aangebring is oor een van die kleinder lekke. Intussen het ‘n 113 ton wegende metaalkoepel vertrek na die rampgebied. Die bou daarvan het baie vinniger gegaan as verwag. Die idee was dat die koepel oor die oorblywende twee lekke geplaas sou word byna soos ‘n supersize stofsuier. Die olie en water sou saam by die lek weggesuig word en na wagtende skepe gepomp word, waarna die skepe die water en olie sou skei van mekaar. Hierdie tegniek is al vantevore toegepas, maar nog nooit by ‘n ramp van hierdie omvang en diepte nie.

Intussen het in Mei die eerste oliebesoedeling in die Golf van Mexiko aan land gekom. Groot aantalle diere soos pelikane, meeue en seeskilpaaie het bedek geraak met ‘n laag olie. Grootskaalse reddingsopersasies is tot vandag toe nog aan die gang om diere te red van die besoedeling. Vissery in die gebied is heeltemal stopgesit. Die verwagting is dat op termyn die chemikalië wat gebruik word om die oliebesoedeling teë te werk ook in die ekosisteem sal beland. Die vraag ontstaan wat die grootste impak sal hê. Die relatief kortere termyn oliebesoedeling of die langtermyn invloed wat die chemikalië op die omgewing sal hê.

Later in Mei het BP nog ‘n klein sukses behaal. Hulle het daarin geslaag om ‘n pyp in een van die lekkende gate te plaas, waardeur die olie uit daardie lek weggelei word van die lek af na skepe aan die oppervlak toe.

Teen die einde van Mei het BP nog ‘n keer geprobeer om met die sogenaamde top-kill metode die lek te dig. Die top-kill metode beteken dat BP ‘n mengsel van bariet, polimere en seewater onder groot druk in die gat spuit en dan die bokant met beton afsluit. Tydens hierdie proses is ook die junk-shot metode toegepas. Hierby word letterlik rommel soos stukke tou,tennisballe, afvalrubber en golfballe in die gat geskiet. Twee dae later maak BP bekend dat die top-kill/junk-shot misluk het.

Aan die begin van Junie het BP nog ‘n poging gewaag. ‘n Onderwater robot het ‘n deel van die lekkende pyp afgesaag, waardeur tydelik meer olie in die see geblaas is, maar onmiddelik daarna was dit moontlik om ‘n nuwe tregter oor die gat te plaas. Die vraag was nog of die tregter stewig genoeg was om die druk van die spuitende gas en olie te kon weerstaan totdat in Augustus die sogenaamde relief wells geboor kon word om die gat van binne-uit toe te kon maak.

Later in Junie is ‘n tweede tregter oor die lek geplaas. Hierdie tregter het nie die olie na ‘n skip gelei nie, maar na ‘n platform waar die olie met perslug gemeng is en verbrand word. Dit gebeur nou ook al met ‘n deel van die olie wat deur die skepe geskei word van die seewater. Dit lei tot hewige lugbesoedeling.

Op 10 Julie is die tregters altwee verwyder om ‘n kap te plaas oor die lekke. Die kap het ‘n aantal kleppe in wat oop en toe gemaak kan word om meer of minder olie op te vang. Dit is sodat die druk van die olie in die kap gereguleer kan word. ‘n Paar dae gelede het BP begin om die kleppe een vir een toe te maak, sodat die volle druk van die spuitende olie en gas in die kap opgevang kon word. Nadat BP die laaste klep toegemaak het het hulle aangekondig dat geen olie meer uit die kap lek nie. Die integriteit van die kap word in die komende 48 uur getoets.

Die kap is egter nie die finale oplossing vir die probleem nie. In die tussentyd is BP ook besig om ‘n aantal “relief wells” te boor van die sykante af. Dit word gedoen om die druk op die gebied van die lek te verlig omdat kenners bang is dat die seevloer op andere plekke mee kan gee as gevolg van die enorme oliedruk op daardie punt. Wanneer die relief wells geboor is en aktief gemaak word sal daar olie ter waarde van 100 miljoen dollar per put uitgepomp kan word. Die verwagting is dat die eerste relief wells in Augustus aktief sal wees.

As mens die omvang, diepte en aard van die ramp in oënskou neem moet ek erken dat BP in die afgelope maande ‘n meesterwerk op gebied van ingenieurswese uitgevoer het. Ja, hulle het die ramp veroorsaak, dus is dit logies om aan te neem dat hulle 100 persent verantwoordelik sal wees vir die herstel daarvan, maar die gevoel bekruip my tog dat daar baanbrekende ingenieurswerk verrig is deur BP in die afgelope maande. En ek dink dat op hierdie gebied ‘n paar baie groot stappe vooruit geneem is. Hier is sekerlik belangrike lesse geleer en nuwe tegnieke ontwikkel waaraan die wêreld in die komende tientalle jare baie nut sal hê.

Dit neem niks weg van die feit dat wat my betref hierdie katastrofe gerus die einde van BP mag beteken nie.

Intussen kan BP vir so ‘n paar dae diep asemhaal en die sweet van hulle voorkoppe afvee. Die olielek lyk gestop en nou moet die opruimwerksaamhede voluit begin. Ek dink dat dit die grootste deel van die werk sal wees en dat hierdie proses die einde van BP soos ons hom ken kan beteken. Die kostes van hierdie operasie is al astronomies en die grootste uitgawes moet nog kom. BP het baie geld, maar selfs die diepste pot het ‘n bodem. Oor die komende maande en jare is dit moontlik dat BP sal herstruktureer of selfs ‘n vyandige oorname deur ander oliemaatskappye sal meemaak as gevolg van hulle verswakte finansiële posisie. Beleggers uit Saudi-Arabië het al bekend gemaak dat hulle tot soveel as 15 persent van BP se aandele wil koop.

Voeg hierby die nuutste openbaring dat BP by die Skotse regering aangedring het om die Lockerbie bomber, Abdel Baset Ali Mohmet al-Megrahi, vry te laat, sodat ‘n nuwe olieboorkontrak tussen die oliemaatskappy en die Libiese regering nie in gedrang sou kom nie en al die bestanddele vir die ondergang van een van die wêreld se grootste en oudste oliebaatskappye is aanwesig.

Maar afgesien van die finansiële gevolge van hierdie katastrofe begin nou eers die impak op die ekologie deur te dring. Almal het al die foto’s gesien van oliedeurdrenkte voëls en skilpaaie wat swart besmeer op die strand lê. Die ekologie aan die kus van die golf van Mexiko sal deur hierdie ramp onherkenbaar verander en in ons leeftyd nie weer herstel tot die glorie van voor die ramp nie. In die gebied woon ‘n groot aantal bedriegde spesies wat nêrens anders op aarde voorkom nie. Die vraag is hoe hierdie spesies met die olieramp om sal gaan en of ons miskien hier al afskeid kan neem van ‘n aantal van hulle.

Die olie en chemikalië wat in die ekosisteem beland het sal vir jare in die toekoms nog ‘n invloed hê. Nie net die visindustrie nie, maar veral die garnaalvangs en oesterboerderye in die omgewing het ‘n knou gekry waarvan hulle moontlik nooit weer sal herstel nie. Alles in ag geneem dink ek dat die werklike impak op die ekosisteem pas oor tientalle jare bekend sal wees.

Wat nou oorbly is die vraag wat nog die heeltyd êrens onderin my kopbeen bly krap. Wat het ons geleer hieruit? Tyd sal leer, maar ek is bevrees dat ek die antwoord al ken.

Tagged: ,

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

What’s this?

You are currently reading BP, Golf van Mexiko, olie en olie en olie at Stokstert.

meta

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.