Brief aan my ouers


My liewe ouers,
ek skryf hierdie brief aan julle om julle te laat weet dat dit met my goed gaan. Ek is op ’n plek in my lewe waar ek tevrede is met wie en wat ek is en dit het ek aan julle te danke.

Nou dat julle in die herfs van julle lewe is groei by my die behoefte om vir julle te sê dat julle goeie ouers is. En om my dankbaarheid aan julle te betuig vir al die moeite, liefde en geduld wat julle soveel jare lank al in julle kinders, skoonkinders en kleinkinders steek. Vir al die onbaatsugtige en onbenoemde offers wat julle jul lewens lank al bring om vir julle kinders die lewe beter te maak.

Julle hande is dun, jul lywe moeg en jul hare grys van baie jare se klipharde werk om die beste vir julle kinders te kon gee.

Ek besef nou dat alles verganklik is. My lewe lank het ek julle as ’n onlosmaaklike deel van my pad gesien. Vir so lank het ek my geen oomblik kon voorstel dat een van julle of selfs altwee op ’n dag my lewe sou verlaat nie. Het ek nooit eers daaroor nagedink dat ek eendag die pad self sal moet loop nie. En het ek julle as vanselfsprekende deel van my lewe aanvaar. Maar ek verstaan nou ook dat dit ’n keer gaan ophou. Ek verstaan nou dat ek op ’n dag nie meer die telefoon sal kan optel om met julle te gesels nie. Daarom is dit vir my belangrik om hierdie dinge vir julle te sê terwyl ek dit nog kan doen. Sodat ek nie eendag spyt is oor wat ek nie gesê het nie.

Baie jare gelede is ek aan julle gegee om te versorg, op te voed en groot te maak. ’n Taak wat julle met ywer en oorgawe aangepak het en waarin julle nie een oomblik getwyfel, gehuiwer of versaak het nie. Van my kant af het ek nie altyd my bes gedoen om dit vir julle maklik te maak nie. Inteendeel, ek het julle soms voor baie groot ouerlike uitdagings gestel, maar elkeen daarvan het julle met die wysheid en geduld van engele benader en opgelos. En my steeds in liefde onderrig en op die regte pad gehou al wou ek soms soos ’n ongeleide projektiel die verkeerde rigting in spat. Geduldig het julle my elke keer aan die hand gevat en uit die gutter getrek. En met ’n eindelose vergewingsgesindheid kon ek elke dag by julle op ’n skoon lei begin.

Julle het lyf en lede nie ontsien om my te bied wat ek nodig gehad het vir ’n normale, gesonde ontwikkeling nie.
Ek het sorgelose, vrye kinderjare gehad waaraan ek gereeld met ’n mooi gevoel in my hart terugdink. En hierdie herinneringe is omraam met julle glimlaggende gesigte. Wanneer dit moeilik met my gaan is dit waarheen ek vlug. En ek weet dat die rusplek altyd daar sal wees vir my, tot ek my kop vir die laaste keer neerlê.

Julle het altyd die goeie voorbeeld aan my gestel. Julle het my respek geleer. Die foute wat ek gemaak het is my eie. Die verkeerde keuses wat ek gemaak het het ek nie by julle geleer nie. Die krom draaie wat ek geloop het is nie julle skuld nie, maar my eie besluite gewees. Wat verkeerd geloop het in my lewe is op geen manier aan julle te wyte nie.
Daarenteen, dit wat ek goed gedoen het in my lewe is regstreeks terug te voer op lewenslesse wat ek van julle geleer het. Die goeie keuses wat ek in my lewe gemaak het het ek stuk vir stuk by julle afgekyk. Die dele van die pad wat ek reguit stap is wanneer ek julle voetspore volg. Alles wat reg loop in my lewe is aan julle te danke.

Vandag het ek en Maraai self die opvoeding van twee kinders (amper) agter die rug. Julle kleinkinders in wie se lewens julle ’n onskatbare rol speel. En as ek kyk na die pad wat ek met my twee kinders geloop het sien ek dieselfde patroon. Die foute wat ek met hulle opvoeding gemaak het is nie foute wat ek by julle geleer het nie. Dit is my eie foute. Maar elke goeie ding wat ek my kinders kon saamgee op hul lewenspad het ek by julle gekry. Tog verstommend hoe baie van die dinge waarvan ek myself voorgeneem het om nooit aan my kinders te doen nie ek tog wel gedoen het en hoe tevrede ek is met die resultaat.

Julle het my vrou aanvaar as julle kind. Julle het haar onvoorwaardelik in die familie opgeneem en geen oomblik het ons die gevoel gehad dat sy nie honderd persent deel is van ons familie nie. Sonder om vrae te stel of te oordeel het julle haar ouers ook geword. Met alle verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan. Ons kan nie eens begin om ons respek, dank en waardering hiervoor onder woorde te bring nie.

Almal wat julle ken weet dat julle soms deur diep en donker dale moes gaan. Dat julle jul knieë deurgebid het om genade te kry. En dat dinge nie altyd maklik was nie. Dat die lewe diep en hard gesny het aan julle. Maar julle het nooit opgegee nie. Julle het standvastig die regte ding bly doen. Selfs as die tonnel lank en donker was en die moeras diep.  Onwrikbaar, geduldig en lydsaam het julle die pad bly wandel wat julle geweet het die regte pad was. En dit doen julle vandag nog. As voorbeeld vir julle kinders, skoonkinders en kleinkinders.

En ons woon nou ver van julle af. Ons sien julle min en dit is vir julle en vir ons erg. Maar julle is nie minder duidelik aanwesig in my lewe nie. En die afstand verminder nie ons liefde vir julle nie. En vervaag ook nie ons herinneringe aan julle nie. Inteendeel, die afstand bring julle in my hart nader aan my.

Julle staan nog steeds trots en fier op my horison. Soos bakens langs my pad. Waarmee ek myself kan oriënteer as ek nie meer lekker weet waarheen nie. En julle skaduwees sweef lank en breed oor die vlakte van my lewe. Dit is waar ek verkoeling kry as die son van die lewe te warm brand. Dan gaan ek op julle voete staan net soos toe ek klein was en dan hou julle my hande weer vas en loop ons saam klein treetjies.

Baie liefde,

Julle seun

About these ads

2 thoughts on “Brief aan my ouers

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s