Chemtrails
April 19th, 2010 § Lewer Kommentaar
In die kategorie konstipasieteorieë (conspiracy theories) is een van die groot aanspraakmakers sekerlik die van sogenaamde “chemtrails”.
Die woord is ’n samevoeging van die woorde “chemical” en “trail” en ’n variant op “contrail” ’n samevoeging van “condensation” en “trail”.
Contrails is die kondensasiestrepe wat mens dikwels op ’n sonnige dag sien as ’n vliegtuig op groot hoogte oorvlieg. Dit ontstaan as gevolg van die uitstoot van warm uitlaatgasse van vliegtuie op hoogtes tussen 8 en 10 kilometer waar die temperatuur minder as 40 grade onder nul is.
Die chemtrail-teorie stel dat die contrails wat ons sien in baie gevalle chemiese of biologies stowwe is wat deur “hulle” (In hierdie geval is dit enigiemand van Idi Amin tot die CIA) oor ons uitgespuit word.
Die chemikalië wat “hulle” oor ons uitspuit het meestal een van die volgende doelwitte:
• Beïnvloeding van die weer of klimaat
• Verstoring van militêre opsporingsstelsels
• Beïnvloeding en onderwerping van bepaalde bevolkingsgroepe
• Uitvoer van natuurlike seleksie op mense (Uitroei van swak individue)
Die teorie het sy oorsprong in 1996 toe die Amerikaanse lugmag daarvan beskuldig is dat hulle die Amerikaanse bevolking met chemikalië bespuit uit vliegtuie. Die beskuldigings het ontstaan nadat ’n strategiestuk van die Amerikaanse weermag genaamd: “Weather as a Force Multiplier: Owning the Weather in 2025” uitgelek het. Die stuk het gegaan oor maniere waarop Amerika in die toekoms deur middel van weersbeïnvloeding hulle militêre dominansie oor die res van die wêreld kon behou.
Van die tyd af het die teorie wêreldwyd aanhangers gekry en is in byna alle westerse lande van tyd tot tyd die regerings daarvan besluldig dat hulle die bevolking probeer manipuleer of uitdun deur hulle met chemikalië uit die lug te bespuit.
Die aanhangers van die chemtrail-teorie beweer dat die middels wat in die lugruim gespuit word bestaan uit stowwe soos barium, aluminium soute, polimere, thorium of silikon-karbied. Sommige glo dat die lugruim besproei word met elektries-gelade materiale as onderdeel van ’n baie groot elektromagnetiese superwapen-program gebaseerd op die “High Frequency Active Auroral Research Program (HAARP)”.
Uiteraard, soos enige dit goeie konstipasieteorie betaam ontken alle owerhede en geheime organisasies die bestaan van chemtrails. Dit is natuurlik net nog olie op die vuur van die aanhangers van die teorie in die sin dat dit nog meer bewys is dat chemtrails werklik bestaan.
En dit is nie sommer enige Jan Rap en sy maat wat in die bestaan van chemtrails glo nie. Popster Prince het in ’n onderhoud melding gemaak van chemtrails en dat hy gesien het dat ’n onverklaarbare toename in vliegtuigstrepe bo-oor sy woonbuurt gepaard gegaan het met ’n toename in rusies en argumente in die buurt.
Wel, as Prince dit glo, wie is ek en jy dan om met hom te stry.
